Maandag 20 Januarie 2020

Onderskei tussen wat is REIN, en wat is ONREIN (2)

Die Christen leef onder 'n Nuwe Testament - 'n testament gaan gewoonlik in vervulling met iemand se dood, en hierdie N.Testament het in vervulling gegaan met Jesus Christus se dood en opstanding (Hebr. 9;  12:24; Matt. 26:28; Mark. 14:24; Luk. 22:20; 1 Kor. 11:25; 2 Kor. 3:6;).  Die Christen is bv. nie "onder die wet van Moses (onder die "ou testemant")" nie, wat beteken dat hy nie gehoorsaam is aan die wet van Moses nie maar is gehoorsaam aan Jesus Christus en Sy Gees (is onder 'n nuwe testament)...

Ons verstaan wat dit beteken wanneer 'n testament in werking kom, maar weet ons wat die testament behels?  Ons weet ook goed waaroor die Ou Testament gegaan het maar weet ons waaroor gaan die Nuwe Testament? 'n Testament bestaan nie net altyd uit dit wat iemand erf nie maar 'n wil word deur dit gegee, en dit het dus baiemaal voorwaardes en opdragte wat ook saam met dit gaan.  Hierdie voorwaardes kan selfs veroorsaak dat die een wat sou erf op die end dalk nie erf nie, sou hy bv. nie die voorwaardes nakom nie.  Die Nuwe Testament wat in werking getree het na Jesus se dood en opstanding is nie anders in hierdie opsig nie, maar bestaan uit beide dit wat geeerf  word deur die "kinders" asook voorwaardes en opdragte daarby, en die Here se wil word deur hierdie testament van Hom beskryf.  Net soos in die geval vd Ou Testament, sal die wat nie die voorwaardes nakom nie op die ou end ook nie "erf" nie. Geloof (en dus gehoorsaamheid) was nog altyd die voorwaarde in beide testamente. Jy is miskien deel van hierdie heilige priesterdom, maar "eersgeborenes" kan hulle plek verloor sou hulle dit nie oppas nie!
--------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Bv., die wat in "sonde tot die dood" stap, staan in so 'n gevaar dat al is hulle kinders vd Here en staan in ry om te erf, hulle dalk nie gaan erf nie (as hulle nie die voorwaardes nakom nie). Net soos die mens wat onrein of besoedel word, afwassing nodig gehad het in die O.T., net so word die Christen somtyds onrein of besoedel, en het afwassing nodig onder die N.T., maar wat is die wette rondom afwassing in die N.T.?, en wat moet iemand doen om hierdie afwassing te verkry? Sonde tot die dood kan bv. nie tot die lewe lei nie maar is sonde wat "tot die dood" lei;  dus, hoe kan so 'n persoon weer rein word? En watter sondes in die N.T. is vergeeflik en watter nie?  Hierdie is dinge wat kinders vd Here behoort te weet. Hulle moet weet wat Sy testament regtig behels. Hulle moet weet wat dit is wat hulle onrein maak en weet hoe hulle weer rein kan word, want sou hulle nie hierdie kennis he nie of nie ag gee daarop nie dan staan hulle die gevaar om hulle vrug te verloor of om eendag uit hulle "plek" verwyder te word.
--------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Is daar enige ONREIN dinge in die Nuwe Testament wat kan veroorsaak dat ons ons daardeur VERONTREINIG?  En wat is die Here se wette? Hoe word Sy wil in Sy testament gegee? Sommige Christene sien die "nuwe testament" as 'n testament sonder wette. Jesus het egter  geleer dat as ons die lewe wil ingaan, ons die gebooie moet onderhou (Matt. 19:17); en dat deur Sy gebooie te bewaar, ons juis bewys dat ons Hom liefhet! (Joh. 14:15).   Ja, geen Christen is geoorloof om te doen wat hy wil/glo net omdat hy uit genade gered is nie!  Wat ons moet verstaan is dat alhoewel die wette nooit to niet gaan nie, dit wel so is dat die wet van Moses vervul is deur Jesus Christus.  (Mat 5:17,18 -  "Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sĂȘ vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie"). Bv., daar is steeds 'n offerstelsel nodig, maar oor "tyd" was dit verskillend vervul in verskillende tydperke.  Heelwat dinge wat beveel was onder die wet van Moses geld ook steeds woordeliks vir Christene (bv. dat ons nie bloed mag eet nie), maar sommige wette word anders vervul. In die N.T. is die klem ook meer gerig op die innerlike mens...
Die wette is dus nie tot niet nie, maar hoe word dit vervul?  Ons het steeds reiniging nodig, maar wat moet ons doen om dit te verkry en hoe gebeur dit?
--------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE: 


Die Here se wet leer vir ons wat is rein en wat is onrein, nie net onder die O.T. nie maar ook onder die N.T.   M.a.w., ons moet weet wat word in die N.Testamentiese wet gesien as rein en onrein.  En ons moet weet hoe ons, wanneer onrein of besoedel is, weer rein kan word. Christene ontbreek somtyds hierdie kennis en gee nie altyd ag op Jesus se leringe nie - hulle weet bv. nie eens altyd watter dinge dit is waardeur hulle onrein word of wat dit is waardeur hulle hul vrug kan verloor nie. Ons moet seker maak dat ons hierdie kennis verkry en weet wat die Here se wil is onder die N.T.

In die huis van die Here is sekere Christene soos voorwerpe van goud en silwer (m.a.w., is tot eer), maar ander is soos hout en erdewerk (is tot oneer / hulle is besoedel). 

2Kor. 7:1 - " Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring".

2Tim. 2:21 - "As iemand hom dus hiervan deeglik REINIG, sal hy ‘n voorwerp tot eer wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk".
--------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Vir die eerste dagstukkie oor hierdie onderwerp, gaan na: https://warechristenedagstukkies.blogspot.com/2016/10/onderskei-tussen-wat-is-rein-en-wat-is.html

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.