Donderdag 28 Junie 2018

Wie is geskik om saam met Hom te regeer?

Wanneer iemand besluit om die Here te dien,  is die idee van "regering" nie juis iets waaroor gepraat word nie en ook nie die bewegende faktor vir so 'n besluit nie...; tog sal die een wat Christen word met die tyd uitvind dat Christene (die gelowiges - gehoorsames, sagmoediges, barmhartiges...) eendag saam met Jesus sal REGEER! (Openb. 19:5); en het die belofte dat hulle die aarde sal beërwe... (Matt. 5:5). Ons moet verstaan dat die koninkryk van God nie net hemels is nie, maar ook 'n "fisiese" koninkryk wat Jesus Christus op aarde sal opneem. Die aarde sal onder een leier wees, nl. die Here Jesus Christus self (in "die volgende eeu")(Ps. 47:8,9; Openb. 19:15; Luk. 1:31-33; Hebr. 1:8), en die tyd van Sy regering begin met 'n 1000-jaar tydperk aan die einde van hierdie eeu (maar is ook tot in ewigheid-Eks. 15:18; Dan. 2:44). Christene het hierdie belofte dat hulle eendag deur Jesus opgewek sal word (tot lewe) wanneer Hy terugkom, en hulle sal ingaan in Sy "fisiese" koninkryk op aarde (wanneer die koninkryke van die wêreld Sy eiendom word - Openb. 11:15). Die skrif verklaar dat die wat gekoop is met Sy bloed (uit elke stam, taal, volk en nasie) is KONINGS en PRIESTERS gemaak vir onse God!, en hulle sal AS KONINGS OP DIE AARDE REGEER (Openb. 5:9,10; 20:6; 22:5; Dan. 7:18). Vir iemand om egter geskik te wees vir hierdie "regerings"-amp, moet hy natuurlik aan sekere vereistes voldoen!;  meer presies sal die amp gegee word aan die wat GLO (en toon dat hulle die geloof het).  Dit gaan oor "priesterskap" en wie geroep word as priesters vir die Here en as eerstelinge onder die volke - ons moet dus verstaan wat dit beteken "om 'n priester te wees" vir die Here (http://warechristenedagstukkies.blogspot.com/2015/06/n-heilige-priesterdom-n-volk-as-eiendom.html).  Dit gaan oor wat vir die Here belangrik is, NIE noodwendig wat mense dink die nodige kwaliteite is vir iemand om te kan regeer nie. Jesus het vir ons baie geleer oor die koninkryk van God en o.a. vir ons geleer wie dit is wat uiteindelik sal ingaan...! 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

'n Land behoort aan die mense vd land, en die een wat regeer het 'n groot taak omdat hy moet sorg dra "vir dit wat aan ander behoort" (Matt. 25:14), en as hy nie getrou is in hoe hy dit bestuur nie, dan kan hy ook nie verder vertrou word nie.  Jesus het hierna verwys in Luk. 12 wanneer Hy die volgende opmerking maak:  (Luk 16:12)  "En as julle nie getrou was in ‘n ander se goed nie, wie sal aan julle jul eie gee?"  Alles behoort aan die Here! - wat ons nou kry, behoort nie aan ons nie. En as ons nie getrou is in Sy goed nie, hoe sal ons eendag ons eie kry? Ons moet verstaan watter dinge vir die Here Jesus belangrik is;  m.a.w. wat dit is wat Hy sien as nodige kwaliteite om saam met Hom eendag te kan regeer...?  Daar is heelwat vb. e in die Skrif van mense wat hulle posisie misbruik het.  Kyk bv. na die seuns van Samuel wat onregverdige wins agternageloop het, omkoopgeskenke aangeneem het, en die reg verdraai het (1Sa 8:3). Die gevolg was dat hulle deur die mense verwerp was as leiers.  Kyk ook die waarskuwings in Jes. 1, hoe die Here Sy volk aanspreek oor hulle wederstrewigheid... Wat Hy teen die vorste van Juda en Jerusalem gehad het, was hulle opstandigheid, en hulle was metgeselle van diewe, het omkoopgeskenke aangeneem, was onbarmhartig, en het nie omgegee vir die wees en weduwees nie... (Jes. 1:23).  Sulke vorste kan nie vertrou word nie!  Eseg. 22 is nog 'n vb. van mense wat gefaal het in hulle posisie want hulle het gehou van onregverdige wins, omkoopgeskenke, was kwaadsprekers, hoereerders, bloedvergieters ens... 
Elke Christen, as kind van God, is huidiglik ook in die posisie waar hy reeds bewys hoe hy te werk gaan met dit wat die Here aan hom toevertrou... Hoedanig is sy omgang met ander mense?  Verstaan hy wat dit beteken om te dien?  Hoe lyk sy morele waardes?  Is hy barmhartig?  Is hy opreg? Kan hy vertrou word? Is hy regverdig?...
_________________________________________________________________________________

GEDAGTE:
Elke Christen is deel van daardie groep mense wat gekies is onder die volke vd aarde as "eerstelinge" - om vir die Here priesters te wees op aarde. Hoedanig hanteer ons ons priesterskap?, want ons is alreeds in 'n posisie geplaas waar ons bewys of ons eendag saam met Hom sal kan regeer.

Uit Jesus se leringe, in die evangelie vd koninkryk, kan ons baie leer oor wat presies Hy as belangrik bestempel (vir die wat eendag saam met Hom sal regeer):
-   Hy het bv. baie gepraat oor die belangrikheid van "dien". Leierskap gaan oor "om te dien". Regering gaan oor dien, nie jou eie wil nie.  Deur "om die wil van die Here te doen" en "in Hom te bly" wys iemand dat hy nie sy eie wil soek nie maar verstaan wat dit beteken om te dien.  Die Christen kan niks sonder die Here doen nie (en hy moet ook nie)! (Matt. 5:5)(Luk. 22:26,27; Luk. 9:48; Matt. 18:3-6; 23:11,12; Matt. 7:21; 12:50; Luk. 6:46; Openb. 3:18)(Joh. 5:30; 6:39). As ons nie nou alreeds bewys dat ons instaat is om te kan "dien" nie, hoe sal ons eendag kan dien in Sy regering? Hoe kan iemand eendag as dienskneg toegelaat word in Sy koninkryk (om saam met Hom te regeer) as hy nou al wys dat hy nie 'n dienskeng wil wees nie, en nie die Here raadpleeg nie maar uit eiewysheid doen soos hyself dink?
-  Verder moet die een wat in 'n leiersposisie is bewys dat hy regverdig met ander se geld en besittings kan werk...  Alles behoort aan die Here en wat iemand ookal ontvang, is steeds die Here s'n, maar hoe werk ons met dit wat Hy aan ons toevertrou?  Jesus het o.a. geleer dat iemand se begeerte nie moet wees om ryk te word (in geld en besittings) nie, maar eerder om ryk te word in die Here (Matt. 19:23; Luk. 12:16-21; 14:12; 16:1-14; 16:19-31; 18:22-24; Luk. 19:8; 1 Kor. 1:5; 4:8; 2 Kor. 6:10; 2 Kor. 8:9; 2 Kor. 9:10,11; 1 Thess. 3:12; 1 Tim. 6:9,18). Wat dit beteken is dat ons nie geld, besittings ens. kry bloot om onsself te verryk nie, maar eerder dat dit gaan oor hoe ons daardie geld, besittings, werke, gawes, bedieninge watookal,  kan gebruik in die koninkryk van God - dus "begeer om dit op te gee en eerder ryk te word in die Here" (as om die self te verryk).  Vgl. dit met die tema van "lewe verloor in plaas van om dit te wen". Ons moet "woeker" met dit wat die Here aan ons toevertrou, m.a.w. dit meer maak deur dit te gebruik in die koninkryk van God, want as jy dit alles vir jouself hou, is dit soos om dit te begrawe - (Matt. 25:14-30)(Luk. 12; Mark. 12:41-44; Luk. 19:12-27; Openb. 3:17,18).
-  Iemand wat wil regeer, moet ook kan wys dat hy omgee vir ander mense en barmhartig is (Luk. 12; 3 Joh. 1:9,10; Matt. 18:23-35; Luk. 6:36,37; Matt. 25:31-46). Hierdie is 'n goeie kwaliteit van enige iemand "in regering", en dit word verwag dat so iemand simpatiek is, na die mense luister en omsien na hulle behoeftes.  Die Here sal nie toelaat dat goddelose mense in Sy koninkryk regeer nie! (Jud 1:4; Matt. 5:7; 18:33-35...). Hy soek mense wat barmhartig is en omgee vir ander, vergewe en goed doen... Die Here sal nie toelaat dat mense wat net omgee vir hulleself, soos kwaadsprekers, hoereerders, egbrekers, moordenaars, afgodedienaars, wellustelinge, gierigaards, rowers, trotsaards, grootpraters, ongehoorsames, onbarmhartiges, ...ens. Sy koninkryk beërwe nie (1 Kor. 6:10; 2 Tim. 3:3; 1 Kor. 5:11; 1 Pet. 4:15; 1 Thess. 4:7; Ef. 4:28; 2 Tim. 3:2.........)(Matt. 25).
-  Die een wat lei of regeer, moet onberispelik wees omdat hy 'n vb. is en vertrou moet word (1 Pet. 5:3; 1 Kor. 1:8; Fil. 2:14,15; 1 Thess. 3:13; 5:23; 2 Pet. 3:14; Openb. 3:18).  Hy kan nie "doen wat hy wil" of lae morele waardes hê nie want dit gaan nie juis respek afdwing nie.  Onbesrispelikheid is 'n teken van gehoorsaamheid en iemand wat homself kan beheer en op wie ander kan staatmaak. Op dieselfde wyse kan die ongehoorsame Christen wat in sonde stap en weier om hom te bekeer daarvan (m.a.w. die een wat sy eie wil kies en doen wat hy wil), eendag nie vertrou word om te kan regeer in die koninkryk van God nie (Jud 1:18), want hy sal nie gehoorsaam wees aan sy Koning nie, maar doen wat hy wil! Hoe sal die Koning op hom kan staatmaak?
-  Vir die persoon wat wil regeer moet wette belangrik wees en hy moet kan toesien dat die wet nie misbruik of verdraai word nie. Op dieselfde wyse is dit die wat die waarheid soek, en nie ag gee op valse leerstellings nie, wat eendag saam met Jesus sal kan regeer. Die ideale kandidaat moet nie die reg verdraai nie, want deur die waarheid te beskerm bewys hy dat hy die koninkryk kan beskerm teen aanslae.  Hy moet ook homself kan heilig hou en nie in dieselfde juk trek met die ongehoorsames en ongelowiges nie bv., moet nie omkoopgeskenke aanneem nie...(Openb. 2:18-29; Matt. 12:25; Eks. 34:15; 1 Kor. 8:10-12; 10:18-28; Hand. 15:20; 2 Kor. 6:14)(Openb. 3:14-23).
-  "Die ideale kandidaat" moet ook verdrukking kan verdra - en as hy dit nie kan doen nie, dan kan hy nie vertrou word nie want so iemand bewys dan dat hy die koninkryk sal verloën.  2Ti 2:12 - "As ons verdra, sal ons met Hom regeer.  As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën".
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.