Woensdag 04 Julie 2018

Die Christen, die "politikus"

Elke Christen kan gesien word soos 'n spreekbuis vir "die Here se party", vir Sy koninkryk - 'n koninkryk wat ons graag wil sien aan bewind kom en wat wel eendag letterlik aan bewind sal wees op aarde! Daar is reeds van die begin van dae hieroor geprofeteer van hoe die Here sal kom met Sy 10 000-talle... (Jud 1:14). Christus het ook Self na hierdie tyd verwys as die tyd wanneer Hy op Sy heerlike troon gaan sit...(Mat 25:31). Hy sal KONING wees oor die HELE AARDE en regeer (Ps. 47:2 (3). Hierdie feit word ook bevestig in vele ander skrifte en profesieë, bv. Jer. 23:5; Openb. 19:5; Ps. 2:8,9, ens. Die volk van God het nog altyd uitgesien na hierdie koninkryk, maar het nie altyd presies verstaan waaroor die koninkryk alles gaan nie;  inteendeel, die EVANGELIE daarvan was in die O.T. verborge. Hulle het natuurlik 'n "fisiese" aardse koninkryk verwag (wat wel steeds sal plaasvind wanneer Christus terugkom)(Hand. 1:6,7), maar hulle het nie goed verstaan dat die koninkryk ook "geestelik" van aard is nie;  en het nie besef dat daar 'n periode sou wees tussen Christus se eerste koms en Sy wederkoms nie (Luk 17:20), nl. die huidige (Christelike) "kerk-periode". Die profete het ook van hierdie koninkryk profeteer (en terloops van beide Christus se eerste koms asook Sy wederkoms), maar die huidige "geestelike" koninkryk, altans "die evangelie vd koninkryk", was ook vir hulle verborge (Ef. 3:9; Kol. 1:26). Oor hierdie "huidige geestelike" koninkryk het Christus baie te sê gehad (in die "evangelie van die koninkryk"), en het d.m.v. gelykenisse verborge dinge uitgespreek wat bedek was in die O.T. (Matt. 13:35). Christus het vir ons genoeg geleer oor Sy koninkryk, om te kan weet hoe ons deel word daarvan asook ons instaat stel om mense uit te nooi om deel te word van Sy koninkryk.

DIE KONINKRYK VAN GOD (die Here se "party") is wel op die oomblik meer figuurlik of geestelik van aard op aarde (en natuurlik letterlik hemels van aard), maar sal ook eendag 'n fisiese koninkryk wees op aarde. En Sy "fisiese" regering op aarde sal nie net vir 'n kort rukkie wees nie, maar sal begin wanneer Jesus terugkom (die "volgende eeu", vir 1000 jaar), en sal ook wees tot in ewigheid...
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Baie vra die vraag of Christene vir ewig in die hemel sal bly, of op aarde?  Dit is die algemene mening dat Christene huidiglik hemel toe gaan wanneer hulle doodgaan (alhoewel sommige hieroor verskil) en Christene se werklike tuiste (burgerskap) 'n hemelse is omdat hulle kinders van God is...  Die toekomstige erfenis wat egter aan die volk van God belowe word, word nie beskryf as "in die hemel nie", maar op "die aarde" (Ps. 37:9,11,22,29,34; Rom. 4:13...). Kyk bv. Matt. 5:5 - "Salig is die sagmoediges, want hulle sal  die aarde (Griekse woord, "ghay" - aarde, grond, land, wereld...) beërwe". Die belofte van die heiliges wat mag oor die nasies sal kry en die koninkryk saam met Christus in besit neem tot in ewigheid wanneer Hy terugkom, is deur verskeie profete geprofeteer - kyk o.a. Dan. 7 wat 'n goeie uitbeelding is van gebeure wat oploop tot in die laaste dae wanneer Christus terugkom en Sy koninkryk oprig - genoem "die einde van die wêreld". Gaan kyk ook waar die wederkoms beskrywe word in Openb. 19, waaruit ook duidelik afgelei kan word dat die nasies vir wie Hy met 'n ysterstaf sal regeer, "op aarde" is  (en Hy kom van die hemel na die aarde toe...).  En let wel hoe Paulus beskryf dat die wat die "wegraping" deelagtig gaan wees, nie die ontslapenes sal voor wees nie, want wanneer die Here Jesus Christus terugkom sal Hy die wat in Hom ontslaap het, SAAM MET HOM BRING (1 Thess. 4:14-16) en hulle sal eerste opstaan (opstanding), en daarna sal die Christene wat nog nie ontslaap het nie in 'n oogwink verander word ("wegraping"/deel van opstanding) - en hulle sal opgeneem word in die wolke en Hom daar ontmoet en vir altyd by Hom wees...  "Waar" ons vir altyd by Hom gaan wees en "waar" Hy gaan wees wanneer Hy terugkom, is egter nie in die hemel nie, maar op die aarde. Hy is op die oomblik in die hemel, aan die regterhand van God, maar wanneer Hy terugkom kom Hy na die aarde toe...(Hand. 1:11). Hierdie is die tyd wanneer Hy Sy ewige koninkryk sal oprig OP AARDE en die heiliges sal vir altyd by Hom wees en saam met Hom regeer (OP AARDE)(Dan. 2:44...). Ook aan die einde vd volgende eeu, in Openb. 21, wanneer 'n nuwe hemel en aarde beskryf word, en die nuwe stad Jerusalem (dus aan die einde vd volgende eeu) van God uit die hemel neerdaal (l.w., "op die AARDE"!), sal die heiliges in hierdie stad bly... - dus nie "in die hemel" vir ewig bly nie, maar op die aarde...
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:

Christene word huidiglik uitgestuur om te "oes" (en mense uit te nooi na die bruilof vd Lam, wat sal gebeur wanneer Jesus terugkom - Matt. 22)(Joh. 4:35-37; Matt. 9:37,38). Alhoewel tye van "oes" gewoonlik in die Skrif gepaard gaan met "oordeel", verwys hierdie soort oes (waarin Christene soos diensknegte en arbeiders uitgestuur word) nie na oordeel nie, alhoewel mense 'n oordeel oor hulleself bring sou hulle die evangelie wegwys (Matt. 10:13,14; Mark. 6:11; Luk. 10:6; Hand. 13:51). Christene is soos spreekbuise vir die Here se koninkryk (vir Sy "party").

Christene verkondig die Here se party en nooi mense uit om deel te word van hierdie koninkryk (wat ons glo binnekort ook letterlik aan regering sal kom), maar wat is dit wat ons vir mense van hierdie regering vertel? Christene is alreeds deel van die "koninkryk van God" (geestelik) en staan vir hierdie "party", maar hoeveel verstaan ons regtig van hoedanig die Here se regering is en gaan wees (wanneer Hy terugkom), en wie in daardie regering toegelaat gaan word?  Ons moet seker maak dat dit wat ons oor hierdie party weet en verkondig die ware evangelie is (nie 'n "ander" of verdraaide nie). As ons nie weet wat presies die EVANGELIE VD KONINKRYK (Matt. 4:23; 9:35; 24:14; Mark. 1:14; Luk. 4:43; Luk. 8:1; 16:16; Hand. 8:12) behels nie, hoe sal ons mense uitnooi om deel te word van hierdie (letterlik komende) party? Om te staan vir die Here se party is 'n verantwoordelikheid wat nie ligtelik opgeneem moet word nie. Christene is soos 'n priesterdom vir die Here, en as priesters is ons veronderstel om o.a. vir Hom boodskappers te wees, Sy kennis bewaar, ens. Ons moet ag gee op wat Jesus geleer het oor Sy koninkryk. "Die evangelie vd koninkryk" is NIE " hoe elkeen dit beskryf " nie, maar Jesus het vir ons die evangelie of waarheid daaroor gebring - Hy besluit "wat is die evangelie". As ons bely dat ons in Hom glo, dan moet ons natuurlik ook in Sy leringe (oor die evangelie vd koninkryk) glo!
_________________________________________________________________________________
http://warechristene.blogspot.co.nz/2012/12/jesus-christus-se-koninkryk-die.html
http://eindtydonderwerpe.blogspot.co.nz/2017/07/hierdie-eeu-volgende-eeu.html
http://warechristene.blogspot.com/2013/01/die-evangelie.html
https://warechristene.blogspot.com/2013/01/evangelie-verkondiging.html
http://warechristene.blogspot.com/2015/03/die-koninklike-geslag-uit-die-stam-van.html
https://warechristene.blogspot.com/2015/04/eersgeborenes-en-eerstelingepriesters.html
http://eindtydonderwerpe.blogspot.co.nz/2017/06/wanneer-is-die-einde-van-die-wereld-en.html
http://eindtydonderwerpe.blogspot.com/2017/05/wie-is-die-bruid-van-christus.html
(http://warechristenedagstukkies.blogspot.com/2017/05/die-koninkryk-vd-hemele-is-soos-n_23.html);
(http://warechristenedagstukkies.blogspot.com/2017/06/die-koninkryk-vd-hemele-is-soos-n.html);
(http://warechristenedagstukkies.blogspot.com/2017/07/die-koninkryk-vd-hemele-is-soos-n_1.html).

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.