Maandag 25 September 2017

Hoe word die gewete GEREINIG?

Voor ons kan verstaan hoe iemand gereinig word, moet ons eerstens verstaan wat dit is waardeur iemand onrein word?, bv.
-  is dit deur SONDE?
-  is dit deur DOOIE WERKE?
-  of beskryf die onreinheid slegs 'n TOESTAND?

 Ons moet ook verstaan "wat" dit is wat onrein word?, bv.
-  is dit die LIGGAAM?
-  of is dit die GEWETE?
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Die manier hoe die LIGGAAM weer rein gemaak kon word in die O.T. (in die tyd v/d woestyn, rigters en konings), is deur die offerstelsel v/d tempel (tabernakel), en met die bloed van stiere en bokke. Waar vlees onrein is a.g.v. sondes, moet daar altyd met bloed betaal word! (Hebr. 9:22).  Hierdie feit was egter altyd so gewees van die begin af, en selfs nog voor die tyd v/d tempeldiens het manne van God offers gebring aan die Here... (Gen. 4:4; 8:20; 22:13; 31:54; Eks. 3:18). Hierdie was dan ook moontlik die rede waarom Kain se offer nie aangeneem was nie, want 'n offer van vrugte kan nie betaal vir sonde nie!

In die N.T. het Christus egter met sy eie bloed betaal vir ons sonde (vir die wat in Hom glo), en die offer hoef ook nie oor en oor herhaal te word nie...
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
In hierdie dagstukkie wil ons egter spesifiek kyk na wat dit is wat die GEWETE onrein maak, en hoe dit weer rein kan word.  "Gewete" is die woord "conscience" in engels, maar in sommige skrifte word die woord "hart" (dit wat iemand bedink, hoe hy iets verstaan - gedagtes, gevoelens) in sommige vertalings gebruik waar dit as "gewete" vertaal sou word in die Afrikaans. Deels gaan "gewete" oor iemand se persepsie en hoe hy dinge verstaan (hoe hy m.a.w. oor dinge dink of dit bedink in sy hart), maar dit gaan ook oor morele bewustheid, (m.a.w. bewus van wat is reg doen of verkeerd doen), bv. Die Hebreers-skrywer vgl. "goeie gewete" met die wat die wil het om moreel goed te lewe (Hebr. 13:18).  Gewete word dus beinvloed deur wat iemand sien as reg en verkeerd. Wanneer iemand iets verkeerd doen of twyfel of dit wat hy gedoen het reg is, dan kla sy gewete hom aan (Rom. 13:3-5; 1 Sam. 24:5,6).
Die wat die wil van God ken, en dit doen!, het 'n "goeie gewete", maar die wat nie Sy wil doen nie, se gewete word besoedel.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Paulus het geweet dat hy in volkome goeie gewete voor God staan, maar sy beskuldigers se persepsie van hom was anders want hulle het nie noodwendig verstaan hoe 'n wet vervul word nie (Hand. 23:1; 24:16).  In hulle persepsie (omdat hulle nie ag gee op die WAARHEID nie) was hulle van mening dat Paulus 'n slegte gewete moet hê, maar eintlik is dit hulle wat die slegte gewete gehad het omdat hulle nie VERSTAAN het nie.  Hier kan ons duidelik sien hoe mense somtyds verkeerd oordeel omdat hulle verkeerd dink/glo/verstaan! - iets wat Christus gedurig uitgelig het, want baie het gedink dat hulle die wet onderhou, tog het hulle dit nie onderhou nie omdat hulle dit verkeerd verstaan het!  Bv., hulle begrip van "naaste" was verkeerd, en alhoewel hulle gedink het dat hulle die gebod nakom, het hulle nie omdat hulle nie verstaan het wie hulle "naaste" is nie.

Die persoon wat wel verstaan, is meer vry en sal noodwendig 'n wet anders vervul as die een wat dit nie verstaan nie (en sal dit ook reg vervul, en sy gewete word dus nie besoedel nie). 'n Verkeerde sienswyse het egter tot gevolg dat die wat iets nie verstaan nie, die een wat wel verstaan verkeerd oordeel en sy vryheid probeer steel (1 Kor. 9:4,5...). Dit is dan ook om hierdie rede waarom hulle gereeld vir Christus Jesus en Sy dissipels verkeerd geoordeel het!

Die "vryheid" waarvan Paulus praat, gaan oor "reinheid omdat iemand se persepsie reg is", en het beslis te doen met die manier hoe wette vervul word in die N.T. (1 Kor. 10:29). Maar ons moet natuurlik ook verstaan wat met hierdie "VRYHEID" bedoel word, want op geen stadium verwys die vryheid vd Christen na bv. "vry om te sondig" of "vry om afgode te aanbid" of "vry om deel te neem aan afgodspraktyke" ens. nie... (Om meer te verstaan wat dit beteken om vry te wees, gaan na: http://warechristene.blogspot.co.nz/2017/05/wie-is-nie-onder-die-wet-nie.html). Paulus het 'n goeie gewete gehad OMDAT HY GEHOORSAAM WAS AAN DIE GEES VAN GOD - ons moet verstaan dat dit is waaroor "vryheid" (in die Gees) gaan!;  vry in die sin van: -"gehoorsaam aan die Gees" (nie aan die wet nie, want die wat die wet dien, "verstaan" nie noodwendig wat die Here se wil is nie!) Die vleeslike mens kan nie die geestelike dinge verstaan nie. Bv., soos hierbo verduidelik:  "die manier hoe die vleeslike mens verstaan 'n wet vervul moet word, is nie noodwendig hoe die Here wil hê dit vervul moet word nie".  Alhoewel dit wil voorkom asof wette "anders vervul word in die N.T.", moet ons natuurlik verstaan dat dit ook meer te doen het met die feit dat wette 'n sterker betekenis het in die N.T. - en 'n meer geestelike betekenis! (wat slegs die geestelike mens verstaan).  Maar as iemand nie "reg verstaan" nie, dan sal hy miskien dink dat hy die wil van God doen en 'n goeie gewete het, maar in werklikheid kom hy dan nie Sy wet na nie omdat hy nie verstaan HOE dit vervul word nie, en sy gewete besoedel.

Die wet is NIE tot niet nie! (Matt. 5:17,18). Dit is bv. wel so dat iemand onrein kon word deur sekere voedsels in die O.T., maar in die N.T. het hierdie wette 'n meer geestelike betekenis en moet steeds vervul word, maar op 'n "ander manier" - altans, Christus het vir ons kom wys HOE dit vervul moet word, en Hy gee aan ons Sy Gees sodat ons VERSTAAN HOE dit vervul word. In daardie sin het die Christen meer vryheid (omdat die wet somtyds "anders" vervul word volgens die wil van die Here), maar dit beteken nie dat ons nie wette het nie, want dit gaan oor HOE die wet vervul word!, en "vryheid" gaan oor "gehoorsaamheid aan die Gees".
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Bv., Hy het geleer dat dit nie dit wat in die mond ingaan wat iemand onrein maak nie, maar dit wat uit die mond, uit die hart uit, uitkom! (Mat 15:17,18).
Om meer hieroor te leer, gaan na:
http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2016/11/die-eet-van-rein-en-onrein-diere.html.  Net soos die gelowige in die O.T. moes let op watter dinge dit is wat hom onrein maak (en moes kennis hê van wat is rein en wat is onrein), net so moet die Christen in die N.T. steeds bedag wees daarop en let op wat in sy hart aangaan. Wat is dit wat in sy hart is wat hom onrein maak? Wat is dit wat uit sy mond uit kom wat getuig van wat in sy hart aangaan?  (Matt. 15:11,18,19; Luk. 6:45; 1 Kor. 6:13; Kol. 2:21,22; Jak. 3:6; Spr. 15:28...).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Maar natuurlik mag die geestelike mens nooit toelaat dat sy vryheid vir ander wat swak is (m.a.w. die wat glo iets is verkeerd, al is dit reg) 'n struikelblok wees nie... (1 Kor. 8:9).  Die Christen se liggaam kan bv. nie besoedel word deur die eet van afgodsoffers nie, maar in die geval van waar die eet van afgodsoffers gepaardgaan met die kennis dat dit afgodsoffers is, kan die een wat sterk is wat daarvan eet, iemand anders laat struikel, en so word die persoon se gewete beinvloed! (1 Kor. 10:29; 1 Kor. 8:7). Daarom kan 'n Christen enige iets eet wat in die slaghuis verkoop of vir hom voorgesit word, sonder om navraag te doen (1Kor. 10:25,27), MAAR sou hy bewus gemaak word daarvan dat iets aan 'n afgod geoffer is, dan moet hy dit vermy ter wille van die ander persoon (1 Kor. 10:28), want sou hy dit nie doen nie, dan sal sy gewete onrein word.  Deur gehoorsaam te wees aan die Gees, sal die Christen die wet op die regte manier vervul (Hebr. 8:10; 10:16) - maar as hy die wet gehoorsaam en dooie werke dien, dan sal hy 'n slegte gewete ontwikkel omdat hy reken dat hy dit vervul, maar eintlik nie! (omdat hy nie verstaan HOE dit vervul moet word nie).  Die persoon wat reken dat sekere kosse hom nie geoorloof is nie, se gewete sal hom beslis aankla sou hy hier oortree. Sou hy egter tot insig kom en Christus se woorde in ag neem wat Hy geleer het dat dit nie dit is wat in die mond ingaan wat iemand onrein maak nie, maar dit wat uit die mond uitgaan, dan gaan sy persepsie verander. Sou hy nog onkundig wees van hierdie belangrike waarheid wat Christus vir ons kom leer het, dan gaan hy heeltyd die dooie werke dien en staatmaak daarop ter wille van 'n goeie gewete - die probleem hiermee is dat hy sy hoop plaas in dooie werke en na regte eintlik 'n slegte gewete verkry omdat hy staatmaak op dooie werke...
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:


"DOOIE WERKE" BESOEDEL DIE GEWETE en maak dus die gewete ONREIN (Hebr. 9:14). Dit is duidelik dat die offersisteem in die O.T. in die wet van Moses nie volkome was nie, want alhoewel die bloed van stiere en bokke die vlees van baie sondes kon reinig (en heilig maak)(Hebr. 9:13), kon dit nie die GEWETE heilig maak nie;  en hulle harte was dus VERDEELD op wie hulle dien - m.a.w., beide die wet en die Here (of die wet, of die Here)..  Terwyl hulle besig was om die wet te dien, was hulle besig om dooie werke te dien (Hebr. 9:14) omdat hulle nie noodwendig die wil van God verstaan het nie.  In geval van "dooie werke" dink iemand dat hy die Here dien, maar is ongehoorsaam aan die Here omdat hy glo (gewete/die manier "hoe hy sien") gehoorsaamheid slegs geskied deur gehoorsaamheid aan die wet.

Die wat in Christus Jesus glo, dien nie meer die wet nie, maar het deel aan die nuwe testament....... (Hebr. 9) - dus, die wat die Gees van God het, verstaan wat Sy wil is! (in daardie sin dien hulle Hom, nie die wet nie). Omdat hulle hul tot Christus Jesus bekeer het, gee Hy aan hulle Sy Gees en SKRYF SY WETTE OP HULLE HARTE sodat hulle VERSTAAN wat Sy wil is!  Hulle "sien" reg, en sal outomaties wette anders vervul as die wat dooie werke dien.  (2Kor. 3:6 - "wat ons ook bekwaam gemaak het as DIENAARS van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend").  

DIE MANIER HOE DIE GEWETE GEREINIG WORD, IS OM DIT TE REINIG VAN DOOIE WERKE! (Hebr. 9:14).  Hierdie is iets wat die Here doen in die Christen se gewete en hart, deur Sy Gees, en hulle begin dink en "sien" anders as tevore;  Alhoewel "bekering" ook nodig is van die mens se kant af ! (en reiniging vd gewete dus slegs plaasvind vir die wat in Christus Jesus glo) - m.a.w., bekeer van die manier hoe jy "sien" tot die manier hoe die Here "sien";  - m.a.w., glo in Christus en glo in Sy leringe/woorde;  - m.a.w., neem Sy WAARHEID aan!  Wanneer iemand se gewete gereinig word, dan begin hy om te sien soos die Here sien.  Maar as hy steeds vasklou aan ou of  wereldse sienswyses of die sienswyses van die wat "die wet dien", dan word die gewete (weer) BESOEDEL.  Om "vry te wees in die Gees" gaan daaroor dat jy "gehooraam is aan die Gees"!  Dus, as die Here jou denkwyse verander maar jy teruggaan na die ou denkwyses van die wet, dan IS jy NIE VRY NIE,  omdat jy dan eerder gehoorsaam is aan die wet as aan die Gees.  Het jy 'n rein gewete?  (is jy gehoorsaam aan die Gees?).  Of het jy 'n onrein gewete? (dien jy dooie werke?).  
Gaan dit oor jou sienswyse?, of soek jy na die WAARHEID?
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.