Ons sien LIEFDE somtyds as iets wat bepaal hoe ons menseverhoudinge moet opsom... (bv., asof dit die bepalende faktor is van iets wat moet wees of nie moet wees nie, of ons optrede en emosies beheer). Die waarheid is egter dat LIEFDE liewer iets is wat van almal van ons verwag word, teenoor alle mense! (selfs vir die wat vir ons haat/Luk. 6:27). Die begrip "liefde" verwys bv. nie net na 'n gevoel nie, maar gaan veral oor hoe jy optree... (Spr. 3:3 "Laat liefde (Hebr. woord kheh'-sed, wat verwys na guns, omgee, vriendelik, barmhartig) en trou jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel van jou hart"). Liefde word somtyds beskryf deur begeerte (bv. "om van begeerte te brand"/1 Kor. 7:9; of die wêreld liefhê..,nl. die begeerlikheid van die vlees of vd oë.../1 Joh. 2:15-17), maar hierdie soort begeertes is dinge wat verbygaan en gaan oor eie wil, terwyl die liefde soos in 1 Kor. 13 beskryf, gaan oor die Here se wil. Liefde volgens eie wil vergaan; maar liefde volgens die Here se wil bly vir ewig (dit dra vrug tot lewe). Mense wat nie "die liefde van God" het nie is bv. nie bly oor die waarheid nie, maar bly oor die ongeregtigheid... (Joh. 5:42; 1 Kor. 13:6), want hoeveel liefde jy het of nie, wys wat in jou hart aangaan. Bv., waar lankmoedigheid ontbreek, wys dit dat iemand nie liefde het nie. Waar iemand onvriendelik is, wys dit dat hy nie liefde het nie. 1 Kor. 13:4-6 leer vir ons die volgende oor "wat liefde is".
LIEFDE IS:
- lankmoedig,
- vriendelik,
- nie jaloers nie,
- praat nie groot nie,
- is nie opgeblase nie,
- handel nie onwelvoeglik nie,
- soek nie sy eie belang nie,
- word nie verbitterd nie,
- reken die kwaad nie toe nie,
- is nie bly oor die ongeregtigheid nie (maar is bly saam met die waarheid).
Is jy kortaf? Is jy opgeblase? Is jy verbitterd?..... Dit is nie liefde nie, en ten spyte van wat die ander persoon aan jou doen, daar word steeds van jou verwag om lief te hê. Sommige huwelikspaartjies skei bv. bloot omdat hulle sg. "nie meer lief is vir mekaar nie", asof liefde (of die tekort aan liefde) iets is waaroor jy geen beheer het nie (?). As jy dink dat liefde bloot gaan oor begeerte vd vlees of oë, dan sal jy hierdie fout maak, ja, want sulke begeertes gaan tot niet (maar liefde volgens die wil van God, soos in 1 Kor. 13 beskryf, is vir ewig). Jesus het geleer dat ons selfs ons vyande moet liefhê! (en goed doen aan die wat vir ons haat)(Luk. 6:27), want LIEFDE is iets wat Hy van ons verwag. 'n Tekort aan liefde moenie gebruik word as 'n rede om sis of so op te tree nie, maar eerder is dit iets waaraan jy self moet werk. Die Here verwag van ons om barmhartig te wees (Matt. 25), Hy verwag van ons om vir ander om te gee, om vriendelik te wees, ens. Spr. 10:12 leer dat LIEFDE alle oortredinge bedek, en natuurlik beteken die feit dat daar liefde verwag word nie dat jou hater geen berisping nodig het nie (om iemand te vermaan sodat hy hom kan bekeer van sy verkeerde weg, is bv. ook liefde; maar as jy gelei voel om hom/haar te vermaan, maak eers seker dat jy self liefde het! - haal eers die balk uit jou eie oog ). Elke persoon sal self verantwoording doen voor die Here vir wat hulle doen en spreek. As jy nie liefde (vir iemand of vir God) het nie, is jy besig om in jou hart te oortree.
---------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------- Liefde word van ons verwag, maak nie saak wie die ander persoon is of wat hy aan jou gedoen het nie. Wanneer liefde kortkom of iemand "uit liefde val", dan mag die ander persoon se optrede miskien bygedra het tot hoekom jy nie meer liefhet het nie; tog, 'n tekort aan liefde aan jou kant is jou probleem (en iets waaraan jy steeds moet werk). In sekere gevalle is dit beter vir mense om uit te stap uit 'n omstandigheid waar hulle onderwerp is aan 'n onbarmhartige persoon, maar dit beteken nie dat liefde nie meer van jou verwag word nie (ons moet dus verstaan wat liefde beteken!). Ons is somtyds geneig om te dink dat dit ons in sekere gevalle geoorloof is om bv. kortaf te wees, onvriendelik, opgeblase, verbitterd,... watookal, maar ten spyte van hoe die ander persoon optree, daar word steeds van jou verwag om lief te hê... (en word natuurlik van die ander persoon ook verwag, maar bid daaroor en los dit vir die Here).
Of jy liefde het of nie, moet nie bepaal word deur wat ander mense doen nie..., want liefde word in elk geval van jou verwag; bv., daar word van jou verwag om nie verbitterd te word nie, verwag om nie die kwaad toe reken nie (verwag om te seën al vloek hulle jou!). Dit is wat Jesus Christus van Sy kinders verwag, is dat hulle mekaar moet liefhet soos Hy ons liefgehad het (Joh 15:12,13 "Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het. Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee"). Ons het beslis nie Sy liefde verdien nie...
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:
DIE LIEFDE bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles... (1 Kor. 13:7).
(Rom 12:9-21 "Laat die liefde ongeveins (opreg) wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan; wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning; wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here; verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed. Maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges; streef na gasvryheid; seën die wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie; wees bly met die wat bly is, en ween met die wat ween; wees eensgesind onder mekaar; moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle by die nederige; moenie eiewys wees nie; vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense; as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here. As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop. Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie").
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
