Woensdag 03 Augustus 2022

Is die Christen onder 'n wet? (1)

Wat is 'n Land/Koninkryk sonder wette of riglyne?  In 'n land waar daar geen wet is nie kan mense doen wat hulle wil, en aan ander mense doen wat hulle wil! - en hulle sal nie kan gestop word, of daarvoor geoordeel word nie... Ons verstaan maar alte goed die belangrikheid van wette, maar hoe is dit moontlik dat sommige dink dat in die Koninkryk van God wette nie belangrik is nie?, of dink dat die kinders vd Koninkryk onder geen wet is nie?  Elke koninkryk het 'n wettestelsel waarvolgens die wat aan daardie koninkryk behoort, geoordeel word, en die koninkryk van God is nie anders nie... Vir 'n groot deel van die Ou Testament was kinders van die Koninkryk (van God) onder "die wet" (van Moses)(en is deur dit beoordeel). In die Nuwe Testament is kinders vd Koninkryk nie meer onder die wet van Moses nie, ja, en kan dus nie daarvolgens beoordeel word nie, maar dit beteken nie dat die Christen onder geen wet is nie - in die koninkryk van God is daar 'n goeie wettestelsel, en Jesus en Sy dissipels het hierdie wette neergelê in die "evangelie vd koninkryk" (Matt. 4:23; 24:24; Hand. 8:12). Ook elkeen wat in Jesus Christus glo, word gevul met die Heilige Gees en Sy wette word op hulle harte geskrywe. Weergeborenes weet goed wat is reg en verkeerd en wat die Here verwag, en die Heilige Gees (die Gees van waarheid) sal nie iets anders leer as wat Jesus geleer het nie...
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Christene is onder die "WET VAN VRYHEID" ('n wet vir "vryes")(Jak. 1:25; 2:12). Sommige dink dat "vryheid" beteken ons kan doen wat ons wil en glo wat ons wil, maar l.w. dat die wat vry is, duur gekoop is! Christene is vry, ja, maar dit beteken nie dat hulle vry is van alle wet nie, want vryheid gaan nie net oor waarvan jy vry is (bv. vry vd wet van Moses, of vry van slaafskap onder sonde) nie, maar ook oor hoe jy vrygekom het... Bv., omdat Christene vrygekoop is deur Jesus Christus, behoort hulle nou aan Hom (is vry, maar 'n slaaf van Christus-1Kor. 7:22; Rom. 7:4 - hulle dien nie meer die wet nie / dien nie meer die sonde nie, maar dien Jesus Christus) - "vryheid" gaan dus nie net oor "waarvan" jy vry is (en asof jy nou onder niemand is nie!), maar vryes is onder die wet van die Een deur wie hulle vrygekoop is - hulle behoort nou aan Hom - is onder Jesus Christus / is onder die Heilige Gees (deur wie Hy teenwoordig is), en "vryes" sal eendag deur Sy wet geoordeel word (Jak. 2:12,13 -  "Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur DIE WET VAN VRYHEID geoordeel sal word. Want die oordeel sal onbarmhartig wees oor die wat geen barmhartigheid bewys het nie; en die barmhartigheid roem teen die oordeel"). 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
As die Christen dink hy is onder geen wet nie kan so 'n verkeerde siening tot gevolg hê dat hy wetteloos begin lewe - en ons sien hierdie vandag in sommige kerke gebeur.  Dit is ook die groot rede waarom party kerke hulle eie wette begin opmaak, want wanneer jy glo dat jy onder geen wet is nie en sien dat jy eintlik een nodig het, dan moet jy wet maak. Dit is gevaarlik wanneer Christelike kerke die waarheid ignoreer (bloot omdat hulle glo hulle is onder geen wet nie - asof hulle nie 'n meester en koning het nie) en dan self begin besluit wat is reg en verkeerd. Vele leerstellings in die kerk is vandag mensgemaak en in stryd met "die wet van vryheid". Sommige Christene word selfs kwaad en sien dit as "oordeel" as daar gehoorsaamheid van hulle verwag word, en glo nie dat enige sonde wat 'n Christen doen tot die dood kan lei nie (al leer die Skrif iets anders). Die waarheid is dat baie Christene vandag glo in 'n "ander evangelie" - een waar mense kan doen wat hulle wil, glo wat hulle wil, doen aan ander wat hulle wil..., en hulle glo dat hulle onvoorwaardelik vergewe sal word en nie daarvoor geoordeel sal word nie (??) - wat 'n snaakse evangelie! Wie wil aan so 'n koninkryk behoort? Wat van die een wat in daardie koninkryk onderdruk word? - niemand sal hom kan help nie. Wie wil deel wees van 'n koninkryk waar geen wet is nie, waar mense steel en lieg en bedrieg, doen en glo wat hulle wil, selfs onbarmhartig optree, en daar niks van hulle verwag word, hulle onvoorwaardelik vergewe word, en hulle geensins geoordeel sal word nie? Ongelukkig is dit die tipe evangelie wat deesdae deur sommige Christene verkondig word - so 'n denkwyse is niks anders as krimineel nie. In 'n koninkryk waar beslis wette is maar mense optree asof hulle onder geen wet is nie, is daar geen vrees vir die Wetgewer nie.  Hierdie soort evangelie wat deesdae verkondig word (van doen en glo wat jy wil en maak nie saak wat jy doen, jy sal onvoorwaardelik vergewe word daarvoor, en geen sonde wat jy doen kan tot die dood lei nie) is 'n evangelie/boodskap wat eerder kriminele grootmaak as wat dit 'n goeie boodskap is vir kriminele wat wil verander!

God is 'n God van orde, nie wanorde nie. Hy is regverdig, nie onregverdig nie. Die ware evangelie leer dat alle mense geoordeel sal word, en hierdie oordeel "begin by die huis van God"...! (1 Pet. 4:17). In die ware evangelie het die Here die reëls neergelê op wat is reg en wat is verkeerd. In die ware evangelie is daar 'n Wetgewer ja, en Hy moet gevrees word. In die ware evangelie word daar van Christene verwag om die Here te gehoorsaam - om vas te hou aan Sy woorde en vir Hom te lewe. (Luk 6:46 - "En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?")
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:


Die begrip "wet van vryheid" kan o.a. na verwys word as "wet van geloof" (Rom. 3:27), wat verwys na hoe die mens geregverdig word deur die geloof (sonder die werke vd wet). Dit is inderdaad so dat ons nie geregverdig word deur werke nie (Rom. 8), maar l.w. dat die Skrif ook verklaar dat ons nie alleen deur geloof geregverdig word nie! (maar ook deur werke...)(Jak. 2:24). Alhoewel iemand geregverdig word deur GELOOF, is GELOOF SONDER WERKE DOOD (die Christen het gebooie, ja... - anders gestel, geloof word bewys deur werke/gehoorsaamheid). Ons doen nie werke om saligheid te verkry nie, maar omdat ons saligheid het. Die "die wet van vryheid" is vir "vryes" - m.a.w. is 'n wet van die wat ONDER Jesus Christus is:
- IS ONDER DIE WET VAN CHRISTUS (is aan Jesus Christus gehoorsaam)(1 Kor. 9:21; Joh. 8:36; Rom. 8:2) ;
- IS ONDER DIE WET VD GEES (is aan die Gees gehoorsaam)(Rom. 7:6; 8:1-4; Gal. 5:18; Rom. 8:1-11; Joh. 6:63).  

Jesus het baie gepraat oor "wat van ons verwag word" en Christene sal beslis geoordeel word volgens die woorde wat Hy gespreek het (Joh. 12:48) - in daardie opsig is Sy woorde soos 'n wet vir die wat in Hom glo (Rom. 2:12; Jak. 2:12-14). Alles goed en wel om te bely jy glo in Jesus, ja, maar verstaan dat dit beslis beteken jy sal ook geoordeel word volgens Sy woorde/wet (want jy GLO in Hom!). Christene is onder die wet van Christus (1 Kor. 9:21) - Hy is hulle hoof/Koning - hulle behoort aan Hom (moet Hom dus gehoorsaam).

------------------------------------------------------------------------------------------------------------ -----------------

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.