Dinsdag 18 Januarie 2022

Onreines gaan nie erf nie, maar wie word gesien as onrein?

Kan onreinheid 'n wedergeborene se saligheid beïnvloed?  
Kan 'n weergeborene wie se hart gesuiwer en liggaam gereinig is, weer onrein word? 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Die Skrif leer dat geen ONREINE 'n erfdeel het in die koninkryk van God nie (Ef. 5:5). "Reinheid" of "onreinheid" is 'n beskrywing wat meer spesifiek gebruik word vir die toestand van iemand se hart (Matt. 15:18; Mark. 7:23), en het baie te doen met die GEWETE (Rom. 14:14). "Wat iemand eet" kan bv. nie vir hom onrein maak nie, maar sou dit wat jy eet iets soos afgodsoffers wees (en jy kennis het hiervan), dan mag dit inderdaad vir jou onrein wees! - nie in die sin van dat die kos jou onrein kan maak nie maar het te doen met die gewete. Gelowiges wat bv. in dieselfde juk trek met ongelowiges, met hulle tempels, afgode, afgodspraktyke ens., kan onrein word hierdeur (2 Kor. 6:14-18). Wedergeborenes word wel gesien as REIN (skoon en geheilig) omdat hulle harte gesuiwer is van 'n slegte gewete en die liggaam gereinig met "rein water" (Hebr. 10:22), ja, maar dit beteken nie dat hulle glad nie meer onrein kan word nie... Daarom word Christene beveel om nie "aan te raak wat onrein is nie" (2 Kor. 6:17), en die wat onrein geword het beveel om "die harte te suiwer en die hande te reinig" ( Jak. 4:8). 

"Koring" se identiteit word nie net beskryf deur die soort "saad" nie maar ook deur die vrug wat dit uiteindelik dra - al is iemand ook uit die saad van God gebore (en is skoon/rein), is dit sy vrug wat uiteindelik sal getuig of hy inderdaad (soos) 'n kind van God is, en of hy REIN is of nie.  Bv., nie almal wat "kinders van Abraham" is (dus uit sy saad gebore) is inderdaad "sy kinders" nie! (Joh. 8:39), want elkeen se werke gaan wys of hy inderdaad 'n kind van Abraham is of nie. Met 'n bietjie "reën" is saad veronderstel om nuttige plante voort te bring, maar as dit bv. dorings en distels oplewer is dit 'n getuienis van daardie persoon se ware toestand vd hart (Hebr. 6:6-8).  Op dieselfde wyse kan vrug getuig wat se soort boom dit is, ja (bv. 'n wedergeborene, gebore uit die saad van God), maar vrug is ook uiteindelik 'n beeld van daardie boom se gesondheidstoestand (bv. of iemand "onder dorings gesaai" het ens.) - die vrug vd gelowige wys wat is die toestand vd gelowige se liggaam en gewete (is hy rein, of is hy onrein?). 'n "Boom" wat siek is, bv. 'n gelowige wat stap in sonde of stap in sonde tot die dood, se "liggaam" is siek en hy staan die gevaar om dood te gaan sou hy hom nie vd sonde bekeer nie. "Vrug" is weer meer beeldspraak wat gebruik word vir die toestand vd hart. Slegte vrug is bv gewoonlik 'n aanduiding van valsheid of dat iemand 'n misleier is (is 'n "slegte boom", en dra daarom slegte vrugte/dorings/distels)(Matt. 7:15-20), terwyl "geen vrug" (Joh. 15:2,4) na twee dinge kan verwys - (1) die persoon het nie wortel nie en glo net vir 'n tyd en val af in tyd van versoeking (Matt. 13:5,6)(saai op rots);  of (2) die persoon dra wel vrug maar verloor dit agv sorge, rykdom, genietinge ens. (Luk. 8:14; Matt. 13:7)(saai tussen die dorings, en die dorings verstik die vrug) - (bestudeer gerus die gelykenis vd saaier om hierdie beter te verstaan). 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Wedergeborenes wat onrein word maar niks doen om weer rein te word nie, sal uiteindelik gekenmerk word as "onreines" (nie as reines nie!). Wat dit aanbetref word daar 'n vb. gemaak van sekere groepe in die Skrif, bv. hoereerders, gierigaards, afgodedienaars ens. (1 Kor. 6:10)(bv. hierdie is sondes spesifiek teen die eie "liggaam" - kan liggaam onrein maak, 1 Kor. 6:18) - hierdie mense verwys na kinders vd koninkryk wat stap in sonde tot die dood... (maw hulle sonde is "tot die dood" omdat hulle hul nie daarvan bekeer nie). Hierdie is terloops ook tipies sondes wat bloedskuld veroorsaak! en wat in die O.T. slegs betaal kon word deur iemand se bloed (en daarom o.a. was die met bloedskuld in die O.T. vervloek/doodgemaak).  Alhoewel Christus in ons plek gesterwe het (en so vir alle sondes betaal het, ook vir dit wat bloedskuld veroorsaak), is dit gevaarlik wanneer iemand terugval en bly stap in hierdie weë, want hoe sal so iemand se bloedskuld dan betaal word? Wat sal gebeur as hy in hierdie toestand sterwe? (onrein liggaam) - watter offer het hy dan?;  sal hy die Here oor en oor kruisig? (Hebr. 6:6; Hebr. 10:29). ONREINHEID onder Christene is nie iets wat ligtelik opgeneem moet word nie. 

Ons moet altyd onderskei tussen wat is REIN en wat is ONREIN (en tussen wat is HEILIG en wat is ONHEILIG) (Lev. 10:10) - ...natuurlik ook in die N.T. !  In die N.Testamentiese tyd is alles nie rein verklaar soos baie glo nie nie;  alhoewel, in die regte konteks kan dit wees... Bv., as die Here iets rein verklaar wat onrein was in die O.T., dan is dit rein vir die Christen al was dit ook vroeër gesien as iets wat iemand onrein kon maak. Wette rondom wat is rein en wat is onrein het nie veel verander nie, alhoewel die manier hoe dit vervul word in baie opsigte verander het vanaf die ou na die nuwe testament. M.a.w., dit wat as onrein gesien is in die Ou Testament, bv. dit onder die wet van Moses, word steeds as onrein gesien; tensy die Here dit rein verklaar het!, of die manier hoe iemand weer rein word anders vervul word in die N.T. as in die Oue... Die volk van God is 'n HEILIGE VOLK omdat hulle skoongewas is en afgesonder is vir die Here, maar as hulle hul VERONTREINIG (maw hulleself besoedel), dan is hulle besig om hulleself te ONTHEILIG (besig om hulleself af te sny vd "afsondering").
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
In die Ou Testament, onder die wet van Moses, mag niks wat onrein is aangeraak word nie;  geen onrein mens, dier of enige verfoeisel nie (Lev. 7:21), want dan sou jyself ook onrein word... (dit is bv. ook agv hierdie rede waarom die Hebreeuse volk geensins met die heidene omgegaan het nie - hulle is gesien as "onrein" en omgang met hulle kon hulle onrein maak...- Hand. 10:28).  As iemand homself verontreinig het deur 'n onrein dier, dan het hy homself BESOEDEL.  Om sy vlees weer te reinig was verskillende prosedures gevolg in verskillende gevalle, of andersins was iemand onrein vir 'n spesifieke tydperk (Lev. 11:24,25). In sommige gevalle moes daar aan die einde vd onrein typerk spesifieke prosedures gevolg word om weer rein te word (soos in die geval van die vrou wat swanger word en 'n kind baar - Lev. 12). MAAR ons moet verstaan dat "onrein" nie altyd 'n toestand is wat verwys na "onrein a.g.v. sonde" nie. Somtyds beskryf die woorde rein en onrein slegs 'n toestand bv., "onrein" kan ook verwys na iemand met 'n siekte... (Mark. 1:40), maar nie dan noodwendig bedoel siek of onrein a.g.v. sonde nie (Joh. 9:2,3)(alhoewel in sommige gevalle siekte wel die gevolg kan wees van sonde);  daarom moet ons verstaan dat in die geval van siektes "onreinheid" ook slegs 'n toestand beskryf en die persoon is weer "rein" wanneer hy genees is. Waar iemand egter siek is a.g.v. sonde kan hy nie "rein" word of genees nie alvorens hy hom van sy sonde bekeer of vergifnis vra nie!

Ons moet dus onderskei tussen onreinheid a.g.v. sonde en onreinheid wat slegs 'n toestand beskryf. 'n Goeie vb. hiervan is in die konteks van die wat maagdelik rein is of nie;  en dit verwys spesifiek na die wat getroud is en die wat nie getroud is nie. 'n Getroude man word bv. as maagdelik "BESOEDELD" gesien, maar die een wat nie trou nie en nie 'n vrou behaag nie (en dus nie omgang het met 'n vrou nie), word as maagdelik REIN gesien (Openb. 14:4)(NIE bedoel "rein van sonde" nie, maar "maagdelik rein"). En natuurlik beteken dit dan nou nie dat die (Christelike) man wat trou sondig omdat hy homself "besoedel" nie (1 Kor. 7:28), maar waarna dit verwys is dat hy nou nie alleenlik besorg is oor die Here nie maar ook besorg is oor die dinge van die wêreld, bv. hoe hy die vrou sal behaag... (1 Kor. 7:33)- hy is maw besoedel op 'n natuurlike manier, maar 'n man wat ebreuk pleeg word besoedel op 'n geestelike manier.  Ongetroudes ("Christelike maagde") is slegs besorg oor die dinge van die Here EN HOE HULLE DIE HERE SAL BEHAAG (1Kor. 7:32) - in daardie opsig is hulle "rein" op 'n natuurlike manier (nie maagdelik besoedel nie). Dus is die huwelik HEILIG (afgesonder) vir die twee wat getroud is omdat hulle behae het na mekaar (en in daardie opsig REIN / skoon vir mekaar...). Hierdie feit word ook as beeldspraak gebruik in Jes. 62:4 van hoe die land Israel GETROUD sal wees aan die Here.  Let op die woorde in Jes. 62:4: -"want die Here het ‘n behae in jou, en jou land sal getroud wees".  (Sien hoe die land Israel geheilig is vir die toekomstige eeu, asook die stad Jerusalem; en die stad terloops geheilig tot in ewigheid...).  Hier sien ons dus dat die man wat trou en homself "besoedel" met die vrou, nie onrein is omdat hy sondig nie maar die onreinheid hier slegs sy maagdelike toestand beskryf - m.a.w. dit beskryf sy behae in sy vrou en die huwelik waarin hulle geheilig (afgesonder is) vir mekaar - hulle huwelik kan m.a.w. gesien word as REIN (maar vir mekaar).

Maar in die geval van ebreuk beskryf die woord ONREIN eerder die toestand van die hart - word onrein deur sonde ("onrein op 'n geestelike manier").  Die persoon wat onrein is a.g.v. sonde, het REINIGING nodig;  maar iemand wat maagdelik onrein is a.g.v. die feit dat hy getroud is het bv. nie reininging nodig nie..., want na regte is hy rein (in die huwelik). 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Om die tema van onreinheid beter te verstaan, kan ons dus ook onderskei tussen "onrein op 'n geestelike manier" en "onrein op 'n natuurlike manier".  'n Vrou is bv. "onrein" wanneer sy menstrueer, maar bv. nie op dieselfde manier "onrein"/vuil as wanneer iemand onrein is a.g.v. sonde nie. 'n Goeie vb is die van "bevlekte hande" - bevlekte hande verwys nie noodwendig daarna dat die hande vuil is a.g.v. bloed in die sin van "bloed op hande"/'n moordenaar (Jes. 59:3)(is m.a.w. onrein op geestelike manier ) nie, maar hulle kan bevlek of vuil wees op 'n natuurlike manier (bv. bloed, grond, ink,  watookal). Die manier hoe reiniging verkry word in elke geval, verskil.  Hande wat bevlek is op 'n natuurlike manier moet bloot gewas word, maar hande wat "met bloed bevlek is" op 'n geestelike manier, kan nie op dieselfde manier reiniging verkry nie. 'n Moordenaar se "hande" word nie skoon (hy word nie rein) bloot deur sy hande in water te was nie - reiniging vind nie op enige manier plaas nie, want dit hang af van wat se soort onreinheid ons praat... 

Christene wat onrein word het reiniging nodig, en die situasie bepaal die metode van reiniging. Daar is baie dinge waardeur die mens onrein kan word, o.a. word sommige BESOEDEL met een of ander gees ("bose of onreine geeste") - so iemand word dan ook as 'n "onreine" gesien. Omdat weergeborenes die Heilige Gees het glo meeste geleerdes dat dit nie moontlik is vir 'n weergeborene om 'n bose gees te ontang nie, maar wat gebeur as 'n weergeborene begin speel in afgodspraktyke en praktyke begin volg waarin so iemand hom/haarself oopstel vir kommunikasie en ontvang van bose en onreine geeste? (bv. sekere vlakke van oosterse meditasie, joga ens.). In so 'n geval is so 'n weergeborene besig om sy geloof in 'n ander geloof (- of ander geloofspraktyke) te plaas en die bose te raadpleeg - hy is besig om "geestelik te hoereer" en die Skrif leer vir ons dat hierdie beslis iets is waardeur kinders vd koninkryk BESOEDEL kan word... (gewete word besoedel). Weergeborenes wat afvallig word vd geloof en die Heilige Gees bedroef (Ef. 6:30), kan nie verwag om rein te bly nie. En terloops, wat gebeur as iemand die Heilige Gees bedroef?  Kan die Gees weggeneem word van so iemand?
\-------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:


Watookal iemand se onreinheid (op 'n geestelike manier), elkeen wat onrein is het nodig om rein te word, want niks wat "verontreinig" is sal eendag in die nuwe hemel en aarde in die nuwe stad Jerusalem toegelaat word nie (Openb. 21:27). Christene moet verstaan dat net soos dit belangrik was om rein te word in die Ou Testament, net so is reiniging nodig in die Nuwe. Ons word nie een maal skoongemaak en laat staan asof ons nou kan onrein word soos ons wil en word onvoorwaardelik vergewe (soos baie deesdae glo) nie, maar het steeds nodig om skoongemaak te word sou ons weer besoedel word... Die feit dat Jesus se offer eenmalig was en nie oor en oor gebring hoef te word nie, beteken nie dat 'n wedergeborene wat besoedel is nie nodig het om rein te word nie! Om in 'n toestand van onreinheid te bly is gevaarlik vir die weergeborene, en as hy nie sy sonde bely en dit neerlê nie, kan dit wel verander in "sonde tot die dood" (sonde wat tot die dood lei...).
--------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.