Kwaadspreek (1 Pet. 3:16; Jak. 4:11; Hand. 23:5; Mark. 9:39; Ps. 109:20; 41:5) is nie veel anders as om te "laster" (Jud. 1:8) nie - in die AOV word ook die woord "belaster" gebruik (Jud. 1:10; 2 Pet. 2:10; Tit. 3:2). Kwaadspreek of laster kan gesien word soos "bedrog pleeg" - (1Pe 3:10 - "Want wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, moet sy tong bewaar vir wat verkeerd is, en sy lippe dat hulle geen bedrog spreek nie)(Ps. 32:2; 34:33...). Dit het te doen met wanneer iemand die waarheid oor iemand anders verdraai (baie soos "verkeerde oordeel")- die een wat kwaadspreek is m.a.w. vals en verkondig iets wat vals is... Die wat hierdie soort bedrog pleeg se doel is om ander mense eerder die leuen oor iemand te laat glo, as die waarheid - hulle wil m.a.w. hê dat ander 'n verkeerde persepsie van daardie persoon (van wie hulle kwaadspreek) vorm. Die oorsprong hiervan is gewoonlik "haat", nooit liefde nie! Somtyds neem mense deel aan kwaadspreek omdat hulle glo dat wat hulle hoor is die waarheid, maar ons moet versigtig wees om iets te herhaal wat ons oor iemand anders hoor, want in die proses speel jy in die vyand se hand en word miskien self die een wat laster! Om te laster is 'n ernstige sonde, en een vd sondes wat bloedskuld veroorsaak het in die O.T. (en terloops steeds 'n sonde wat bloedskuld veroorsaak!). In die O.T. moes iemand met sy eie lewe betaal vir hierdie sonde, want dit kan vgl. word met soos wanneer iemand sy broeder doodmaak (1Jn 3:15 - "Elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie").
Maar hoe beïnvloed hierdie sonde ons in die N.T.?
Sal Christene eendag geoordeel word op hulle WOORDE, en kan dit enige invloed hê op saligheid?
Meeste Christene is vandag van mening dat daar niks is wat die Christen kan doen of sê wat kan veroorsaak dat hy sy saligheid verloor nie, maar is dit regtig wat die Skrif leer?
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------In die eerste gemeentes was gelowiges gewaarsku teen "sonde tot die dood" (m.a.w. sonde wat tot die dood lei...), maar hoekom sou Christene hierteen gewaarsku word as dit geen invloed het op saligheid (soos baie glo) nie? "Sonde tot die dood" is "sonde wat die dood voortbring" - natuurlik verwys "dood" hier nie net na wanneer die uiterlike mens sterwe nie, maar ook na "die tweede dood". Maar ons moet verstaan dat sondes is slegs "tot die dood" waar iemand hom/haar nie wil bekeer van daardie sonde nie. Selfs vir sondes wat bloedskuld veroorsaak is daar vergifnis in Jesus Christus en dit is dus moontlik om vergifnis te kry vir enige sonde (behalwe natuurlik lastering teen die Heilige Gees). Maar as 'n Christen weier om hom te bekeer van 'n sonde soos kwaadspreek (1 Kor. 6:10; Rom. 1:30; 2 Tim. 3:3), word daardie sonde 'n "sonde tot die dood"... Daar is bv. sommige Christene wat 'n gewoonte het om kwaad te spreek van ander en nalaat om hulle sonde te bely, en weier om die sonde neer te lê - sal hierdie Christene eendag onvoorwaardelik vergewe word?, of is dit sonde wat "tot die dood" (tweede dood-Openb. 21:8; 20:6,14) sal lei?
In die eerste gemeentes was broeders geleer om nie te bid vir 'n broer wat "sonde tot dood" doen nie - maar hoekom? (1Jn 5:16,17). Die rede is nie onbarmhartigheid nie, maar dit gaan hier oor die feit dat die persoon weier om hom van sy sonde te bekeer (en dus word daardie sonde "sonde tot die dood"). Dit is m.a.w. nodeloos om vir so iemand te bid want sy wil staan in die pad ! - in so 'n geval voel jou gebed tot niet. Dit help nie jy spandeer ure in gebed vir so 'n persoon asof die Here hom wonderbaarlik sal dwing tot gehoorsaamheid of insig nie, want die persoon kies self "sonde tot die dood". Die Here dwing nie mense om Hom gehoorsaam te wees nie; alhoewel, Hy tugtig die vir wie Hy lief is om hulle tot gehoorsaamheid te lei, ja... Maar elke mens het 'n vrye wil en moet self kies om gehoorsaam te wees. Niemand kan vergifnis kry vir sondes wat tot die dood lei, as hulle hul nie daarvan bekeer nie. Anders as kwaadspreek is daar heelwat ander soortgelyke sondes wat in die Skrif (ook in die N.T.) aangespreek word as sondes wat nie op die ou end vergewe sal word nie, en Christene wat so in hierdie sondes wat tot dood lei, stap, word op die naam genoem - bv. hoereerders, afgodedienaars, gierigaards, rowers, egbrekers, wellustelinge, dronkaards, moordenaars, ongelowiges, sodomiete ens. - waaronder kwaadsprekers terloops ook genoem word! (1 Kor. 5:10; 1 Tim. 1:10; 1 Kor. 6:10 ens.). "Kwaadspreek is 'n ernstige onderwerp! "Kwaadsprekers" word in die Skrif gestel onder die ONREGVERDIGES, en hulle word gereken onder die wat NIE die koninkryk sal beërwe nie (1 Kor. 6:10). Ons moet versigtig wees vir die soort Christen wat loop en laster; inteendeel, Paulus beveel dat ons ons selfs moet afkeer van sulke mense (2 Tim. 3:5) want hulle is soos suurdeeg wat die hele deeg kan suurmaak... - M.a.w., moenie deelneem aan hulle praatjies en jou ore vir hulle uitleen nie. Hulle praat kwaad van ander (opregte) Christene en vd waarheid, en probeer so keer dat mense na die waarheid luister. Jesus het ook gedurig Sy dissipels gewaarsku teen hierdie soort "gelowiges" (Matt. 16:6; Luk. 12:1) - Hy het hulle o.a. "geveinsdes" genoem (want hulle is soos akteurs, en speel die rol van iemand wat die waarheid verkondig, maar verkondig die leuen).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:
"Kwaadsprekers" verwys nie net na die wat kwaadspreek van ander mense nie, maar ook na die wat kwaadspreek vd waarheid. In 2 Tim. 3:2-5 word kwaadsprekers bv. voorgestel as die wat "liefhebbers is van hulleself" en "die gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het" (2 Tim. 3:5). Hulle kom voor as broers, maar verhard hulle teen die waarheid en is ongehoorsaam aan die Here - en is daarom ook daardie mense wat gewoonlik in opstand kom teen die wat die waarheid verkondig! Baie Fariseers en skrifgeleerdes het so vir Christus en Sy dissipels verkeerd geoordeel omdat hulle hul gesien het as "vals"; tog was daar eerder onder hulleself die baie valse broeders! "Verkeerde oordeel" kom gewoonlik deur die wat "verkeerd sien" en "verkeerd hoor", nie die wat reg sien en reg hoor nie. Bv., die geval waar Christus die dissipels waarsku teen die suurdeeg van die Fariseers, kan nie gesien word as "kwaadspreek" of "verkeerde oordeel" nie... Net so kan die geval waar Paulus die gemeente waarsku teen valse broeders nie gesien word as kwaadspreek of verkeerde oordeel nie. Ons moet dus verstaan wat bedoel word met "kwaadspreek" en verstaan dat daar ook 'n plek is vir "regte" oordeel (m.a.w. "om die wat binne is te oordeel" - en moenie "regte oordeel" verwar met kwaadspreek nie- http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/08/moenie-oordeelveroordeel-nie-2.html).Wat die skrif veral vir ons leer oor "verkeerd oordeel" en wat dit beteken om kwaad te spreek of sleg te praat van die Weg, is dat dit juis geskied deur die wat NIE AG GEE OP DIE WAARHEID NIE. Hulle oordeel dus volgens "hoe hulle sien" en "hoe hulle (wil) hoor". Dit is bv. gewoonlik die wat nie ag gee op Jesus se leringe nie wat in hierdie vreeslike strik val om ander broeders verkeerdelik te oordeel (belaster). Sulke mense word tipies kwaad vir die wat die WAARHEID verkondig. Om ander te waarsku teen 'n valse broeder word egter nie gesien as kwaadspreek of verkeerde oordeel nie, maar as jy hulle waarsku omdat jy die broer verkeerd oordeel (bv. voorgee dat hy vals is of dat die woord wat hy bring vals is terwyl hy nie is nie), wel, dan is jy beslis besig om kwaad te spreek of hom te laster!
Baie Christene het al so gelaster teen ander gelowiges deur wie die Gees werk, omdat hulle self so behep is met hulle eie wil en mensgemaakte geloof dat hulle nie die waarheid, of die ware Christen erken nie. Wees nou versigtig wat jy van die Gees sê wat deur 'n opregte Christen werk!!, want as jy voorgee dat hy uit homself praat terwyl hy eintlik deur die Gees praat, mag jy dalk besig wees om die Gees van God te laster! (en jy word dan terloops skuldig aan 'n onvergeeflike sonde). Die opregte Christen is veronderstel om 'n ander (opregte) Christen te erken; en moet onderskei tussen wanneer dit die Gees van God is en wanneer dit 'n "ander gees" is wat deur iemand werk (1 Joh. 4:6; 2 Kor. 11:4); en moet onderskei tussen wanneer dit die ware Evangelie is, en wanneer dit 'n "ander evangelie" is wat gepreek word (Gal. 1:6-8; 2 Kor. 11:4); en moet onderskei tussen wanneer iemand die regte Jesus verkondig, en wanneer hy 'n "ander Jesus" verkondig.(2 Kor. 11:4; Hand. 4:12; 1 Tim. 2:5) .....Maar as jy hierdie onderskeiding nie kan maak nie, bly dan liewer stil.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.