Donderdag 01 September 2022

Elke BEDELING 'n nuwe tydperk

Geleerdes deel die Skrif  in verskillende "bedelings"/tydperke op, en in elke tydperk word reëls, regulasies, offers ens., verskillend vervul (bv., ons moet "onderskei tussen wat is heilig en wat nie", of "onderskei tussen wat is rein en wat nie" in verskillende tydperke/bedelings/dispensasies oor die eeue). Bv., voor die sondvloed (word somtyds na verwys as die "Edeniese bedeling") was vleis nie deel van die mens se dieet nie, maar na die sondvloed wel (Gen. 9:1-4; 1:29). Nog 'n vb. is, onder die ou bedeling was die offersisteem onder die wet van Moses gevolg maar in die nuwe bedeling nie... Baie wette bly dieselfde in verskillende bedelings, maar sommige word anders vervul, en nuwe wette kom by waar daar in meer diepte na spesifieke gevalle gekyk word. Die "eeu" waarin ons leef ("hierdie eeu", wat strek van Jesus se geboorte en eindig op wanneer Hy terugkom) kan ook gesien word soos 'n "bedeling", en die "volgende eeu" (wanneer Jesus sal regeer vir 'n 1000 jaar oor die aarde vanuit Jerusalem) sal weer 'n nuwe bedeling wees. 

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Net soos wette verander en verskillend vervul word wanneer 'n land nuut opstaan of 'n nuwe regering oorneem, en wette bykom waar dit nodig is, net so werk dit in die koninkryk van God.  Vir die kinders vd Koninkryk bly basiese reëls dieselfde in verskillende bedelings, maar dit word nie noodwendig dieselfde vervul nie, en in elke bedeling kom nuwe wette by... Ons het bv. steeds vergifnis nodig in die nuwe testament, maar vergifnis is anders verkry in die O.T.  Daar is steeds wette rondom wat die kind van God mag eet en wat nie, maar dit word anders vervul in hierdie nuwe bedeling. Basiese feite oor wat is reg en verkeerd (bv., wat as sonde gesien word) het nie verander nie, maar in die nuwe bedeling word daar in meer diepte daarna gekyk (wette het bv. 'n sterker betekenis gekry) bv., in die ou bedeling was nie verstaan dat "haat vir 'n broeder" ook soos moordpleeg gesien word nie - wette kom m.a.w. by soos kennis vermeerder en oordele geskied dus ook anders (bv. verskillende soorte straf in verskillende situasies). Dit is wat gebeur in 'n land/koninkryk waarin 'n nuwe regering oorneem of die wettestelsel verbeter. Hoe vergifnis verkry word of oordele uitgevoer word in verskillende bedelings, het m.a.w. ook 'n invloed op wette - 'n land het miskien doodstraf gehad het in 'n vorige bedeling maar in 'n nuwe bedeling word die straf anders uitgevoer (bv. dat so iemand nou lewenslank tronkstraf kry). Of 'n land mag in 'n vorige bedeling 'n basiese wet gehad het vir diewe, maar in 'n nuwe bedeling 'n paar nuwe wette bygekry het vir diewe afhangende van verskillende situasies van steel (en dit beinvloed weer die manier hoe iemand geoordeel word). 

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:


In die koninkryk van God is daar wette wat dieselfde bly tussen verskillende bedelings, maar sommige wette word anders vervul in nuwe bedelings, en sommige oordele word dus ook anders uitgevoer wanneer wette bykom. Woorde wat veral in die Skrif gebruik word om te verwys na wette en offers wat verander in verskillende bedelings, is die woorde "ou testament" (2 Kor. 3:14) of "nuwe testament" (Matt. 26:28; 1 Kor. 11:25; 2 Kor. 3:6; Hebr. 9:15; 12:24) - die woorde "hierdie eeu" of die "volgende eeu" (soos bo gesien) word ook gebruik om na verskillende "bedelings" te verwys. Die begrip "O.T." (2 Kor. 3) en "N.T." (Matt. 26:28; Luk. 22:20; 1 Kor. 11:25; Hebr. 9:15; 12:24) verwys deels na die letter en deels na die offersisteem (Mark. 14:24). Wat "letter" en "vergifnis" aanbetref, was kinders vd Koninkryk in die O.T. onder die wet van Moses, maar in die Nuwe Testament is hulle onder Jesus Christus (die Hoof vd kerk) en onder Sy Gees (deur wie Hy teenwoordig is). In die O.T. moes kinders vd koninkryk die wet van Moses gehoorsaam (was maw "onder die wet"), maar in die N.T. is kinders vd koninkryk onder Jesus Christus (maw, nie "onder die wet" nie, maar "onder die Gees"). 

Weergeborenes moet hulle vereenselwig met die wette van die N.T. 

Die wat aan die koninkryk van God behoort is nie sonder wet nie.  Ons moet verstaan wat het verander tussen die ou en nuwe testament, en moet leer wat van ons verwag word in hierdie "bedeling". Elkeen van ons bly in 'n land met wette en moet ons vereenselwig met die basiese wette vd land en dit gehoorsaam, en mense is in plek gestel om hierdie wette af te dwing... -  dit is nie verskillend in koninkryk van God nie - in die Here se Koninkryk is daar wette vir die kinders vd Koninkryk, en Christene moet leer wat hierdie wette is. Hierdie wette is nie bedoel om saligheid te bewerk nie, maar bedoel vir die wat saligheid het (maw, vir die wat aan die koninkryk behoort). Die Here het ook bedienaars in die kerk aangestel om Sy wette af te dwing (asook sekere oordele uit te voer - net soos wat gebeur in 'n land met 'n wettestelsel)(bv. deur sommige onderskeiding te gee, die kudde te lei tot gehoorsaamheid, suurdeeg uitwerk, ens.). 

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.