Saterdag 18 Mei 2019

Wat glo die Christen van vandag regtig?

Die rede waarom mense somtyds niks te doen wil hê met Christenskap nie het veral te doen met die feit dat Christene nie altyd eens is in dit wat hulle GLO nie...  Sommige is wel onkundig ja, maar ander weier bloot om Jesus se leringe te ontvang en al bely hulle dat hulle in Hom glo, glo hulle nie werklik in dit wat Hy geleer het nie (??). 

Geloof in Sy leringe was nog altyd 'n bewys dat iemand in Hom glo. Geloof in Jesus se woorde bring sekerheid en eenheid, maar wanneer Christene nie ag gee op Sy woorde nie bring dit onenigheid in wat dit is waarin ons glo.  Daar word bv. verskeie geleenthede genoem in die Skrif van mense wat aanstoot geneem aan Sy woorde...(Mat 15:12; Mark. 6:3) en so dus bewys het dat hulle twyfel in Hom. Selfs baie van die wat vir Jesus gevolg het wou op 'n stadium nie verder na Hom luister nie omdat "Sy woorde vir hulle te hard was"... (Joh. 6:60,61). Hulle het aanstoot geneem en onder mekaar gemurmereer oor Sy woorde. In Joh. 6:64 verduidelik Jesus wat die rede is hiervoor: (Joh 6:64ab - "Maar daar is sommige van julle wat nie glo nie. Want Jesus het van die begin af geweet wie hulle was wat nie glo nie...."). Die feit dat hulle nie in Sy woorde geglo het nie, was 'n bewys dat hulle nie in Hom glo nie!  Wanneer Christene in opstand kom teen Jesus se leringe of iets anders leer en glo as dit wat Hy geleer het, is dit 'n bewys dat hulle nie werklik in Hom GLO nie Die wat in die naam van Christen valse en menslike leerstellings verkondig is nie besig om die Christelike geloof enige gunste te doen nie;  inteendeel, hierdie is die rede waarom die weg van die waarheid gelaster word! (2 Pet. 2:2). Jesus het bv. geleer dat die wat in Hom glo en Hom gehoorsaam die belofte van ewige lewe het  (Joh. 3:15,36 ens.),  maar Hy het ook geleer dat die wat Hom ongehoorsaam is, nie die lewe sal sien nie... (Joh. 3:36);  en Hy't ook geleer dat daardie lote (l.w. dat "lote" verwys na gelowiges) wat nie in Hom bly nie, uitgewerp sal word en in die vuur gegooi en verbrand word... (Joh 15:6). Tog is daar baie Christene vandag wat die teendeel leer en dus nie in Jesus se woorde glo nie, maar eerder leer dat ongehoorsaamheid geensins iemand se saligheid kan beinvloed nie en leer dat geen "loot" ooit in die vuur kan beland nie (??). So, in wie glo jy nou eintlik? In Jesus en in Sy woorde?  Of glo jy in wat mense leer?    
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:

Baiemaal word daar debateer oor iets waarop Jesus alreeds 'n duidelike antwoord gegee het. Natuurlik is mense somtyds net bloot onkundig (en moet dus tot kennis gebring word, hetsy deur 'n debat of lering of watookal), maar onkundigheid is nie altyd die rede waarom mense steeds sal redeneer oor 'n vraag waarop Jesus reeds die antwoord gegee het nie.  Die ander rede is dat daar Christene is wat wel nie onkundig is nie maar bloot nie in Sy woorde glo nie! So iemand glo eerder in homself of in iemand anders (m.a.w. in sy eie sieninge of in wat iemand anders leer).  Hulle saai graag twyfel by die wat alreeds die waarheid ken en in Jesus se woorde glo, en verdraai Sy woorde om hulle eie opinies te bevestig en mense te beweeg om eerder in hulle te glo. 

Debatte is nodig om valse leerstelling uit te wys of om mense tot kennis te bring, maar is in sommige gevalle niks anders as 'n beheerde nuttelose stryery nie, en die rede hiervoor is bloot dat nie almal die waarheid ontvang nie. Met sommige mense, meer presies die wat  Jesus se woorde hard vind of eerder wil murmureer daaroor, moet jy liewer nie in 'n debat gaan nie. Die wat onkundig is moet natuurlik tot kennis gebring word, maar die wat kies om nie te glo in Jesus se woorde en leringe nie, glo nie in Hom nie, en het dus klaar besluit wat dit is waarin hulle glo (1 Tim. 6:3-5: "As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie, dié is verwaand en verstaan niks nie, maar het ‘n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog, nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense"). Baie wat hulleself Christene noem weier  om Jesus se woorde te ontvang, of neem aanstoot in Sy woorde, net soos sommige van die in Joh. 6.  Wanneer iemand nie in Jesus se woorde glo nie, is dit 'n bewys dat hy nie in Jesus glo nie.  

(Mat 11:6)  "En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie". Ons moet ag gee op Jesus se woorde - ten minste as ons bely ons GLO in Hom! Die persoon wat regtig die waarheid soek, raak nie opgeblase nie maar besef eerder hoe min hy eintlik weet. Christene moet bv. seker maak dat hulle begrip vd evangelie en geloof nie verkry word deur dit wat 'n kerk of 'n betrokke leermeester leer nie, maar dit moet van die Skrif en van Jesus se leringe verkry word (1 Joh. 4:1). Nie almal in die kerk is opreg nie, en nie alle kerke verkondig die waarheid nie. 'n Kerk en 'n leermeester se leerstellings moet beoordeel word. Baiemaal verkeer Christene onder 'n wanindruk dat die Here van hulle verwag om hulle leiers of kerk te gehoorsaam al is hulle leringe verkeerd of effens verdraai, maar dit is natuurlik in stryd met wat Jesus geleer het. Jesus het selfs Sy dissipels gewaarsku teen die suurdeeg van hulle dag se leiers en leermeesters..!.- Matt. 16:7,12. Ons moet dit wat vir ons geleer word meet aan die Skrif en aan Jesus se leringe, want nie almal in die kerk is opreg nie. Wat van die Christen verwag word is om die Here Jesus Christus en Sy leringe te volg, nie mensgemaakte leringe nie...
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.