Is daar 'n vrug wat die mens kan eet wat vir hom die ewige lewe kan gee? As daar is klink dit beslis soos iets uit 'n storie..., maar in die tuin van Eden was daar 'n boom wat hierdie soort vrug gedra het!, genoem "DIE BOOM VAN DIE LEWE". Die "tuin van Eden" verwys na 'n tuin wat op aarde was, aan die oostekant van Eden... . Die boek van Genesis in die Bybel beskryf vir ons waar Eden (en die tuin van Eden eens) was, en in die middel van hierdie tuin was die BOOM VAN DIE LEWE (Gen. 2:9). Gen 3:22 leer vir ons dat die vrugte van hierdie boom ewige lewe kan gee! Ja, jy het reg gehoor..., daar bestaan beslis so 'n boom.
Die Skrif leer vir ons van 'n ander plek waar hierdie boom ook te vinde is, nl. in die Nuwe Jerusalem (wat vir die uitverkorenes voorberei word en op die aarde sal neerdaal aan die einde van die "volgende eeu"-bedeling/Openb. 21:10)(Openb. 22:2,14). Die boek van Openbaring beskryf verder dat hierdie boom (van die lewe) 'n boom is wat elke maand van die jaar vrugte dra, en kan genesing gee (Openb. 22:2).
----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:
Het jy geweet dat die regverdige se vrug soos 'n boom van die lewe is? (Spr. 11:30). Volgens Joh. 4:36 word die loon van die wat vir die Here arbeid, ook beskryf as vrugte wat lewe gee ("vrug tot ewige lewe"). En kyk ook Rom. 6:22 - almal wat vrygemaak is van sonde en diensbaar geword het aan God, dra vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe. Baie mense het al begeer om iets te vind wat vir hulle die ewige lewe kan gee, en vele in die verlede het probeer om die tuin van Eden met die boom van die lewe te vind, maar jy hoef nie ver te soek nie... Jesus Christus kan vir jou hierdie lewe gee!
Kinders van die Koninkryk het hierdie vrug nodig om eendag die ewige lewe te oes, en word in vele gevalle voorgestel soos plante of bome wat groei en vrug dra... Jesus het baie oor hierdie onderwerp gepraat en die belangrikheid van hierdie vrug (kyk o.a. die gelykenis van die saaier, Joh. 15, ens.) - hierdie vrug kan vir jou die ewige lewe gee (asof jy eet van die boom van die lewe). Net soos die boom van die lewe vrug het wat lewe gee, so sal die vrug van die regverdige eendag vir hom die ewige lewe OES.
Natuurlike mense dra "vrugte vir die dood" (Rom. 7:5).
Geestelike mense (weergeborenes) dra "vrug tot lewe"! (Rom. 6:22). GEESTELIKE MENSE IS SOOS BOME "VAN LEWE" - WAT DIE "VRUG TOT LEWE" DRA.
Saad bepaal eerstens wat se soort boom opkom en wat se soort vrug dit sal dra. Die natuurlike mens is uit Adam se saad gebore, en daardie tipe boom kan nie vrug tot lewe dra nie. Om vrug tot lewe te kan dra, moet jy gebore wees "uit God se saad" - weergeborenes word gesien soos mense wat uit God gebore is (hulle is soos mense wat "oor gebore" is). As iemand nie weergebore word nie kan hy nie hierdie vrugte dra nie!, en VRUG (tot lewe) is belangrik om die (ewige) lewe te kan oes. Die wat "vrug tot lewe" dra verwys dus na weergeborenes ("geestelike mense"); dus, sonder vergifnis (wanneer iemand diensbaar word aan die Here) en die ontvang vd Heilige Gees (wat beide weergeboorte beskryf) is niemand instaat om hierdie vrug te begin dra nie... (Rom. 6:22).
Hoe dra iemand "vrug tot lewe"? Natuurlik is lig, kos en water nodig vir 'n boom om te kan groei en vrug dra. Geestelike mense (wat lewe deur die asem of lig vd Heilige Gees) kan ook net aan die lewe bly en geestelike groei as hulle geestelike kos en water kry (maar natuurlik nie enige soort nie!). Om vrug (tot lewe) te kan dra, moet die geestelike mens geestelik groei; daarom is geloof belangrik en "om te bly in Jesus Christus"... (vir 'n dagstukkie oor geestelike lig, kos en water, gaan na: https://warechristenedagstukkies.blogspot.com/2024/10/waarna-verwys-lig-kos-en-water-geestelik.html)(Joh. 15:4,5 - "Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie"). Geestelike mense het die Heilige Gees ontvang deur wie hulle vernuwe word (asof hulle uit God gebore word) en hulle het heeltyd hierdie lig van die Gees..., en is dus instaat om geestelike voedsel verwerk (1 Joh. 5:1,4,18). Jesus en die woord is soos brood vir hulle, en hulle kry hulle water by Jesus Christus.
----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.