Wys tans plasings met die etiket vaste spys. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket vaste spys. Wys alle plasings

Woensdag 25 Maart 2026

Is geestelike groei belangrik?

Wanneer dit kom by die tema van GEESTELIKE GROEI wonder mense baiemaal of dit sommer net 'n onderwerp is wat deur sommige kerke opgemaak is met die doel om jou onder "werke" te plaas, maar die waarheid is dat hierdie tema iets is waaroor Jesus baie gesels het.  Hy het nou nie noodwendig die spesifieke woorde "geestelike groei" gebruik nie, maar Hy het baie oor hierdie onderwerp uitgebrei, o.a. oor hoe belangrik dit is om vrug te dra - ook 'n paar van Sy verhale gaan juis oor hierdie tema... (bv., die gelykenis vd saaier/Matt. 13:1-23). Hy't Homself o.a. voorgestel as die ware wynstok, en ons die lote... (soos lote wat GROEI en vrug dra)(Joh 15:1,2 - "Ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer. Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra"). In Sy woorde kan ons sien hoe belangrik Hy GEESTELIKE GROEI (nl. in die Here) ag (want as 'n loot/boom nie groei nie, kan hy nie vrug dra nie). In die eerste gemeentes was hierdie beslis ook gepreek, bv. kyk hoe Johannes die gemeente daar aanspreek..., nl. dat hy sommige kinders noem, ander jongmanne, en ander vaders (1 Joh. 2:13,14). Paulus het ook na die lidmate vd gemeente van Korinthe verwys op hierdie manier, en hulle "babas" genoem. Hierdie manier van praat wys hoe ver iemand geestelik gegroei het...  Ook Petrus het hierdie soort woorde gebruik, nl. dat ons verlange na die onvervalste woord moet wees, soos pasgebore kindertjies verlang na melk, en l.w. die woorde daar geskryf "DAT JULLE DAARDEUR KAN OPGROEI" (1Pe 2:1,2). In die boek van Korinthiers beskryf Paulus die kinders vd Koninkryk soos iets wat "geplant" word - hierdie is o.a. die werk vd dienaar vd Here, ook dat hulle hierdie "plante" moet natmaak..., en hy verklaar terloops dat God die een is "wat laat groei" - ook in hierdie gedeelte word die koninkryk van God voorgestel soos 'n "akker van God" (soos 'n plaas)(1Kor. 3:5-9). Vgl. dit gerus met ander soort beeldspraak in die Skrif, soos dat ons vir ons 'n braakland moet braak, en in Jes. 5 word die huis van Israel voorgestel soos die Here se wingerd.  

Die gemeente van Efese was ook aangemoedig om te GROEI in die Here... (Ef. 4:15) - ook in hierdie brief wil Paulus hê dat hulle groei tot "volwasse" mense (natuurlik het hy nie hier verwys na die fisiese, nl. die uiterlike mens, nie)(Ef. 4:13). Hy maak die vgl. dat "kinders" maklik soos golwe heen en weer geslinger word deur die wind van lering, en maklik bedrieg kan word... (vir 'n studie oor geestelik babas/kinders in die Here, gaan na: https://warechristene.blogspot.com/2021/03/die-geestelike-mens-as-baba-en-kind.html). "Kinders" (die wat nog nie veel gegroei het in die Here nie) is nog onervare in die woord van geregtigheid (hulle het nog melk nodig);  aan die ander kant is die leraar iemand wat al verder gegroei het... (en kan vaste spys eet)(Hebr. 5:12,13). 

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Die Christelike kerk word terloops ook voorgestel soos 'n liggaam met afsonderlike lede, wat terloops "groei" (Ef. 4:16)(nie soseer in lidmate nie, maar in "vrug"). In die gelykenis wat Jesus vertel het vd "koring en onkruid", word die volgende stelling gemaak:  (Matt. 13:30 - "Laat altwee saam groei tot die OES toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur") - ook in hierdie gelykenis word die mens vgl. met plante, nl. met "koring" (wat verwys na weergeborenes) en "onkruid" (wat "saamgroei" in die kerk). Onkruid "groei" saam met die koring in die kerk, maar nie almal dra die vrug van koring nie.

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:

Ons liggame is immers van grond gemaak!, en die innerlike mens word baiemaal op hierdie manier voorgestel, soos saad wat in grond geplant word, en groei en vrug dra... Die einde vd wêreld word o.a. gekenmerk aan 'n paar oeste, o.a. sal weergeborenes se vrug geoes word wanneer Jesus Christus terugkom (Luk. 10:2). VRUG wys gewoonlik wat se soort plant of boom iets is - op ditto wyse is dit vrug wat wys wie onder die kinders van die Koninkryk weergebore (koring) is, en wie nie (onkruid).  Die konteks waarin GEESTELIKE GROEI gewoonlik in die Christelike gebruik word, is natuurlik om te "groei in die Here"/Ef. 4:15, maar ons moet verstaan dat nie alle soorte "geestelike groei" verwys na "groei in die Here" nie.  Vrug getuig bv. nie net van wat se soort boom iemand is, (nl. natuurlike of geestelike mens) nie, maar ook van "hoe" iemand geestelik groei...  Bv., almal dra ongelukkig nie goeie vrug (bv. vrug tot lewe) nie... (maar sommige dra slegte vrug, bv. valse profete). 

Sonder vrug tot lewe kan niemand die (ewige) lewe oes nie!, maar groei is belangrik voor iemand vrug kan dra; dus, "hoe iemand bou" (hoe hy groei - bv., wat se soort geestelike kos en water hy kry, en of hy geestelike oefeninge doen) bepaal wat se soort vrug hy gaan dra. Op dieselfde wyse is dit "vrug" wat wys WIE GROEI, EN WIE NIE - vgl. dit met Johannes se woorde waar hy die kinders vd Koninkryk vgl. met óf kaf óf koring ("koring" verwys na die wat vrug dra, maar "kaf" verwys na die wat nie vrug dra nie, en is dus die wat uitgegooi/verbrand sal word - vgl. dit gerus ook met die tweede groep in die gelykenis vd saaier, nl. die wat nie wortel het nie - hulle groei nie!). DIT IS M.A.W. NET SO GEVAARLIK OM "SONDER VRUG" OP TE EINDIG, AS WAT DIT IS OM SLEGTE VRUG TE DRA. Die wat nie vrug dra nie is soos KAF..., en Jesus het op 'n ander geleentheid ook hieroor gepraat, nl. dat elke loot wat nie vrug dra nie, weggeneem word (Joh. 15:1,2). 

- GEESTELIKE GROEI "IN DIE HERE" IS BELANGRIK!, WANT HOE KAN JY VRUG DRA AS JY NIE GROEI NIE?  
- MAAR HOE JY GROEI IS OOK BELANGRIK!   WAT SE SOORT GEESTELIKE KOS EN WATER NEEM JY?  EN DOEN JY GEESTELIKE OEFENINGE?  - hierdie dinge is belangrik vir geestelike groei in die Here;  bv., as jy gaan eet by ander bronne kan jy nie verwag om "in die Here" te groei nie (dan kan jy nie verwag om soos Hy te "sien" en "dink" nie). Natuurlik is dit belangrik wat se soort geestelike kos en water (wat terloops nodig is vir groei) jy neem, want as jy die verbode "vrugte" eet, sal jy die dood oes. As jy gaan drink by ander bronne (maw, afgode aanbid of raadpleeg), dan kan jy nie verwag om "in die Here" te groei nie (in so 'n geval is jy besig om geestelik te hoereer).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Sondag 14 Junie 2020

Kinders moet gesien en nie gehoor word nie

Ons voorouers was slim mense.  Hulle het verstaan die belangrikheid van wysheidspreuke en hoe dit kinders se persepsie van die lewe beïnvloed. Dit wil ook voorkom of baie van die gesegdes waarmee Afrikaanse kinders elke dag grootword ook 'n skriftuurlike basis het.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Natuurlik is die begrip agter 'n gesegde belangrik want net soos in die geval met waarheid, word gesegdes somtyds misbruik.  Bv., een so 'n gesegde wat somtyds misbruik word is die van "kinders moet gesien maar nie gehoor word nie". Soos ons weet is die bedoeling van hierdie gesegde dat kinders liefs moet stilbly (veral in grootmens geselskap), want waar kinders uit hulle beurt uit praat en probeer slim wees wanneer hulle eintlik nog onkundig is, kan hulle 'n geselskap ontstig of selfs gekke maak van hulleself.

Afhangende van hoe hierdie gesegde gebruik en toegepas word het dit die vermoë om 'n kind óf te breek óf te bou. Natuurlik moet kinders toegelaat word om hulle stemmetjies te oefen, en hulle moet die geleentheid gegun word om te leer hoe om hulleself uit te druk in woorde (al is dit somtyds in grootmens geselskap) - in hierdie geval moet kinders beslis "gehoor" word, ja,  maar ons is geleer daar is 'n tyd en 'n plek... Ons laat somtyds met opset toe dat kinders uit hulle beurt uit praat en dan lag almal tog te lekker en geniet dit wat die kind kwytraak, maar op sy tyd, want hierdie kan 'n probleem wees sou die grootmense iets belangrik bespreek of die kind toegelaat word om voort te gaan in sy onkunde, of jy hom laat dink dat hy 'n punt beet het wanneer hy eintlik nie het nie. Kinders het ook die vermoë om gou opgeblase te raak, en baiemaal weet hulle iets ja, maar besef nie altyd dat hulle nog baie het om te leer nie.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:

'n Ander probleem met kinders wat op 'n verkeerde tyd gehoor word is in die geval waar hulle 'n geselskap oorneem deur vrae en nuuskierigheid. Wanneer kundige grootmense saam kuier en 'n kind 'n oorlas maak van homself deur onnodige vrae te vra of te probeer verstaan waarvan die grootmense praat, kan dit 'n vergadering ontstig - in so 'n mate dat die grootmense nie 'n ordentlike gesprek meer kan voer nie. Sulke kinders moet liewer op 'n ander tyd vir hulle ouers hierdie vrae vra en moet ook leer dat daar iets is soos privaat gesprekke. Dieselfde gebeur in die kerk wanneer die wat onkundig is die vergadering ontstig deur vrae te vra op die verkeerde tyd. 'n Goeie vb. hiervan is dit wat gebeur het in die gemeente van Korinthiërs.  In hierdie geval sien ons 'n klompie vrouens wat die orde van die gemeente verkeerdelik beïnvloed het deurdat hulle lering soek op 'n verkeerde tyd (1 Kor. 14:35). Hierdie vrouens was onkundig en, in plaas van om by hulle kundige mans te leer op 'n ander tyd by die huis, het hulle die gemeente ontstig deur allerhande vrae. Waar kundiges saamgesels is dit altyd 'n probleem wanneer onkundiges die gesprek oorneem (al is dit ook omdat hulle wil leer). Hierdie vrouens was soos "kinders" in die geloof wat nog nodig gehad het om by die "grootmense" te leer - ook om daardie rede was hulle beveel om liewer stil te bly en hulle mans by die huise te vra!  Die probleem vandag in die kerk is nie dat vrouens meer onkundig is as mans nie, maar is dat ons nie altyd onderskei tussen wie in die kerk (hetsy man of vrou) baba of kind is, wie jongmens is, en wie vaders is nie. 

 In die kerk kry ons dus ook hierdie ander soortgelyke probleem, nl. dat sommige wat nog kinders is in Christus, optree asof hulle jongmense of vaders is in die geloof -  en buite hulle beurt praat of probeer slim wees net tot hulle eie skande. En somtyds word diesulkes selfs toegelaat om leiersposisies in te neem in die kerk. Dit is altyd die probleem met talentvolle kinders, is dat dit hulle somtyds opgeblase maak. Die gemeente van Korinthiers het ook hierdie fout gemaak en gedink dat omdat hulle in geen genadegawe terugstaan nie, hulle kan oordeel en lering gee - dit het veroorsaak dat daar groot foute gemaak is, en ten spyte van hulle gawes vgl. Paulus hulle met babas en kinders in die geloof wat nog nie met vaste spys gevoed kan word nie, maar met melk.  Nog iets wat "kinders" (en dus "onkundiges") ook maklik doen is om ander verkeerd te oordeel as gevolg van hulle beperkte kennis. Net soos kindertjies kan hulle iemand maklik kwalik neem omdat hulle nog nie iets verstaan nie. En wanneer dit gebeur is dit ongelukkig nie net tot hulle eie skande nie maar baiemaal ook tot skande van die kerk! - omdat hulle nie net dan verkeerd oordeel nie maar ook somtyds die wat buite is oordeel (wat weer op beurt tot gevolg het dat die Naam van die Here gelaster word-Rom. 2:24). Natuurlik moet die wat nog "kinders" is in die geloof ook die geleentheid gegun word om gehoor te word, ja, maar op tyd en plek.  As die wat nog kinders is in die geloof die fout maak om soos jongmanne of vaders op te tree, kan dit die evangelie skade doen omdat hulle nog nie altyd weet waarvan hulle praat nie, en hulle ook nog nie eens heeltemal geoefen is (soos "jongmanne") om te onderskei tussen goed en kwaad nie.

Die wat nog "kinders" is in die geloof moet leer wanneer om te praat en wanneer om stil te bly (die kerk het 'n verantwoordelikheid om hierdie aan hulle te leer). Hulle moet ook leer om die wat verder opgegroei het in die geloof se gesprekke te respekteer, en liewer stil te bly as te vinnig 'n opmerking te maak. Elkeen wat nuut weergebore is (maak nie saak hou oud hy is, of watter prominente posisie hy in die samelewing het nie!), is soos babas in Christus en het nodig om te groei na kind en jongmens en vader... (1 Joh. 2).  En omdat 'n baba nog met melk gevoed word en nog nie alle "kosse" (in hierdie geval geestelike kos) kan verteer nie, moet daar nie veel van hom verwag word nie maar hy moet liewer gevoed word;  en moet ook nie toegelaat word om soos vaders op te tree as hulle eintlik nog kinders is nie!  Hulle moet ook geleer word om liefs stil te bly waar kundiges saamgesels en versigtig wees om ander te oordeel (Heb 5:13,14 - "Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei").
------------------------------------------------------------------------------------------------------------