Dinsdag 18 Januarie 2022

Wanneer is dit geoorloof om 'n geheim te openbaar?

Geheime word baiemaal openbaar wanneer iemand besig is om kwaad te spreek van ander (Spr. 11:13 - "Die wat met kwaadsprekery omgaan, maak ‘n geheim openbaar, maar hy wat betroubaar is van gees, bedek ‘n saak"). Dis nie reg om enige geheim te openbaar nie,  Bv., betroubare mense loop en vertel nie ander se geheime nie en sal liewer 'n saak bedek... (bv. as dit 'n sonde is wat iemand bely het en hom daarvan bekeer het... - Jak. 5:16; 1 Kor. 13:5,7), maar somtyds het iemand nie 'n keuse nie, bv. wanneer dit gaan oor selfverdediging. Oor of dit geoorloof is om 'n geheim bekend te maak, het te doen met die situasie. In sekere gevalle is dit nodig sodat dit wat verkeerd teen iemand gespreek of gedoen word, aan die lig gebring kan word;  maar as dit nie nodig is nie moet geheime liewer nie geopenbaar word nie;  veral waar iemand dit uit onkunde doen en hy bloot tot insig gebring moet word. Dit is nie verkeerd om iemand se geheim uit te lap as dit gaan oor bv selfverdediging nie, maar wel verkeerd as dit gedoen word om redes van kwaadspreek of as jy die ander persoon se versoek om dit verborge te hou, nie respekteer nie... (Spr. 15:9 - "Verdedig jou saak teen jou naaste, maar openbaar ‘n ander se geheim nie"). 

Sommige glo dat enige iets wat in die geheim gedoen word (of geheime wat gehou word) is verkeerd;  en hulle sien dit selfs as 'n manier van lieg (!?) - maar die waarheid is dat dit in heelwat situasies eerder goed is om iets verborge te hou (en dat dit eerder is wat die Skrif leer oor die onderwerp).  Bv., 'n profesie wat nog nie geopenbaar moet word nie (omdat die tyd nog nie reg is nie)... Die Here het ook geheime of verborgenhede wat Hy vir die mens verborge hou, somtyds vir baie lang tye, somtyds duisende jare. Jesus het baie verborgenhede vd hemel, wat terloops verborge was in die O.T., met ons kom deel... (Matt. 13:11). Ander gevalle waar dit goed is om iets verborge te hou kan bv. wees waar iemand verborge gehou word omdat sy lewe in gevaar is, of die uitlap vd geheim kan veroorsaak dat sy lewe bemoeilik word;  of waar 'n geskenk in die geheim gegee word om toorn tot bedaring te bring..., ens.  Dus, duidelik is nie alles wat geheim gehou word of in die geheim gedoen word, verkeerd (soos sommige glo) nie!  As iemand 'n geheim hou beteken dit nie outomaties dat hy lieg nie - dit is tog nou belaglik om van 'n vriend of familielid of broer of suster in Chrisuts te verwag om alles vir jou te vertel! Wat die Skrif liewer leer is dat ons sekere geheime wel móet hou...  (http://warechristene.blogspot.com/2016/12/geheime-verborge-skatte-verborgenhede.html).

____________________________________________________________________________________

GEDAGTE:

Of dit van ons verwag word om mense se geheime te openbaar, hang af van die situasie. Dit is bv. nie verkeerd om ander te waarsku teen kwaadsprekers of valse leermeesters en valse profete nie, maar is eerder belangrik om dit aan die lig te bring sodat die hoorders kan onderskei.  Jesus het self ook Sy dissipels gewaarsku teen kwaadsprekers en valse profete (Matt. 16:6; Mark. 8:15; Matt. 7:15), en die dissipels het dieselfde gedoen in die eerste gemeentes (2 Pet. 2:1...) - in sommige gevalle het hulle selfs mense op die naam genoem wanneer hulle die sonde openbaar gemaak het... (en dit is dan terloops nie as kwaadspreek gesien nie)(2 Tim. 2:16,17). Natuurlik, as iemand nou verkeerd sou oordeel en iemand openbaar as 'n valse leraar terwyl hy nie is nie!, dan is so 'n persoon self 'n kwaadspreker. Kwaadsprekers is tipies mense wat ander se geheime uitlap maar dit wat hulle oorvertel is nie die waarheid nie. Kwaadsprekers sal nie in die koninkryk van God ingaan nie (1 Kor. 6:10). Christene word beveel om hulle af te keer van die wat kwaadspreek (2 Tim. 3:3-5; Ps. 101:5). 

In gevalle egter waar sondes bely word, moet dit eerder verborge gehou word (Jak. 5:16; 1 Kor. 13:5,7). Maar sondes wat in die geheim gedoen word en nie bely word nie, of waar die persoon voortstap in die sonde, moet natuurlik anders hanteer word en daar is heelwat reëls in die Skrif rondom hierdie tema. Veral in die geval van kundiges (wat weet dat dit wat hulle doen, is verkeerd)... As jy bv. 'n moordenaar onvoorwaardelik vergewe en sy sonde nie openbaar maak nie, dan plaas jy ander mense se lewens in gevaar, want daardie persoon kan gaan en nog mense doodmaak  (hoekom? - omdat jy dit nie openbaar gemaak het sodat hy opgesluit word nie). In so 'n geval is dit dus nodig dat die persoon se sonde openbaar gemaak word. 

Nie alles wat in die geheim gedoen word is natuurlik verkeerd nie (soos wanneer iemand se lewe in gevaar en sy ligging geheim gehou moet word), maar baiemaal is dinge in die geheim gedoen verkeerd en heelwat hiervan word spesifiek in die Skrif genoem;  bv waar Christene in die geheim afgode het, of hulle besig hou met onvrugbare werke vd duisternis, of die wat konkel in die geheim, of die wat partydig is in die geheim, of die wat moord pleeg in die geheim,.., ens. In geval van waar 'n broeder teen 'n ander sondig, is "teregwysing" 'n manier van die saak aan die lig bring en geskied gewoonlik eers tussen die twee persone, maar as die persoon nie luister nie kan meer ingetrek word... (Matt. 18:15-17). In so geval natuurlik (waar so 'n persoon se sonde geopenbaar word) is dit nie bedoel om kwaad te spreek van hom nie, maar bedoel om hom tot bekering te lei;  en is gewoonlik spesifiek met betrekking tot "kundiges" wat nie luister nie (nie onkundiges wat bloot tot insig gebring moet word nie). In alle opsigte moet ons liewer traag wees om iemand se geheim te openbaar!, en versigtig wees want in baie opsigte is dit verkeerd om dit te doen...

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.