Maandag 13 Junie 2022

Wat leer die Bybel oor EGSKEIDING?

Die tema van "egskeiding" is 'n sensitiewe saak. Somtyds word 'n paartjie wat geskei het verkeerd geoordeel, en in ander gevalle weer is daar paartjies wat skei sonder regverdige rede. Wat die tema van "skei" (en of so iemand mag hertrou) aanbetref is daar verskillende opinies tussen kerke.  Dit is miskien te wyte aan die feit dat skrifte verskillend geinterpreteer word. As ons egter ag gee op Jesus se woorde dan kan ons nie veel verkeerd gaan nie. Hy het bv. geleer dat dit nooit die wil vd Here was dat getroudes skei nie, maar dit somtyds toegelaat word (Matt. 19:8; Mark. 10:9), dat 'n man nie om allerhande redes van sy vrou mag skei nie (Matt. 19:3-5) en dat as geskeides hertrou, hulle egbreuk pleeg... (Matt. 19:9; Mark. 10:11,12; Luk. 16:18). In die eerste gemeentes was daar ook heelwat oor die onderwerp geleer, o.a. reëls gegee vir die wat wel skei (1 Kor. 7:10,11), bv. die feit dat gelowiges nie gebonde is as ongelowiges van hulle wil skei nie (1 Kor. 7:15), en dat daar van geskeides verwag was om ongetroud te bly of met hulle maats weer te versoen (1 Kor. 7:10,11).  

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

  Die Here haat egskeiding (Mal 2:16a). 'n Man mag nie oor allerhande redes van sy vrou skei nie (Matt. 19:3-6), maar egskeiding word in sommige gevalle toegelaat. Spesifieke gevalle wat in die Skrif genoem word van waar 'n paartjie toegelaat was om te skei het beslis te doen met barmhartigheid; o.a. a.g.v. 'n huweliksmaat wat verhard is van hart (Mark. 10:5; Matt. 19:8), of waar een hoereer het of daar iets skandeliks aan die persoon ontdek is (Matt. 19:8,9; Deut. 24:1), of waar 'n ongelowige van 'n gelowige wil skei (1 Kor. 7:12-16). 

'n Gelowige wat met 'n ongelowige getroud is mag nie van hom/haar skei nie (1 Kor. 7:12-14);  tensy natuurlik om tipiese redes; maar as die ongelowige wil skei, moet die gelowige hom toelaat. Dit is ook nie vir geskeides geoorloof om te hertrou nie want na regte behoort 'n vrou aan haar man solank hy lewe (Rom. 7:2), en ons moet verstaan dat egskeiding nie werklik hierdie verbond breek nie. In beeldspraak gebruik in Jer. 3 kan ons 'n goeie idee kry van wat die woord "skei" regtig beteken - (kyk bv. v.8 -"En Ek het gesien toe Ek uit oorsaak van die owerspel van die afkerige, Israel, haar verstoot en haar haar skeibrief gegee het, dat die ontroue, haar suster Juda, nie bevrees was nie, maar gegaan en ook self gehoereer het) - hier sien ons hoe "skei" nie beteken dat die Here Sy verbond met haar (Israel) geheel verbreek het nie, maar eerder dat dit beteken dat Hy haar vir 'n tyd lank VERSTOOT het (tot sy ophou met haar geestelike hoerey). Geen mens kan regtig verbreek dit wat die Here saamgevoeg het nie (Matt. 19:4-6) - die skeibrief verbreek nie die eg nie

Die wat skei om regverdige rede sondig nie wanneer hulle nou onbepaald van mekaar onttrek nie, maar dit beteken nie dat die eed verbreek is nie (die Here neem ede ernstig op), want as dit die geval was maak Jesus se woorde in Luk. 16 en Mark. 10 nie sin nie - (Mar 10:11,12 - "En Hy sê vir hulle: Elkeen wat van sy vrou skei en ‘n ander een trou, pleeg egbreuk teen haar; en as ‘n vrou van haar man skei en met ‘n ander een trou, pleeg sy egbreuk"), en (Luk 16:18 - "Elkeen wat van sy vrou skei en ‘n ander een trou, pleeg egbreuk; en elkeen wat trou met die vrou wat van haar man geskei is, pleeg egbreuk"). Volgens hoe die woord "skei" vandag verstaan word sal dit moeilik wees om te verstaan wat Jesus hier bedoel het. Hoe kan hulle "egbreuk" pleeg as hulle nie meer "in eg" is nie?, want egbreuk gebeur waar daar nog 'n eg is. Uit Jesus se woorde kan ons hier leer dat alhoewel hulle geskei is, word hulle nog gesien as "in eg" (al het hulle 'n skeibrief!). Ons kan ook kyk na die vb. van Herodus - dit was verkeerd van hom om met sy broer se vrou getroud te wees... (al was sy geskei van haar man!)(Matt. 14:2,4). As 'n skeibrief nie regtig die eg verbreek nie, is dit nie logies dat geskeides weer mag trou nie. Sommige kerke laat "hertrou" somtyds toe bv. in geval waar een buite die huwelik hoereer het en hulle a.g.v. daardie rede geskei was (Matt. 19:9?), maar ook hierdie interpretasie kan problematies wees (klem verskil). Dit wil voorkom of Jesus se siening van egskeiding anders is as wat meeste van ons dit sien, en wil voorkom of egskeiding eerder gesien moet word soos 'n "onbepaalde onttrekking" as wat dit gesien word as 'n verbintenis wat verbreek word (vir 'n studie hieroor of betekenis vd woord in die Grieks, gaan na: http://warechristene.blogspot.com/2018/02/trou-skei-en-hertrou-6.html). 

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

In die eerste gemeentes is vrouens aangemoedig om "ongetroud" te bly nadat hulle geskei is, of moes probeer om met hulle mans te versoen (en die mans dan terloops beveel om die vrou nie te verstoot nie)(1 Kor. 7:10,11). As ons weer kyk na die prentjie van Jer. 3 is dit in die kol met hoe egskeiding hanteer moet word, dat dit eerder gesien moet word soos 'n "onttrekking", nie 'n "verbreking" nie. Net soos wat dit gevaarlik is vir 'n paartjie om hulle aan mekaar te onttrek vir lang tye omdat dit hulle in versoeking kan bring deur gebrek aan selfbeheering (1Kor. 7:5), net so sal getroudes wat 'n skeibrief kry aan dieselfde versoekinge blootgestel word. Hierdie is een vd redes waarom egskeiding nie goed is nie, maar net soos wat daar grondige redes is vir onttrekking binne-in die huwelik by tye (bv. vir gebed en vas), net so is daar grondige redes vir 'n skeibrief. Die kerk het die mag om te oordeel in hierdie opsig of dit vir iemand geoorloof is om te skei. In alle gevalle van Christen-paartjies wat deur egskeiding gaan, moet hulle probeer om weer te herenig sou dit moontlik wees en die probleem uit die weg geruim is, of hulle moet "ongetroud" bly (nie hertrou nie, want dan pleeg jy egbreuk!). 

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:

Christus was baie streng rondom die reëls van trou, skei en hertrou, en Sy woorde swaar vir die wat daarna geluister het - soveel so dat Sy dissipels die volgende opmerking maak in Matt. 19:10 - "Sy dissipels sê vir Hom: As die saak van ‘n man met ‘n vrou so is, dan is dit nie wenslik om te trou nie"

Jesus gee basies vir hulle 2 opsies:

- (1) Trou en aanvaar die reëls, of

- (2) bly Ongetroud (daar is nie 'n tussen-in keuse nie)(Matt. 19).  Christene is inderdaad vry, maar dit beteken nie hulle is vry van alle wet nie, of vry om te doen wat hulle wil nie!  Ten eerste moet die Christen gehoorsaam wees aan Jesus Christus, en Jesus het bepaalde reëls neergelê rondom die temas van trou, skei en hertrou - die kerk het wel mag om te besluit wanneer dit geoorloof is vir 'n paartjie om te skei, maar het nie die mag om die reëls wat Jesus reeds neergelê het te verander nie. Christene moet geleer word wat die Here van hulle verwag - as jy wil trou, moet jy Sy reëls ook aanvaar, maar as jy Sy reëls rondom trou nie wil aanvaar nie is dit beter om jouself onbekwaam te maak om te trou. NET SO MOET DIE WAT WIL SKEI DIE REëLS RONDOM EGSKEIDING AANVAAR:

- (1) Moenie Skei nie, maar as jy skei

- (2) bly Ongetroud, of 

- (3) Versoen weer met jou maat... (1 Kor. 7:10,11).

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

http://warechristene.blogspot.com/2014/12/trou-skei-en-hertrou-3.html

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.