Maandag 19 Januarie 2015

Het Christene, Moslems en Jode dieselfde Vader?

Baie mense glo vandag dat Moslems en die deel Jode wat nie glo dat Christus Jesus die Seun van God is nie, dieselfde Vader dien as Christene, maar om deel te wees van die "geslag van Abraham", maak nie van jou 'n Christen nie!  As iemand nie glo dat Christus Jesus die Seun van God is en die beloofde Messias wat gekom het nie, en in Sy woorde nie glo nie, dan dien hy nie dieselfde Vader as die Christen nie...  Iemand kan nie bely dat hy die Vader ken as hy die Een wat deur die Vader gestuur is, verwerp nie!, want dan is dit tog duidelik dat hy nie gehoorsaam is aan die Vader nie.  In so 'n geval DIEN hy nie die Vader nie - so hy het nie dieselfde Vader nie!  Geen Jood of Moslem dien dieselfde Vader as die Christen as hulle nie eers Christene raak nie.  As iemand nie bely dat Christus Jesus die Seun van God is nie, dan ken hy tog nou nie die Vader nie, want die Vader openbaar dit aan die wat vir Hom lief is (http://warechristene.blogspot.co.nz/2012/10/die-ultimate-bewys-is-in-om-hom-te-ken.html). Anders gestel, as iemand nie glo in die Een wat gekom het nie (Christus Jesus die Messias, die Seun van God), dan is dit 'n bewys daarvan dat hy NIE DIE VADER KEN NIE (Matt. 16:15-17; Joh. 8:47,49).  

Jesus het ook vir sommige van die ongelowige Fariseers in Joh. 8:44 die volgende gese:  (Joh 8:44 - "Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen....").  Dit is duidelik dat Hy nie gedink het dat hulle dieselfde Vader as Hy dien nie! (Joh. 8:49,50). Ja, Hy erken dat hulle uit die geslag van Abraham is (v.37), maar dit maak hulle nie "kinders van Abraham" nie (v.39), want dan sou hulle na Jesus se woorde geluister het, omdat Hy spreek van wat Hy by Sy Vader gesien het (v.38). "Kinders" is onderwerp aan hulle vader se gesag (vgl. met Joh. 8:39).  Die ongelowige Fariseers het hulleself nie onderwerp aan die Vader se gesag nie, want as hulle het, dan sou hulle Jesus se woorde ontvang het! (so, hulle het self bewys dat hulle nie dieselfde Vader het nie). Waar iemand glad nie ontvanklik is vir die waarheid nie, plaas dit verseker 'n vraagteken op sy geloof.  As 'n Christen of enige leier van 'n Christelike kerk vir 'n nie-Christen Moslem of  Jood vertel dat hulle dieselfde Vader dien, dan praat hy nie die waarheid nie!  Om te bely dat jy die Vader ken, en die "werke" doen, plaas jou nie in regstand met Hom nie! - dit is slegs die wat gehoorsaam is aan die Vader (en ag gee op Sy weg van verlossing)(Joh. 6:44), wat bewys dat hulle Hom regtig ken; en dit is slegs deur Christus Jesus wat iemand in regstand kan kom met die Vader (Joh. 14:6), m.a.w., dit is slegs deur Hom wat iemand tot die Vader kan gaan. (Joh 6:44 - "Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag"). (Joh 14:6 - "Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie").

  Alhoewel die Joodse volk gesien word as die "kinders van die koninkryk", sal nie almal van hulle ingaan in die koninkryk nie!  Baie sal uitgedryf word (Matt. 8:12) - hierdie feit word ook in sekere profetiese boeke bevestig (Amos 9).  As 'n Jood die weg wat die Vader geskep het (tot volkome saligheid) wegwys, dan het hy geen hoop op die opstanding tot lewe nie.  As hulle die LAM afwys, hoe kan hulle volkome vergifnis vir sondes ontvang, want die wet is nie volkome nie? Daarom kan iemand ook slegs tot die Vader kom deur Christus Jesus, want in Hom is daar volkome vergifnis.  Niemand kan in regstand wees met die Vader as hulle nie volkome vergifnis ontvang nie.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------


GEDAGTE:

Die geslag wat die koninkryk sal beerwe, is die wat God se saad in hulle het (die wat die Heilige Gees ontvang - en l.w., die Gees van God wat deur Christus Jesus gestuur word).  Ons kan slegs "vrug verdien vir die ewige lewe" deur hierdie saad van die Gees van God, wat nodig is om eendag die opstanding tot lewe (ewige lewe) te verkry (en l.w., die ewige lewe wat deur Christus Jesus gegee gaan word, want die oordeel is in Sy hande!).  As iemand nie gehoorsaam is aan Christus nie, dan kan hy nie gedoop word in die Gees nie (en dan word hy nie gewederbaar nie), en sal hy ook nie eendag die opstanding tot lewe kan kry nie.

AS IEMAND NIE CHRISTUS BELY EN IN HOM GLO NIE, DAN IS DIT 'N BEWYS DAT HY NIE DIESELFDE VADER DIEN (as die Christen) NIE, WANT WANNEER IEMAND DIE VADER KEN, DAN OPENBAAR DIE VADER SELF AAN DAARDIE PERSOON DAT JESUS DIE CHRISTUS IS, DIE SEUN VAN DIE LEWENDE GOD! (Matt. 16:15-17)(Joh. 8:42).
========================================================================

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.