Saterdag 20 Oktober 2018

Kan en moet daar eenheid wees tussen verskillende Christelik kerk denominasies?

Die vele denominasies van die Christelike kerk is baiemaal die eerste punt wat deur die teëparty gelig word wanneer die evangelie gedeel word met mense van ander gelowe.  Hierdie verskillende Christelike denominasies is vir ander gelowe 'n teken van "oneenheid" en hulle hou dit maklik voor as 'n rede waarom hulle niks te doen wil hê met Christenskap nie. Wie wil enige iets te doen hê met 'n groep waar die mense vd groep nie eens saamstem oor wat hulle presies glo nie?  Hierdie toestand is beslis nie ideaal vir 'n groep wat beweer dat hulle die ware evangelie verkondig nie...

Inderdaad is die verskillende denominasies 'n teken van oneenheid, maar sou jy aan hulle verduidelik dat alle Christelike kerke Jesus Christus in gemeen het, en dat die oorsaak van hierdie denominasies is óf omdat mense wegbeweeg van die waarheid óf omdat hulle terugbeweeg daarnatoe, dan het dit al vele male tot gevolg gehad dat so iemand se tëenstand teen die Christelike kerk verdwyn want dit wys immers dat Christene nie enige iets glo wat vir hulle vertel word nie! Dit beweeg daardie persoon om ook self te beoordeel of dit wat hy glo wel die waarheid is.
 ------------------------------------------------------------------------------------------------------------
"Kerk" het veral te doen met "wat is waarheid" - wat is dit wat verkondig word vir waarheid?, of wat is dit wat gesien word as "waarheid"?  Die rede vir soveel verskillende demoninasies van Christelike kerk gaan beslis daaroor dat elke kerk se "waarheid" verskil (m.a.w. dit wat hulle sien "as waarheid").  Oor die algemeen is die basiese beginsels dieselfde, maar daar is tog wesenlike verskille op sekere eerste beginsels van prediking (wat natuurlik nie eens veronderstel is om so te wees nie). Die geskiedenis van die kerk is veral interessant omdat dit 'n skets is van waar die Christelike kerk van waarheid afgedwaal het en/of vasgehou het of teruggekeer het na waarheid.  Daar is vandag seker nie een Christelike kerk wat die volle waarheid verkondig nie - elke kerk het leerstellings waarin die waarheid verdraai word of waar daar afgedwaal is van die waarheid. "Wat die WAARHEID is" is egter inderdaad belangrik!  Dit word natuurlik van elke Christen verwag om nie net die waarheid te soek nie maar dit ook te beskerm en daaraan vas te hou -en as dit verskillende denominasies tot gevolg het, laat dit dan liewer so wees as wat mense 'n blinde leier volg en a.g.v. daarvan ook in die sloot val. Inteendeel, God het geen probleem met klein groepe as dit hulle eerder beskerm nie! - Hy het immers die mensdom se taal verwar (hulle verskillende tale gegee) met die doel om 'n groot afval te stop... (Gen. 11). Om daardie rede is dit m.a.w. beter vir die mensdom om in verskillende kulture ingedeel te wees. Die Christelike kerk kan op dieselfde wyse dit miskien as 'n genade sien dat hulle huidiglik in klein groepe opgedeel is want dit was/is nodig. Die wêreld verstaan dit nie, want hulle kyk vas in die oneenheid i.p.v. om te verstaan dat eenheid 'n val tot gevolg het as daardie eenheid nie op die waarheid gegrond is nie. Ander gelowe se mense het miskien eenheid in hulle sieninge maar sal elkeen saam met die res van hulle mense verlore wees as hulle nie die waarheid leer ken nie - so, wat het hulle sogenaamde eenheid vir hulle beteken? Wanneer die hele wêreld in eenheid agter die Antichris aangaan, sal hulle ook "soos een" val! Eenheid beteken niks as dit nie op waarheid gebou is nie...

Dit is net reg dat lidmate opstaan vir die waarheid wanneer ander lidmate of leiers dit verdraai!  As deel van God se priesterdom (1 Pet. 2:5,9) is hierdie deel van elke Christen se plig! - m.a.w. om o.a.  "die kennis te bewaar" (Mal. 2:7; 2 Kron. 17:8,9; 30:22; Esra 7:10). DIE WAARHEID IS BELANGRIK.  Ons moet versigtig wees vir leermeesters wat skape probeer stilmaak wanneer hulle die waarheid wil beskerm of daaraan vashou.  Christene mag en moet opstaan vir die waarheid! -en as die gevolg daarvan ongelukkig tot 'n ander denominasie lei, dan is dit beter as wat skape blinde leiers volg en hulle saam in die sloot val... (Matt. 15:14; 23:16,24).
 ------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Die geskiedenis van die (Christelike) kerk oor die eeue is belangrik omdat dit vir ons die toestand vd kerk oor die eeue beskryf. Die eerste 100 jaar het bv. heelwat anders daarna uitgesien as die volgende eeue daarna. Wat veral baie aandag geniet het in die eerste 100 jaar vd Christelike kerk is die soeke na "wat is waarheid" en die opdrag om daaraan vas te hou. Ons sou natuurlik graag wou terugkeer na hoe dit was in die eerste kerke; alhoewel ons moet verstaan dat daar alreeds in daardie dae groepe was wat die waarheid probeer verdraai het. In vele skrifte word Christene gewaarsku teen hierdie valse leermeesters en aangemoedig om eerder die waarheid te soek en DAARAAN VAS TE HOU.  Selfs in die boek van Openb. (in die briewe aan die 7 gemeentes) sien ons hoe belangrik Jesus Christus dit ag dat Sy skape "vashou" en nie afwyk vd waarheid nie, en Hy hulle selfs kwalik neem wanneer hulle valse leerstellings toelaat en sondes probeer regverdig deur ander leerstellings! (Openb. 2:20...).
Vandag is daar sommige Christene wat glo dat die manier om die wêreld te wen is om soos die wêreld te word... (baie teenstrydig met wat die Skrif leer). Hulle is eerder besig om wêreldse wysheid te verkondig as wat hulle die waarheid verkondig. Selfs die waarheid oor wat is sonde en wat nie, word verdraai. Dit hoort nie so by Christene nie!  Christene kan nie glo wat hulle wil nie maar is veronderstel om te glo wat die Here besluit "is waarheid". Ons moet verstaan dat baie leerstellings wat vandag voorgehou word as "revolutionêr" eerder wegbeweeg van die waarheid as wat dit aan die waarheid vashou. Waar 'n kerk begin nalaat om die waarheid te verkondig of ophou om daarna te soek en nalaat om daaraan vas te hou, is hulle nie besig om hulle bediening te vervul nie! So 'n tipe "revolusie" kan lei tot vreeslike afvalligheid waar daar nie eenheid is op "wat is waarheid" nie, bv. waar die leiers die waarheid verdraai en weier om hulle te bekeer daarvan. In so 'n geval is dit beter om te verdeel as om soos een groot groep in die sloot te val...  Baie wat hulleself vandag Christene noem stem nie eens saam met Christus se leringe nie! - net soos wat gebeur het in die eerste eeue van Christelike kerk (vgl. dit bv. met die gnostiese leringe...).
Jesus Christus het vir ons die waarheid gebring en die wat nie vashou aan Sy leringe nie (die wat m.a.w nie daarin glo nie), glo nie in Hom nie! Hulle noem hulleself Christene, maar as hulle nie in Sy woorde (waarheid) glo en gehoorsaam is aan Sy Gees nie, dan glo hulle nie werklik in Hom nie.
 ------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:

Die eerste Christene het Christus se leringe en die waarheid wat Hy gebring het baie ernstig opgeneem, en het heelwat tyd spandeer om Sy leringe te verstaan en die Skrifte te ondersoek... Hoeveel tyd spandeer ons regtig met die Here, met Sy se leringe en om by Hom die waarheid te soek? Waarmee is ons regtig besig? Is ons besig om te "glo wat ons wil"?, of besig om Sy wil te soek?  Eeue van "revolusie" in die kerk was belangrik omdat dit juis gebeur het a.g.v. die "soeke na waarheid", en alhoewel dit nie ideaal is dat daar soveel denominasies is nie is dit belangrik sodat die waarheid verkondig kan word (net soos wat verskillende tale in die wêreld die mensdom in groepe opdeel sodat hulle nie almal soos een "val" nie).  Oor die eeue was daar manne van God wat opgestaan het vir Sy waarheid, en was selfs bereid om hulle lewens daarvoor te verloor - en as gevolg daarvan word die waarheid vandag nog gepreek!
Natuurlik is dit belangrik dat ons steeds opstaan vir die waarheid (net soos hierdie manne gedoen het). Ons moenie vir een oomblik dink dat die Here tevrede is daarmee wanneer ons valse profete en leermeesters in die kerk toelaat nie (Openb. 2:20...). Waar daar valse of verdraaide leerstellings TOEGELAAT word kan dit vreeslike gevolge hê vir daardie kerk.

Ons moet ook nie "ter wille van vrede" die wat die waarheid verkondig, stilmaak nie.  Eenheid tussen Christelike kerke is inderdaad iets wat na gereik moet word, maar nie eenheid in verskille (soos om die waarheid te onderdruk) nie, maar eenheid in die waarheid (die waarheid moet gesoek en bewaar word). Die is die enigste manier waarop daar regtig eenheid tussen Christelike kerke kan kom. In die eerste kerke was Christene nie toegelaat om "elkeen te glo wat hulle wil" (soos vandag die geval is nie), maar eerder was hulle aangemoedig om die WAARHEID te soek en te bewaar: -(Ef. 4:11-15 - "En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring; maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus"). As ons nie "eenheid in waarheid" soek nie, sal daar nooit eenheid wees nie!  In die geval waar hierdie element ontbreek, is verskillende denominasies dus beter sodat die waarheid bewaar en steeds verkondig kan word.  Christene kan nie regtig "glo wat hulle wil nie" - hulle "waarheid" is veronderstel om te wees wat die Here besluit "is waarheid". As lidmate of 'n kerk se leiers wetend is of tot kennis kom, maar steeds kies om vas te hou aan "wat hulle self eerder wil glo" (m.a.w. te glo wat in stryd is met die waarheid en 'n vals of verdraaide waarheid verkondig) dan is hulle besig om opsetlik in opstand te kom teen die waarheid - en nie net dit nie, maar verander in valse profete of valse leermeesters wat mense lei om eerder in hulle te glo as in die waarheid.

Eenheid word dus nie verkry deur die waarheid op te gee of te onderdruk nie, en sonder die waarheid is geen "eenheid" waarlik eenheid nie!  Verskeie Christelike kerke volg 'n verkeerde vb. vandag wanneer hulle waarheid probeer vasstel deur "raadsbesluite" - asof hulle nog nie die waarheid ken nie?, en asof mense besluit wat is waarheid en wat nie!? Ons moet natuurlik ook onderskei tussen die wetendes en onwetendes, maar moet almal begeer om wetend te word! - nie wetend deur 'n spesifieke leermeester of 'n spesifieke kerk se leerstellings nie, maar wetend van die WAARHEID... En daarom nie vir ons leermeesters versamel wat ons in die gehoor streel of wat by die wêreld inpas nie, maar leermeesters wat gehoorsaam is aan die Heilige Gees en die waarheid soek en verkondig, sodat ons tot volwassenheid kan groei en nie rondgeslinger word deur allerhande leringe nie...
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
https://warechristene.blogspot.com/2015/04/eersgeborenes-en-eerstelingepriesters.html
http://sondagskooltuis.blogspot.com/2015/04/die-geloofwaardigheid-van-die-bybel_43.html
http://warechristene.blogspot.com/p/die-waarheid.html

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.