Wys tans plasings met die etiket siek. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket siek. Wys alle plasings

Woensdag 20 Mei 2020

Hoe siekte vrug affekteer

Wanneer Jesus Christus terugkom sal elke Christen (saad-plant-boom) se vrug geoes word.  Maar in hoedanige toestand sal elkeen se vrug wees?, en sal daar enige vrug wees om geoes te word? (Mark. 4:26-29; Matt. 13:30-43).  "Geestelike mense" (weergeborenes) is veronderstel om "vrug te dra tot ewige lewe" (maw vrug wat vir hulle die ewige lewe oes)(Joh. 4:36; Rom. 6:22), maar nie almal dra vrug nie, en nie alle vrug is gesond en bruikbaar nie.  En nie alle "plante" skiet eens wortel!, of bereik die stadiums van groei en vrug nie;  en somtyds word vrug verstik deur ander dinge soos dorings...
In die gelykenis vd Saaier word hierdie nogal goed verduidelik, en ons kan daaruit leer dat
Christene in 3 groepe verdeel word, nl.
(1) die wat die woord aanneem, maar geen wortel skiet nie;
(2) die wat die woord aanneem, wel wortel skiet, asook groei en vrug dra, maar weer hulle vrug verloor of onvrugbaar word;
(3) en die wat die woord aanneem, wortel skiet, groei, vrug dra, en die vrug behou en/of meer vrug dra.

Wanneer vrug geoes word word bepaal watter vrug behou, en watter uitgegooi word. Wanneer Jesus terugkom sal iets soortgelyk gebeur wanneer Hy Sy dorsvloer skoonmaak, en daar sal skeiding gemaak word tussen "koring en onkruid" (ware en valse) en "koring en kaf" (die met vrug, en die sonder vrug).
Mat 13:30 - " Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur".
- Luk 3:17 - " Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring saambring in sy skuur, maar die kaf met onuitbluslike vuur verbrand".
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:


Nie alle vrug is bruikbaar nie, en nie alle dele van 'n vrug nie. As 'n vrug bv. gewond is het dit baiemaal tot gevolg dat groot dele vd vrug uitgesny en verlore gaan.  Slegte vrug word net eenvoudig weggegooi! En somtyds is daar niks om te oes nie omdat dorings die plant verstik, of 'n plant het baie van sy vrug verloor omdat dit siek is.  Hierdie word ook in die Skrif in beeldspraak gebruik van Christene.

Siende elke Christen veronderstel is om te groei en vrug te dra, kan die toestand van hulle vrug ook op hierdie manier verduidelik word.  Sekere gelowiges word bv. somtyds na verwys as "siek" (en ons moet verstaan wat hiermee bedoel word).  As 'n Christen "siek" of ongesteld is sal dit beslis sy vrug beïnvloed. 'n Siek plant kan steeds vrug dra, ja, maar siekte het 'n invloed op vrug wat tot gevolg het dat groot dele vd vrug dalk weggesny en verlore gaan, en in uiterste gevalle kan "siekte" selfs die dood van 'n plant veroorsaak!  Of bv. veroorsaak dat die wortel vrot (wat somtyds gered kan word, en somtyds nie).  Hierdie is belangrik om te onthou wanneer daar na "siek" gelowiges verwys word.  Wanneer 'n Christen siek is (m.a.w., a.g.v. sonde) beteken dit nie dat hy nie meer vrug kan dra nie, maar hy mag in die proses baie van sy vrug verloor, en in uiterste gevalle kan sy "siekte" veroorsaak dat die wortel begin vrot, of kan moontlik "doodgaan".  "Siek" Christene is op hierdie gevaarlike plek en as hulle nie "medisyne" neem nie, kan dit onvrugbaarheid, of selfs die dood tot gevolg hê. Somtyds word 'n siekte genees (Jak. 5:19);  en somtyds lei dit tot die dood (Joh. 11:4).  Op dieselfde wyse word "siek" Christene somtyds genees, en somtyds nie! - somtyds lei dit tot die dood... Vgl. hierdie gerus met die tema van "sonde tot die dood" (m.a.w. sonde wat tot die dood lei - 1 Joh. 5:16,17; Jak. 1:15; Rom. 6:16). Slegs sondes waarvan iemand hom bekeer, kan vergewe word. As 'n Christen kies om in sonde te stap wat tot die dood lei, kan hy nie verwag om "lewe" daaruit te oes nie.

Ander beeldspraak wat ook gebruik word is die van "gewondes".  'n Gelowige wat gesien word as "gewond" kan ook groot dele van sy vrug verloor, of selfs onvrugbaar word! (sou hy hom steeds nie bekeer na sy wonding nie) - om dit heeltemal te verstaan moet ons natuurlik ook weet waarna die begrip "gewondes" verwys in die Skrif.  Gelowiges wat voorgestel word as "gewond" verwys nie net na die wat in sonde stap sonder om hulle daarvan te bekeer (soos "siekes") nie, maar meer presies na "siekes" wat deur die Here getugtig word omdat hulle nie wil hoor nie, met die doel om hulle te beweeg tot bekering. "Gewondes" kan miskien ook vgl. word met die tema van "blindes" in die Skrif (die wat lou is, "vergeet", hulle harte en sinne verhard ens.- het blind geword en kan nie meer "sien" nie)(het "salf" nodig). Elke Christen wat in sonde stap waarvan hy hom nie bekeer nie (bv. leunaars, diewe, dronkaards, kwaadsprekers, hoereerders, onbarmhartiges ens.) staan die gevaar om so "gewond" te word... (m.a.w om deur die Here getugtig te word). Gewondes verwys nie na gelowiges wat geen vrug dra nie, want dan sou hulle nie eens kans kry nie! (Joh 15:2; Matt. 3:10). Dit is 'n seer proses waarin diesulkes beslis vrug (wat hulle alreeds dra) verloor, ja, maar die snoei en skoonmaak is goed vir hulle (Openb. 3:19). 'n Gewonde kry 'n kans om reg te maak!, en hy moenie kwaad word omdat hy getugtig word nie, want al manier hoe hy van sy wond genees kan word (m.a.w. die manier hoe hy onder die tugtiging kan uitkom) is deur hom te bekeer (van die sonde). Die tugtiging is belangrik want dit is beter vir so iemand om dele van sy vrug te verloor as om sy lewe te verloor. Sou hy egter steeds na die tugtiging hom nog nie bekeer nie en bv. sy hart verhard, staan hy beslis in gevaar om heeltemal onvrugbaar te word en sal opeindig soos iemand "sonder vrug" - (Joh. 15:2 - "Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra").
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
https://warechristene.blogspot.com/2020/04/honger-dors-vreemdeling-naak-siek.html

Donderdag 24 Mei 2018

Honger, dors, herberg, vreemdeling, naak, siek

ONbarmhartigheid is baiemaal 'n teken dat iemand "bekering" nodig het. Toe die skare vir Johannes die doper vra wat hulle moet doen om die toorn wat aan kom is te ontvlug, en hy van hulle verwag om hulle te BEKEER - meer presies het hy verduidelik hoe hulle "barmhartig moet word"... Nie net barmhartig in die letterlike nie, maar ook in die figuurlike, want in hierdie spesifieke opsig was die opdrag "BEKERING VAN DENKE" (bekering van sonde soos eiesinnigheid, en bekeer vd manier hoe hulle "sien").  Hy het o.a. van hulle verwag om mededeelsaam te wees, regverdig, en hulle versoek om tevrede te wees met wat hulle het....(hulle moes m.a.w. hulle denke verander en anders begin dink oor dinge en mense...)(Luk. 3:11-14).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Johannes die doper het geleer dat as iemand twee kledingstukke het, hy dit moet deel met die een wat nie het nie;  of as iemand dubbeld voedsel het, hy dieselfde moet doen... (Luk 3:11). Vir die tollenaars het hy geleer dat hulle regverdig moet wees, bv. "nie meer moet invorder as wat hulle voorgeskrywe is nie" (Luk. 3:12,13). En toe die soldate hom vra wat hulle moet doen het hy geantwoord: "Julle moet niemand geweld aandoen of iets afpers nie; en wees tevrede met julle soldy" (Luk. 3:14). Die tollenaars en die soldate se manier van dink was verkeerd, want hulle was onbarmhartig en ontevrede met wat hulle het. "BEKERING" het beslis hier beteken dat hulle hul moet bekeer van die manier hoe hulle "dink en sien", want hulle harte het veroorsaak dat hulle onbarmhartig is. Iemand se vrug is gewoonlik dit wat wys wat in die hart van die mens aangaan.  Wat bedink hy in sy hart?  Hoe dink hy oor dinge en mense?

Dit gaan dus veral hier oor die tema vd hart bv., wanneer iemand se lewe (vir hom) gaan oor sy besittings, gaan dit tot gevolg hê dat hy dit wat hy het, of ontvang, nie deel met ander nie maar probeer om soveel moontlik vir homself te hou (Luk. 12)(sy hart veroorsaak dus dat hy onbarmhartig is). Hier sien ons hoe die manier van hoe iemand "dink of sien" sy dade beïnvloed. So iemand het nodig om sy eie hart te besny - hy moet hom dus BEKEER van die manier hoe hy dink oor besittings want alles wat iemand besit behoort eintlik aan die Here! (nie aan homself nie)(Deut. 10:14).  Besnydenis vd hart (http://warechristene.blogspot.co.nz/2016/11/die-besnydenis-2-besnydenis-van-hart-en.html) is nie net iets wat deur die Here in die gelowige se innerlike mens gedoen word nie, maar is ook iets wat die Here verwag van elkeen om self te doen! (vgl. dit met die tema van "pad van godsaligheid").  As ons die Here raadpleeg dan kan ons nie verkeerd gaan nie.  Iemand se hoop moet nie in homself, eie wysheid, besittings of watookal wees nie, maar hy moet in alles die Here raadpleeg - Hom vra wat gedoen moet word met die besittings, werke, geld ens. wat die Here aan hom gee en toevertrou...

Wat Johannes m.a.w. hier vir hulle wou leer is dat hulle hul moet BEKEER van die manier hoe hulle dink of "sien" (m.a.w. in hierdie geval "moes hulle barmhartig word"). Hulle moes heroorweeg "hoe hulle dink";   inteendeel, dit is wat die woord "bekering" in daardie skrifte beteken waar Johannes mense opgeroep het tot bekering, en is die Gr. woord "met-an-o-eh'-o", wat beteken "om agterna anders te dink", of om te heroorweeg. DIT IS SOMTYDS DIE MOEILIKSTE DEEL VAN BEKERING en iets waarmee selfs gelowiges baiemaal sukkel.  Dit kan bv. miskien makliker wees vir iemand om 'n sonde op te gee as wat dit is om sy manier van "dink" op te gee!  Maar bekering gaan nie net oor "eie wil" opgee nie, maar ook om "eie denke of eie of wereldse wysheid" op te gee.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:

Christus het ook baie gepraat oor hierdie onderwerp, en selfs deur gelykenisse geleer dat dit wat ons het NIE  ONS  EIE  IS  NIE  (Luk. 16:11,12). Ons SIENING van lewe en besittings en barmhartigheid is nie noodwendig hoe die Here dit sien nie, en as ons siening verskil van Syne dan het ons nog nie ons in hierdie opsig BEKEER nie! Christus het o.a. geleer dat ons ons besittings liewer moet verkoop en aalmoese gee (as bv. om aan alles vas te hou en op te gaar), en liewer 'n skat in die hemel verkry (as skatte op die aarde)(Luk. 12:33).  Hy het ook geleer dat "iemand se lewe NIE bestaan uit die oorvloed van sy besittings nie" (Luk. 12:15). Hy het ook geleer dat ons moet goed doen en leen sonder om iets terug te verwag (Luk. 6:35). Hy het baie oor die tema van barmhartigheid gepraat (Luk. 6:36), en terloops oor die tema vd hart!  Hy het ook verklaar dat dit slegs die "barmhartiges" is wat die koninkryk sal beerwe  (Matt. 25:34) - m.a.w. die wat vir die hongeres iets te ete gee, of iets te drinke vir die wat dors het, herberg vir die vreemdeling, die naakte beklee, die siekes en die in gevangenis besoek... (Matt. 25:35-46) - NIE BEDOEL DAT IEMAND D.M.V. WERKE DIE KONINKRYK KAN BEERWE NIE!, maar verwys eerder na die vrug van 'n BEKEERDE. Hier gaan dit beslis oor die manier "hoe iemand dink", want as iemand verkeerd dink en hom nog nie bekeer het tot die manier hoe Jesus Christus "sien" nie, dan gaan hy nalaat om barmhartig te wees en na regte NIE die wil van die Here doen nie. So iemand sal bv. eerder ingestel wees op die self, eie wil, eie sieninge en eiesinnig wees...

Dit is duidelik dat die eerste Christene verstaan het wat BEKERING in hierdie konteks beteken, want hulle het selfs eiendomme en besittings verkoop om die opbrings onder mekaar te verdeel - volgens wat elkeen nodig gehad het (Hand. 2:45). Hulle het hulle dus inderdaad BEKEER van die manier hoe hulle sien tot die manier hoe die Here "sien", en dit het tot gevolg gehad dat hulle barmhartig was. Die Here neem barmhartigheid baie ernstig op! - in Matt. 25 het Christus verduidelik dat barmhartigheid die oorwegende faktor gaan wees wanneer die skape eendag van die bokke geskei sal word...  Die manier hoe iemand barmhartig is, of onbarmhartig is, wys wat in sy hart aangaan... - die manier hoe hy die tweede gebod nakom wys of hy bekeer is of nie.  

"Barmhartigheid" gaan egter nie net oor voorsiening in fisiese behoeftes (soos om vir iemand letterlik kos te gee) nie, maar ook oor voorsiening in geestelike behoeftes (bv. afgedwaalde skape soek, geestelike voedsel gee, geestelik water gee, ens.- wat o.a. gaan oor woord en waarheid bring, die Here se wil verkondig, gehoorsaamheid aan die Heilige Gees deur in gawes en bedieninge te stap, ens.).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
http://warechristene.blogspot.co.nz/2017/10/honger-dors-vreemdeling-naak-siek-en.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2017/10/honger-dors-vreemdeling-naak-siek.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2018/03/honger-dors-vreemdeling-naak-siek.html