Wys tans plasings met die etiket planne. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket planne. Wys alle plasings

Maandag 09 Junie 2014

KEN jy Hom werklik?

(Joh 6:40)  "En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hĂȘ; 
en Ek sal hom opwek in die laaste dag".


Meeste mense se siening van "ewige lewe" gaan daaroor dat iemand vir ewig lewe, tog is dit nie die enigste definisie wat Jesus daarvan gegee het nie.  In 'n gebed wat Hy tot die Vader gebid het, het Hy die volgende stelling oor die "ewige lewe" gemaak:  
(Joh 17:3)  "En dit is die ewige lewe
dat hulle U KEN, die enige waaragtige God, 
en Jesus Christus wat U gestuur het".
Baie Christene verklaar dat hulle die ewige lewe verkry het, maar KEN hulle Hom werklik?  As iemand Hom nie ken nie, dan kan hy tog nou nie verklaar dat hy die ewige lewe het nie, want dit is juis wat ewige lewe beteken!  Om iemand te ken, beteken nie dat ek net van "hom weet" nie.  Iemand kan bv. nie se dat hy 'n sportster noodwendig ken net omdat hy baie van hom weet nie, nee, eers as hy daardie sportster persoonlik ontmoet het en tyd met hom spandeer het, kan hy se dat hy hom regtig ken. Om die sportster se vriende te ken, beteken ook nie dat jy hom persoonlik ken nie!   Baie gelowiges weet baie van die Here, en spandeer baie tyd met die Here se "vriende", maar ken Hom nie persoonlik nie, en spandeer nie veel tyd met Hom nie.  Om net tyd met ander gelowiges te spandeer, of om meer op te lees oor die Here, maak nie dat iemand Hom ken nie, maar beteken bloot dat iemand "VAN HOM WEET".  Om die Here egter persoonlik te ken, is heeltemal iets anders!  Wanneer jy iemand persoonlik ken, is daar geselskap tussen julle - hoe meer julle gesels en met mekaar te doen het, hoe beter leer ken julle mekaar se "ins" en "outs".  Daarom is die persoon wat in 'n persoonlike verhouding met die Here is, vasbeslote sonder twyfel, omdat hy "hoor" van die Here - in so 'n geval is iemand nie net meer 'n dienskneg nie, maar 'n "vriend van die Here Jesus"!  -(Joh 15:15 - "Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het).
Die ware kind van God (WAT REGTIG DIE HERE KEN!), raak bekend met Sy planne;  m.a.w. "ken die wil van die Here" - hy "hoor" daagliks van die Here,  en plaas sy vertroue in die wil van die Here (net soos vriende mekaar vertrou - geen vriendskap kan groei sonder vertroue nie).  Iemand is ook slegs gehoorsaam waar hy die ander persoon VERTROU.  Daarom is die ware Christen gehoorsaam aan die Here, omdat hy Sy planne vertrou.  Hy "hoor" van die Here, en hy begeer dat Sy wil geskied.  (Joh 15:14 -  "Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel").

-Dit is bv. anders as iemand wat probeer om guns te wen, soos mense wat gehoorsaam is aan wette met die doel om die Here se guns te wen. Daar is 'n verskil tussen iemand wat gehoorsaam is aan die Here self omdat hy in guns is (omdat hy Hom vertrou), en iemand wat gehoorsaam is aan wat hy dink vir hom guns gaan wen! 

-Daar is ook 'n verskil tussen iemand wat opreg gehoorsaam is aan die Here, en iemand wat voorgee dat hy aan die Here gehoorsaam is, maar eintlik gehoorsaam is aan sy eie wil! 

========================================================================
GEDAGTE:

In Joh. 10:14 het Jesus die volgende gese: "Ek is die goeie herder, 
en Ek ken my eie 
en word deur my eie geken".

========================================================================