Sondag 14 Junie 2020

Kinders moet gesien en nie gehoor word nie

Ons voorouers was slim mense.  Hulle het verstaan die belangrikheid van wysheidspreuke en hoe dit kinders se persepsie van die lewe beïnvloed. Dit wil ook voorkom of baie van die gesegdes waarmee Afrikaanse kinders elke dag grootword ook 'n skriftuurlike basis het.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Natuurlik is die begrip agter 'n gesegde belangrik want net soos in die geval met waarheid, word gesegdes somtyds misbruik.  Bv., een so 'n gesegde wat somtyds misbruik word is die van "kinders moet gesien maar nie gehoor word nie". Soos ons weet is die bedoeling van hierdie gesegde dat kinders liefs moet stilbly (veral in grootmens geselskap), want waar kinders uit hulle beurt uit praat en probeer slim wees wanneer hulle eintlik nog onkundig is, kan hulle 'n geselskap ontstig of selfs gekke maak van hulleself.

Afhangende van hoe hierdie gesegde gebruik en toegepas word het dit die vermoë om 'n kind óf te breek óf te bou. Natuurlik moet kinders toegelaat word om hulle stemmetjies te oefen, en hulle moet die geleentheid gegun word om te leer hoe om hulleself uit te druk in woorde (al is dit somtyds in grootmens geselskap) - in hierdie geval moet kinders beslis "gehoor" word, ja,  maar ons is geleer daar is 'n tyd en 'n plek... Ons laat somtyds met opset toe dat kinders uit hulle beurt uit praat en dan lag almal tog te lekker en geniet dit wat die kind kwytraak, maar op sy tyd, want hierdie kan 'n probleem wees sou die grootmense iets belangrik bespreek of die kind toegelaat word om voort te gaan in sy onkunde, of jy hom laat dink dat hy 'n punt beet het wanneer hy eintlik nie het nie. Kinders het ook die vermoë om gou opgeblase te raak, en baiemaal weet hulle iets ja, maar besef nie altyd dat hulle nog baie het om te leer nie.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:

'n Ander probleem met kinders wat op 'n verkeerde tyd gehoor word is in die geval waar hulle 'n geselskap oorneem deur vrae en nuuskierigheid. Wanneer kundige grootmense saam kuier en 'n kind 'n oorlas maak van homself deur onnodige vrae te vra of te probeer verstaan waarvan die grootmense praat, kan dit 'n vergadering ontstig - in so 'n mate dat die grootmense nie 'n ordentlike gesprek meer kan voer nie. Sulke kinders moet liewer op 'n ander tyd vir hulle ouers hierdie vrae vra en moet ook leer dat daar iets is soos privaat gesprekke. Dieselfde gebeur in die kerk wanneer die wat onkundig is die vergadering ontstig deur vrae te vra op die verkeerde tyd. 'n Goeie vb. hiervan is dit wat gebeur het in die gemeente van Korinthiërs.  In hierdie geval sien ons 'n klompie vrouens wat die orde van die gemeente verkeerdelik beïnvloed het deurdat hulle lering soek op 'n verkeerde tyd (1 Kor. 14:35). Hierdie vrouens was onkundig en, in plaas van om by hulle kundige mans te leer op 'n ander tyd by die huis, het hulle die gemeente ontstig deur allerhande vrae. Waar kundiges saamgesels is dit altyd 'n probleem wanneer onkundiges die gesprek oorneem (al is dit ook omdat hulle wil leer). Hierdie vrouens was soos "kinders" in die geloof wat nog nodig gehad het om by die "grootmense" te leer - ook om daardie rede was hulle beveel om liewer stil te bly en hulle mans by die huise te vra!  Die probleem vandag in die kerk is nie dat vrouens meer onkundig is as mans nie, maar is dat ons nie altyd onderskei tussen wie in die kerk (hetsy man of vrou) baba of kind is, wie jongmens is, en wie vaders is nie. 

 In die kerk kry ons dus ook hierdie ander soortgelyke probleem, nl. dat sommige wat nog kinders is in Christus, optree asof hulle jongmense of vaders is in die geloof -  en buite hulle beurt praat of probeer slim wees net tot hulle eie skande. En somtyds word diesulkes selfs toegelaat om leiersposisies in te neem in die kerk. Dit is altyd die probleem met talentvolle kinders, is dat dit hulle somtyds opgeblase maak. Die gemeente van Korinthiers het ook hierdie fout gemaak en gedink dat omdat hulle in geen genadegawe terugstaan nie, hulle kan oordeel en lering gee - dit het veroorsaak dat daar groot foute gemaak is, en ten spyte van hulle gawes vgl. Paulus hulle met babas en kinders in die geloof wat nog nie met vaste spys gevoed kan word nie, maar met melk.  Nog iets wat "kinders" (en dus "onkundiges") ook maklik doen is om ander verkeerd te oordeel as gevolg van hulle beperkte kennis. Net soos kindertjies kan hulle iemand maklik kwalik neem omdat hulle nog nie iets verstaan nie. En wanneer dit gebeur is dit ongelukkig nie net tot hulle eie skande nie maar baiemaal ook tot skande van die kerk! - omdat hulle nie net dan verkeerd oordeel nie maar ook somtyds die wat buite is oordeel (wat weer op beurt tot gevolg het dat die Naam van die Here gelaster word-Rom. 2:24). Natuurlik moet die wat nog "kinders" is in die geloof ook die geleentheid gegun word om gehoor te word, ja, maar op tyd en plek.  As die wat nog kinders is in die geloof die fout maak om soos jongmanne of vaders op te tree, kan dit die evangelie skade doen omdat hulle nog nie altyd weet waarvan hulle praat nie, en hulle ook nog nie eens heeltemal geoefen is (soos "jongmanne") om te onderskei tussen goed en kwaad nie.

Die wat nog "kinders" is in die geloof moet leer wanneer om te praat en wanneer om stil te bly (die kerk het 'n verantwoordelikheid om hierdie aan hulle te leer). Hulle moet ook leer om die wat verder opgegroei het in die geloof se gesprekke te respekteer, en liewer stil te bly as te vinnig 'n opmerking te maak. Elkeen wat nuut weergebore is (maak nie saak hou oud hy is, of watter prominente posisie hy in die samelewing het nie!), is soos babas in Christus en het nodig om te groei na kind en jongmens en vader... (1 Joh. 2).  En omdat 'n baba nog met melk gevoed word en nog nie alle "kosse" (in hierdie geval geestelike kos) kan verteer nie, moet daar nie veel van hom verwag word nie maar hy moet liewer gevoed word;  en moet ook nie toegelaat word om soos vaders op te tree as hulle eintlik nog kinders is nie!  Hulle moet ook geleer word om liefs stil te bly waar kundiges saamgesels en versigtig wees om ander te oordeel (Heb 5:13,14 - "Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei").
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.