Dinsdag 18 Mei 2021

Die kenmerke van 'n verleier

Die duiwel is die groot verleier bedrieër (Openb. 12:9,10; 2 Kor. 2:10; 11:3; Gen. 3:13), en hy word nie verniet "duiwel" genoem nie want die woord "duiwel" beteken,  

- "vals aanklaer" (kla iemand vals aan - is 'n kwaadspreker), en 

- "lasteraar" (hy weet wat is die waarheid maar verander die waarheid in 'n leuen - klik hier vir 'n studie oor die woord "laster"). 

Toe die duiwel vir Eva verlei het, was sy doel om haar gekant te maak teen God sodat sy hom eerder gehoorsaam as vir God - die manier hoe hy dit gedoen het, was om vir God soos 'n leuenaar voor te stel (Gen. 3:3,4). In daardie opsig het hy kwaadgespreek van God en gelaster deur die waarheid te verander in 'n leuen.

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------Valse profete en valse leraars val ook in hierdie klas want hulle neem die rol op van verleiers omdat hulle laster en kwaadspreek vd wat die waarheid verkondig, en mense op hierdie maniere verlei om eerder in hulle te glo as in die Here (en Sy waarheid). Jesus het geleer dat die manier om diesulkes uit te ken, is deur na hulle vrug te kyk (Matt. 7:16). Valse profete gee bv. voor dat hulle vd Here hoor maar praat eintlik uit hulleself (hulle is bedrieërs)(Matt. 24:11.14). Hulle vrug sal uiteindelik getuig dat dit wat hulle geprofeteer het nie die waarheid is nie. Dieselfde met valse leraars - hulle gee voor dat hulle die waarheid bring maar bring eintlik 'n ander evangelie, valse lering of 'n verdraaide waarheid ('n lering uit hulleself). Hulle vrug getuig dat hulle iets anders preek as wat die Woord leer, of wat Jesus Christus en Sy dissipels geleer het (hulle LASTER teen die waarheid). Hulle is ook maklik om uit te ken want hulle kom gewoonlik in opstand teen die persoon wat die waarheid verkondig (is KWAADPREKERS).  Hulle vrug getuig van wat hulle stand presies is t.o.v. die geloof en die waarheid, en hulle doel is om ander tot diensbaarheid aan hulle te dwing (Gal. 2:4). 

As hulle mense het wat agter hulle staan kan hulle op hierdie manier die opregte stil maak en verhoed dat die waarheid verkondig word - ons sien dit baiemaal in die kerk gebeur. Hulle kan veroorsaak dat gelowiges afvallig word vd waarheid en hulle sodoende stuit om goeie vrug te dra. Daar is 'n hele paar voorbeelde in die Skrif van diesulkes, bv. valse broeders wat in die pad gestaan het van geestelike werk... (Gal. 2:4).  Hulle is baiemaal ook die rede waarom opregtes vervolg word (2 Kor. 11:26). Die gesindheid van verleiers is dus om mense te beweeg om liewer in hulle te glo (as in die waarheid) en om hulle te volg (as om die Here te volg). Somtyds trap LEIERS in hierdie strik! en verander in bedrieërs wat mense lei om eerder vir hulle te volg i.p.v. die Here, en praat dan kwaad van die wat nie met hulle saamstem nie, of praat teen die waarheid wat die opregte verkondig.  

In 2 Tim. 3:3 word kwaadsprekers voorgestel as die wat "liefhebbers is van hulleself" (hulle glo in hulle eie sieninge en woorde, en versamel vir hulle leermeesters wat hulle in die gehoor streel - hulle het nie die Here lief, en Sy woorde lief nie, maar het hulle eie wil lief).  Hulle word ook verder beskryf as die wat "die gedaante het van godsaligheid, maar die krag daarvan verloën het" (2 Tim. 3:5). Hulle kom voor as broeders maar verhard hulle teen die waarheid en is ongehoorsaam aan die Here. Ons moet versigtig wees vir hierdie soort "Christen";  inteendeel, Paulus beveel dat ons ons selfs moet afkeer van sulke mense (2 Tim. 3:5).  Hulle is soos suurdeeg en maak die hele deeg suur.  Hulle praat kwaad van die wat die waarheid verkondig, en probeer so keer dat mense na die waarheid luister.

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:


Twee groepe mense staan veral uit as "verleiers of bedrieërs", nl. kwaadsprekers (vals aanklaers) en lasteraars (die wat die leuen of 'n verdraaide waarheid verkondig)Die wat vals is kan gewoonlik uitgeken word deur hulle lastering en kwaadspraak. Kwaadspreek en lastering is goeie voorbeelde van hoe die vrug lyk van VERLEIERS - ons moet altyd versigtig wees vir die wat iets anders preek as wat Jesus en Sy dissipels gepreek het... Wanneer iemand kwaadpraat van die wat die waarheid verkondig (m.a.w. kwaadspreek), of hulle die waarheid verdraai (m.a.w. laster), is dit baie moontlik dat daardie persoon 'n BEDRIEëR of 'n VERLEIER is. 

- (1)  KWAADSPREKERS: Kwaadsprekers word gesien soos bedrieers of verleiers omdat hulle ander valslik aankla - hulle vertel leuens oor hulle en probeer ander mense teen hulle draai - hulle VERLEI mense om verkeerd te dink oor daardie persoon Ons verstaan nie altyd wat met "kwaadspraak" bedoel word nie want baiemaal word die wat werklik kwaadsprekers is eerder gunstig ontvang en voorgestel as "sosiaal", of ontvang omdat die woord wat hulle bring 'n woord is wat in die gehoor streel eerder as die waarheid wat die ander persoon verkondig;   terwyl die wat met reg die waarheid bring of 'n waarheid aan die lig bring baiemaal verkeerdelik gesien word as kwaadsprekers of opstandiges... 
Dit word natuurlik nie gesien as kwaadspreek wanneer jy ander waarsku teen 'n valse leraar of 'n valse profeet nie! (en is eerder belangrik om aan die lig gebring te word)(Matt. 16:6; 7:15; Mark. 8:15; 2 Pet. 2:1; 2 Tim. 2:16,17), maar dan moet jy natuurlik seker wees dat jy nie daardie persoon valslik beskuldig nie;  want as jou teologie verkeerd is of jy nog onkundg is en uit jou onkunde verkeerd oordeel, kan jy miskien self gesien word soos 'n lasteraar (alhoewel "lasteraars" eerder verwys na wetendes, nie onwetendes nie). Baiemaal val onkundiges in hierdie strik en word so "kwaadsprekers" - dit is dus belangrik dat ons nie in 'n gewoonte verval waar ons oor ander mense praat nie.  Ons moet liewer nie omgaan met mense wat kwaadsprekers is nie en self ook nie daaraan deelneem nie (1 Kor. 5:11; 2 Tim. 3:3-5; Eks. 23:1; Tit 2:3), want as jy dit doen kan jyself gesien word as 'n kwaadspreker. Kwaadsprekers is tipies "hoog van oë en trots van hart" - hulle dink hulle is beter of weet beter as ander mense en tree gewoonlik so op omdat hulle iemand haat (Ps. 101:5; Spr. 10:18). Hierdie tema van kwaadspreek is so 'n ernstige onderwerp dat  "kwaadsprekers" in die Skrif getel word onder die ONREGVERDIGES, en hulle word selfs gereken as deel van diesulkes wat NIE eendag die koninkryk sal beerwe nie... (1 Kor. 6:10)  - en l.w. dat hierdie geskryf was tot waarskuwing aan Christene!  Christene wat hulle besig hou met kwaadspreek en dink dat hulle steeds in die Koninkryk sal ingaan al bekeer hulle hul nie van hierdie sonde nie. word getel onder die "onregverdiges" en is besig om te dwaal (is besig om hulleself te mislei en "sien en dink" verkeerd)(1 Kor. 6:10)Jesus het gedurig Sy dissipels gewaarsku teen hierdie soort "gelowiges" (Matt. 16:6; Luk. 12:1).  Hy het sommige o.a. genoem "geveinsdes", want hulle was soos akteurs - hulle het die rol gespeel van gelowiges maar was nie regtig gelowig nie. 

- (2) LASTERAARS:  LASTERAARS kan ook gesien word as bedrieers en verleiers omdat hulle, alhoewel hulle goed weet wat is die waarheid, in opstand kom teen die waarheid wat verkondig word (en op hierdie manier mense lei om in die leuen te glo). Laster is 'n sonde wat bloedskuld veroorsaak (Lev. 24:15,16). "Lasteraars" verwys nie na onwetendes nie maar na WETENDES - hulle is bv. wetend van wat die waarheid is maar verdraai dit. Onwetendes kan egter nie maklik val onder hierdie groep nie, maar wanneer iemand steeds bly laster selfs nadat hy wetend geword het sal hy beslis onder hierdie groep gekategoriseer word.  Paulus was eens 'n lasteraar (en het selfs ander gedwing om ook te laster - Hand. 26:11), maar hy het dit onwetend gedoen en daarom is daar aan hom barmhartigheid bewys (1Ti 1:13). Baiemaal trap gelowiges in hierdie strik waar hulle onwetend is maar dink hulle weet iets en laster dan teen die waarheid - dit gebeur baiemaal met die wat nog kinders is op die pad van godsaligheid, en nog nie die nodige kennis het nie. Daarom moet jong Christene geleer word om liewer stil te bly en nie teen ander gelowiges te praat nie. Sou 'n gelowige wat onwetend laster, egter wetend word vd waarheid maar steeds laster, dan kan hy nie staatmaak op die barmhartigheid nie..., maar sal dan gesien word as lasteraars (en 'n valse). Christene wat wetend is of word vd waarheid maar steeds laster deur in opstand te kom teen die waarheid is op 'n gevaarlike pad, en kan nie verwag dat hulle onvoorwaardelik vergewe sal word nie, want in so 'n geval is hulle besig met sonde tot die dood. Wanneer iemand wetend word moet hy hom daarvan bekeer.  In Kol 3:8 word Christene wat laster beveel om dit af te lê. Nog 'n vb. in die Skrif van gelowiges wat loop en laster het is Himenéüs en Alexander, wat moes getugtig word sodat hulle kon leer om nie te laster (die waarheid te verdraai - 2 Tim. 4:14,15) nie. Wanneer iemand hom bekeer van lastering kan hy vergewe word, ja, maar hou in gedagte dat lastering teen die Heilige Gees nie vergewe kan word nie - nie in hierdie eeu nie, en ook nie in die volgende eeu nie... (Matt. 12:31,32).
____________________________________________________________________________________



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.