Woensdag 20 Mei 2020

Hoe siekte vrug affekteer

Wanneer Jesus Christus terugkom sal elke Christen (saad-plant-boom) se vrug geoes word.  Maar in hoedanige toestand sal elkeen se vrug wees?, en sal daar enige vrug wees om geoes te word? (Mark. 4:26-29; Matt. 13:30-43).  "Geestelike mense" (weergeborenes) is veronderstel om "vrug te dra tot ewige lewe" (maw vrug wat vir hulle die ewige lewe oes)(Joh. 4:36; Rom. 6:22), maar nie almal dra vrug nie, en nie alle vrug is gesond en bruikbaar nie.  En nie alle "plante" skiet eens wortel!, of bereik die stadiums van groei en vrug nie;  en somtyds word vrug verstik deur ander dinge soos dorings...
In die gelykenis vd Saaier word hierdie nogal goed verduidelik, en ons kan daaruit leer dat
Christene in 3 groepe verdeel word, nl.
(1) die wat die woord aanneem, maar geen wortel skiet nie;
(2) die wat die woord aanneem, wel wortel skiet, asook groei en vrug dra, maar weer hulle vrug verloor of onvrugbaar word;
(3) en die wat die woord aanneem, wortel skiet, groei, vrug dra, en die vrug behou en/of meer vrug dra.

Wanneer vrug geoes word word bepaal watter vrug behou, en watter uitgegooi word. Wanneer Jesus terugkom sal iets soortgelyk gebeur wanneer Hy Sy dorsvloer skoonmaak, en daar sal skeiding gemaak word tussen "koring en onkruid" (ware en valse) en "koring en kaf" (die met vrug, en die sonder vrug).
Mat 13:30 - " Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur".
- Luk 3:17 - " Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring saambring in sy skuur, maar die kaf met onuitbluslike vuur verbrand".
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:


Nie alle vrug is bruikbaar nie, en nie alle dele van 'n vrug nie. As 'n vrug bv. gewond is het dit baiemaal tot gevolg dat groot dele vd vrug uitgesny en verlore gaan.  Slegte vrug word net eenvoudig weggegooi! En somtyds is daar niks om te oes nie omdat dorings die plant verstik, of 'n plant het baie van sy vrug verloor omdat dit siek is.  Hierdie word ook in die Skrif in beeldspraak gebruik van Christene.

Siende elke Christen veronderstel is om te groei en vrug te dra, kan die toestand van hulle vrug ook op hierdie manier verduidelik word.  Sekere gelowiges word bv. somtyds na verwys as "siek" (en ons moet verstaan wat hiermee bedoel word).  As 'n Christen "siek" of ongesteld is sal dit beslis sy vrug beïnvloed. 'n Siek plant kan steeds vrug dra, ja, maar siekte het 'n invloed op vrug wat tot gevolg het dat groot dele vd vrug dalk weggesny en verlore gaan, en in uiterste gevalle kan "siekte" selfs die dood van 'n plant veroorsaak!  Of bv. veroorsaak dat die wortel vrot (wat somtyds gered kan word, en somtyds nie).  Hierdie is belangrik om te onthou wanneer daar na "siek" gelowiges verwys word.  Wanneer 'n Christen siek is (m.a.w., a.g.v. sonde) beteken dit nie dat hy nie meer vrug kan dra nie, maar hy mag in die proses baie van sy vrug verloor, en in uiterste gevalle kan sy "siekte" veroorsaak dat die wortel begin vrot, of kan moontlik "doodgaan".  "Siek" Christene is op hierdie gevaarlike plek en as hulle nie "medisyne" neem nie, kan dit onvrugbaarheid, of selfs die dood tot gevolg hê. Somtyds word 'n siekte genees (Jak. 5:19);  en somtyds lei dit tot die dood (Joh. 11:4).  Op dieselfde wyse word "siek" Christene somtyds genees, en somtyds nie! - somtyds lei dit tot die dood... Vgl. hierdie gerus met die tema van "sonde tot die dood" (m.a.w. sonde wat tot die dood lei - 1 Joh. 5:16,17; Jak. 1:15; Rom. 6:16). Slegs sondes waarvan iemand hom bekeer, kan vergewe word. As 'n Christen kies om in sonde te stap wat tot die dood lei, kan hy nie verwag om "lewe" daaruit te oes nie.

Ander beeldspraak wat ook gebruik word is die van "gewondes".  'n Gelowige wat gesien word as "gewond" kan ook groot dele van sy vrug verloor, of selfs onvrugbaar word! (sou hy hom steeds nie bekeer na sy wonding nie) - om dit heeltemal te verstaan moet ons natuurlik ook weet waarna die begrip "gewondes" verwys in die Skrif.  Gelowiges wat voorgestel word as "gewond" verwys nie net na die wat in sonde stap sonder om hulle daarvan te bekeer (soos "siekes") nie, maar meer presies na "siekes" wat deur die Here getugtig word omdat hulle nie wil hoor nie, met die doel om hulle te beweeg tot bekering. "Gewondes" kan miskien ook vgl. word met die tema van "blindes" in die Skrif (die wat lou is, "vergeet", hulle harte en sinne verhard ens.- het blind geword en kan nie meer "sien" nie)(het "salf" nodig). Elke Christen wat in sonde stap waarvan hy hom nie bekeer nie (bv. leunaars, diewe, dronkaards, kwaadsprekers, hoereerders, onbarmhartiges ens.) staan die gevaar om so "gewond" te word... (m.a.w om deur die Here getugtig te word). Gewondes verwys nie na gelowiges wat geen vrug dra nie, want dan sou hulle nie eens kans kry nie! (Joh 15:2; Matt. 3:10). Dit is 'n seer proses waarin diesulkes beslis vrug (wat hulle alreeds dra) verloor, ja, maar die snoei en skoonmaak is goed vir hulle (Openb. 3:19). 'n Gewonde kry 'n kans om reg te maak!, en hy moenie kwaad word omdat hy getugtig word nie, want al manier hoe hy van sy wond genees kan word (m.a.w. die manier hoe hy onder die tugtiging kan uitkom) is deur hom te bekeer (van die sonde). Die tugtiging is belangrik want dit is beter vir so iemand om dele van sy vrug te verloor as om sy lewe te verloor. Sou hy egter steeds na die tugtiging hom nog nie bekeer nie en bv. sy hart verhard, staan hy beslis in gevaar om heeltemal onvrugbaar te word en sal opeindig soos iemand "sonder vrug" - (Joh. 15:2 - "Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra").
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
https://warechristene.blogspot.com/2020/04/honger-dors-vreemdeling-naak-siek.html

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.