Saterdag 11 September 2021

As jy nie in Jesus se woorde glo nie, dan glo jy nie regtig in Hom nie

As iemand bely hy GLO in Jesus, dan moet hy natuurlik ook glo in Sy woorde... 

Somtyds bely iemand dat hy in Jesus Christus glo, maar dan wanneer jy met daardie persoon begin gesels kom jy gou agter dat h(s)y eintlik iets anders glo as wat Jesus geleer het. Baie leringe deur Jesus gegee, bv. leringe oor die koninkryk ("evangelie vd koninkryk"), is vandag verdraaid of word verskillend gepreek van wat Jesus geleer het. Ons moet ag gee op Jesus se woorde, want ons kan nie bely ons glo in Jesus maar glo nie in Sy woorde nie. 
----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
DIE EVANGELIE gaan oor:
- die evangelie van Jesus Christus, en deels oor
- die evangelie vd koninkryk (Matt. 24:14; Mark. 1:14,15), en deels oor
- die evangelie van vrede.    Die woord "evangelie" is die Griekse woord "yoo-ang-ghel'-ee-on", wat beteken "goeie boodskap". Natuurlik is die "boodskap vd koninkryk" ook deel van die boodskap/evangelie van Jesus Christus, want Jesus se leringe het baie gegaan oor die KONINKRYK VAN DIE HEMELE/GOD - dit is immers een van die redes waarom Hy gestuur was! (Luk. 4:43; 8:1). Ons merk dat Jesus die "evangelie vd koninkryk" verkondig het oral waar Hy rondgegaan het... (Matt. 4:23; 9:35; Mark. 1:14; Luk. 4:34; Luk. 8:1; Luk. 16:16...)(Mar 1:14,15 - "En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en GLO DIE EVANGELIE"). Na watter evangelie het Jesus hier verwys wanneer Hy hulle vra om die evangelie te GLO?  Natuurlik die evangelie wat Hy verkondig het...- nl. die "evangelie vd koninkryk"(Mark. 1:15). Wanneer sommige nou kom en iets anders preek oor die Koninkryk as wat Jesus gepreek het oor die Koninkryk, hoe kan hulle dan bely dat hulle glo in die evangelie wat Jesus gebring het?  As ons bely dat ons glo in Jesus Christus, dan moet ons glo in dit wat Hy verkondig het oor die koninkryk, want die "evangelie van Jesus" gaan ook oor die evangelie wat Hy gebring het oor die koninkryk. 
 
L.w. dat leringe oor die koninkryk van God (m.a.w. die "evangelie vd koninkryk") het hulle oorsprong veral in leringe wat Jesus gebring het... (en sommige gedeeltelik uit O.T.iese profesieë)(Matt. 13:35 - "sodat vervul sou word die woord wat gespreek is deur die profeet: Ek sal my mond open deur gelykenisse; Ek sal uitspreek dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af").
----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
In Luk. 16:16 wil dit lyk of die "evangelie vd koninkryk" gestel word teenoor "die wet en die profete" (Luk 16:16 - "Die wet en die profete was tot op Johannes; van toe af word die evangelie van die koninkryk van God verkondig, en elkeen dring met geweld daarin"), asof "die evangelie vd koninkryk" die wet en profete vervang, maar daarmee word egter nie bedoel dat die wet tot niet is of dat die Here se reels nie belangrik is nie, maar waarna dit verwys is dat die Here se wet en voorskrifte nou vervul word in "die evangelie vd koninkryk" (en terloops, in die evangelie vd koninkryk het wette 'n sterker betekenis gekry!). Ons sien dus hoe belangrik hierdie EVANGELIE is wat Jesus oor die koninkryk gebring het, want as ons nie weet wat presies Hy hieroor geleer het nie, hoe sal ons weet wat die Here van ons verwag, Sy reëls, hoe ons gewas word?, hoedanig Sy koninkryk is?, hoe ons salig word, ens.? As ons bely dat ons in Jesus Christus glo, dan moet ons natuurlik die evangelie glo wat Hy gebring het (Mark. 1:15).

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:


Behalwe spesifieke dinge wat oor die koninkryk geprofeteer was, het Jesus self vir ons baie meer kom leer oor die koninkryk (in "die evangelie vd koninkryk"), bv. dat dit klein begin maar baie groot sal word en terloops groter as enige ander koninkryk op aarde!  Hierdie is goeie nuus vir elke gelowige, wat soos 'n spreekbuis in hierdie wêreld staan vir die Here se "party". 'n Koninkryk verteenwoordig natuurlik 'n plek en 'n volk met 'n koning... Somtyds word die term "koninkryk vd hemele" gebruik, en somtyds "koninkryk van God". Die Here se koninkryk is in die hemele, ja (en Hy is huidiglik daar teenwoordig), maar daar is ook geprofeteer dat Hy van die hemel af sal (terug)kom en 'n koninkryk op aarde kom oprig (Dan. 2:44)(Openb. 19:11-21; 16:12-21). Maar hierdie koninkryk verwys natuurlik nie net na 'n fisiese koninkryk wat eendag op aarde sal wees nie, maar is ook "geestelik" van aard in die sin van dat die Here alreeds hier teenwoordig is d.m.v. Sy Heilige Gees (in daardie opsig het die koninkryk al gekom - maw nie met sigbare tekens gekom nie...). Geestelike mense is die kinders van hierdie koninkryk, en sien uit na die fisiese koninkryk op aarde wanneer Jesus terugkom. 

Jesus het ook geleer dat die koninkryk gesien moet word soos 'n verborge skat in 'n saailand, of is soos 'n kosbare pêrel (Matt. 13:44-46) - uit die vgl. wat Hy hier maak kan ons leer dat dit die moeite werd is om alles te "verkoop" ter wille van die Koninkryk. (Mat 13:44-46 - "Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand, wat ‘n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand. Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit"). So belangrik is dit om (eers) die koninkryk te soek en Sy geregtigheid (en alle ander dinge, bv. wat jy nodig het, sal vir jou bygevoeg word...)(Matt. 6:33). Natuurlik is dit belangrik om te werk en te sorg ens., maar die koninkryk moet voor al hierdie dinge gesoek word!  Dit is bv. belangriker om die Here eers te raadpleeg voor jy iemand anders raadpleeg. Dit is belangrik om eerste te bid wanneer jy siek is, voor jy dokter toe gaan. Dit is belangriker om eerste te bid vir voorsiening, voor jy gaan werk daarvoor... Die Here moet ons bron wees -  kinders vd koninkryk moet besluite neem volgens Sy wil en Sy reëls, moet leer wat Hy geleer het, ens..  Daarom moet ons ag gee op Jesus se leringe, dit wat Hy geleer het oor die koninkryk van God, en verstaan dat hierdie leringe belangriker is as wereldse wysheid of ons eie slotsomme, en belangriker as wat enige iemand anders leer of getuig. Selfs as jy dink die Here praat met jou (bv. deur "woord", 'n engel, droom, visioen ens.), moet daardie woorde klop met wat Jesus geleer het!  As dit nie klop nie, kom dit nie van die Here af nie. Wat Jesus geleer het oor 'n onderwerp is m.a.w. belangriker as wat enige iemand anders daaroor te sê het of daaroor leer.  Ons moet eerste by die Here leer voor ons na ander leermeesters luister. 

Leringe oor die koninkryk (die evangelie vd koninkryk) verander ons uitkyk op die lewe en die manier hoe ons sien en dink. Ons moet seker maak dat ons ons bekeer het tot die manier hoe die Here sien en dink...(Mar 1:15 - "en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie").
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.