Sondag 27 September 2015

Barmhartigheid

Wanneer dit by die tema van "barmhartigheid" kom, dan moet ons verseker onderskei tussen REELS en WERKE.  Alles is onderwerp aan reels.  Selfs speletjies moet gespeel word volgens bepaalde reels, bv. in elke speletjie kry elkeen 'n beurt en moet elkeen sy beurt afwag.  As iemand nie sy beurt afwag nie, kan die speletjie nie verloop soos dit moet nie en sal hy gediskwalifiseer word.  Wat help dit hy deel geld uit vir almal om die tafel of dra tee aan en laat almal op hulle gemak voel (soos "werke"), maar hy weier om die REELS van die spel na te kom, bv. wag nie sy beurt af nie?  - dit sal net tot gevolg he dat hy nie meer kan deelneem nie! En alhoewel hierdie "werke" wat hy doen wel tog nodig is, is dit nie genoeg om hom in die spel te hou nie... (En hier moet ons ook onderskei tussen of hy hierdie werke doen om selfsugtige redes, en of dit is omdat hy omgee vir die ander deelnemers?). As iemand besig is met die WERKE maar nie die REELS nakom nie, dan sal hy gediskwalifiseer word en nie meer kan deelneem nie, m.a.w. die wat nie die reels nakom nie, kan nie deelneem nie!  Maar ook op dieselfde wyse (as 'n spel regverdig is), moet die persoon wat niks omgee vir die ander deelnemers nie maar hulle uitbuit en net aan homself dink, gediskwalifiseer word! Net so is daar baie selfsugtige deelnemers op die pad van godsaligheid wat net aan hulleself dink (en geen barmhartigheid bewys nie) (en nog nie uitgegooi word nie, maar kans gegee word om reg te maak), maar wanneer Christus terugkom (om te oordeel), dan sal Hy hierdie selfsugtige deelnemers uitgooi omdat hulle onbarmhartigheid bewys het en hulle selfsugtig is en geen geloof het in die spel nie... (vgl. dit met die tema van die "skeiding van die skape en die bokke").  As iemand geen geloof het in 'n spel nie, dan gaan hy nie die reels nakom nie, maar sy eie reels opmaak. En die persoon wat nie omgee vir sy mede-deelnemers nie, maak misbruik van die spel om selfsugtige redes.

In terme van saligheid word barmhartigheid slegs bewys aan die wat die REELS NAKOM, aan die wat vir die Here liefhet en Hom gehoorsaam - hulle is die "deelnemers".  Om barmhartigheid te ontvang, is dus onderwerp aan die reels van geloof, maar as iemand nie ook die werke van die geloof het nie, dan bewys hy dat hy nie werklik glo nie en is nie werd om deel te neem nie.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Die begrip barmhartigheid verwys dus nie net na barmhartigheid wat bewys word aan iemand wat die reels nakom nie, maar kan ook verwys na "werke".  Alhoewel daar slegs barmhartigheid bewys word aan die wat vir die Here liefhet en Sy gebooie onderhou, het die Here tog kompassie met alle mense en bewys Hy aan almal barmhartigheid - m.a.w., Hy gee ALMAL 'N KANS.  Hy is goed vir almal en verwag ook van ons om goed te doen aan ander.  Hierdie "werke" wat ook gesien word soos barmhartigheid, kan nie vir iemand saligheid verwerk nie, maar is tog 'n bewys dat iemand gehoorsaam is aan die Here en dat hy sy naaste liefhet soos homself (dit is nou as hy nie die werke doen om selfsugtige redes nie).  Dit beteken egter nie dat daardie persoon aan wie die barmhartigheid bewys word nie die REELS hoef na te kom nie! En dit beteken ook nie dat die een wat barmhartig is, nie die reels hoef na te kom nie!  As Jesus bv. alreeds geoordeel het toe Hy die eerste keer gekom het, dan sou daar aan niemand barmhartigheid bewys kon word nie, want almal is sondig en niemand kon die wet onderhou nie;  maar wanneer Hy terugkom, dan kom Hy wel "om te oordeel" en barmhartigheid sal slegs bewys word aan die wat Hom liefhet en gehoorsaam - m.a.w. aan die wat die reels van geloof nakom (Jak. 3:17)(1Pe 1:3).  
_________________________________________________________________________________


GEDAGTE:



- Almal moet 'n kans gegun word om DEEL TE NEEM ("ons moet barmhartig wees")

- maar om deel te neem moet iemand ook die reels gehoorsaam (sodat hy ook in die einde barmhartigheid kan ontvang!)(- vgl. dit gerus met die temas van "wedergeboorte" en "vrug tot ewige lewe"). 

- Die persoon wat omgee vir sy mede-deelnemers, is die een wat geloof het in die spel (hy bewys barmhartigheid)(en bewys deur sy barmhartigheid dat hy glo).

Alhoewel die Here van ons verwag om kompassie te he vir ander mense (soos Hy beskryf in die gelykenis v/d barmhartige samaritaan) en van ons verwag dat dit nie moet geskied met aanneming van die persoon nie (Jak. 2:1-13; Luk. 1:50), beteken dit nie dat barmhartigheid nie onderwerp is aan reels nie. Om "IN DIE OORDEEL" barmhartigheid te ontvang, moes jy die REELS van geloof nagekom het...;  en jou WERKE bewys dat jy glo!
_________________________________________________________________

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.