Maandag 30 Mei 2022

Verstaan ons wat dit beteken dat ons 'n "HEILIGE VOLK" is?

Wat beteken dit dat die volk van God gesien word as 'n "HEILIGE" volk?  (in die O.T. was die besnydenis bv o.a. 'n teken hiervan -Hand. 11:2,3).  1Pe 2:9 - "Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig" - die woord "heilige" in hierdie Skrif is die Griekse woord "hag'-ee-os", wat verwys na iets wat skoon en afgesonder is... In ander skrifte verwys die woord "heilig" ook gewoonlik na iets of iemand wat (skoongemaak en) AFGESONDER IS (bv., is afgesonder vir 'n spesifieke taak of doel)(Openb. 20:6; 15:4; Hebr. 7:26). 

As die volk van God gesien word as 'n "heilige volk", dan beteken dit dat hulle afgesonder is (vir die Here), bv. afgesonder vir 'n doel  (bv. afgesonder om Hom te dien, die evangelie te verkondig, Sy woord te bewaar, ewig te lewe, die aarde te beerwe, ens.). Om skoon te wees is gewoonlik ook nodig voor iets of iemand geheilig kan word... (kyk gerus na vele O.T. voorbeelde, o.a. die priesters wat hulleself moes was voor hulle tempeldiens kon doen, ens.). Op dieselfde wyse het die wat tot geloof kom nodig om "skoongewas" te word voor hulle deel kan word van die "heilige/afgesonderde volk". Die Christelike doop is bv. o.a. 'n teken hiervan, en die wat hulle laat waterdoop word nou gesien as deel van die nageslag van Abraham (Gal. 6:23-29)(is dus deel van "die heilige volk", en dus volgens die belofte erfgename...). 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Maar daar is uitsonderlike gevalle ter wille vd doel, waar bv. mense wat nie skoongewas is nie ook hanteer word as deel vd geroepenes in hulle huidige lewe, bv. 'n ongelowige wat getroud is met 'n gelowige... (1 Kor. 7:14) - in so 'n geval word die ongelowige gesien as "GEHEILIG deur die gelowige" sodat hulle kinders gesien kan word as rein/heilig (1 Kor. 7:14). Dit beteken natuurlik nie dat die ongelowige nou gered is nie!, bv., dit beteken nie sy/haar sondes is outomaties afgewas, of beteken nie dat hy/sy die Heilige Gees outomaties ontvang het nie, maar verwys daarna dat die ongelowige se kinders bevoordeel is omdat hy/sy met 'n heilige getroud is - hulle kinders word gesien as rein (en kan in daardie opsig afgesonder word vir die Here se werk en word hanteer as deel van die volk van geroepenes; word bv. hanteer as deel van die wat die Here dien en gesien as deel van die wat eendag gaan erf , ens).

'n Ander vb. is voedsel... - onder die wet van Moses was daar onderskei tussen rein en onrein voedsel. "Rein voedsel" het verwys na daardie voedsels wat geëet kon word ("was afgesonder vir eet" - hier sien ons weer hoe die begrip "heilig" verwys na wat afgesonder/rein is). In die N.T. is geen voedsel verwerplik nie (anders as met sommige voedsels in die O.T.) as dit met danksegging ontvang word, want dit word GEHEILIG deur die woord van God en gebed (1 Tim. 4:4,5) - en alle voedsels word dus dan gesien as "rein" wanneer daaroor gebid word... (dit geld natuurlik nie vir bloed eet nie-Gen. 9:4;Hand. 15:20,29). 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
"Heiliges" word dus tipies gesien as "bruikbares" en soos "diensknegte" - hulle dien die Here - hulle is 'n volk vir Hom, en Hy is vir hulle 'n God (2 Tim. 2:19-21; 3:2; Hand. 10:15; 11:9; Eseg. 22:26). 

Die begrip "heilig" kan ook beter verstaan word deur ander voorbeelde, bv.:
- Die wet en gebod is HEILIG... - nie sodat iemand daardeur kan erf nie, maar is afgesonder vir lering - bv. sodat geleer kan word wat is sonde (Rom. 7:7); 
- In die volgende eeu sal die Here alleen HEILIG wees op die aarde... (Openb. 15:4) - wat dit beteken is dat geen ander gode toegelaat sal word of gesien sal word as heilig nie (maw geen ander gode sal mag aanbid word nie - die Here sal alleen aanbid word/is afgesonder as die Een wat aanbid word - in ander woorde, mense sal gedwing word om die Here Jesus Christus as Here te sien en sal nie toegelaat word om afgode te aanbid nie
- Jesus Christus het Sy volk deur Sy eie bloed GEHEILIG... (Hebr. 10:8-14; 13:12) - die wat in Hom glo word deur Sy bloed afgewas en so vir Hom afgesonder (om hom te dien - hulle leef nie meer vir hulleself nie, want hulle is deur Hom losgekoop - is nou nie meer slawe van sonde nie maar is slawe van Hom);   en Hyself is GEHEILIG vir Sy kinders... (Hy is deur die Vader vir hulle afgesonder - in die wêreld ingestuur - Joh. 10:36; Luk. 20:13); sodat hulle in die waarheid GEHEILIG kan wees... (die wat in Jesus Christus glo, is afgesonder vir die waarheid, bv. om dit te ken en verkondig, en word deur Jesus in die wêreld ingestuur - Joh. 17:14-26; Luk. 10:3).
- Nog 'n vb. om die begrip "heilig" beter te verstaa, is deur te kyk na die feit dat Jesus Christus GEHEILIG (afgesonder) is as ewige hoëpriester... (Hebr. 7:26)(ons het Jesus en het daarom nie 'n ander hoëpriester nodig om vir ons in te tree nie - Hy is maw afgesonder as die Een wat vir ons intree);
- Nog 'n vb. is die wat sal deel hê aan die "eerste opstanding"... - hulle is GEHEILIG/afgesonder vir die ewige lewe... (Openb. 20:6)(dit verwys na die wat opstaan tot lewe - die wat uitverkies word om die koninkryk/aarde te beerwe;  dit verwys nie na die wat sal opstaan tot veroordeling nie); 
- Die Christen se liggaam word ook gesien as "heilig"... (is 'n tempel vd Gees) - is afgesonder vir die inwoning vd Heilige Gees (1 Kor. 6:19; 3:17) - wat dus daarna verwys dat Christene nie aan hulleself behoort nie. Weergeborenes se liggame word afgesonder vir die Here se Gees (is tempels), en hulle is deur die Heilige Gees (wat in hulle woon) afgesonder vir die Here.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:


Die HEILIGE VOLK (die wat afgesonder is vir die Here) word ook "kinders vd belofte" genoem, en verwys na die wat gaan erf (Gal. 4:28; 3:29; Rom. 9:8; Hand. 2:39; 1 Thess. 5:23; Ef. 1:4);  daarom word hulle ook 'n volk/gemeente van "eersgeborenes" genoem (bestudeer gerus die tema van eersgeborenes om hierdie beter te verstaan). 

Die volk van God is 'n HEILIGE VOLK omdat hulle skoongewas en afgesonderd is, maar as hulle hul VERONTREINIG (m.a.w. hulleself besoedel), dan is hulle besig om hulleself te ONTHEILIG (besig om hulleself af te sny van die "afsondering").

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.