Wys tans plasings met die etiket slegte vrug. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket slegte vrug. Wys alle plasings

Woensdag 25 Maart 2026

Is geestelike groei belangrik?

Wanneer dit kom by die tema van GEESTELIKE GROEI wonder mense baiemaal of dit sommer net 'n onderwerp is wat deur sommige kerke opgemaak is met die doel om jou onder "werke" te plaas, maar die waarheid is dat hierdie tema iets is waaroor Jesus baie gesels het.  Hy het nou nie noodwendig die spesifieke woorde "geestelike groei" gebruik nie, maar Hy het baie oor hierdie onderwerp uitgebrei, o.a. oor hoe belangrik dit is om vrug te dra - ook 'n paar van Sy verhale gaan juis oor hierdie tema... (bv., die gelykenis vd saaier/Matt. 13:1-23). Hy't Homself o.a. voorgestel as die ware wynstok, en ons die lote... (soos lote wat GROEI en vrug dra)(Joh 15:1,2 - "Ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer. Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra"). In Sy woorde kan ons sien hoe belangrik Hy GEESTELIKE GROEI (nl. in die Here) ag (want as 'n loot/boom nie groei nie, kan hy nie vrug dra nie). In die eerste gemeentes was hierdie beslis ook gepreek, bv. kyk hoe Johannes die gemeente daar aanspreek..., nl. dat hy sommige kinders noem, ander jongmanne, en ander vaders (1 Joh. 2:13,14). Paulus het ook na die lidmate vd gemeente van Korinthe verwys op hierdie manier, en hulle "babas" genoem. Hierdie manier van praat wys hoe ver iemand geestelik gegroei het...  Ook Petrus het hierdie soort woorde gebruik, nl. dat ons verlange na die onvervalste woord moet wees, soos pasgebore kindertjies verlang na melk, en l.w. die woorde daar geskryf "DAT JULLE DAARDEUR KAN OPGROEI" (1Pe 2:1,2). In die boek van Korinthiers beskryf Paulus die kinders vd Koninkryk soos iets wat "geplant" word - hierdie is o.a. die werk vd dienaar vd Here, ook dat hulle hierdie "plante" moet natmaak..., en hy verklaar terloops dat God die een is "wat laat groei" - ook in hierdie gedeelte word die koninkryk van God voorgestel soos 'n "akker van God" (soos 'n plaas)(1Kor. 3:5-9). Vgl. dit gerus met ander soort beeldspraak in die Skrif, soos dat ons vir ons 'n braakland moet braak, en in Jes. 5 word die huis van Israel voorgestel soos die Here se wingerd.  

Die gemeente van Efese was ook aangemoedig om te GROEI in die Here... (Ef. 4:15) - ook in hierdie brief wil Paulus hê dat hulle groei tot "volwasse" mense (natuurlik het hy nie hier verwys na die fisiese, nl. die uiterlike mens, nie)(Ef. 4:13). Hy maak die vgl. dat "kinders" maklik soos golwe heen en weer geslinger word deur die wind van lering, en maklik bedrieg kan word... (vir 'n studie oor geestelik babas/kinders in die Here, gaan na: https://warechristene.blogspot.com/2021/03/die-geestelike-mens-as-baba-en-kind.html). "Kinders" (die wat nog nie veel gegroei het in die Here nie) is nog onervare in die woord van geregtigheid (hulle het nog melk nodig);  aan die ander kant is die leraar iemand wat al verder gegroei het... (en kan vaste spys eet)(Hebr. 5:12,13). 

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Die Christelike kerk word terloops ook voorgestel soos 'n liggaam met afsonderlike lede, wat terloops "groei" (Ef. 4:16)(nie soseer in lidmate nie, maar in "vrug"). In die gelykenis wat Jesus vertel het vd "koring en onkruid", word die volgende stelling gemaak:  (Matt. 13:30 - "Laat altwee saam groei tot die OES toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur") - ook in hierdie gelykenis word die mens vgl. met plante, nl. met "koring" (wat verwys na weergeborenes) en "onkruid" (wat "saamgroei" in die kerk). Onkruid "groei" saam met die koring in die kerk, maar nie almal dra die vrug van koring nie.

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:

Ons liggame is immers van grond gemaak!, en die innerlike mens word baiemaal op hierdie manier voorgestel, soos saad wat in grond geplant word, en groei en vrug dra... Die einde vd wêreld word o.a. gekenmerk aan 'n paar oeste, o.a. sal weergeborenes se vrug geoes word wanneer Jesus Christus terugkom (Luk. 10:2). VRUG wys gewoonlik wat se soort plant of boom iets is - op ditto wyse is dit vrug wat wys wie onder die kinders van die Koninkryk weergebore (koring) is, en wie nie (onkruid).  Die konteks waarin GEESTELIKE GROEI gewoonlik in die Christelike gebruik word, is natuurlik om te "groei in die Here"/Ef. 4:15, maar ons moet verstaan dat nie alle soorte "geestelike groei" verwys na "groei in die Here" nie.  Vrug getuig bv. nie net van wat se soort boom iemand is, (nl. natuurlike of geestelike mens) nie, maar ook van "hoe" iemand geestelik groei...  Bv., almal dra ongelukkig nie goeie vrug (bv. vrug tot lewe) nie... (maar sommige dra slegte vrug, bv. valse profete). 

Sonder vrug tot lewe kan niemand die (ewige) lewe oes nie!, maar groei is belangrik voor iemand vrug kan dra; dus, "hoe iemand bou" (hoe hy groei - bv., wat se soort geestelike kos en water hy kry, en of hy geestelike oefeninge doen) bepaal wat se soort vrug hy gaan dra. Op dieselfde wyse is dit "vrug" wat wys WIE GROEI, EN WIE NIE - vgl. dit met Johannes se woorde waar hy die kinders vd Koninkryk vgl. met óf kaf óf koring ("koring" verwys na die wat vrug dra, maar "kaf" verwys na die wat nie vrug dra nie, en is dus die wat uitgegooi/verbrand sal word - vgl. dit gerus ook met die tweede groep in die gelykenis vd saaier, nl. die wat nie wortel het nie - hulle groei nie!). DIT IS M.A.W. NET SO GEVAARLIK OM "SONDER VRUG" OP TE EINDIG, AS WAT DIT IS OM SLEGTE VRUG TE DRA. Die wat nie vrug dra nie is soos KAF..., en Jesus het op 'n ander geleentheid ook hieroor gepraat, nl. dat elke loot wat nie vrug dra nie, weggeneem word (Joh. 15:1,2). 

- GEESTELIKE GROEI "IN DIE HERE" IS BELANGRIK!, WANT HOE KAN JY VRUG DRA AS JY NIE GROEI NIE?  
- MAAR HOE JY GROEI IS OOK BELANGRIK!   WAT SE SOORT GEESTELIKE KOS EN WATER NEEM JY?  EN DOEN JY GEESTELIKE OEFENINGE?  - hierdie dinge is belangrik vir geestelike groei in die Here;  bv., as jy gaan eet by ander bronne kan jy nie verwag om "in die Here" te groei nie (dan kan jy nie verwag om soos Hy te "sien" en "dink" nie). Natuurlik is dit belangrik wat se soort geestelike kos en water (wat terloops nodig is vir groei) jy neem, want as jy die verbode "vrugte" eet, sal jy die dood oes. As jy gaan drink by ander bronne (maw, afgode aanbid of raadpleeg), dan kan jy nie verwag om "in die Here" te groei nie (in so 'n geval is jy besig om geestelik te hoereer).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Dinsdag 27 Mei 2025

Pasop vir valse profete

Profete is mense deur die Here geroep, wat Sy woord bring op 'n tyd en plek... Die profetiese bediening is inderdaad 'n belangrike bediening in die kerk en 'n manier waarop die Here met Sy volk praat; maar wees gewaarsku, want nie almal wat deurgaan vir "profete" ken die Here en is inderdaad deur Hom gestuur nie... (Matt. 7:15-21; 2 Kron. 18; 1 Kon. 13; ens.). Bv., nie almal in die kerk wat sê "God spreek" of "die Here sê" verkondig inderdaad woorde wat van die Here kom nie. Ons moet veral bedag wees hierop want Jesus het geleer dat in die laaste dae baie valse profete sal opstaan. Die vraag is nou, hoe onderskei ons tussen wie is waar en wie is vals? - hoe onderskei ons tussen die ware en die valse profeet?

----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------Ons kan begin deur te kyk wat Jesus vir ons geleer het oor valse profete. Daar is 'n manier hoe valses erken kan word:

-(1)  Hulle is Slegte bome (Matt. 7:17), en hulle VRUG getuig dat hulle "slegte bome" is (Matt. 12:33). In die Skrif word die gelowige baiemaal voorgestel soos 'n boom wat groei en vrug dra - valse profete se vrug is "sleg"! Hulle dra vrug, ja, maar dit is sleg! - hulle vrug lyk dus soos die ware Jakob, maar dit is nie bruikbaar nie... HIERDIE MENSE KAN AAN HULLE WOORDE EN OPTREDE HERKEN WORD, want hulle vrug kom voor soos goeie vrug "maar is nie bruikbaar nie"- kan nie geeet word nie! (hulle word bv. o.a. "waterlose fonteine" genoem in 2 pet. 2:17, of "waterlose wolke" in Jud. 1:12 - hulle kom voor of hulle die geestelike water gee wat ons nodig het, maar hulle doen nie).  In Matt. 12:34 verwys Jesus o.a. na hierdie slegte bome as "addergeslag" (giftige slang-geslag), want dit wat hulle gee is eintlik soos gif... - dit wat hulle praat wys bv. dat hulle sleg is (Matt. 12:34; 15:18)(hulle verdraai die waarheid en verkondig leuens, soos die duiwel/slang doen). 'n Valse profeet sal oor dieselfde dinge praat as die Christen, maar sy vrug is sleg... - sy interpretasie oor daardie onderwerp is m.a.w. nie dieselfde nie maar eerder 'n siening wat uit homself kom of van die wereld (en kan soos gif wees). Vgl. dit met Paulus se woorde in Hand. 20:29 van wat hy sê van die wolwe - is dat hulle "verkeerde dinge praat"! (uit die oorvloed van die hart praat die mond...-Matt. 12:34). Valse profete tree op in die Naam van die Here asof Hy hulle gestuur het (bv. profeteer, dryf duiwels uit, en doen kragte...), maar in werklikheid is hulle besig om voor te gee - hulle is nie deur Hom gestuur nie! (is "geveinsdes"/Matt. 15:7-9).  En die rede waarom hulle dit doen is om mense te verlei en mislei.  Die uiteinde van valses is: -uit hulle WOORDE sal hulle eendag veroordeel word (Matt. 12:36,37).  

-(2)  Hulle het Dorings en distels (Matt. 7:16). Die met dorings en distels verwys na mense wat "onder die dorings saai" - dit verwys nie noodwendig na valses nie, maar wel na skape wat afdwaal - die gevolg is dat hulle vrug verstik word (en dus, hulle kan nie vrug dra nie of verloor hulle vrug...)(Jer. 4:3; Jes. 5:6; Spr. 15:19; 22:5; Matt. 13:7,22). Vgl. dit gerus met die 3de groep in die gelykenis vd saaier wat verwys na kinders van die Koninkryk, maar dorings in hulle lewens veroorsaak dat hulle hul vrug kan verloor en sonder vrug opeindig... (Luk. 8:14; Matt. 13:22). Maw, dorings verstik vrug... - in die gelykenis vd saaier word vir ons geleer waarna "dorings" verwys (bv. dit verwys na daardie kinders vd koninkryk wat nie die koninkryk eerste soek nie, maar liewer "sorge en rykdom en begeerlikhede en genietinge vd lewe"). Valse profete toon dieselfde kenmerke, en dit is dat hulle nie die Koninkryk eerste soek nie. Dit wil nie sê dat almal met dorings vals is nie!, maar dit is een vd kenmerke van 'n valse. Bv., as iemand met 'n profetiese bediening wêreldse rykdom eerder begeer in plaas van "om ryk te word in die Here", is dit soos 'n doring in sy lewe... - dit is duidelik wat in die lewe vir diesulkes belangrik is, en hulle word o.a. geklassifiseer onder die groep "liefhebbers van hulleself "(2 Tim. 3:2).  Bv., een vd redes waarom hulle mense mislei (deur sg. vrug te dra wat goed lyk) is om gesien of geëer te word! (Matt. 6:2,5,16). Hulle wil nie dien nie, maar wil gedien word,  en wanneer hulle wel "dien" is dit omdat dit tot voordeel is van hulleself. 

-(3)  Hulle dra Slegte vrugte (Matt. 7:18). Hulle mag dalk op die oog voorkom as goed, maar hulle vrug sal gou getuig dat hulle nie goeie mense is nie... (hulle harte bring slegte dinge voort-Matt. 12:35)(bv. vol allerhande begeerlikhede wat terloops as volg beskryf word in 2 Tim. 3:1-5... - bandeloos, tree roekeloos op, is sonder liefde vir die goeie, sonder natuurlike liefde, is onversoenlik, onheilig, grootpraters, trotsaards, gelgieriges, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God). (1) Hulle het óf (1) nog nooit begin om die Here te dien nie (maw, hulle dien nog die sonde, en daarom praat hulle soos die wereld), óf (2) hulle het teruggeval...  Ons weet waarna goeie vrugte verwys..., so dit is seker nie moeilik om te verstaan waarna "slegte vrug" verwys nie, want wanneer 'n vrug sleg is beteken dit nie dat dit 'n ander soort vrug is nie, maar ditto maar sleg... - dit is m.a.w. ditto vrug... (bv. geloof, barmhartigheid, vrede, liefde, ens.), maar is sleg! (bv., asof hy glo, maar sy vrug wys dat hy nie werklik glo nie...). Valse profete is soos akteurs - hulle speel die rol van profete, maar is nie werklik profete nie, en die manier om hulle uit te ken is aan hulle VRUG (bv.,  as die Here jou regtig gestuur het, sal jy ten minste dieselfde verkondig as die waarheid en as Jesus se woorde, maar die valse profeet verkondig 'n verdraaide waarheid of die leuen). Jesus het ook o.a. na diesulkes verwys as "geveinsdes" (Matt. 23:27,29; 24:51; Mark. 7:6; Luk. 11:44; ens.)(mense wat voorgee) - hulle gee voor hulle het vrede en geloof en is lief vir die Here en het kennis van die Here ens., maar hulle vrug getuig dat hulle nie regtig vrede het of glo nie, bv. glo nie werklik in Jesus se woorde (die waarheid) nie. Hulle wys gou dat hulle kennis eintlik woorde van die wereld is of uit ander bronne verkry is (1 Joh. 4:5; Jer. 29:8) of uit hulleself kom! (Matt. 12:34; Luk. 6:45; Eseg. 13:2,17; Jer. 23:6). Hulle kom bv. voor dat hulle barmhartig en liefdadig is, maar doen dit eintlik vir hulleself nl. "om geëer  te word"... (Matt. 6:2,5,16; 23:23). Hulle sal voorgee dat hulle die Here ken, bv. om te staan en bid waar alle oë op hulle is, maar doen dit vir hulleself nl. "om gesien te word"... (Matt. 6:5). Hulle gee voor dat hulle in Jesus glo, maar versoek/toets Hom (Matt. 16:1-4; 22:19) en staan in die pad van die wat Jesus se leringe verkondig... (Matt. 15:7; 23:13). Hulle gee voor dat hulle vir die Here werk, maar doen hulle eie wil... (Matt. 23:51; Matt. 16:3). Hulle gee voor dat hulle vir die Here tyd maak, bv. om te vas, maar dit is eintlik net toneelspel... (Matt. 6:16; 15:7,8). Hulle gee voor dat hulle die kennis van die Here het, maar leer gebooie van mense en praat verkeerde dinge... (Matt. 15:9; Hand. 20:30; Matt. 7:15-23).  Kortom, hulle is liefhebbers van hulleself! (2 Tim. 3:2).

-(4)  Hulle is Roofsugtige Wolwe in skaapsklere (Matt. 7:15). Hierdie mense is nie noodwendig "insgesluiptes" (Hand. 20:29) nie, maar is somtyds deel van die kinders van die Koninkryk (Matt. 10:16; Luk. 10:3; Hand. 20:30) - hulle is nie "skape" (regverdiges en barmhartiges) nie, maar is "wolwe" ('n term wat gebruik word om te verwys na die onregverdiges en onbarmhartiges-Matt. 25). L.w., hulle verwys nie na dwalende of verlore skape (wat gesoek en teruggeroep kan word asof hulle hul harte sal versag) nie, maar is "roofsugtig" (is uit om te "verskeur" en hulle pers mense af) en wreed - die waarheid sal hulle nie noodwendig tot insig bring nie... Een van wolwe/valse profete se kenmerke is bv. dat hulle "verkeerde dinge praat" (Hand. 20:29,30) en mense daardeur probeer mislei (maw, hulle is opsetlik vals!, nie omdat hulle "dwaal" nie...). Hulle word ook o.a. "wreed" genoem want hulle is swaar op die kudde en spaar nie die skape nie (Hand. 20:29). In Eseg. 22:27 word "wolwe" beskryf as mense wat die kudde sien soos prooi (wil hulle verskeur- Eseg. 22:27; Matt. 10:16; Luk. 10:3; Hand. 20:29)), en ook beskryf as die met bloedskuld en wat onregverdige wins maak (vgl. dit met Judas 1, waar hierdie mense o.a. gekenmerk word as "goddeloses" (die wat nie die wil van die Here doen nie maar hulle eie wil)(Jud. 1:4). 

Kom ons kyk ook wat ons in 'n paar ander skrifte kan leer oor valse profete:

(5) Hulle is "VERLEIERS" want hulle is daarop uit om die skape te MISLEI.  Jesus het o.a. ook geleer dat diesulkes selfs tekens doen om hierdie doel te bereik... (Matt. 24:11,24; Mark. 13:22)(Openb. 19:20). Valse profete en valse leraars voer verderflike ketterye heimlik in die kerk in, met die doel om ander sover te kry om hulle verderflikhede na te volg (2 Pet. 2:1,2), en op dieselfde tyd trek hulleself baie voordeel uit die kudde (2 Pet. 2:3).

(6) Hulle is KWAADSPREKERS - hierdie is 'n tipiese kenmerk van die wat vals is, is dat hulle LASTER..., en hulle isdie rede waarom die weg van die waarheid gelaster word (2 Pet. 2:2). Hulle gebruik hierdie metode (nl. kwaadspreek en laster) om mense te verlei (sodat hulle bv. liewer in hulle glo as in die waarheid )(hulle spreek kwaad van die weg en die wat die waarheid verkondig). Valse profete kan maklik aan hierdie gekenmerk word, is die feit dat hulle gewoonlik opstaan teen die wat die waarheid verkondig en 'n ander "waarheid" (wat verdraai of of vals is) bring (2 Kor. 11:26; Gal. 2:4)(1 Joh. 2:26; 3:7; Luk. 21:8; Mark. 13:5,6; Matt. 24:4,5,11,24) - sulke mense is altyd aan die leer maar kom  nooit tot kennis van die waarheid nie"! (2 Tim. 3:5-8), en die rede hiervoor is natuurlik omdat hulle eerder hulle eie of ander sieninge glo. In ander woorde, hulle gee voor dat hulle glo, maar hulle vrug getuig dat hulle nie regtig glo in die waarheid of in Jesus se woorde nie. 

 ----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Wat is die uiteinde van  VALSE PROFETE? (Matt. 7:19; 2 Pet. 2:3)(Heb 6:8 - "Maar as dit dorings en distels oplewer, deug dit nie en is naby die vervloeking—die einde daarvan is verbranding"). 

----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:


Valse profete PROFETEER VALS... (Jes. 5:31; Jer. 29:8,9).  Hulle bedrieg mense deur voor te gee dat hulle die Here ken en deur Hom gestuur is, maar hulle is nie - hulle eintlike doel is om gedien te word, en wil hê mense moet hulle volg...)(Matt. 24:11,14). Ons weet hierdie maar te goed, maar hoekom word hierdie mense somtyds toegelaat in die kerk?  

Volgens. Jes. 5:31 is dit presies wat sommige kinders van die Koninkryk wil hê!, is valse profesie...;  maar hoekom? Die laaste dae word beskryf as 'n tyd waarin die mense "die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede... (2 Tim. 4:3). Hierdie valse profete word maw baiemaal ontvang omdat hulle preek wat die mense graag eerder wil hoor... (nie wat die waarheid is nie).  Dit wys vir ons die toestand van so 'n kerk. Kyk ook die woorde in v.4: "en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels"... - valse profete word gewoonlik 'n opening gegee waar kinders van die Koninkryk wederstrewig is en nie die wet van die Here wil hoor nie (Jes. 30:10). Hulle sal die wat die waarheid verkondig, stilmaak (Jes. 30:10), maar sal die wat hulle in die gehoor streel en vleitaal spreek en bedrieëry profeteer, hartlik ontvang en goed van hulle praat (Jes. 30:10; Luk. 6:26). Baie tipiese kenmerke staan uit van sulke kerke..., en dit is dat die ongeregtigheid vermeerder en die liefde van meeste verkoel (Matt. 24:12). PASOP VIR 'N KERK WAT VALSE PROFETE TOELAAT, WANT KORT VOOR LANK BEGIN JY DALK SELF IN FABELS GLO! Hierdie valse profete verloën die Here en trek baie voordeel uit die kudde... (bv. deur hulle verdigte woorde)(2 Pet. 2:22). Ons kan sien hoe baie die kerk al mislei is, want vele dinge word bv. vandag alreeds reg genoem wat eintlik verkeerd is, en hierdie is een van die gevolge van sulke misleiding... (Openb. 2:20,21). Kyk maar hoeveel leringe van duiwels word vandag aangehang deur sommige Christene (1 Tim. 4:1).

Matt. 24:11 - "En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei". Baie mense is vandag mislei om die leuen te glo..., en dit is duidelik dat ons in so 'n tyd is want die weg van die waarheid word baie gelaster ('n teken daarvan - 2 Pet. 2:3).  Vele verderflike ketterye is ook al heimlik ingevoer in die kerk (2Pe 2:1,2). Ons moet verstaan dat die wat "vals profeteer" en kwaadspreek van die wat die waarheid verkondig, NIE DEUR DIE HERE GESTUUR is NIE: (Jer 29:9 - "Want hulle profeteer vir julle vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur nie, spreek die HERE").  Hulle doel is om die uitverkorenes te probeer verlei en dus voor te gee dat hulle die Here ken, maar hulle doen nie. Hulle kry hulle woorde van ander bronne, somtyds deur drome of deur verbode heidense praktyke soos towery (Hand. 13:6) of waarseêry (Jer. 29:8), of uit hulle eie hart! Ons moet dus versigtig wees en seker maak watter bron iemand gebruik (en iemand se woorde wys ook vir ons watter bron hy gebruik - sy vrug getuig of hy waar of vals is). Bly in Jesus Christus en hou vas aan die waarheid (en Sy woorde) - raadpleeg Hom! - moenie ander bronne raadpleeg nie, en moenie op jou eie insigte staatmaak nie - hierdie is die manier hoe ons onsself beskerm en nie sal val vir die leuen nie.(1Jn 4:1 - "Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan")

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

https://warechristene.blogspot.com/2018/06/dorings-en-distels-braak-vir-julle-n.html

https://warechristenedagstukkies.blogspot.com/2014/06/en-dan-sal-hy-se-ek-het-julle-nooit.html

https://warechristenedagstukkies.blogspot.com/2015/03/eers-moet-die-afval-kom.html

https://warechristenedagstukkies.blogspot.com/2015/08/die-een-wat-in-eie-naam-uitgaan.html

https://warechristenedagstukkies.blogspot.com/2015/06/dronk-van-haar-wyn.html

https://warechristenedagstukkies.blogspot.com/2015/08/die-7-seels-van-openbaring.html

https://warechristenedagstukkies.blogspot.com/2017/02/waarna-verwys-slegte-vrugte-werklik.html

https://warechristenedagstukkies.blogspot.com/2021/05/die-kenmerke-van-n-verleier.html