Wys tans plasings met die etiket sonde tot die dood. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket sonde tot die dood. Wys alle plasings

Saterdag 01 Maart 2025

Wat is die verskil tussen "Lastering teen die Heilige Gees" en "Sonde tot die dood"?

Daar is een onvergeeflike sonde in die Nuwe Testament en dit is "lastering teen die Heilige Gees". 

Is dit dieselfde as "sonde tot die dood"? Om dit te kan antwoord moet ons eers verstaan wat met beide terme bedoel word.

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------Kom ons kyk eers na lastering teen die Heilige Gees:

(1) Wat beteken dit dat dit 'n "onvergeeflike sonde" is? (Matt. 12:31,32 - "Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie. En elkeen wat ‘n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie"). Die begrip "onvergeeflike sonde" verwys na sonde wat NIE VERGEWE KAN WORD NIE. Alle ander sondes kan m.a.w. vergewe word in die N.T., insluitend bloedskuld!, sou iemand hom van sy sonde bekeer en vergifnis by Jesus Christus kry;  maar daar is een sonde in die N.T. wat Jesus NIE SAL VERGEWE NIE en dit is LASTERING TEEN DIE HEILIGE GEES. 

(2) Om te verstaan wat bedoel word met "lastering teen die Heilige Gees", moet ons eers verstaan wat die woord "laster" beteken (1 Tim. 1:19,20, vgl. met 2 Tim. 4:14,15)(2 Kon. 19:6; Hand. 13:45). Ten eerste is dit duidelik dat dit na "woorde" bv. kwaadspraak verwys;  en in die geval van "lastering teen die Heilige Gees" verwys dit na woorde wat teen die Heilige Gees gespreek word (spreek kwaad vd Heilige Gees). Kwaadspreek of laster kan gesien word soos "bedrog pleeg" (1 Pet. 3:10) - wanneer iemand laster verdraai hy die waarheid en maak of die waarheid 'n leuen is, en deur dit verag hy die waarheid. Die woord "laster" is soos om te vloek en te verag - om iemand te minag (met doel om te verwoes, die woord verwys bv. o.a. na "soos om 'n gat in iets te druk" of "'n streep daardeur te trek" -Hebr. woord "naw-kab");  m.a.w., die persoon wat laster teen die Heilige Gees, pleeg bedrog deur die waarheid 'n leuen te maak omdat hy die waarheid en die Here verag/minag.  So iemand is gemeen, hy VLOEK of vervloek iemand anders (vloek, verag, minag.. -Hebr. woord "kaw-lal")(Lev. 24:11). L.w. dat dit ook spesifiek gaan oor die wat dit WETEND doen! (dit verwys nie na onwetende sonde nie), bv. deur iemand wat opsetlik die waarheid verdraai, en word dus gewoonlik gepleeg deur die wat vals is. Bv., Paulus was vergewe vir sy lastering teen die Naam van Jesus omdat hy dit onwetend gedoen het... (Hand. 26:10), maar wanneer iemand wetend laster is hy vals! - in so 'n geval is dit gewoonlik nie so maklik om vergifnis te kry nie, en in die geval van waar iemand die Heilige Gees wetend laster, is daar nie eens 'n manier hoe daardie persoon vergifnis daarvoor kan kry nie (nie in hierdie eeu of bedeling nie, en ook nie in die volgende nie -Matt. 12:32). So 'n gemene persoon se optrede wys wat in sy hart aangaan... In die geval van Matt. 12 was die wat gelaster het teen die Heilige Gees ook mense wat hulleself voorgedoen het as opreg, maar eintlik vals was. Hulle het wetend kwaadgespreek van die Gees wat in Jesus is...;  m.a.w., wetend die waarheid verdraai en mense probeer verlei om nie te glo dat dit die Gees van God is wat deur Jesus gewerk het nie. Hulle was wetend (het geweet dat Jesus nie duiwels kan uitdryf behalwe deur die Gees van God nie), tog het hulle die skare probeer verlei deur voor te gee dat Hy 'n bose gees het sodat hulle nie in Hom glo nie, en so indirek het hulle teen die Heilige Gees gelaster;  m.a.w., hulle het die Heilige Gees gevloek, geminag, verag... 

(3) Kan ander vorme van laster vergewe word? Alle vorme van laster (bv. vloek of kwaadspreek teen ander mense of teen Jesus) kan vergewe word sou die persoon dit bely en hom daarvan bekeer en by Jesus vergifnis kry, maar lastering teen die Heilige Gees kan nie vergewe word nie, want dit is 'n sekere groep mense wat hierdie sonde pleeg! (Matt. 12:32 - "En elkeen wat ‘n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie"). Wanneer jy WETEND die Gees van God laster (Hom verag, minag, vloek) deur bv. soos in Matt. hulle voorgegee het dat dit 'n bose gees was wat werk terwyl hulle goed geweet het dit die Heilige Gees is, dan sal Jesus daardie soort veragting nie vergewe nie want sulke mense is soos vyande vd geloof - hulle gee voor hulle is vriende, maar hulle is nie.  Dit is nie net valses wat laster nie, maar somtyds gebeur dit dat gelowiges ook laster, bv. as hulle dink hulle weet iets maar is eintlik onkundig (bv. jong Christene kom dit somtyds oor). In hierdie geval verwys dit beslis na ONWETENDES, nie na WETENDES nie. Somtyds is dit 'n broeder wat afvallig geword het van die geloof wat loop en laster - dit verwys gewoonlik na mense wat nooit wortel geskiet het nie... (kyk 2de groep in die gelykenis vd saaier). Hierdie mense is ook gewoonlik onwetend, want hulle het nooit tot kennis van die waarheid gekom nie. Diesulkes verag baiemaal die waarheid of die wat die waarheid verkondig, maar bloot omdat hulle dink hulle is reg. Dit is ook 'n soort onwetendheid en kan vergewe word sou die persoon tot inkeer kom... Dit is wat "lastering teen die Heilige Gees" anders maak - die wat hierdie tipe lastering pleeg, doen dit WETEND .

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------Wat is "sonde tot die dood"?

- Terwyl die groep mense wat gewoonlik "laster teen die Heilige Gees" veral verwys na valse broeders, word die begrip "sonde tot die dood" weer meer gebruik in konteks met ware broeders wat in sonde stap (bv sonde wat bloedskuld veroorsaak) maar hulle nie daarvan bekeer nie - in so 'n geval kan sy sonde ook "tot die dood" lei. Geestelike mense het die belofte dat hulle nie deur die tweede dood sal gaan nie, maar die wat nie onder "die wet van die Gees" bly nie (en bv. verval in spesifieke sondes, bv. hoereer, afgodsaanbidding, kwaadspreek, onreinheid, gierigheid, dronkenskap, roof, ens. / 1 Kor. 6:9,10; 5:11; Ef. 5:5; Gal. 5:19-21) staan die gevaar dat hulle sonde "tot die dood" kan lei.

- Dus, sulke sondes kan tot die dood lei...., maar wanneer 'n geestelike mens hom bekeer van 'n sonde en vergifnis daarvoor kry, kan dit nie meer tot "die dood" lei nie! Die begrip "sonde tot die dood" word veral gebruik in konteks met aanhoudende sondes wat deur broeders gepleeg word maar nie afgele word nie.  Bv., as iemand kwaadspreek maar dit bely en afle, kan hy nie as 'n kwaadspreker gesien word nie;  maar iemand wat bv. aanhou om kwaad te spreek en hom nie daarvan bekeer nie - so 'n persoon is 'n "kwaadpsreker" (1Kor. 6:10). Dit help nie jy bid vir so 'n broeder dat die Here hom vergewe nie, want hy moet homself eers bekeer van die sonde (1Jn 5:16 - "As iemand sy broeder ‘n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en Hy sal hom die lewe gee—vir die wat nie ‘n sonde tot die dood doen nie. Daar is ‘n sonde tot die dood; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie"). So iemand sal maw nie onvoorwaardelik vergewe word (net omdat jy vir hom bid/vergewe) nie, maar hy moet eers die sonde afle.

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:

(1) Lastering teen die Heilige Gees word somtyds beskryf soos sonde tot die dood, maar hoewel dit sonde "tot die dood" kan wees, beskryf die term "sonde tot die dood" nie alleenlik "lastering teen die Heilige Gees" nie. 

(2) "Sonde tot die dood" kan vergewe word sou iemand dit bely en hom tot die Here bekeer... (maw, Jesus sal in so 'n geval die persoon vergewe), maar "lastering teen die Heilige Gees" kan nie vergewe word nie!

(3) Nog 'n verskil is die feit dat sonde tot dood somtyds deur broeders gepleeg word, maar lastering teen die Heilige Gees word gewoonlik deur valses gepleeg. Die wat teen die Heilige Gees laster is gewoonlik die "akteurs" in die geloof... - die wat voorgee dat hulle waar is maar is eintlik vals (bv. in Matt. 12);  sien bv. die "valse broeders", die "spotters" en die "onkruid:". Hulle lyk soos koring maar is nie koring nie, en verwys gewoonlik na "ingesluiptes"  (die struikelblokke in die kerk - ongelowiges wat onder die gelowiges gesaai word om die skape te laat struikel). Hierdie mense tree baiemaal soos verleiers op en kan gekenmerk word aan sekere optredes, bv. dat hulle goddeloos is of in ongebondenheid leef, of dat hulle Jesus verloen, of is mense wat altyd leer maar nooit tot die kennis vd waarheid kom nie... Hulle het 'n gedaante van godsaligheid maar verloen die krag daarvan. Valse profete val ook onder hierdie groep, en word o.a. voorgestel as "in skaapsklere maar van binne roofsugtige wolwe" (Matt. 7:15).  Wat doen hulle in die kerk?: - wolwe verskeur, vang die skape en jaag hulle uitmekaar... (Eseg. 22:27; Joh. 10:12). Om meer te leer oor na wie presies die "ingesluiptes" verwys kan die boek van Judas bestudeer word, waarin hulle o.a. "dwaalsterre" genoem word (want hulle dwaal!-Jus.1:14), en word o.a. beskryf as die wat volgens hulle eie goddelose begeerlikhede wandel (Jud. 1:18). Hulle is in die kerk maar nie gehoorsaam aan die Gees nie.  Hulle is veronderstel om "onder die Gees te wees" as hulle in die Christelike kerk is, maar hulle dien Hom nie maar verag Hom liewer, en is dus gewoonlik die spotters in die kerk (hulle spot oor die waarheid). 

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

https://warechristene.blogspot.com/2014/02/wat-is-die-sonde-tot-die-dood.html

https://warechristene.blogspot.com/2014/05/wat-is-die-onvergeeflike-sonde.html

https://warechristene.blogspot.com/2024/01/laster-godslasterlik-kwaadspreek.html

https://warechristenedagstukkies.blogspot.com/2019/09/ons-moet-versigtig-wees-wat-ons-oor-of.html

Woensdag 20 Mei 2020

Hoe siekte vrug affekteer

Wanneer Jesus Christus terugkom sal elke Christen (saad-plant-boom) se vrug geoes word.  Maar in hoedanige toestand sal elkeen se vrug wees?, en sal daar enige vrug wees om geoes te word? (Mark. 4:26-29; Matt. 13:30-43).  "Geestelike mense" (weergeborenes) is veronderstel om "vrug te dra tot ewige lewe" (maw vrug wat vir hulle die ewige lewe oes)(Joh. 4:36; Rom. 6:22), maar nie almal dra vrug nie, en nie alle vrug is gesond en bruikbaar nie.  En nie alle "plante" skiet eens wortel!, of bereik die stadiums van groei en vrug nie;  en somtyds word vrug verstik deur ander dinge soos dorings...
In die gelykenis vd Saaier word hierdie nogal goed verduidelik, en ons kan daaruit leer dat
Christene in 3 groepe verdeel word, nl.
(1) die wat die woord aanneem, maar geen wortel skiet nie;
(2) die wat die woord aanneem, wel wortel skiet, asook groei en vrug dra, maar weer hulle vrug verloor of onvrugbaar word;
(3) en die wat die woord aanneem, wortel skiet, groei, vrug dra, en die vrug behou en/of meer vrug dra.

Wanneer vrug geoes word word bepaal watter vrug behou, en watter uitgegooi word. Wanneer Jesus terugkom sal iets soortgelyk gebeur wanneer Hy Sy dorsvloer skoonmaak, en daar sal skeiding gemaak word tussen "koring en onkruid" (ware en valse) en "koring en kaf" (die met vrug, en die sonder vrug).
Mat 13:30 - " Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur".
- Luk 3:17 - " Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring saambring in sy skuur, maar die kaf met onuitbluslike vuur verbrand".
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:


Nie alle vrug is bruikbaar nie, en nie alle dele van 'n vrug nie. As 'n vrug bv. gewond is het dit baiemaal tot gevolg dat groot dele vd vrug uitgesny en verlore gaan.  Slegte vrug word net eenvoudig weggegooi! En somtyds is daar niks om te oes nie omdat dorings die plant verstik, of 'n plant het baie van sy vrug verloor omdat dit siek is.  Hierdie word ook in die Skrif in beeldspraak gebruik van Christene.

Siende elke Christen veronderstel is om te groei en vrug te dra, kan die toestand van hulle vrug ook op hierdie manier verduidelik word.  Sekere gelowiges word bv. somtyds na verwys as "siek" (en ons moet verstaan wat hiermee bedoel word).  As 'n Christen "siek" of ongesteld is sal dit beslis sy vrug beïnvloed. 'n Siek plant kan steeds vrug dra, ja, maar siekte het 'n invloed op vrug wat tot gevolg het dat groot dele vd vrug dalk weggesny en verlore gaan, en in uiterste gevalle kan "siekte" selfs die dood van 'n plant veroorsaak!  Of bv. veroorsaak dat die wortel vrot (wat somtyds gered kan word, en somtyds nie).  Hierdie is belangrik om te onthou wanneer daar na "siek" gelowiges verwys word.  Wanneer 'n Christen siek is (m.a.w., a.g.v. sonde) beteken dit nie dat hy nie meer vrug kan dra nie, maar hy mag in die proses baie van sy vrug verloor, en in uiterste gevalle kan sy "siekte" veroorsaak dat die wortel begin vrot, of kan moontlik "doodgaan".  "Siek" Christene is op hierdie gevaarlike plek en as hulle nie "medisyne" neem nie, kan dit onvrugbaarheid, of selfs die dood tot gevolg hê. Somtyds word 'n siekte genees (Jak. 5:19);  en somtyds lei dit tot die dood (Joh. 11:4).  Op dieselfde wyse word "siek" Christene somtyds genees, en somtyds nie! - somtyds lei dit tot die dood... Vgl. hierdie gerus met die tema van "sonde tot die dood" (m.a.w. sonde wat tot die dood lei - 1 Joh. 5:16,17; Jak. 1:15; Rom. 6:16). Slegs sondes waarvan iemand hom bekeer, kan vergewe word. As 'n Christen kies om in sonde te stap wat tot die dood lei, kan hy nie verwag om "lewe" daaruit te oes nie.

Ander beeldspraak wat ook gebruik word is die van "gewondes".  'n Gelowige wat gesien word as "gewond" kan ook groot dele van sy vrug verloor, of selfs onvrugbaar word! (sou hy hom steeds nie bekeer na sy wonding nie) - om dit heeltemal te verstaan moet ons natuurlik ook weet waarna die begrip "gewondes" verwys in die Skrif.  Gelowiges wat voorgestel word as "gewond" verwys nie net na die wat in sonde stap sonder om hulle daarvan te bekeer (soos "siekes") nie, maar meer presies na "siekes" wat deur die Here getugtig word omdat hulle nie wil hoor nie, met die doel om hulle te beweeg tot bekering. "Gewondes" kan miskien ook vgl. word met die tema van "blindes" in die Skrif (die wat lou is, "vergeet", hulle harte en sinne verhard ens.- het blind geword en kan nie meer "sien" nie)(het "salf" nodig). Elke Christen wat in sonde stap waarvan hy hom nie bekeer nie (bv. leunaars, diewe, dronkaards, kwaadsprekers, hoereerders, onbarmhartiges ens.) staan die gevaar om so "gewond" te word... (m.a.w om deur die Here getugtig te word). Gewondes verwys nie na gelowiges wat geen vrug dra nie, want dan sou hulle nie eens kans kry nie! (Joh 15:2; Matt. 3:10). Dit is 'n seer proses waarin diesulkes beslis vrug (wat hulle alreeds dra) verloor, ja, maar die snoei en skoonmaak is goed vir hulle (Openb. 3:19). 'n Gewonde kry 'n kans om reg te maak!, en hy moenie kwaad word omdat hy getugtig word nie, want al manier hoe hy van sy wond genees kan word (m.a.w. die manier hoe hy onder die tugtiging kan uitkom) is deur hom te bekeer (van die sonde). Die tugtiging is belangrik want dit is beter vir so iemand om dele van sy vrug te verloor as om sy lewe te verloor. Sou hy egter steeds na die tugtiging hom nog nie bekeer nie en bv. sy hart verhard, staan hy beslis in gevaar om heeltemal onvrugbaar te word en sal opeindig soos iemand "sonder vrug" - (Joh. 15:2 - "Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra").
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
https://warechristene.blogspot.com/2020/04/honger-dors-vreemdeling-naak-siek.html