Wys tans plasings met die etiket boek van die lewe. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket boek van die lewe. Wys alle plasings

Dinsdag 28 Julie 2026

Is daar 'n volgende lewe?

 Is die dood finaal? Terwyl reïnkernasie beslis nie 'n Skriftuurlike lering is nie, beteken dit nie dat ons nie 'n volgende lewe kan hê nie. Weergeborenes (in wie die Heilige Gees, die Gees van waarheid is) glo bv. nie dat die mens eenvoudig ophou bestaan die oomblik wanneer hulle sterwe nie;  inteendeel, hulle hou vas aan die belofte dat, al kom hulle teenwoordige lewe tot einde, sal hulle vir ewig sal lewe. In die eerste gemeentes was daarna verwys as die "toekomende lewe" (1Ti 4:8). Ja, weergeborenes verwag 'n lewe na die dood..., en het bv. nie net die belofte dat hulle (liggame) eendag opgewek sal word uit die dood (wanneer Jesus terugkom) nie, maar die wat "opstaan tot lewe" het ook die belofte dat hulle nie deur die tweede dood sal gaan nie... (Openb. 2:11; 20:6)(Joh. 5:25-29; 6:35; 10:28; 12:25; Hand. 13:48; Rom. 6:22; 1 Tim. 6:12; ens.). M.a.w., nie net sal hulle opgewek word om weer te lewe nie, maar die wat opgewek word tot lewe, sal vir ewig lewe!

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Nie almal het die belofte van hierdie volgende lewe nie, slegs die wie se name in die BOEK VAN DIE LEWE opgeskryf is (Fil. 4:3; Openb. 20:12). En ook nie alle mense se name is outomaties in die boek van die lewe nie (Openb. 13:8), want dit gaan oor "uit wie jy gebore is" en of jy jou "tot geloof in die Here God bekeer het". Dus, wat gebeur met kindes wat uit heidene gebore is en nooit tot geloof gekom het nie? - hierdie is een van daardie vrae wat die Bybel nie in eenvoud vir ons antwoord nie, maar die Skrif leer wel dat God wil hê dat alle mense gered word en tot kennis vd waarheid kom (1 Tim. 2:4);  dus is dit logies dat die Here almal 'n kans sal gee om tot geloof in Hom te kom. Die wie se name in die boek van die lewe is word tipies gesien as "GEROEPENES", wat verwys na almal wat onder die volk van God gebore word - nie net fisies uit Sy heilige volk gebore nie, maar ook die wat dit op 'n geestelike manier verkry het ("kinders van Jesus Christus"/die wat in Hom glo; bestudeer die tema "met Christus beklee").  L.w. dat ook nie almal wie se name alreeds in die boek van die lewe opgeskryf is, sal uiteindelik die ewige lewe beërwe nie... - daar is twee skrifte waarvan ons kan aflei dat sommige (van die wie se name in die boek vd lewe is) se name uitgevee kan word...(Ps. 69:29; Openb. 3:5), want dit gaan nie bloot oor "uit watter volk jy gebore is" nie, maar eintlik oor of jy GLO (geloof in die Here God is dit wat uiteindelik bepaal of iemand vir ewig sal lewe).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Wanneer ons praat oor die onderwerp van DOOD (en OORDEEL), moet ons onderskei tussen "die dood" (wanneer die liggaam sterwe) en die "tweede dood" (wanneer beide liggaam en siel in die poel van vuur gewerp word). 

DIE EERSTE DING WAT GEBEUR NADAT IEMAND (nl. die liggaam) DOODGAAN, IS OORDEEL (Heb 9:27 - "En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel"). Natuurlik is die dood self ook "oordeel"... (Gen. 2:17), maar of jy die ewige lewe gaan beërwe of nie, word bepaal in die oordeel nadat jy doodgegaan het, wanneer daar teruggekyk word na jou lewe.  Wat die kinders vd Koninkryk (die geroepenes) aanbetref, het Jesus geleer dat die wat goed gedoen het sal opstaan tot lewe, maar die wat kwaad gedoen het sal opstaan tot veroordeling (Joh. 5:29). Almal is en word m.a.w. alreeds geoordeel wanneer hulle liggame doodgaan (en almal gaan dan na verskillende plekke - Luk. 16:19-31). Daar is ook 'n TWEEDE DOOD..., nl. wanneer beide liggaam en siel in die poel van vuur gegooi word (maar dit gebeur eers aan die einde van die "volgende bedeling";  maw, na die 1000-Ryk voleindig is). Die "tweede dood" word o.a. na verwys as "die ewige oordeel" ("oordeel vd hel"/"poel van vuur")(Mark. 3:29; Hebr. 6:2; Openb. 20:14; 21:8).  Mense wat deur die tweede dood gaan, sal noodwendig nie vir ewig kan lewe nie!, maar die wat gered word sal (1) die ewige oordeel vryspring (Openb. 20:6), en (2) het die belofte van opstanding uit die dood in nuwe "verheerlikte/geestelike/onverganklike liggame". 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Daar is heelwat verdraaide of valse leringe in die omloop rondom die tema van die "dood", waarvan een so 'n lering leer dat mense in engel (wesens) of sterre verander wanneer hulle doodgaan, en 'n ander leer dat ons vir ewig in die hemel gaan bly (?). Hierdie is maar net twee van vele miskonsepsies..., en dit gebeur gewoonlik wanneer mense skrifte uit konteks neem bv., alhoewel kinders vd koninkryk eendag "soos engele" (Matt. 22:30; Mark. 12:25; Luk. 20:36) sal wees (bedoelende "kinders van God" wat bv. nie trou en ook nie doodgaan nie...) en hulle ook voorgestel word met "sterre wat skyn" (bv. die regverdiges/verstandiges sal eendag skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader...Matt. 13:43, en glinster soos die glans vd uitspansel...sommige "soos die sterre"...Dan. 12:3)), is die bedoeling in die betrokke skrifte nie om te leer dat hulle letterlik in engel wesens gaan verander of in fisiese sterre nie, maar eerder dat die wat opstaan tot lewe nie sal trou en in die huwelik uitgegee sal word nie (soos die geval met engele); en hulle sal ook nie meer sterwe nie (soos die geval met engele)(Matt. 22:30; Mark. 12:25; Luk. 20:36). Net so word die term "burgerskap in die hemele" uit konteks geneem, wat bv. nie daarna verwys dat ons vir ewig in die hemele sal bly nie, maar in konteks gaan dit oor die erfenis wat vir ons in die hemele bewaar word en waarmee ons "vandaar" eendag oorklee sal word... (verwys na die onverganklike liggaam - opstanding tot lewe). 
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Natuurlik is daar 'n hemel, en natuurlik is daar 'n hel...  Jesus Christus het self ook melding gemaak vd hemel en die hel op verskillende geleenthede..., en bv. o.a. verklaar dat daar 'n onuitbluslike vuur in die hel is... (Mark. 9:43), en Hy't die hel o.a. voorgestel as 'n plek waar die siel en liggaam verderwe kan word (Matt. 10:28)(Matt. 10:28; 23:15,33). Dit is duidelik dat Hy self gepraat het van die hel asof dit bestaan, en as Hy van die hel praat asof dit bestaan, glo ons self ook so, want ons glo in Hom en glo in Sy woorde en glo dat Hy die waarheid ken. Hy het ook die begrip "HEMEL" gebruik in die verskillende kontekste, bv. o.a. verwys na die "die hemel waar die voëls vlieg" (Matt. 6:26; 8:20; 13:32), en ook na die plek van God se troon verwys as hemel... (Matt. 5:34)(derde hemel - "BO die uitspansel")(let egter daarop die woord "hemel" nie altyd verwys na die derde hemel waar God woon nie, maar somtyds verwys na die hemel waar die voels vlieg, "LANGS DIE uitspansel", en somtyds na die hemel AAN DIE uitspansel waar die ligte is). Die eerste Christene het ook geweet dat daar 'n plek soos die hel is... In 1 Pet. 2:4 word daar o.a. verwys na 'n deel in die hel waar die engele wat gesondig het gewerp en vasgemaak is... 'n Ander vb. is die gelykenis wat Jesus vertel het vd ryk man en Lasarus (Luk. 16), en in die betrokke gelykenis was dit nie net kenmerkend dat gelowiges en ongelowiges na verskillende plekke gaan wanneer hulle doodgaan nie (vgl. dit met die tema van "oordeel" en "doderyk"), maar dit is ook hier duidelik dat die doderyk uit verskillende dele bestaan... (waarvan die poel van vuur een is, waarna ook verwys word as die plek van "ewige oordeel"/Openb. 20:10).  In die ou bedeling was dit wel so dat gelowiges en ongelowiges na hierdie verskillende plekke in die doderyk gegaan het wanneer hulle sterwe, maar in die nuwe bedeling is baie geleerdes van mening dat die wat in Christus sterf nie meer na 'n plek in die doderyk gaan wanneer hulle sterwe nie, maar "inwoon by die Here" (2 Kor. 5:8-10) - vandaar die begrip "ons gaan hemel toe wanneer ons doodgaan". Hierdie is egter steeds 'n redenasie onder sommige geleerdes wat in siening hieroor verskil. Nietemin waarnatoe Christene (se geeste) gaan wanneer hulle doodgaan, hulle gaan nie na dieselfde plek as ongelowiges nie... (Luk. 16), en wanneer Jesus terugkom sal Hy die wat in Hom gesterf het, saambring(1 Thess. 4:14).

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:


(Joh 5:24)  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Waarnatoe gaan die mens wanneer hy sterwe? Vir die vorige dagstukkie oor hierdie onderwerp (waarin veral gekyk is na hoe verskillend die dood is vir natuurlike mense as vir geestelik mense, asook o.a. gekyk na wat met die uiterlike mens gebeur wanneer iemand doodgaan en wat met die innerlike mens gebeur) gaan na: https://warechristenedagstukkies.blogspot.com/2020/05/wat-gebeur-met-die-mens-wanneer-hy.html.

Dinsdag 27 September 2016

Niks wat verontreinig is, sal ingaan in die Nuwe Jerusalem nie

Die Skrif verklaar dat niks wat VERONTREINIG is, sal ingaan in die nuwe stad Jerusalem nie (Openb. 21:27), en verklaar ook verder dat geen ONREINE 'n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie (Ef. 5:5). Slegs die wie se name geskryf is in die boek van die lewe van die Lam, sal ingaan in die toekomstige heilige nuwe Jerusalem.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Dit is nie verniet dat Christene glo dat Jesus Christus die enigste weg is tot saligheid nie, want Hy is die Een wie ons sal opwek TOT LEWE wanneer Hy terugkom.  Hierdie toekomstige opstanding (wat gepaardgaan met wat baie noem "wegraping") is iets waarna Jesus verskeie male verwys het in Sy bediening.  As ons die tema van "opstanding uit die dode/opstanding tot lewe" verstaan, dan verstaan ons ook beter waaroor die Christelike doop gaan, en dat die doop nie slegs verwys na vergifnis van sondes en 'n geestelike opstanding tot nuwe lewe nie, maar ook 'n teken is van die Christen se hoop in die toekomstige fisiese OPSTANDING TOT LEWE (tot ewige lewe). (http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/09/die-christelike-doop.html)  / ( http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/09/opsomming-die-opstanding-wegraping.html).

Maar nie almal (en ook nie almal wat bely dat hulle Christene of kinders van God is) sal waardig geag word om deel te he aan hierdie "opstanding tot lewe" nie. Baie van die wat bely dat hulle kinders van God is, se name sal uitgedelg word uit die boek van die lewe, en alhoewel hulle ook sal opstaan, sal dit wees tot veroordeling (nie "tot lewe" nie).  Meeste Christene glo vandag dat niemand wat tot geloof gekom het in Jesus Christus (en wie se naam in die boek v/d lewe opgeskryf is), ooit uitgedelg kan word nie;  tog het Jesus Christus iets anders geleer ten opsigte van die wat nie vashou en in Hom bly nieOok Dawid het geweet dat dit moontlik is (Ps. 69:28).  Die Here Jesus het verder gese dat "baie geroep is, maar min uitverkies" (Matt. 20:16;22:14). In Openb. 3:5 waarsku Hy die wat "die naam het dat hulle lewe, maar eintlik dood is";  en se verder dat dit slegs DIE is WAT OORWIN wie se name NOOIT UITGEWIS sal word nie. Met hierdie stelling wys Hy dat die wat nie oorwin nie, se name wel uitgewis sal word uit die boek van die lewe. 

Ook Openb. 22:19 is 'n verdere bewys dat dit moontlik is dat iemand se deel weggeneem kan word uit die boek van die lewe, en uit die heilige stad!  Die Skrif is duidelik:  "Niks wat verontreinig is sal ingaan in die nuwe stad Jeruslem nie, en geen onreine sal 'n erfdeel he in die koninkryk van Christus en van God nie".
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:


Maar wat is dit in Openb. 22:19 wat kan veroorsaak dat iemand se deel weggeneem word uit die boek van die lewe?    - IN HIERDIE VERS GAAN DIT OOR "DIE WAT DIE WAARHEID VERDRAAI".
Wat is dit in Openb. 3:5 wat kan veroorsaak dat iemand se naam uitgewis word uit die boek van die lewe?
-  IN HIERDIE GEDEELTE GAAN DIT OOR "DIE BESOEDELDES".  

Die Skrif gee vir ons 'n goeie aanduiding van watter Christene gesien word as "besoedeldes" (onrein) -  meer spesifiek is dit die wat in sondes stap sonder om hulle daarvan te bekeer. Bv.,  heelwat spesifieke dinge wat van binne kom, uit die hart uit, word deur Jesus genoem:  - slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid  (Mark. 7:21,22).  
Heelwat dinge wat in die O.T. veroorsaak het dat iemand besoedel word, word ook in die N.T. genoem as dinge waardeur iemand onrein word, bv.:
Christene wat deelneem aan afgodsaanbidding en heidense geloofspraktyke beoefen is ONREIN  (Lev. 18:24; 19:4,26; Hand. 15:20; 1 Kor. 10:8,20; 12:2; Matt. 6:7; 1 Joh. 5:21; 1 Tim. 4:1...)
-  Christene wat wederstrewig is en die wat geeste van afgestorwenes raadpleeg, hulle besig hou met towery en geeste wat waarse...is ONREIN  (Lev. 19:31; 20:6; Deut. 18:10; Hand. 8:9; 19:19; Gal. 5:20; Openb. 18:23...).
-  Christene wat hoereer, owerspel of egbreuk pleeg, sodomiete, of die wat met 'n dier gemeenskap het, die wat bloedskande pleeg..., is ONREIN (Lev. 19:29; Hand. 15:20; 1 Kor. 5:1; 6:10; 1 Tim. 1:10; Openb. 2:14;  Rom. 1...). 
 Christene wat afgodsoffers eet saam met die wat dit aan afgode offer, of bloed eet of dit wat verwurg is..., is ONREIN.  (1 Kor. 8; 2 Kor. 6:16....  )
-  Christene wat die waarheid verdraai en hulle eerder besighou met twisvrae, fabels verkondig en gebooie van mense leer..., het 'n slegte gewete en is ONREIN. (Lev. 24:16; Hand. 26:11; Kol. 3:8; 1 Pet. 4:4; 1 Joh. 2:4; 4:6; Ef. 4:17; Rom. 1:25.... ) 
-  Christene wat eiesinnig is, m.a.w soos koning Saul ongehoorsaam was aan die Here en eerder staatgemaak het op sy eie insig, is besig met afgodery en beeldediens; ook die wat hulle hoop plaas in wereldse rykdom en sekuriteit... is besig om twee here te dien,  en is ONREIN. (1 Sam. 15:23; Eseg. 28:4; Rom. 2:8; Tit. 1:7; Jak. 5:2; 1 Tim. 6:17; Mark. 4:19...)  

Christene wat hulleself verontreinig het nodig om weer rein te word!  Om sonde te regverdig gaan nie die reiniging aanbring nie.  Sonde moet bely en afgele word...  (Ef. 5:5 - "Want dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat ‘n afgodedienaar is, ‘n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie").

_________________________________________________________________________________
http://warechristene.blogspot.co.nz/2016/09/verontreinig-ontheilig.html
http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2015/07/die-heilige-stad.html
http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2015/10/gaan-die-opstanding-en-die-wegraping-op.html
http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2014/12/wie-op-onwaardige-wyse-eet-of-drink-sal.html
http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2015/08/die-christelike-doop.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2015/07/nuwe-jerusalem.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2016/02/verdere-aantekeninge-oor-die-nuwe.html