Dinsdag 15 Junie 2021

Het die koninkryk al gekom, of moet dit nog kom?

In die "Onse Vader" waarin Jesus vir Sy dissipels geleer het hoe om te bid, is o.a. die woorde "laat U koninkryk kom"... (Luk. 11:2).  Dus, het die koninkryk al gekom? Gaan dit nog kom? As Christus dan reeds gekom het, wat terloops volgens O.T. profesiee gepaard sou gaan met die koms vd koninkryk, hoe verstaan ons dan dat Christene huidiglik nog bid "laat U koninkryk kom" en wag vir die koninkryk om te kom?, en hoekom is die Messias dan nie huidiglik besig om oor die hele aarde te regeer nie?  Ons weet dat die volk van God vir eeue gewag het op hierdie beloofde koninkryk (Mar 15:43; Luk. 23:51) wat gepaard sou gaan met die koms vd Messias en die verlossing, (asook Israel se vertroosting)(Luk. 2:25,38), maar siende die Messias alreeds gekom het moet ons nou die vraag vra of die beloofde koninkryk dan al gekom het, en of dit nog moet kom? 

In die tyd wat Jesus op aarde was was gepreek dat hierdie "koninkryk vd hemele/van God" naby gekom het:
- Mat_3:2  gepreek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.
- Mat_4:17  Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.
- Mat_10:7  En gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom.
- Mar_1:15  en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie.
- Luk_10:9  En maak die siekes gesond wat daarin is, en sê vir hulle: Die koninkryk van God het naby julle gekom.
- Luk_10:11  Selfs die stof wat uit julle stad aan ons kleef, vee ons vir julle af; maar tog moet julle dit weet dat die koninkryk van God naby julle gekom het.
Dit moes wonderlik wees om te leef in die tyd waarin hierdie woorde gehoor is siende die volk vir so lank uitgesien het na die koms vd koninkryk. Die feit dat daar gepreek is dat die koninkryk nou naby gekom het het dus veroorsaak dat baie verwag het dat die koninkryk ook in daardie tyd opgerig sou word (Luk. 17:20; 19:11; Hand. 1:6).  Terwyl hulle 'n sigbare koninkryk verwag het waarin die Messias oor die aarde sal regeer vanuit Jerusalem (Ps. 2:6-9; Jes. 24:23), het Jesus ook baie ander dinge oor hierdie koninkryk geleer, o.a. dat dit "nie met sigbare tekens" kom nie! (Luk. 17:20). Dit mag miskien teenstrydig klink, maar heelwat dinge wat oor die komende koninkryk geprofeteer was was sodanig tweeledig van aard en was nie altyd mooi verstaan deur die geleerdes van daardie tyd nie, bv. die koms vd Messias was deur die profete op twee verskillende maniere beskryf nl. (1) deur geboorte (Jes. 7:14; Mig. 5:1,2 / Matt. 1:23), en (2) vd hemel af aarde toe (Jer. 23:5,6; 63:1-5/ Openb. 19:11,21; Jud. 1:14). 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Baie tekens wat in die O.T. gegee is rakende die koms van hierdie koninkryk, was gekoppel aan die  koms vd Messias - en was o.a. genoem "die koninkryk van Dawid" omdat die Messias / Verlosser gebore sou word uit hierdie geslag (van Dawid)(Mark. 11:10). Hy sou 'n koninkryk oprig wat in der ewigheid nooit sal vergaan nie.

Tipiese TEKENS van die koms vd koninkryk, en dus koms vd Messias, het die volgende ingesluit:
- (1) Die Here sou kom om oor die hele aarde te regeer (Ps. 47; Sag. 14; Dan. 2:44);
- (2) 'n maagd sou swanger word (Jes. 7:14);
- (3) Hy sou soos 'n mens gebore word, uit die stam van Dawid ("seun van Dawid")(2 Sam. 7:12; Jes. 9:5-7);
- (4) Hy sou in Betlehem gebore word (Mig 5:1,2); 
- (5) Hy is Here - die Here sou kom om te heers (Jes. 40; Ps. 47; 110:1);
- (6) Hy sou die Gees op Hom hê (Jes. 11);
- (7) Daar sou een voor Hom uitgaan wat die pad voorberei (Mal. 3:1; 4:6; Jes. 40:3-5);
- (8) Hy sou siekes gesondmaak (Jes. 61:1; Joh. 5:1-0);
- (9) Hy sou preek deur verhale (Ps. 78:2; Matt. 13:34,35);
Ook heelwat ander dinge was geprofeteer oor die Messias, o.a. spesifieke gebeurtenisse bv. 
- (10) die vlug na Egipte (Hos. 11:1; Matt. 2:15), en 
- (11) Sy bediening in Galilea (Jes. 9:1,2; Matt. 4:15,16), en 
- (12) dat Hy sondes sou vergewe, ook dat Hy ter wille van ons oortredinge deurboor sou word (Jes. 53:7; Jes. 52:13).  
En verdere details oor Sy dood het die volgende ingesluit:
- (13) dat Sy dissipels Hom sal verlaat in die oomblik van nood (Ps. 88:8; Mark. 14:50);
- (14) Hy sou gehaat word sonder 'n oorsaak (Ps. 35:19; Joh. 15:25);
- (15) Hy sou deur 'n vriend verloën word (Ps. 41:9);
- (16) Hy sou deur Sy eie mense (die Joodse volk) verwerp word (Jes. 53:3; Joh. 1:11);
- (17) Sy klere sou verdeel word en lot daaroor gewerp word (Ps. 22:19; Matt. 27:35);
- (18) Hy sou saam met kriminele veroordeel word (Jes. 53:12; Luk. 22:37); 
- (18) Sy liggaam sou deurboor word sonder dat enige van Sy bene gebreek word (Ps. 34:20; Sag. 12:10; Joh. 19:36,37); 
- (19) Hy sou begrawe word in 'n ryk man se graf (Jes. 53:9; Matt. 27:57-60).
Maar hierdie was nie al nie! - selfs oor Sy opstanding was geprofeteer, asook dat Hy aan die regterhand van Vader sal gaan sit...:
- (20) Hy sou op die 3de dag opstaan uit die dood (Hos. 6:2; Luk. 24:46);
- (21) Hy sou aan die regterhand vd Vader sit tot al die vyande 'n voetbank (Ps. 110:1);
- (22) Hy sou die Heilige Gees uitstort (Joe 2:28,29).
Hierdie sou gepaardgaan met die koms vd beloofde koninkryk, en:
- (11) Hy sal die God vd hele aarde genoem word (Jes. 54:5); en
- (12) sal as Koning regeer (meer presies, "vanuit Jerusalem")(en die land herstel en volk versamel)(Jer. 23:5,6; Amos 9:11; Jes. 40:10).

In Jesus Christus was al hierdie profesieë vervul maar duidelik kon al hierdie dinge nie op dieselfde tyd gebeur nie, want duidelik is sekere gebeurtenisse tweeledig van aard (bv. die koms vd Messias:- Jesus Christus het alreeds gekom maar ons wag ook nou op Sy wederkoms...).  Wat die KOMS VD KONINKRYK aanbetref moet dit ook nie gesien word as 'n eenmalige gebeurtenis met sigbare tekens nie, maar duidelik in twee dele net soos die koms van die Messias in twee dele geskied. Deels sou die koninkryk nie kom met sigbare tekens nie, maar deels sal dit ook baie sigbaar wees wanneer Jesus Christus terugkom. 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Die Skrif leer bv. ook dat wanneer Hy terugkom Hy koning sal wees oor die hele aarde en vanuit Jerusalem regeer (Ps. 47; Sag. 14; Dan. 2:44), maar duidelik het hierdie nog nie gebeur nie. Christus is nie huidiglik fisies teenwoordig op die aarde nie (alhoewel Hy tog teenwoordig is deur Sy Heilige Gees), en duidelik is Hy nie huidiglik besig om in fisiese lywe oor die aarde vanuit Jerusalem te regeer nie. Dus het nog nie alles oor die KOMS VD KONINKRYK in vervulling gegaan nie. Sommige gebruik hierdie inligting om te probeer bewys dat Hy nie die Messias is waarop daar gewag was nie, maar duidelik onderskei diesulkes nie die skrifte nie.  Daar was bv. ook geprofeteer dat die Messias sou sterwe en opstaan uit die dood;  en opvaar hemel toe om aan die regterhand van God te gaan sit! Hoe is dit dan dat hulle hierdie profesiee ignoreer? 

Die koninkryk het dus wel gekom, ja, maar die Messias se "sigbare" fisiese regering op aarde sal eers in aanvang neem wanneer Hy terugkom (in daardie opsig moet die koninkryk nog kom...); en dan sal Hy ook die land herstel en die volk versamel (alhoewel ons moet verstaan dat daar ook oor ander versamelings vd volk geprofeteer was, en moet dit nie verwar met hierdie spesifieke versameling nie).   
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE: 


Christene is uitgesproke daaroor dat hulle alreeds deel is van hierdie koninkryk van God (dat Sy koninkryk reeds gekom het), tog wag hulle op die wederkoms van Jesus Christus wanneer Hy Sy koninkryk gaan oprig - hierdie tema kan somtyds moeilik wees om te verstaan deur die wat nie die skrifte onderskei nie.  Ons moet dus onderskei tussen die verskillende tye vd Messias (en Sy koninkryk) se koms soos deur die profete geprofeteer is. Jesus se stelling dat die koninkryk "nie met sigbare tekens kom" nie (Luk 17:20) was nie verkeerd nie maar het verwys na die tyd van Sy eerste koms, en word somtyds beskryf as 'n "geestelike koninkryk" (en Hy is hier teenwoordig d.m.v. Sy Gees, m.a.w. deur die Heilige Gees binne-in gelowiges). Dus selfs die uitstorting van die Heilige Gees is tweeledig van aard, want alhoewel Hy nou al Sy Gees gee aan die wat in Hom glo sal daar ook 'n uitstorting wees wanneer Hy terugkom (Joe 2 :28-32). Bv., alhoewel die term "laaste dae" (waarin die Heilige Gees uitgestort sou word) verwys na die dae net voor Jesus Christus terugkom, kan die laaste 2000 jaar ook gesien word soos "die laaste dae" (Hebr. 1:1; 2 Tim. 3:1; Jak. 5:3; Hand. 2:17).  

Duidelik sal Sy wederkoms (en dus die koms vd koninkryk dan "aan die einde van dae") baie sigbaar wees! (soos ook deur die profete geprofeteer).  Jesus het selfs ook tekens gegee van hoe om te weet wanneer Sy wederkoms en komende koninkryk naby is (Luk. 21:31). Niemand weet egter die dag en uur wanneer Hy terugkom nie, maar ons sal weet wanneer die "tyd naby" is.  Ook sommige profete het vir ons 'n idee gegee van dinge wat gaan gebeur voor Hy terugkom, o.a. was daar geprofeteer hoe die diere, visse en voëls sal wegkwyn...  Baie ander tekens wat gegee is is ook alreeds besig om te gebeur. 

- (1) Die koninkryk van God het dus al gekom (geestelik van aard - "nie met sigbare tekens") omdat die Messias al gekom het, en Hy is hier teenwoordig d.m.v. Sy Gees (die Heilige Gees uitgestort en die Here is Koning vd gelowige se lewe); 
- (2) maar ons verwag ook die koninkryk met die wederkoms, waarin Jesus Christus Sy (fisiese - duidelik sigbare) koninkryk sal oprig, Hyself hier teenwoordig sal wees en oor die hele aarde regeer... (die Here dan Koning oor die hele aarde).

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.