Dinsdag 16 Maart 2021

Goeies én slegtes in die koninkryk

Nie almal wat hulleself Christene noem of aan die Christelike kerk behoort, is "goeie saad" nie. Alhoewel "kinders vd koninkryk" gesien word as die wat deel is van God se koninkryk en Hom dien, is die waarheid dat nie almal in hierdie koninkryk opreg is nie. Net soos in ander koninkryke op aarde is daar ook struikelblokke in die "konkryk van God". Hierdie "struikelblokke" gee voor dat hulle die Here dien maar dien eintlik die ongeregtigheid. Hulle is soos spioene wat voorgee dat hulle deel is vd volk en die land se belange op die hart dra, maar hulle is eintlik daar met 'n bose plan.  Diesulkes kan bv. 'n struikelblok wees vir ander Christene omdat hulle hul probeer verlei, of wereldse leringe en afgodspraktyke in die kerk invoer... - Openb. 2:14; 1 Kor. 8:9; Rom. 14:13-15; Matt. 18:6,7
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
In Matt. 13:37-42 het Jesus geleer dat daar mense is onder die kinders vd koninkryk wat saam met die volk groei, maar nie werklik deur die Here gesaai is onder die volk nie (maar deur die bose daar gesaai - Matt. 13:25). Ons moet onthou dat gelowiges in sommige skrifte voorgestel word soos saad wat in die wereld gesaai word om te groei en vrug te dra, maar alhoewel daar faktore is wat vrug beinvloed, bepaal die soort saad wat se soort boom opkom.  In ander woorde, nie almal wat in die Christelike kerk gesaai is, is deur die Here gesaai nie!, en groei in bome wat ewige vrug dra nie. Sommige is deur die vyand daar onder die kinders vd Here gesaai. Hierdie mense word in Matt. 13 vgl. met "onkruid" - hulle lyk ma.w. soos koring  maar is nie koring nie!  - hulle lyk soos kinders vd koninkryk maar is eintlik kinders vd bose - hulle gee voor hulle is Christene, maar is nie!  Alhoewel nie altyd onmiddellik sigbaar nie, sal diesulkes uiteindelik aan hulle vrug geken word...  In die koninkryk van God, of anders gestel, onder die mense wat aan hierdie koninkryk behoort en gesien word as kinders vd koninkryk, is daar dus mense wat die ongeregtigheid doen (Matt. 13:41) en nie eendag sal ingaan in die ewige koninkryk nie (Matt. 13:30, 40-42). Jesus  het o.a. ook die koninkryk vd hemele vgl. met 'n NET WAT IN DIE SEE GEGOOI WORD, en let op die woorde daar:  "en van elke soort bymekaarbring" (Matt. 13:47). Hy het ook verder verduidelik hoe, met die voleinding vd wêreld die engele sal uitgaan en die slegtes onder die regverdiges uit afskei (en die slegtes in die vuuroond gooi)(Matt. 48-50).  Die waarheid is dus dat daar in die Christelike kerk "visse" is wat voorkom asof hulle goeie saad is en deur die Here gesaai is, maar wat eintlik deur die bose daar gesaai is (om struikelblokke te wees in die kerk).  

M.a.w., nie almal in die Christelike kerk is gewederbaar nie (en nie almal is heilig en goed en gelowig nie).  En nie almal wat deurgaan vir Christene het die Heilige Gees nie! 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:

In die EVANGELIE wat Christus gebring het oor die Koninkryk het Hy dus 'n duidelike onderskeid gemaak tussen die goeies en slegtes (l.w., "in die koninkryk"!).  Alhoewel Christus vele beloftes het vir Sy SKAPE en vir die wat as KORING gesien word, moet ons nie dink dat hierdie beloftes ook bedoel is vir die akteurs wat hulleself voordoen as skape maar eintlik wolwe is, of die onkruid wat tussen die koring groei nie;  of bedoel is vir die wat op die ou end bokke uitdraai of onbruikbare kaf word nie... (1 Tim. 5:12; Matt. 25:32). Dus, nie almal wat behoort aan 'n Christelike kerk sal eendag in die koninkryk ingaan en die ewige lewe beerwe nie. Nie almal wat bely hulle is Christene (geroepenes) sal inderdaad eendag erf of opstaan tot lewe nie, want die realiteit is dat sommige sal opstaan tot veroordeling  (Joh. 5:28,29). Nie net die valses nie, maar ook die wat nie vashou nie, bv. die wat nie in Jesus Christus BLY nie, staan die gevaar dat hulle onvrugbaar sal wees wanneer Hy terugkom - en wat sal dan tog gebeur wanneer Jesus kom om hulle vrug te oes? (Jak. 5; Rom. 2:1-10). 

Die Christelike kerk is nie gevrywaar van valse gelowiges nie.  Hierdie valse broeders (2 Kor. 11:26; Gal. 2:4) word o.a. voorgestel as "wolwe" waarvan vasle profete deel uitmaak van hierdie groep (Matt. 7:15) - hulle gee voor dat hulle 'n woord van die Here bring maar praat eintlik uit hulleself; of bring 'n woord vd bose. Daar is 'n manier om valse profete uit te ken en dit is gewoonlik aan hulle vrug. Bv., 1 Joh. 4 leer vir ons dat valse profete nie gehoorsaam is aan die waarheid nie.  Hulle kom in opstand teen die waarheid asook in opstand teen die wat die waarheid verkondig, en hulle praat en dink dus anders as die wat die Gees vd waarheid het (1Jn 4:5 - "Hulle is uit die wêreld; daarom praat hulle uit die wêreld, en die wêreld luister na hulle"). Valse profete het nie die Heilige Gees nie en sal dus verkeerd praat en ook in opstand kom teen die wat reg praat. Hierdie is een vd maklikste maniere om te bepaal of iemand waar of vals is... (aan hulle vrug sal hulle geken word). Bv., as iemand bely dat hy in Jesus Christus glo maar hy glo nie in Sy woorde nie, dan is daar beslis 'n vraagteken op daardie persoon se geloof. 

'n Ander groep wat miskien ook onder "wolwe" gesorteer kan word is valse leraars (wat verderflike ketterye heimlik invoer onder die kinders vd Here); alhoewel valse leraars nie altyd verwys na wolwe nie. Valse leraars kan ook verwys na gelowiges wat eens wel die waarheid gevolg het maar afvallig geword het en nou die Here verloën (2 Pet. 2:1)(kan dus vgl. word met mense wat ongehoorsaam is aan die waarheid (Rom. 2:8,9), of vgl. word met die tema hart verhard). Ons sien somtyds hierdie in die kerk gebeur, waar iemand die Here begin volg en begin vrug dra, maar sy vrug verloor omdat hy ophou om die Here te dien en glo  - so iemand verloën die geloof (kyk vb. 3de groep in die gelykenis vd saaier - Matt. 13:22 / is baiemaal die wat mislei is). En omdat hulle self nou die leuen glo, verkondig hulle leuens (hulle bedrieg hulleself). "Slegtes" in die koninkryk verwys dus nie net na ongelowiges wat deur die bose gesaai is onder die kinders vd Here nie, maar kan ook verwys na gelowiges wat "sleg" is; m.a.w., mense wat wel deur die Here gesaai is maar nie aan Hom vashou en in Hom bly nie - nie omdat Hy laat los nie, maar omdat hulle laat los!  Bv., "bokke" dra nie die vrug van 'n skaap nie, en verwys na die wat in opstand kom  teen die Here se gesag - hulle verwys na hardkoppige, ongehoorsame en/of onbarmhartige gelowiges (Matt. 25). Hierdie groep gelowiges sal soos die valses ook nie eendag die koninkryk beerwe nie (Matt. 25). "Kaf", soos bo gesien, is ook 'n term wat gebruik word vir sekere gelowiges maar verwys na 'n spesifieke groep gelowiges, nl. die wat nie vrug dra of die nodige vrug dra nie (hulle is dus waarlik Christene, maar dra nie die nodige vrug nie, of het onvrugbaar geword)(gelykenis vd saaier).  Anders as koring (wat vrug dra) verwys kaf na die nutteloses en selfsugtes. Net soos kaf die deel is van koring wat onbruikbaar is en weggegooi word, net so sal gelowiges wat onvrugbaar is gesien word as onbruikbaar en "weggegooi en in die vuur gegooi" word wanneer Jesus terugkom (Matt. 3:12,17). 

Wolwe" is roofsugtig van aard - hulle doel is om die skape uitmekaar te jaag en te verskeur (Matt. 7:15; Hand. 20:29; Joh. 10:12) deur bv. verkeerde dinge te praat om kinders vd Here te mislei en weg te trek agter hulle aan (Hand. 20:30; Matt. 24:11).  Hierdie mense word deur die bose onder die kinders vd Here gesaai - hulle gaan saam met ons kerk toe en lyk of hulle deel is vd broeders en susters (Hand. 20:30; Matt. 7:15) en kom somtyds selfs kragtig voor! (Matt. 24:24), maar die waarheid is dat hulle 'n bose doel het. Daar mag dalk in jou kerk sit "wolwe in skaapsklere" - mense wat skape "vang" en "uitmekaarjaag". Dit is waar dat nie almal in die Christelike kerk "goeies" is nie, en nie almal in "die koninkryk" sal eendag erf nie;  en wanneer Jesus terugkom sal die goeies van die slegtes geskei word.  Matt. 13 leer vir ons dat die "toestand" van beide goeies en slegtes in die huidige (geestelike) koninkryk nie sal verander voor die voleinding vd wêreld nie (1 Kor. 4:5; Hebr. 10:30). Dit is m.a.w. eers wanneer Jesus terugkom wat die goeies vd slegtes geskei sal word. Wat elke KIND VD KONINKRYK moet doen oor hierdie toestand is nie om die "slegtes" self te probeer skei en verwyder uit die koninkryk nie (alhoewel jy ander kan waarsku teen hulle - Matt. 16:6), maar om elke gees te beoordeel en versigtig te wees met wie jy uithang en saam wie jy stem. Daar is 'n rede waarom Jesus nie met almal uitgehang het nie. Ware Christene behoort ook hulle situasie te kan beoordeel en moet versigtig wees met wie hulle omgaan en saam met wie hulle eet. Skape vd Here moet doen wat Jesus gesê het, nl. "versigtig wees soos die slange, en opreg soos duiwe" (Mat 10:16) - pasop vir (sekere) mense wat daarop uit is om jou te verwoes! (Matt. 10:17)(maar moet jou nie kwel oor wat jy moet spreek nie, want die Gees sal vir jou die woorde gee... Matt. 10:19,20). Moet hulle nie vrees nie, want daar is niks bedek of verborge wat nie ontdek en bekend sal word nie (Matt. 10:26,28). 

Elke gelowige moet ook selfondersoek doen, want ons het gesien dat daar ook "slegte" gelowiges is in die koningkryk van God wat nie vashou nie. Elkeen moet bepaal watter stof hulle beskryf - is jy koring?, is jy kaf?, is jy 'n bok?, is jy 'n afvallige?, is jy "siek"?;  want wanneer Jesus terugkom sal sommige vd wat nou GEROEP word (DIE GENOOIDES-Openb. 19:9) in die huidige "geestelike" koninkryk, nie in die "fisiese" koninkryk van God ingaan nie (a.g.v. ONGEHOORSAAMHEID en ONGELOOF).   As jy die Here bely voor mense, sal Hy jou ook bely voor Sy Vader (Matt. 10:32) - staan dus op vir die waarheid en vir Jesus en Sy woorde!;  maar as jy Hom verloën voor mense, dan sal Hy jou ook verloën... (Matt. 10:33)
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.