Donderdag 06 Augustus 2015

Die Christelike Doop

Die Christelike doop was deel van die basiese leerstellings in die eerste kerke, en ook saam met die evangelie gepreek. Ander "basiese leerstellings" het behels:  - "bekering uit dooie werke", "geloof in God", "handoplegging", "die opstanding v/d dode" en die "ewige oordeel" (Hebr. 6:1,2). Elke Christen behoort 'n skriftelike kennis te he oor hierdie basiese leerstellings.


------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Die dissipels het veral na die Christelike doop verwys as "die doop in Christus Jesus". En ook tereg, want die doop stel voor die DOOD EN OPSTANDING (tot lewe) - soos Christus gesterf het en opgestaan het (tot lewe). (Kol 2:12 - "omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het").  Alhoewel die Christelike doop ook deels verwys na die vergifnis van sonde, is dit nie presies dieselfde as die doop van Johannes nie, want die doop van Johannes was 'n doop van "bekering" (die volk het hulle "sonde bely" en hulle bekeer van die manier "hoe hulle dink") - dit het dus ook wel gewys op vergifnis van sonde, maar met die doel om die volk gereed te kry vir die Een wat aan die kom was.  Johannes se bediening het vingers gewys na Christus Jesus, en sy doel was om die pad voor te berei vir die Messias. Die bekering met sy doop as 'n teken daarvan, was noodsaaklik.  Dat die volk hulle sou bekeer tot die Here wanneer die Messias terugkom en Hy Sy koninkryk gaan oprig, is lank tevore deur die profete voorspel (die Joodse volk sal weer deur hierdie bekering gaan voor die Messias terugkom) (Hos. 3:5; Sag. 12:10). Daarom het Johannes ook die woorde gebruik, "want die koninkryk v/d hemele het naby gekom" - vir baie eeue het hulle uitgesien na hierdie koninkryk waarin die Messias vanuit Jerusalem sou regeer oor die hele aarde. Johannes se doel was dus om die kinders van Israel tot bekering te roep en om vir die Here 'n toegeruste volk voor te berei (Luk. 1:15,16).  Hy kan gesien word as "Elia wat sou kom" (Matt. 11:14; Mal. 4:5,6).

Die Christelike doop aan die ander kant, verwys nie alleen na vergifnis van sondes nie, maar verwys ook na geloof in Christus Jesus, die Seun van God;  m.a.w., geloof in die EEN WAT SONDES VERGEWE;  Hy het die SLEUTELS VAN DIE DODERYK en sal besluit wie opstaan tot lewe en wie nie, en Hy GEE vir ons (doop ons in) DIE HEILIGE GEES (en ons sal ingaan in Sy koninkryk...). Bekering is dus 'n voorwaarde, maar as hulle nie ook GLO in die Een (wat gekom het), die Een wat hulle opwek tot lewe en vir hulle die Heilige Gees gee nie, hoe kan hulle dan ingaan in Sy koninkryk? (want as jy nie gewederbaar is deur die Gees nie, dan kan jy nie in Sy koninkryk ingaan nie). Wat help dit hulle kom tot bekering, maar hulle aanvaar nie die Een wat hulle kan opwek tot lewe en inneem in die koninkryk nie?  Daarom sien ons 'n vb. in Hand. 19 van dissipels wat wel gedoop was in die doop van Johannes, maar nog nie die Heilige Gees ontvang het nie. Christus is die Een wat mense doop met Sy Gees en gehoorsaamheid en geloof word vereis voor iemand die Heilige Gees ontvang. Hierdie mense in Hand. 19 is toe "weer gedoop", maar hierdie keer "met die doop in Christus Jesus" en toe het hulle die Heilige Gees ontvang.  Dit beteken egter nie dat die waterdoop 'n voorwaarde is vir die doping in die Heilige Gees nie, want daar is vb.e van mense wat wel die Heilige Gees ontvang het nog voor hulle deur die waterdoop is (Hand. 10:47,48),  maar wat dit beteken, is dat die Christelike doop 'n bewys is van geloof in die EEN (nl. geloof in Christus Jesus) WAT ONS DOOP MET SY GEES. Terloops, dit beteken egter ook nie dat iemand altyd outomaties die Heilige Gees ontvang direk na hy gedoop is nie! (Hand. 8:15-17; 10:47,48)  -  in sommige gevalle ontvang mense nie onmiddellik die Heilige Gees nie;  maar dan is daar weer gevalle waar mense onmiddellik die Gees ontvang wanneer hulle gedoop is (Hand. 2:38).  Dit is dus duidelik dat dit nie gaan oor "of iemand gedoop is" nie, maar eerder oor "of hy hom bekeer het en glo", waarvan die opdrag van die waterdoop dan 'n teken is (en ons behoort gehoorsaam te wees aan hierdie opdrag).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Die doop in Christus Jesus, wat wel geskied in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees (Matt. 28:19), stel 3 dinge voor:

-(1)  DIT WYS OP DIE VERGEWING VAN SONDES (volkome vergifnis deur Christus se bloed en liggaam wat vir ons gebreek is, omdat ons ons bekeer en GLO );
-(2)  DIT WYS OP 'N NUWE LEWE, AFGESONDER VIR DIE HERE (dit wys m.a.w. op die bekering en belydenis van sonde, en die ontvang van die Heilige Gees wat ons nuut maak van binne, en wys op die pad van godsaligheid)(dit simboliseer ook die dood en opstanding:  soos Christus gesterf het, word ons begrawe saam met Hom in Sy dood, m.a.w. "ons wil nie meer die sonde dien nie;  en soos Hy opgestaan het uit die dood, staan ons op in 'n nuwe lewe, m.a.w. 'n lewe waarin "ons Hom dien", nie meer onsself dien nie - geloof);
-(3)  en DIT WYS OP DIE OPSTANDING TOT LEWE  (Die term "nuwe lewe" verwys nie alleen na die Christen nou "op die pad van godsaligheid" nie, maar verwys ook na hoe die Here Jesus Christus ons gaan opwek op daardie dag wanneer Hy terugkom (die opstanding) - dan ontvang ons die opstanding tot lewe, m.a.w. "ewige lewe", en dan is die dood eers finaal oorwin! M.a.w., die liggaam waarin Jesus opgestaan het (Rom. 6:9,10), en wat vir die gelowige dienskneg belowe word, nl. die wat Hom dien en in Hom glo).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:


Alhoewel ons nie gered word deur die doop self nie, is dit 'n teken van BEKERING EN GELOOF ('n teken van ons redding) - ook 'n teken van die hoop op die beloftes wat diesulkes ontvang wat in Hom glo. 

As ons in Christus gedoop is, het ons ons MET CHRISTUS BEKLEE - dan word ons gesien AS DEEL VAN DIE NAGESLAG VAN ABRAHAM EN IS DAN VOLGENS DIE BELOFTE, ERFGENAME! (Gal. 3:24-29)(ons word dus gesien as "deel van God se volk")(jy wat 'n wilde olyfboom was, is onder hulle ingeent en het deel gekry aan die wortel v/d "mak" olyfboom...Rom. 11). Ons is dan ook "kinders van die koninkryk".  En net soos die seuns besny is en so uitgesonder is as diensknegte vir die Here, so is ons deur die doop "besny", maar nie 'n besnydenis wat met hande verrig is nie, maar deur die liggaam van die sondige vlees af te le (ons was m.a.w. dood deur die misdade en onbesnedenheid van ons vlees, maar nou lewend gemaak vir Hom, om Hom te dien - afgesonder vir Hom..., 'n volk van eersgeborenes!)(Kol. 2:11-13).


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.