Dinsdag 13 Oktober 2015

Word die Christen (wat glo) se sondes onvoorwaardelik vergewe?

Wanneer ons kyk na die tema van wetend of onwetende sondes, is dit veral verwysend na sondes wat kinders van die Here pleeg (ons verwys nie hier na die wat in die wereld is nie).  Alhoewel die Christen vergifnis ontvang van sonde in Christus Jesus, moet ons ook verstaan dat daar gevalle is waar sonde nie vergewe word nie;  alhoewel alle sondes (behalwe lastering teen die Heilige Gees) vergeefbaar is! (maar met voorwaardes).  Daar is m.a.w. voorwaardes wat 'n kind van die Here moet nakom voor hy vergifnis van sondes kan ontvang.  Meeste kerke leer dat die enigste voorwaarde "geloof" is in Christus Jesus, maar ons moet verstaan wat geloof beteken en dat iemand nie kan "glo" as hy hom nie ook bekeer nie.  Geloof is nie alleen 'n belydenis nie  (geloof sonder werke is dood!).  Geloof gaan oor diensbaarheid en gehoorsaamheid aan die Here.  Christene wat bv. in wetende sondes stap sonder om hulle te bekeer daarvan, bring 'n oordeel oor hulleself (1 Kor. 11:29) - M.A.W., IN SO 'N GEVAL WORD SY SONDE NIE VERGEWE NIE!
-Wie is vir die Here welgevallig?
-Aan wie bewys Hy barmhartigheid?  - DIE WAT HOM VREES en SY GEREGTIGHEID DOEN! (Hand.10:35). Baie predikers lieg deur voor te gee dat solank iemand geloof in die Here Jesus bely, die Here sy sondes onvoorwaardelik vergewe, maar dit is definitief nie wat Jesus of die dissipels geleer het nie! Inteendeel het Jesus se bediening begin deurdat Hy mense opgeroep het tot bekering (net soos Johannes die Doper gedoen het asook die dissipels na die uitstorting van die Heilige Gees), en Hy het ook verwag dat die wat Hom aanneem, onderhou wat Hy hulle beveel! (Matt. 28:19). BEKERING en GEHOORSAAMHEID was altyd deel van die voorwaardes, maar baie van vandag se predikers het hierdie boodskap verdraai.  Baie wil Jesus se vriend wees, maar hulle wil nie doen wat Hy hulle beveel om te doen nie (Joh. 15:14). Vriende le hulle lewens vir mekaar af  (Joh. 15:12,13).  Jesus was bereid om Sy lewe af te le omdat Hy vir ons almal liefhet, maar is ons bereid om (soos vriende vir mekaar doen) ons lewens af te le vir Hom?, want as 'n Christen sy eie lewe meer liefhet en bv. nie bereid is om wetende sondes af te le nie (m.a.w. nie gehoorsaam is nie), dan bewys hy dat hy nie regtig die Here se vriend is nie, want hy is nie bereid om ook sy lewe vir Hom af te le nie.  En ten spyte van die waarheid, glo baie liewer in die leuen en dink dat die Here barmhartigheid sal bewys al kom iemand nie die voorwaardes na nie, maar die waarheid is dat geen kind van die Here vergifnis van sonde ontvang AS HY DIT NIE BELY NIE (1 Joh. 1:9) - as hy weier om hom te bekeer van wetende sonde, dan kan hy glad nie staatmaak daarop dat die Here sy sonde sal vergewe nie!  (Openb. 2:5,16; 3:3,19; Jak. 5:19,20...).

Hetsy Christene dit wil glo of nie, elkeen sal geoordeel word, en die oordeel begin by die huis van God (1 Pet. 4:17-19).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Die Here is wel meer barmhartig teenoor iemand wat onwetend ("weet nie wat hy doen nie") sondig as iemand wat wetend sondig - kyk bv. Jesus se woorde aan die kruis: "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.... (Luk. 23:34 a).  Somtyds is dit regtig so dat iemand nie besef watter onreg hy aan iemand anders doen nie.  Paulus (Saulus) was so 'n vb. - hy het die Christene vervolg en nie besef dat hy verkeerd is nie. In 1 Tim. 1:12,13 verklaar hy dat die Here aan hom BARMHARTIGHEID bewys het OMDAT hy "onwetend" gesondig het.  Saulus moes eers wetend word voor hy hom kon bekeer van daardie sonde - in daardie opsig was daar aan hom barmhartigheid bewys, want die Here het hom 'n kans gegun om sy sonde te bely en nie onder oordeel te val nie.

Waar 'n kind van die Here egter WETEND sondig, moet hy nie tot insig gebring word nie, maar eerder vermaan word. Dit beteken dat daar geweier moet word dat sy sonde vergewe word tot hy berou kry en dit bely (en dan kan die sonde eers vergewe word). Die onwetende moet nie berispe word nie, maar eerder tot insig gebring word.  Die wetende moet berispe word.
(Jak. 5:19)  Broeders, as een onder julle van die waarheid afgedwaal het en iemand hom bekeer,
(Jak. 5:20)  laat hy weet dat die een wat ‘n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ‘n siel uit die dood sal red en ‘n menigte sondes sal bedek.
_________________________________________________________________________________


GEDAGTE:


Regdeur die Ou en Nuwe Testament sien ons dat iemand se sonde somtyds nie aan hom bekend is nie (hy sondig onwetend). Dit beteken egter nie dat daar geen versoening nodig is vir onwetende sondes nie; inteendeel, in die O.T. was daar 'n spesifieke offer "vir sondes wat onwetend begaan is" (Eseg. 45:20)(vgl. dit met Hebr. 9:7). 

Wanneer iemand wat onwetend gesondig het, wetend word van sy sonde, was daar ook 'n spesifieke offer wat hy daarvoor moes bring (Lev. 4:27,28). Die oomblik toe hy wetend word van sy sonde was daar van hom verwag om reg te maak. Op dieselfde wyse is Christene somtyds onwetend wanneer die waarheid aan hulle gebring word, maar die oomblik wat hulle wetend word, word daar van hulle verwag om dit te bely en hulle te bekeer van daardie sonde. So iemand kan nie verder in sonde stap asof onwetend nie, want nou is hy wetend, en as hy weier om hom te bekeer daarvan, sal hy beslis onder oordeel val daarvoor.  Net so was die waarheid aan die volk en baie van hulle owerstes gebring, na Jesus Christus se opstanding, en alhoewel hulle Hom onwetend gekruisig het (Hand. 3;17), was hulle nou WETEND en was daar van hulle verwag om hulle te bekeer tot die Here Jesus die oomblik toe hulle sonde aan hulle bekend word (Hand. 3:17-19)(1 Pet. 1:14). Die oomblik toe hulle wetend word van hulle sonde, moes hulle hul bekeer voor hulle sonde afgewas kon word. As 'n Christen hom nie bekeer van wetende sonde nie, dan sal daardie sonde nie vergewe word nie!

_________________________________________________________________________________
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/05/wat-word-bedoel-met-onwetende-sonde.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/07/soos-ons-ook-ander-vergewe-2.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/08/soos-ons-ook-ander-vergewe-3.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/09/wat-beteken-dit-om-tot-bekering-te-kom.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2012/01/is-daar-iets-soos-groot-en-klein-sonde.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/01/barmhartigheid.html

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.