Wys tans plasings met die etiket verdrukking. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket verdrukking. Wys alle plasings

Sondag 29 April 2018

Geduldig in verdrukking

Uit 'n opsomming van tekste wat oor verdrukking gaan kan ons leer dat "om verdruk te word" o.a. daarna verwys dat iemand bo sy kragte swaar het (2 Kro. 1:8; Jak. 1:27; 2 Kor. 1:8,9); in gebrek verkeer (2 Kor. 8:13; Jak. 1:27); van besittings beroof of besteel word; besittings verwoes en/of uit hulle besittings verdring word (Eseg. 22:12; 45:9; Hand. 11:19); met die dood gedreig word (2 Kor. 1:8,9); verstrooi van woonplek af na ander dele vd aarde (Hand. 11:19)... Die wees, weduwees en armes word ook gesien as verdruktes. Ons kan ook meer leer oor waarna presies die woord "verdrukking" verwys deur te kyk na spesifieke voorbeelde van "verdrukking", bv. Miga wat in die gevangenis verdruk is (1 Kon. 22:27; 2 Kron. 18:26) of die volk, verdruk deur Hasael die koning van Aram (2 Kon. 13:4)... 'n Goeie vb. hiervan is die van toe die volk van God verdruk was deur die Egiptenaars (Eks. 3:9; Deut. 26:7), en ons leer dat die Egiptenaars die kinders van Israel "met hardheid laat dien" het (Eks. 1:12-14), hulle lewens verbitter het deur swaar werk en hulle soos slawe behandel het (Eks. 1:14; 2:23).  Num. 20:15 leer vir ons dat die Egiptenaars wreed was teenoor hulle en hulle sleg behandel het...   
---------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
In sommige gevalle is verdrukking iets wat die Here toelaat op iemand se pad met die doel om sy ore te open! (Job 36:15). Ons sien 'n vb. hiervan in 2 Kon. 13:4 hoe "verdrukking" Jóahas, ongehoorsame koning van Israel, beweeg het om die aangesig van die Here te soek. Openb. 2:22 is nog 'n vb. van hoe die Here ongehoorsame gelowiges onder verdrukking plaas met die doel om hulle tot bekering te roep...

Somtyds ervaar iemand verdrukking as beproewing van sy geloof! (Openb, 2:10).  Sal hy vahou aan Christus en vashou aan die geloof en die waarheid ten spyte van verdrukking? (Openb. 2:10,13,25; 3:11; Hebr. 6:18; 2 Thess. 2:15; 1 Kor. 4:2...). Sal hy vashou tot die dood? (Openb. 12:11; 2:10). Die gelowige wat VASHOU kan nie deur VERDRUKKING of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard gekei word van die liefde van Christus nie...(2Ti 2:3 - "Ly dan verdrukking soos ‘n goeie krygsman van Jesus Christus")

Christene kan verwag om verdrukking te ly ter wille van Christus, Sy woord en die waarheid (Matt. 13:21; 2 Tim. 2:3). Baie eerste Christene, apostels en O.T. diensknegte vd Here was ook bereid om verdrukking te verdra ter wille van die Here, selfs opgesluit ter wille vd waarheid en die evangelie, en/of het hulle lewens verloor (1 Kon. 22:27; 2 Kron. 18:26)(2 Kor. 4:7; 7:4; 8:2; Fil. 4:14; Kol. 1:24; 1 Thess. 1:6; Openb. 1:9; 2:9,10...) Christus het ook deur allerhande verdrukkinge gegaan en het o.a. gely onder die hande van "ouderlinge", "owerpriesters" en "skrifgeleerdes" (Luk 9:22; Matt. 16:21) wat Hom oorgelewer het aan die heidene.  Daar is op Hom gespuug, Hy's bespot, mishandel, gegésel ... en hulle het Hom doodgemaak. 
----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:

 
Ons word beveel om
GEDULDIG te wees in die verdrukking (Rom. 12:12) en
om mekaar te troos tydens verdrukking (2 Kor. 1:4).  
Maar wat beteken dit om "geduldig te wees in verdrukking"? In konteks Rom. 12 kan ons leer dat dit verwys na hoe ons moet "seën" (nie vervloek nie!) die wat (vir) ons vervolg (v.14); niemand kwaad vir kwaad moet vergeld nie (v.17)(maar bedink wat goed is); probeer om in vrede te lewe met almal (v.18); ons NIE MOET WREEK NIE!, maar liewer barmhartig wees soos om vir honger en dors vyande kos en water te gee (v.19). Ons word dus geleer om barmhartig te wees ten spyte daarvan dat iemand anders onbarmhartig is teenoor ons - op hierdie manier gaan ons ons nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar die kwaad OORWIN DEUR DIE GOEIE! (Rom 12:21). Jesus het ook geleer dat ons ons vyande moet liefhê!, en "seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg" (Matt. 5:44). Baiemaal neem ons die teenoorgestelde houding in wanneer ons verdruk word, in plaas van om vir die persoon wat jou verdruk te bid en goed te wees. Die Christen word bemoedig om "te roem in die verdrukking" (moet hul daarin verbly)(Rom. 5:3; 2 Kor. 7:4). Mat 5:11,12 -  "Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het". Wanneer ons verdruk word, voel ons nie altyd bly en verheug nie, maar wat ons hier kan leer uit Christus se woorde is dat dit gewoonlik geseëndes is wat deur verdrukking gaan!  Tensy verdruk a.g.v. ongehoorsaamheid, behoort niemand skaam te wees vir verdrukking nie - maar selfs ook in die geval van ongehoorsaamheid moet die persoon bly wees vir die verdrukking omdat hy daardeur 'n kans gegun word om hom te bekeer - in daardie opsig is hy ook geseënd! Die prentjie van "geseënde" in die N.T. is 'n prentjie van "verdruktes, hongeres, gelowiges, gehoorsames, armes, beledigdes, sagmoedges, treuriges, getoetstes...(http://warechristene.blogspot.co.nz/2012/05/is-jy-n-geseënde.html).  Rom. 5 leer vir ons dat verdrukking lydsaamheid werk (en die lydsaamheid, beproefdheid; en die beproefdheid, hoop).  "Hoop" word nie verkry deur om ontevrede en bitter te wees nie, en/of kwaad te spreek of kwaad te vergeld nie, maar deur jou te verbly in jou verdrukking, en deur liefde en barmhartigheid te bewys aan die wat jou verdruk en vir hulle te bid. Maar die persoon wat bitter is en slegte gedagtes koester, en die slegte toewens vir die een deur wie hy verdruk word, voel hopeloos...! 

----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
http://eindtydonderwerpe.blogspot.co.nz/2017/08/die-groot-verdrukking.html

Vrydag 22 Augustus 2014

Wie is geskik vir die Koninkryk van God?

KOM ONS KYK WAT DIE SKRIF, of WAT JESUS VIR ONS GELEER HET HIEROOR:  
"WIE IS GESKIK VIR DIE KONINKRYK"?
-  SLEGS DIE WAT TOT BEKERING/WEDERGEBOORTE GEKOM HET EN DIE EVANGELIE GLO
-  SLEGS DIE WAT SE BEGEERTE NA DIE HERE IS
-  SLEGS DIE WAT DIE WIL VAN DIE VADER DOEN
-  SLEGS DIE WAT HULSELF ONDERGESKIK STEL AAN DIE HERE, DIE NEDERIGES
-  SLEGS DIE WAT HULLE HOOP PLAAS IN DIE HERE
-  SLEGS DIE WAT DIE HERE MEER LIEFHET as die lewe
-  DIE WAT ARM VAN GEES IS; BEREID IS OM VERVOLG TE WORD TERWILLE VAN DIE HERE;  DIE WAT DIE GEREGTIGHEID DOEN EN DIT AAN ANDER LEER ens.............
---------------------------------------------------------------------------------------------
VGL. DIT MET DIE VOORWAARDES WAT 'N GELOWIGE MOET NAKOM OM "VRUG TE DRA" (en l.w. dat waar 'n gelowige geen vrug dra nie, of dit verloor, sal hy uitgekap word):
-   Moet die "eie-ek" afsterwe - die koringkorrel moet eers sterf voor hy vrug kan dra 
-   Bly in Hom  -  Jesus het gese dat die enigste manier hoe ons vrug kan dra is deur in Hom te bly
-   Moet die WAARHEID (Jesus se leringe) aanneem en daarvolgens lewe - moet vashou aan die geloof!
(Joh. 12:24; 15:4,5)

In die gelykenis van die saaier verduidelik Jesus dat iemand sy vrug kan verloor as hy probeer om sy lewe te wen, m.a.w. die lewe meer liefhet as die Here en nie Sy geregtigheid en Sy koninkryk eerste soek nie - soos in die geval van waar die sorge, begeerlikhede, rykdom en genietinge van die lewe die vrug verstik.
---------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:

"Goeie vrug" moet nie gesien word soos werke nie, maar soos "loon", m.a.w. loon omdat iemand in die Here bly, loon omdat iemand die evangelie verkondig, loon omdat iemand die waarheid aanneem en daarvolgens lewe...  Om vrug te dra gaan nie oor "werke tot saligheid" nie, maar oor "werke a.g.v. saligheid". Gelowiges word soos saad in die wereld gesaai om te groei en soos 'n boom "vrug te dra".


(Joh 15:16)  "Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee". 


Sondag 27 April 2014

Wanneer jy die Here se wil doen, beteken dit nie dat die pad noodwendig glad gaan wees nie...

Baie Christene ly a.g.v. die feit dat hulle nie die wil van die Here doen nie.  Tog is die persoon wat wel die wil van die Here doen, nie gevrywaar van moeilikheid nie!  Sommige mense sukkel om hierdie twee begrippe te onderskei en kan nie verstaan hoekom 'n opregte kind van die Here ook somtyds ly nie. Job se vriende het dit ook nie verstaan nie...   


Die pad wat ons moet stap om te ontvang wat die Here ons belowe of in stoor het, is nie altyd maklik nie!   

 Dawid was bv. gesalf as koning lank voor hy koning geword het, maar moes o.a. op 'n stadium vlug vir sy lewe omdat koning Saul  jaloers was op hom....
Die magtige profeet, Samuel, het ook nie 'n maklike pad gehad nie en is ter wille van hierdie bediening, op 'n jong ouderdom van sy gesin verwyder...
Die Here het vir Josef gewys in drome hoe hy oor sy broeders sou "regeer"- hiervoor is hy sleggese, verkoop as 'n slaaf, later in die tronk gegooi weens valse getuienis teen hom, ens....

Die dissipels het dit ook nie maklik gehad nie - hulle moes deur baie verdrukkinge gaan, somtyds honger gaan slaap, is in die gevangenis gegooi  en sleggese.... 


Daar is heelwat ander soortgelyke situasies in die skrif.  Toe die Here vir Moses terugstuur na Egipte om die volk te verlos uit die hand van die Farao, was dit moeilike tye vir die volk: 

-Dit is bv. interessant om te merk dat die Farao strenger op hulle geraak het en hulle harder moes werk voor hulle uit die land uit is (Eks. 6:5-23)

-Dit is ook moontlik dat hulle die eerste twee plae self ervaar het, siende God eers met die derde plaag spesifiek onderskeid gemaak het tussen Egipte en die Israeliete (Eks. 8:22,23). 

-Hulle was presies gehoorsaam aan die Here en het die pad geneem wat Hy vir hulle aangewys het, maar bevind hulleself toe vasgekeer met die Farao en sy leermag op hulle hakke. Vir drie dae lank het hulle getrek van die Rietsee sonder water, en toe hulle by Mara kom, is die water bitter!  

-Waar hulle knus in hulle huise gebly het in Egipte met volop vleis, het hulle hul nou bevind in 'n situasie met geen brood en vleis nie........en so kan ons aangaan.  Die feit is, die Israeliete het hierdie situasie nie goed hanteer nie! In plaas van hulle oe te hou op die Here en hulle vertroue in Hom te plaas, lees ons hoe hulle gedurig gekla en gemurmureer het, ontevrede was en Moses en Aaron kwalik geneem het vir die situasie waarin hulle was



Hulle "wonderwerk in wording", was toe nie so maklik nie!

------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Waarin die volk gefaal het, keer op keer, was om na te laat om die Here aan te roep en vir 'n uitkoms te vra - nee, hulle het liewer loop en kla en bevrees geraak en Moses en Aaron skuld gegee vir hulle omstandighede! Hulle het hul bevind op 'n plek waar hulle geen sekuriteite gehad het nie, maar in plaas van om op die Here te vertrou, het hulle verkies om liewer soos slawe te werk (met wereldse sekuriteite), as om gehoorsaam te wees aan die Here en op Hom te vertrou! (Eks. 14:11,12).  

Die Here stroop ons ook somtyds van alle "sekuriteite" sodat ons op Hom kan vertrou.  Wanneer iemand die Here se wil doen, beteken dit nie dat die pad noodwendig glad gaan wees nie...  So het Hy dieselfde gedoen met die volk - daar was bv. 'n korter pad vanaf Egipte na Kanaan, maar Hy wou hulle nie met daardie pad stuur nie, omdat Hy geweet het dat hulle a.g.v. hulle onvertroue maar net weer sou teruggaan na Egipte die oomblik as dit nie so goedgaan nie! -(Eks. 13:17,18) - daarom het Hy hulle in 'n posisie geplaas waar hulle nie anders kon as om Hom aan te roep en te vertrou nie.  OP DIESELFDE WYSE STUUR DIE HERE ONS SOMTYDS IN 'N DOODLOOPSTRAAT IN SODAT ONS ABSOLUUT OP HOM KAN VERTROU! Hy snoei ons sodat ons meer vrug kan dra; sodat ons kan leer om Hom te vertrou en op Hom te wag! 

Moses het egter die geloof gehad en die Here telkens geraadpleeg en was tevrede met Sy manier van doen.  Hy het homself onderwerp aan die Here en het nie geskrik vir moeilikheid nie, want die Here was telkens sy uitkoms!  Hy het nie moeilikheid gesien as 'n probleem nie, want sy hoop was in die Here en hy het staatgemaak op die Here se uitkoms en het homself onderwerp aan die Here se wil. 
Moses het GELOOF gehad...
Om geloof te he, beteken nie net o.a. dat ons die wil van die Here doen nie, maar dat ons ook tevrede is met Sy wil, en vashou aan Hom in tyd van moeilikheid.
 -------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE VIR DIE WEEK:


Het ons ook daardie "geloof" wat Moses gehad het?  Wat doen ons wanneer dit lyk of dinge teen ons draai? Tree ons op soos sekeres van die volk gedoen het, deur te kla en op te gee, of vertrou ons eerder die Here? 

(Pred. 11:4)  "Wie op die wind ag gee, sal nie saai nie; en wie na die wolke kyk, sal nie oes nie".

--------------------------------------------------------------------------------