Dinsdag 06 Julie 2021

Is jy swak, of is jy sterk?

Die woorde "swak" of "sterk" word somtyds in die Skrif gebruik in konteks met wie dit is wat maklik vir verleiding val, en wie nie... NIE ALLE CHRISTENE staan STERK NIE, alhoewel daar van Christene verwag word om sterk te wees! (2 Tim. 2:1).  Wat beteken dit om sterk te wees in die Here?  En wie word tipies as sterk gesien? Volgens 1 Joh. 2:14 is 'n STERK Christen die een wat die woord van God in hom het en die bose oorwin. Bv., net soos voedsel iemand sterk maak (Hand. 9:19), net so maak geestelike voedsel (die woord / die waarheid) iemand sterk.  In 2 Tim. 2:1 word die "sterke" daar ook beskryf as 
- die een wat die woord in hom het, en 
- meer presies in daardie konteks verwys dit ook na die een wat verdrukking kan verdra ter wille vd waarheid. Hy staan dus sterk in die waarheid en oorwin so die bose... STERK CHRISTENE WORD NIE MAKLIK VERLEI NIE.

Ons kan dit vgl. met die woorde "kragtig in die Here". Om "kragtig te wees in die Here" verwys bv. nie noodwendig na die wat kragdade doen of die met kragtige woordgebruik of status nie, maar verwys eerder na die wat die waarheid soek en vashou aan die geloof - m.a.w., verwys na die wat vasstaan in die Here en in Sy waarheid ten spyte van verleiding en verdrukking (m.a.w., hulle kan verdrukking ly terwille vd waarheid).  Die manier hoe dit in Ef. 6 beskryf word van "hoe" ons kragtig word in die Here, is deur om "die wapenrusting" aan te trek - en die rede wat daar gegee word "hoekom" ons moet kragtig word, is sodat ons kan "staande bly teen die liste vd duiwel" (want swak Christene word maklik verlei). Dus, as ons STERK is gaan ons nie maklik vir versoeking val nie. "Sterkes" verwys dus na mense wat hierdie "wapenrusting" (waarheid, geregtigheid, bereidheid om die evangelie te verkondig, geloof, verlossing, woord van God) aanhet;  dus ook die wat in die gewoonte is om te waak en bid. 
----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Swak Christene word o.a. beskryf as die met 'n swak gewete. Volgens 1 Kor. 8 word die man daar (wat beskryf word as "swak") beskryf as die een wat maklik verlei word om vleis te eet wat aan afgode geoffer is (1 Kor. 8:7,10,12). In hierdie konteks verwys "om swak te wees" dus na die wat maklik verlei word, m.a.w. die wat sukkel om sterk te staan teen verleiding - vgl. dit met bg., dan is dit duidelik dat die swakke die een is met 'n tekort aan geestelike voedsel en nie verdrukking kan verdra terwille vd waarheid nie (daarom bv., in hierdie geval, het die persoon toegegee aan verleiding, bv. eet afgodsoffers).  "Swakheid" kan ook beskryf word deur die woorde "die vlees is swak" - 'n goeie vb. is Mar 14:38 waar Jesus van die dissipels verwag het om te waak en bid SODAT hulle (l.w. die woorde...) NIE IN DIE VERSOEKING KOM NIE... - en dan maak Hy die volgende stelling daar: "die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak". Die wat nalaat om te waak en bid plaas hulleself in hierdie plek waar hulle "swak" raak, en sukkel dan om staande te bly teen versoeking.
----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Daar word vd Christen verwag om STERK te wees, sterk te staan en vas te hou aan die geloof en waarheid, en te heers oor versoeking.

Hierdie "sterkheid" word egter baimaal deur die wat vleeslik dink, gesien as swak (omdat sterkes anders praat en dink as die res vd wêreld).  In 'n ander konteks kan "om swak te wees" dus bv 'n goeie ding wees!, meer presies in die sin van waar dit gaan oor die persepsie vd wêreld of van die wat vleeslik dink, deurdat hulle die wat sterk is as "swak" sien - is dus hier verwysend na 'n sterk Christen (wat die waarheid beskerm en nie val vir verleiding nie) maar deur ander as swak gesien word omdat hy nie soos die res sien en dink nie - 2 Kor. 12:10 : ("...want as ek swak is, is ek sterk")  - 1 Kor. 1:27, 2 Kor. 12:10 ens. (1Co 4:10)(Ons is dwaas ter wille van Christus, maar julle is verstandig in Christus. Ons is swak, maar julle sterk. Julle is in aansien, maar ons in oneer).
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:


Om sterk te wees verwys dus na die wat die woord in hulle het en dit beskerm, en dus heers oor versoekinge en nie vir verleiding val nie - bv. (1Jn 2:14 - "Ek het aan julle geskrywe, vaders, omdat julle Hom ken wat van die begin af is. Ek het aan julle geskrywe, jongmanne, omdat julle sterk is en die woord van God in julle bly en julle die Bose oorwin het"). Christene wat "sterk" is word dus tipies gesien as die wat vashou aan die waarheid en in die Here bly en so die bose oorwin ;  dit verwys duidelik NIE na die wat die waarheid verloën en/of vir die leuen val nie!, maar eerder na die wat hulle priestelike plig ernstig opneem (bv. om die waarheid te beskerm, is in die gewoonte om te waak en bid, raadpleeg die Here en soek na Sy wil, en is bereid om te lei ter wille vd waarheid en die Here). 

Swak Christene word maklik verlei en hulle is soos mense sonder wapenrusting. Die rede waarom Christene somtyds in oortreding kom of hulle hoop plaas in valse of verdraaide leerstelings of afvallig word van die geloof, is juis omdat hulle SWAK is. M.a.w., die woord is nie in hulle nie - hulle het 'n tekort aan geestelike voedsel, of gee nie ag op die waarheid nie. Swak Christene word ook gekenmerk as die wat nie bereid is om verdrukking te verdra terwille van die waarheid en die Here nie.  As jou lendene nie met die waarheid omgord is nie (as jy bv. nie die waarheid ken nie), kan jy maklik verlei word om 'n valse of verdraaide leerstelling te glo.  As jy nie die borswapen van geregtigheid aanhet nie, sal jy nalaat om die Here se wil te soek en Hom te raadpleeg, en dit kan tot gevolg hê dat jy jou eie kop volg of jou deur 'n blinde leier laat lei. Op dieselfde wyse kan die wat "kaalvoet" is, as swak gesien word omdat hulle nie bereid is om op te staan vir die evangelie nie (het nie skoene aan van bereidheid om die evangelie te verkondig nie) - hierdie is terloops baiemaal die rede waarom sommige Christene val vir ander geloofspraktyke of die Here verloën. Op dieselfde wyse is die sonder die helm van verlossing, of sonder 'n swaard, swak, want hulle is soos gebondes wie se gedagtes nie beskerm is nie, en hulle het nie die woorde om te veg nie...

Kom ons kyk na 'n paar gevare wat Christene swak maak?
-  hulle glo / plaas hoop in wêreldse wysheid en menslike leringe (bv. die met 'n swak gewete);
-  soek en leer ken nie die waarheid nie, en gee nie ag op die pad van godsaligheid nie (bv, die wat nie geestelike kos en water kry nie en nie geestelik groei nie);
-  plaas hulle hoop in 'n "ander evangelie" (bv. wat luister na die wat hulle in die gehoor streel en hulle hoop plaas in menslike leringe);
-  hou nie vas aan die geloof nie (bv. deur "dorings" wat hulle verstik - genietinge vd lew ens.);
- glo wat hulle wil en laat na om hulle denke te verander na hoe die Here sien (bv. die wat hulle nie bekeer van valse en verdraaide leringe nie);
-  laat na om te waak en bid, of raadpleeg nie die Here nie (bv. die wat nie wortel het en in die Here bly nie).
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.