Dinsdag 19 Mei 2020

Die keiser se nuwe klere

Daar is 'n rede waarom die mens homself beklee en dit het veral te doen met "naaktheid". Ons verstaan goed wat dit beteken om ons uiterlike mens te beklee, maar weet ons hoe die innerlike mens beklee word?

Kinders van die Here word gesien soos mense wat BEKLEE is, maar wanneer hulle in sonde stap is hulle besig om hulleself te ontbloot. Die geestelike betekenis van naaktheid in die Skrif gaan bv. veral oor "skaamwees en vernedering" (Openb. 16:15; 2 Kor. 5:3; Hand. 19:16; 1 Kor. 4:11; Hos. 2:3; Jes. 20...)(en somtyds weens ontbloting). Om naak rond te loop of om naak gemaak te word in die publiek is 'n skande en die wat so rondloop word belaster en hanteer soos uitvaagsels vd wêreld, en volgens Paulus "die afskraapsel van almal" (1 Kor. 4:11-13).  Op dieselfde wyse sal die wat naak bevind word wanneer Jesus terugkom hanteer word soos afskraapsel...  Dus, alhoewel Christene "beklee" is, moet hulle hul KLERE (waarmee hulle bedek is) BEWAAR, anders staan hulle die gevaar dat hulle hulself eendag in 'n skaam naakte posisie bevind wanneer Jesus terugkom - soos die keiser wat gedink het hy is geklee maar nie was nie! (Openb. 16:15 - "Kyk, Ek kom soos ‘n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie"). Baie Christene stap rond soos mense sonder klere (soos die kaal koning) en staan die gevaar dat hulle "skaamte so eendag ontbloot" word. Die begrip "skaamte ontbloot" gaan ook nie net oor om iemand kaal te sien nie maar word veral gebruik in die konteks met waar vleeslike gemeenskap ongeoorloof is, en die skaamte dus in so 'n geval dan ontbloot word (Eseg. 23:18). Bv., om geestelik te hoereer (bv. leringe van duiwels aan te hang, of afgode te aanbid, ander afgodspraktyke te volg ens.)(Eseg. 16:36,37; Hos. 2:10) het hierdie gevolg.  Christene wat dit doen is besig om hulle "skaamte te ontbloot".  Wanneer ons vashou aan gebooie van mense en eerder kies om leringe te glo wat in die gehoor streel en/of sondes regverdig. of leringe van duiwels aanhang, of besig is met afgodspraktyke, dan is ons besig om ons skaamte te ontbloot. Sulke Christene word tipies "lou" genoem omdat hulle hangende is tussen die Here en die bose. So iemand dink miskien hy's is ryk aan kennis en ontbreek niks, tog is hy arm (omdat sy kennis bv. uit gebooie van mense bestaan, of omdat hy gesig koop deur die Here te verloën, of omdat hy sy antwoorde op verkeerde plek soek bv. afgodspraktyke raadpleeg). Sou hy in die spieël kyk, sal hy sien hy is kaal! M.a.w., sou hy in die Woord kyk, sal hy sien hy's kaal. Die waarheid maak hierdie verskil, maar dan moet iemand natuurlik nie sy hart teen die waarheid verhard nie! Sommige Christene reken dat valse leerstellings en afgodspraktyke geensins jou geloof kan beinvloed of jou "bekleding" kan bevlek nie, maar die waarheid is dat sou jy besig word met hierdie dinge, jy besig is om die Here te versoek - en dus besig is om nie meer Hom alleen dien nie - word dan gesien as "lou"! Die Christen is beklee ja, maar neem sorg dat jy jou klere bewaar en moenie jouself kaal uittrek nie!
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Elke persoon bekyk sy uiterlike ten minste eenkeer op 'n dag in die spieël voor hy by die deur uitgaan.
'n Spieël help ons om onsself te sien, maar as jy 'n bedekking het oor jou gesig sal jy nie mooi sien nie. Hierdie is gewoonlik die rede waarom mense ook nie altyd die woord verstaan of die waarheid ken nie - nie dat dit nooit vir hulle vertel is of hulle die waarheid nie gehoor het nie, maar a.g.v. 'n bedekking wat hulle oor hulle hart en sinne trek, is hulle soos mense wat nie mooi "sien" nie (asof daar 'n bedekking is oor die gesig). Hierdie soort "bedekking" word ook in beeldspraak gebruik in die skrif in 2 Kor. 3:14-18 (van die wie se "sinne verhard is")(intellek en gedagtes verhard) - in die betrokke gedeelte verwys dit na die wat, al hoor hulle die waarheid, steeds kies om ongelowig te bly;  m.a.w. asof  hulle " 'n bedekking " het oor hulle hart - 2 Kor. 3:15.  Sou so iemand hom tot die Here bekeer, dan "word die bedekking natuurlik weggeneem" (2 Kor. 3:16);  -meer presies, dan neem hyself die bedekking weg omdat hy dan kies om te glo!  Vgl dit gerus met die tema van "harte verhard". Iemand wie se hart verhard is kan m.a.w. gesien word soos iemand wat homself in die spieël kyk maar nie mooi kan sien nie omdat hy 'n bedekking het oor "sy hart". Let wel dat die onderwerp van "hart verhard" gaan oor wetendes (wat hulle harte verhard, bv. die Farao in die Eks. verhaal), nie onwetendes nie. Hierdie is die groot verskil tussen die wat glo en die wat nie glo nie;  bv. die wat kies om ongelowig te bly kan nie "sien" nie, maar gelowiges "sien" en kan beskryf word soos mense met onbedekte gesig, dat wanneer hulle in die speël (bv. vd woord) kyk, hulle istaat is om te "sien". (2 Kor. 3:18).

"Natuurlike mense" sien ook anders as "geestelike mense", want natuurlike mense (die gebore uit die saad van Adam) het die "gees van dwaling" ('n wêreldse gees), terwyl geestelike mense die Gees van God het (is gebore uit die saad van God) en het dus insig en verstand. Natuurlike mense sukkel bv. om geestelike kos te verwerk (en kan dit daarom nie verstaan nie), want net soos 'n plant lig nodig het om kos en water te kan verwerk, net so kan natuurlike mense nie geestelike kos en water verwerk nie want hulle het nie LIG vd Heilige Gees nie. Natuurlike mense kan dus ook miskien gesien word soos mense met 'n bedekking oor hulle gesig wat veroorsaak dat hulle nie mooi kan "sien" nie;  daarom verstaan hulle nie die geestelike dinge nie.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Op dieselfde wyse kan die wat hulleself gelowig noem maar vashou aan die ou verbond gesien word soos mense wie se harte BEDEK is (2 Kor. 3). Wanneer iemand bely hy glo maar sy sinne verhard teen Jesus Christus, kan hy nie die nuwe verbond betree waarin hy gelei word deur die Heilige Gees om te "sien" (wette op hart geskrywe) nie - asof 'n bedekking oor die gesig. Die wat aan die ou verbond vashou maak hierdie fout, en dit is dat hulle hul deur die wet van Moses laat lei i.p.v. om hulle tot Jesus Christus te bekeer en deur Sy Gees gelei te word. Wanneer die koning  in die spieël kyk, sien hy hy is kaal!;  tog volg hy blindelings wat vir hom vertel word.
]
Dit is baie dieselfde met die wat valse of verdraaide leerstellings volg in plaas van Jesus se woorde, die wie eerder hulle hoop plaas in menslike gebooie en leringe - hulle kyk m.a.w. in die spieël (vd Woord) maar kies om hulle harte en sinne te verhard daarteen en soos die keiser blindelings liewer die leuen te volg. Bv., baiemaal is die rede waarom iemand 'n valse leerstellling volg nie a.g.v. onkunde nie, maar omdat hy sy hoop plaas in mense of in die kerk waaraan hy behoort, eerder as in die woorde van Jesus Christus.  Hy weet m.a.w. goed dat dit wat hy hoor nie heeltemal klop met die waarheid nie of met Jesus se woorde nie, tog trek hy 'n bedekking oor sy gesig... (hy verhard sy sinne/hart teen die waarheid). Soos die keiser ignoreer hulle wat hulle sien! Wat sal gebeur met hierdie gelowiges wanneer Jesus terugkom?, want hulle is soos mense wat klere aanhet tog is hulle klere bevlek, of hulle is naak. Gelowiges wat hulle harte verhard teen die waarheid, is besig om die Here te versoek en besig om hulle klere uit te trek...
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:


Net soos Adam en Eva bewus geword het van hulle naaktheid nadat hulle gesondig het (Gen. 2:25; 3:7), net so laat sonde ons innerlike "naak".  Daarom het ons klere nodig bv. "klere van heil" (Jes. 61:10; Gal. 3:29), of nodig om "beklee te word met Christus". Christene is soos mense wat BEKLEE is, maar wanneer hulle hul KLERE uittrek of besoedel (Openb. 3:4; Openb. 7:13,14) en nalaat om die klere te was, bv. nalaat om hulle te bekeer van sonde of kies om lou te wees, sal hulle onkant gevang word wanneer Jesus terugkom (Openb. 3:3). Hierdie soort gelowige kan o.a. ook voorgestel word soos iemand wat SLAAP (is m.a.w. nie wakker nie / die wat besig is met werke van duisternis en eie begeertes bevredig), of kan miskien voorgestel word soos die wat geestelik as DRONK gesien word (hulle sinne bedorwe / m.a.w. verwys na die wat hulle eie wil doen i.p.v. om die Here se wil te doen)(bv., sommige regverdig hul eie sonde en beweeg selfs ander om ook te sondig, en verdraai so die waarheid...).

Terwyl Christene BEKLEE is moet hulle daarop ag gee dat hulle hul KLERE BEWAAR!
_________________________________________________________________________________
harte verhard: https://warechristene.blogspot.com/2020/04/hart-verhard.html
met Christus beklee: https://warechristene.blogspot.com/2020/01/met-christus-beklee.html
wit klere: http://eindtydonderwerpe.blogspot.com/2017/05/wie-oorwin-sal-beklee-word-met-wit-klere.html
verheerlikte liggaam: https://warechristene.blogspot.com/2017/11/verheerliktegeestelikeonverganklike.html
bedroef nie: https://warechristene.blogspot.com/2013/02/en-bedroef-nie-die-heilige-gees-van-god.html

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.