Wys tans plasings met die etiket oes. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket oes. Wys alle plasings

Woensdag 20 Mei 2020

Hoe siekte vrug affekteer

Wanneer Jesus Christus terugkom sal elke Christen (saad-plant-boom) se vrug geoes word.  Maar in hoedanige toestand sal elkeen se vrug wees?, en sal daar enige vrug wees om geoes te word? (Mark. 4:26-29; Matt. 13:30-43).  "Geestelike mense" (weergeborenes) is veronderstel om "vrug te dra tot ewige lewe" (maw vrug wat vir hulle die ewige lewe oes)(Joh. 4:36; Rom. 6:22), maar nie almal dra vrug nie, en nie alle vrug is gesond en bruikbaar nie.  En nie alle "plante" skiet eens wortel!, of bereik die stadiums van groei en vrug nie;  en somtyds word vrug verstik deur ander dinge soos dorings...
In die gelykenis vd Saaier word hierdie nogal goed verduidelik, en ons kan daaruit leer dat
Christene in 3 groepe verdeel word, nl.
(1) die wat die woord aanneem, maar geen wortel skiet nie;
(2) die wat die woord aanneem, wel wortel skiet, asook groei en vrug dra, maar weer hulle vrug verloor of onvrugbaar word;
(3) en die wat die woord aanneem, wortel skiet, groei, vrug dra, en die vrug behou en/of meer vrug dra.

Wanneer vrug geoes word word bepaal watter vrug behou, en watter uitgegooi word. Wanneer Jesus terugkom sal iets soortgelyk gebeur wanneer Hy Sy dorsvloer skoonmaak, en daar sal skeiding gemaak word tussen "koring en onkruid" (ware en valse) en "koring en kaf" (die met vrug, en die sonder vrug).
Mat 13:30 - " Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur".
- Luk 3:17 - " Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring saambring in sy skuur, maar die kaf met onuitbluslike vuur verbrand".
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:


Nie alle vrug is bruikbaar nie, en nie alle dele van 'n vrug nie. As 'n vrug bv. gewond is het dit baiemaal tot gevolg dat groot dele vd vrug uitgesny en verlore gaan.  Slegte vrug word net eenvoudig weggegooi! En somtyds is daar niks om te oes nie omdat dorings die plant verstik, of 'n plant het baie van sy vrug verloor omdat dit siek is.  Hierdie word ook in die Skrif in beeldspraak gebruik van Christene.

Siende elke Christen veronderstel is om te groei en vrug te dra, kan die toestand van hulle vrug ook op hierdie manier verduidelik word.  Sekere gelowiges word bv. somtyds na verwys as "siek" (en ons moet verstaan wat hiermee bedoel word).  As 'n Christen "siek" of ongesteld is sal dit beslis sy vrug beïnvloed. 'n Siek plant kan steeds vrug dra, ja, maar siekte het 'n invloed op vrug wat tot gevolg het dat groot dele vd vrug dalk weggesny en verlore gaan, en in uiterste gevalle kan "siekte" selfs die dood van 'n plant veroorsaak!  Of bv. veroorsaak dat die wortel vrot (wat somtyds gered kan word, en somtyds nie).  Hierdie is belangrik om te onthou wanneer daar na "siek" gelowiges verwys word.  Wanneer 'n Christen siek is (m.a.w., a.g.v. sonde) beteken dit nie dat hy nie meer vrug kan dra nie, maar hy mag in die proses baie van sy vrug verloor, en in uiterste gevalle kan sy "siekte" veroorsaak dat die wortel begin vrot, of kan moontlik "doodgaan".  "Siek" Christene is op hierdie gevaarlike plek en as hulle nie "medisyne" neem nie, kan dit onvrugbaarheid, of selfs die dood tot gevolg hê. Somtyds word 'n siekte genees (Jak. 5:19);  en somtyds lei dit tot die dood (Joh. 11:4).  Op dieselfde wyse word "siek" Christene somtyds genees, en somtyds nie! - somtyds lei dit tot die dood... Vgl. hierdie gerus met die tema van "sonde tot die dood" (m.a.w. sonde wat tot die dood lei - 1 Joh. 5:16,17; Jak. 1:15; Rom. 6:16). Slegs sondes waarvan iemand hom bekeer, kan vergewe word. As 'n Christen kies om in sonde te stap wat tot die dood lei, kan hy nie verwag om "lewe" daaruit te oes nie.

Ander beeldspraak wat ook gebruik word is die van "gewondes".  'n Gelowige wat gesien word as "gewond" kan ook groot dele van sy vrug verloor, of selfs onvrugbaar word! (sou hy hom steeds nie bekeer na sy wonding nie) - om dit heeltemal te verstaan moet ons natuurlik ook weet waarna die begrip "gewondes" verwys in die Skrif.  Gelowiges wat voorgestel word as "gewond" verwys nie net na die wat in sonde stap sonder om hulle daarvan te bekeer (soos "siekes") nie, maar meer presies na "siekes" wat deur die Here getugtig word omdat hulle nie wil hoor nie, met die doel om hulle te beweeg tot bekering. "Gewondes" kan miskien ook vgl. word met die tema van "blindes" in die Skrif (die wat lou is, "vergeet", hulle harte en sinne verhard ens.- het blind geword en kan nie meer "sien" nie)(het "salf" nodig). Elke Christen wat in sonde stap waarvan hy hom nie bekeer nie (bv. leunaars, diewe, dronkaards, kwaadsprekers, hoereerders, onbarmhartiges ens.) staan die gevaar om so "gewond" te word... (m.a.w om deur die Here getugtig te word). Gewondes verwys nie na gelowiges wat geen vrug dra nie, want dan sou hulle nie eens kans kry nie! (Joh 15:2; Matt. 3:10). Dit is 'n seer proses waarin diesulkes beslis vrug (wat hulle alreeds dra) verloor, ja, maar die snoei en skoonmaak is goed vir hulle (Openb. 3:19). 'n Gewonde kry 'n kans om reg te maak!, en hy moenie kwaad word omdat hy getugtig word nie, want al manier hoe hy van sy wond genees kan word (m.a.w. die manier hoe hy onder die tugtiging kan uitkom) is deur hom te bekeer (van die sonde). Die tugtiging is belangrik want dit is beter vir so iemand om dele van sy vrug te verloor as om sy lewe te verloor. Sou hy egter steeds na die tugtiging hom nog nie bekeer nie en bv. sy hart verhard, staan hy beslis in gevaar om heeltemal onvrugbaar te word en sal opeindig soos iemand "sonder vrug" - (Joh. 15:2 - "Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra").
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
https://warechristene.blogspot.com/2020/04/honger-dors-vreemdeling-naak-siek.html

Donderdag 27 Julie 2017

Die Here se wingerd

In Mark. 12:1-12 ("in die gelykenis van 'n Man wat 'n wingerd geplant het en dit aan landbouers uitverhuur het terwyl Hy op reis gaan"), gebruik Christus 'n soort beeldspraak wat tog nie onbekend was by die volk nie.  Hulle het goed verstaan waarna die woord "wingerd" in die gelykenis verwys, want in Jes. 5 word die huis van Israel voorgestel as "die Here se WINGERD" - (Jes. 5:7 - "Want die wingerd van die HERE van die leërskare is die huis van Israel, ...........................").
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Die begrip "huis van Israel" verwys na "die volk van God, die stamme van Israel" (Eks. 16:31; 40:38; Hebr. 8:10; Hand. 2:36; Jes. 5:13; Matt. 10:16; 15:24), maar dit verwys ook na die land waarin die volk woon, en na Jerusalem (Jes. 5:3,5,6). Ons kan miskien ook hierdie WINGERD (die heilige land en Jerusalem, met sy landbouers) sien as beeldspraak vir "koninkryk van God" (Eks. 19:6), en die landbouers, die "kinders vd koninkryk" (Matt. 8:12). Die WINGERD word deur die Vader geplant  - (vgl. Mark. 12:1 met Jes. 5:1,2 - "'n heining daarom gesit, 'n parskuip gegrawe en 'n wagtoring gebou"....-vgl. met Jes. 5:2). Die Man gaan dan op reis en verhuur die wingerd (huis van Israel / "koninkryk van God") aan landbouers (kinders van Israel / "kinders van die koninkryk")... Die landbouers geniet die vrug van die aarde, maar skuld natuurlik vir die Man wat die wingerd geplant het uit die vrug vd wingerd!, want na regte is dit wat hulle het nie hulle eie nie, maar hulle is eintlik besig om na die Man se goed om te sien. Om hierdie "vrug te oes", stuur die Man (die Vader) diensknegte uit. Ons moet dus verstaan wat dit beteken as die diensknegte uitgestuur word en hoe iemand se vrug geoes word...  Daar is verskillende "oeste" in die Skrif, maar in hierdie geval van oes word diensknegte uitgestuur om die Here se wil bekend te maak, die waarheid te bring en die evangelie te verkondig en terwyl hulle dit doen, word DIE VRUG GEOES, want die manier hoe elkeen HOOR, sal wys hoedaning hulle  vrug  is en wat hulle het om te gee (m.a.w. "wat het hulle gedoen met dit wat aan hulle toevertrou is?").  Vgl. hierdie gerus met die gelykenis in Luk. 19:11-27, van hoe Christus Jesus weggaan om Sy koninskap te ontvang en daarna sal terugkom - maar terwyl Hy weg is, gee Hy vir Sy diensknegte elk ponde waarmee hulle moet handel dryf, en wanneer Hy terugkom sal Hy kyk wat elkeen met daardie ponde gedoen het!  Op dieselfde wyse wat die Vader " 'n wingerd geplant het" (en weggegaan het en landbouers aangestel het), "saai Christus landbouers in die wingerd", nl. dat Hy ons soos "goeie saad" in die land saai (Mat 13:24) - en l.w. dat die saailand hier vgl. word met die wêreld, en die goeie saad die "kinders van die koninkryk" (Matt. 13:38).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
As die kinders vd koninkryk nalaat om die Een wat die wingerd geplant het te dien en respekteer (bv. die eerste gebod breek), en die wingerd misbruik deur dit te gebruik vir eie eer en selfsug en die barmhartigheid nalaat (bv. die tweede gebod breek), dan is die vrug wat van hulle geoes word, nie goeie vrug nie, en daar sal dan geen vrug wees wanneer die Man diensknegte uitstuur, of self kom om dit te oes nie!  En dit is inderdaad wat gebeur het toe Christus die eerste keer gekom het, want toe Hy kom om die vrug te oes, toe vind Hy dat baie van die landbouers slegte vrug dra, en dus geen goeie vrug nie (of nie die nodige goeie vrug nie)! Hy verwys hierna in Mark. 12:10, want toe die landbouers opgeroep word tot bekering (deur Johannes die doper en deur Christus), en die waarheid en die evangelie deur Christus Jesus aan hulle verkondig word, het hulle hul verhard daarteen en gewys watter soort vrug hulle dra. Vgl. hierdie gerus ook met die beeldspraak in Jes. 5 waar die Here 'n druiwe-oes verwag, maar die "wingerd" wilde-druiwe voortgebring het ! (Jes. 5:2 - "En Hy het dit omgespit en die klippe daar uitgehaal en dit beplant met edel wingerdstokke; en Hy het ‘n toring daar binne-in gebou en ook ‘n parskuip daarin uitgekap; en Hy het verwag dat dit druiwe sou dra, maar dit het wilde druiwe voortgebring").  Die uiteinde was dat die muur gebreek is, die land vertrap en dit is 'n wildernis gemaak is... (Jes. 5:5,6).
Ons leer uit Jes. 5 wat die dinge is wat die toestand van hulle vrug veroorsaak het:
 - hulle was bv. selfsugtig, en die "grotes en mooies" het verkeerd gewerk met dit wat die Here aan hulle toevertrou het, en het in plaas van om barmhartigheid te betoon en die armes te help en aan hulle grond te gee, liewer gekyk hoeveel grond hulle vir hulleself kan bymekaarmaak! (Jes. 5:8).  Hulle was dus ONBARMHARTIG.  Hulle was RYK in die verkeerde dinge!  In plaas van om ryk te wees in die Here, was hulle verstik deur die rykdom en die sorge en die genietinge van die lewe (Jes. 5:11,12) - vgl. dit gerus met die 3de groep in die gelykenis vd saaier (Luk. 8:14), waarin die uiteinde van so iemand is dat hy GEEN RYP VRUG DRA NIE, of hy word ONVRUGBAAR (Matt. 13:22). 'n Volk wat hulle so gedra word genoem " 'n volk sonder kennis!" (Jes. 5:13);  hoogmoedig (v.15), eiewys (v.21), laat nie geregtigheid geskied nie, maar onderdruk die regverdige (v.23), noem sleg goed, en goed sleg (v.20)....   Met die oes was gekyk wat hulle gedoen het met die besittings, geld, werke, krag ens. wat die Here aan hulle toevertrou het, en dit is gevind dat meeste van die landbouers selfsugtig daarmee gewerk het, staatgemaak het op hulle eie insig, hulleself hoër geag het en armes en geregtiges onderdruk het -  in so 'n mate dat hulle selfs die waarheid verdraai het deur goed sleg te noem en sleg goed!
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Ons kan 'n paar interessante dinge leer oor die begrip "wingerd" aangaande die heilige land en heilige volk (wat ook sekerlik soos beeldspraak gebruik kan word vir DIE KONINKRYK VAN GOD"):
-  Net soos die volk nie toegelaat was om twee soorte saad in een WINGERD te saai nie (Deut. 22:9), net so sal die saad wat nie deur die Vader in Sy koninkryk gesaai is nie (m.a.w., die wat nie deur die Vader geplant is nie, maar deur die duiwel gesaai is)(Matt. 15:30; Mark. 13:27,28,38,39), eendag ontwortel word (vgl. dit met die tema van die koring en die onkruid).
-  Die volk was ook beveel dat hulle die land 6 jaar mag saai en WINGERD snoei en opbrings daarvan versamel, maar in die 7de jaar moes dit vir die land volkome rus wees! ('n SABBAT vir die Here)(Lev. 25:3-5).  Dan mag hulle nie gesaai het nie en ook nie snoei nie, en dit wat opgaan, nie afoes nie - en die opbrings vd sabbat vd land sou almal se voedsel wees... Dit is om hierdie rede waarom geleerdes die koms van Christus Jesus verwag wanneer die aarde 6000 jaar oud is (wat wel nou die geval is). Daar is 'n SABBATSRUS belowe vir die volk van God! (...m.a.w., die 1000 jaar wat volg op die 6000 jaar?)(http://warechristene.blogspot.co.nz/2017/06/die-sabbat.html) maar nie almal sal ingaan in hierdie "sabbatsrus" nie! (http://warechristene.blogspot.co.nz/2016/05/in-sy-rus-ingaan.html).
-  Die volk was ook verder beveel dat hulle nie hulle WINGERDE skoon moet afoes nie en ook nie die trossies wat van die wingerd val moes versamel nie, maar dit moes laat oorbly vir die arme en die vreemdeling (Lev. 19:10). Op dieselfde wyse voorsien die Here vir Sy kinders besittings, geld, krag, werke, gawes en bedieninge in hierdie (geestelike) koninkryk van God, en verwag natuurlik dat hulle nie alles vir hulleself hou nie, maar barmhartig wees en deel wat hulle ontvang (http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2017/07/die-koninkryk-vd-hemele-is-soos-n_1.html).  As ons nie hierin getrou is nie, m.a.w. getrou is in "Sy goed" wat Hy aan ons toevertrou (soos die Vader Sy wingerd aan die landbouers toevertrou) nie, dan sal ons nie ons eie kan erf nie! (Luk. 16:12).  Wat doen ons met die besittings, geld, krag ,werk... wat Hy aan ons toevertrou? Gee ons om vir die wingerd?  (Matt. 10:32,33).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:

Met hierdie tipe van Ou Testamentiese beeldspraak, het die dissipels ("diensknegte") goed verstaan wat Jesus bedoel het toe Hy hulle uitgestuur het met die woorde:  (Luk 10:2 - "............ Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes dat Hy arbeiders in sy oes uitstuur"). Toe Christus die eerste keer gekom het, het Hy o.a. gekom om van die vrug vd wingerd te ontvang - so dus, uiteindelik, soos in die gelykenis, het die Vader Sy ERFGENAAM, nl. Sy SEUN gestuur (en hulle het Hom doodgemaak...Mark. 12:7,8). Die manier hoe hulle ge"HOOR" het (http://warechristene.blogspot.co.nz/p/die-waarheid.html), het gewys hoe hulle VRUG lyk!  Die een wat die waarheid en evangelie hoor maar nie daarop ag gee nie of homself daarteen verhard, wys dat hy nie goeie vrug dra nie (vgl. hierdie met die gelykenis van die saaier, waarin die klem lê op hoe elkeen HOOR).  Christus het verskeie male dieselfde soort beeldspraak gebruik soos in Mark. 12:1-12 en deur gelykenisse geleer dat ons soos saad in die wêreld gesaai word OM VRUG TE DRA (http://warechristene.blogspot.co.nz/p/blog-page.html).  Dit is slegs die wat vrug dra wat sal ingaan in die (fisiese) koninkryk van God (die "sabbatsrus" wat vir die volk van God belowe is);  maar die wat nie vrug dra nie, sal uitgekap word... (Joh. 15:2; Matt. 3:10; 13:7-9; Hebr. 6:7,8).

Die Vader saai die saad in hierdie wingerd, nl. in die (geestelike) koninkryk van God (m.a.w., dit verwys na die wat geroep word) - en dit is veral wat van belang is in bg. gelykenis, want die landbouers (die "geroepenes") wat geen of nie die nodige vrug dra nie, maar hulle eie wette maak en alles wat hulle uit die wingerd ontvang vir hulleself hou, verwys na die ONGEHOORSAME en ONGELOWIGE landbouers (die selfsugtiges, onbarmhartiges, eiewyses ens.).  In die gelykenis word hulle (sommige landbouers uit die huis van Israel) OMGEBRING EN DIE WINGERD AAN ANDER GEGEE !, omdat hulle nie goeie vrug gedra het nie (Luk. 3:7-9; Rom. 11; Matt. 21:41).  Dit beteken nie dat die kinders van Israel nie meer uitverkies is nie, maar eerder dat die ongehoorsames en ongelowiges ontwortel is/word (Matt. 5:13) om plek te maak vir gehoorsames en gelowiges uit ander volke wat wel vrug sal dra (Joh. 15:2)(en hulle word dus deel van die "kinders van Abraham"-Gal. 3:7). Toe Christus die eerste keer gekom het is die opdrag tot bekering, en die boodskap van waarheid en evangelie eerste aan die "huis van Israel" gedeel (Matt. 10:6), en deur hierdie "oes" is hulle "vrug" beoordeel. Die ongehoorsame en ongelowige takke (die wat nie gehoorsaam is aan Christus Jesus nie, en die wat nie ag gee op die waarheid nie) is afgebreek (Rom. 11), en die Here is huidiglik besig om vir Hom 'n volk te versamel uit alle stamme, nasies, volke, tale van die aarde, mense wat eendag saam met die erfgenaam (Christus Jesus), die WINGERD (die "fisiese" koninkryk van God) op aarde gaan beerwe.   In hierdie sin verwys die wingerd nie meer net na 'n spesifieke land en volk nie, maar na die wêreld en na "die kinders van die (geestelike) koninkryk".  Maar as die landbouers/geroepenes geen vrug dra nie, of nie die nodige vrug dra nie, dus slegte vrug dra, sal hulle ontwortel word... Die uiteinde van landbouers (kinders vd koninkryk) wat wetend in opstand kom teen die waarheid en evangelie (wat deur die diensknegte gebring word), en deur hulle dade bewys dat hulle nie regtig die Here dien nie maar eerder hulleself, sal ontwortel word;  en dit is inderdaad wat gebeur het met die ongelowige en ongehoorsame kinders van Israel (Matt. 21:40-41). Paulus waarsku die Christene in die gemeente van Romeine dat as God nie eens die natuurlike takke wat ONGELOWIG was gespaar het nie, hulle nie hoogmoedig moet wees en dink dat Hy nie dieselfde ook met hulle sal doen as hulle ongelowig is nie! (Rom 11:21).

Daarom sal met die wederkoms skeiding gemaak word tussen die koring (ware Christene) en die onkruid (voorgee-Christene), maar ook tussen die koring (ware Christene) en die kaf (die wat lyk soos Christene, maar geen of nie die nodige vrug dra nie).  Die VRUG wat elkeen dra sal wel bepaal wat uiteindelik met hulle gebeur!, en sal bepaal of hulle saam met die Erfgeneem gaan erf! Nie almal wat geroep word sal ingaan in die koninkryk van God nie.  Die manier hoe iemand 'HOOR" (Luk. 6:46-49) is dus 'n bewys van watter soort vrug elkeen dra, en is ook 'n bewys van of iemand opreg is, of vals (Matt. 7:15-29).
_________________________________________________________________________________
(Mar 13:33)  Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie.
(Mar 13:34)  Dit is soos ‘n man wat op reis is, wat sy huis agtergelaat en sy diensknegte volmag gegee het, en vir elkeen sy werk, en aan die deurwagter bevel gegee het om te waak.
(Mar 13:35)  Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie;
(Mar 13:36)  dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie.

_________________________________________________________________________________

Donderdag 16 Februarie 2017

Waarna verwys "slegte vrugte" werklik?

Matt. 7:17  "So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte"

In konteks het Jesus bg. stelling gemaak in verband met VALSE PROFETE (Matt. 7:15).  
"Slegte vrugte" verwys hier na die vrug van valse profete, of die vrug van slegte "bome" - Matt. 7:17)(m.a.w. verwysend na die vrug van die wat VOORGEE dat hulle die Here ken maar Hom nie werklik KEN nie (Matt. 7:23)), of die wat VOORGEE dat hulle die Here gehoorsaam en na Sy woorde luister, maar nie regtig Sy wil doen nie (Luk. 6:46; Matt. 7:22).  
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
ELKEEN VAN ONS WORD SOOS SAAD IN DIE WERELD GESAAI OM VRUG TE DRA.
http://warechristene.blogspot.co.nz/p/blog-page.html . Wanneer Jesus Christus terugkom, sal Hy o.a. kom om hierdie vrug te oes.  Die soort vrug wat elkeen dra sal op die ou end bepaal of hy die ewige lewe ontvang of nie, maar nie alle soorte vrug is "vrug tot heiligmaking" wat vir iemand die ewige lewe gee nie!  Alhoewel hierdie "vrug" ook dinge behels soos goeie dade, optrede, manier van praat ens., moet "vrug" nie gesien word soos werke nie, maar eerder soos "loon", en is dus ook 'n bewys van of iemand 'n goeie of 'n slegte boom is.  Vrug wys hoe iemand se hart lyk.  So verdien die "goeie boom" bv. (goeie) vrug vir die ewige lewe wanneer hy die evangelie verkondig, m.a.w. dit is "loon" vir sy "werk" maar nie die soort werke wat in eie naam geskied nie, maar werke uit gehoorsaamheid aan die Here - werke wat bewys wat in sy hart aangaan en wys dat hy 'n goeie boom is.  Maar 'n slegte boom wat probeer om goeie vrug te dra; m.a.w. die wat dink dat vrug gaan oor "werke" en hulleself voordoen as goed terwyl hulle eintlik sleg is , sal nie daardie soort vrug dra wat vir hulle die ewige lewe besorg nie, want hulle dade en woorde sal gou bewys wat in hulle hart aangaan.  Doen hulle bv. die dade vir eie eer?, of doen hulle dit uit gehoorsaamheid aan die Here? Baie dade wat gesien word as goed, is nie noodwendig vrug tot heiligmaking nie!  En hier moet ons verstaan dat ons nou spesifiek praat van die wat bely dat hulle gelowig is, want baie wat "gelowig" is, gee dit slegs voor.  Ongehoorsaamheid is bv. 'n bewys dat iemand nie gelowig is nie.  Die wat nie die waarheid liefhet nie, bewys dat hulle nie regtig daarin glo nie. Die wat nie die Here raadpleeg nie, bewys dat hulle nie hul hoop in Hom plaas nie.......  BAIE BELY DAT HULLE GLO, MAAR VERSTAAN HULLE WAT "GELOOF" REGTIG BETEKEN?  
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Dit is nie altyd maklik om die wat VOORGEE dat hulle gelowig is te onderskei van die wat wel gelowig is nie, maar met die tyd word hulle vrug wel sigbaar.  Net soos die geval van onkruid tussen die koring (in die natuur), is dit moeilik om te onderskei tussen wat is onkruid en wat is koring wanneer altwee nog jonk is, maar wanneer in vrug is dit maklik! Slegte bome word deur die duiwel "onder die koring gesaai" (vgl. dit met die gelykenis v/d koring en die onkruid). Ons kan ook die tema van "onkruid" en "die wat slegte vrugte dra" vgl. met die tema van "geveinsdes".  Jesus het bv. sommige van die Skrifgeleerdes en Fariseers "geveinsdes" genoem (wat beteken "akteurs").  Hulle het VOORGEGEE dat hulle gelowig is, maar het nie regtig die Vader GEKEN nie! Hulle het voorgegee dat hulle in die Vader se wil optree en Sy waarheid verkondig en deur Hom gestuur word, maar het nie eens behoorlik die wette verstaan nie en het eintlik maar net hulle eie wil gedoen - hulle vrug het dit bewys toe hulle die Een wat deur die Vader gestuur is, nl. Sy Seun (nl. die Here Jesus Christus), verwerp. En ook het hulle Sy waarheid verwerp! Hoe kan 'n gelowige wat bely dat hy die Vader KEN, nie Sy Seun ontvang nie???, want as hy die Vader geken het, dan sal hy Sy seun ook (er)ken! (Joh. 8:19).  Alhoewel ons beveel word om nie nou al die onkruid uit te trek nie (sodat ons nie perongeluk koring saam uittrek nie), word ons wel beveel om versigtig te wees vir die suurdeeg van die slegte bome. Ons moet kan onderskei sodat die hele deeg nie suur word nie.  Met die Here Jesus Christus se wederkoms sal die "onkruid' bymekaargemaak en met vuur verbrand word. ("Onkruid" verwys na die wat "slegte vrugte" dra - hulle dra nie die vrug tot heiligmaking nie - hulle dra nie vrug vir die ewige lewe nie...).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
"Gelowiges" wat bely dat hulle die Here KEN en van Hom hoor, maar Sy Woord en waarheid verwerp, is vals! - hulle is "voorgee-gelowiges".  Heelwat Skrifgeleerdes en Fariseers het gedink dat hulle slim is en "iets weet", maar hulle wysheid was gegrond in hulle eie oorlegginge, net soos daar vandag ook baie "gelowiges" is wat voorgee dat hulle glo, maar hulle vrug teen hulle getuig wanneer hulle wereldse wysheid bo die Here Jesus Christus se woorde kies - mense wat in opstand kom teen die waarheid wat Christus verkondig het, dit verdraai of nie gehoorsaam is daaraan nie, of Sy leringe afmaak as outyds...  Hulle gee voor dat hulle Christene is, maar Sy woorde dra geen krag vir hulle nie?? 
(Luk 6:46 - "En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?").
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE: 


Dus verwys "slegte vrugte" na die vrug van die wat nie die wil van die Vader doen nie - dus "die wat nie na die Here Jesus se woorde luister nie en nie doen wat Hy hulle sê om te doen nie" (Luk. 6:46).  Baie tree op in die Here se Naam asof Hy hulle gestuur het, bv. profeteer, dryf duiwels uit en doen kragte in die Here se Naam, maar is nie deur Hom gestuur nie - Matt. 7:22. In werklikheid is hulle soos akteurs (hulle is "voorgee-gelowiges") wat nie die wil van die Vader doen nie, maar hulle eie wil (Matt. 7:21). Daar was bv. ook heelwat valse profete in die O.T. wat nie na die wil van die Here gesoek het nie, maar geprofeteer het uit eie wil.  Hulle het slegs VOORGEGEE dat hulle die Here KEN.  Die doel v/d slegte boom wat voorgee, is OM MENSE TE VERLEI EN TE MISLEI ! (Matt. 24:11,24). Sommige doen selfs tekens en wonders met die doel om te mislei (sodat mense liewer in hulle glo as in die waarheid) - dit is m.a.w. "opsetlike misleiding".  En soos ons goed weet, is hierdie ook 'n kenmerk van die duiwel self - daarom word hy vgl. met 'n slang.  Daar is heelwat "slange" in die Christelike kerk wat in plaas van die waarheid, hulle eie verdraaide leringe verkondig - hulle kom in opstand teen die waarheid en is eintlik besig met afgodsdiens (want eiesinnigheid is afgodsdiens). Hulle bedoelinge is om ander mense se oe op hierdie "afgode" te plaas in plaas van op die Here;  kyk bv. hoeveel Christene is eerder besig om 'n getuienis te wees vir heidense praktyke en wereldse wysheid in plaas van om ander te vertel van die Here en Sy leringe...  WAT IS JOU GETUIENIS?  Wat se soort vrug dra jy? 

Is jy besig om heidense praktyke te verkondig, of is jy besig om die Here te verkondig?  Is jy besig om wereldse wysheid te verkondig, of die Here Jesus Christus se leringe?  Die valse profeet is bv. ook 'n valse leraar (2 Pet. 2:1,2).  Die gelowige wat optree asof hy deur die Here gestuur word, maar hom nie steur aan "wat is WAARHEID" nie, is duidelik nie deur die Here gestuur nie! Iemand se vrug bewys of hy gehoorsaam is aan die Here of nie.  Die wat nie ag gee op die Here Jesus Christus se leringe nie, maar eerder wereldse geloofswysheid verkondig of valse en verdraaide leerstellings, se vrug getuig daarvan dat hulle nie onderdanig is aan Hom nie en nie die Vader se wil doen nie. In beide Matt. 7 en Luk. 6 word die opregte boom, wat anders as die slegte boom wys en verstandig is, geskets as die wat NA DIE HERE JESUS SE WOORDE LUISTER en DIT DOEN. Voorgee-gelowiges aan die ander kant, is die wat NIE na die Here Jesus se woorde luister nie en NIE gehoorsaam is aan Hom nie. Hulle volg hulle eie wysheid en doen wat hulle wil.  
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
(Mat 13:30)  Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur.
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------

GELOOF: