Wys tans plasings met die etiket gee ag op roeping. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket gee ag op roeping. Wys alle plasings

Donderdag 31 Desember 2015

Waarvoor is jy geroep?

In hierdie dagstukkie gaan ons veral kyk na "lot" in geval van IDENTITEIT, m.a.w., waarvoor is elkeen GEROEP? Is hy bv. geroep as slaaf of as vryman? Is hy geroep as man of as vrou? Hierdie is die dinge wat identiteit beskrywe.   Paulus praat o.a. ook hiervan in 1 Kor. 7, van hoe Christene moet bly in die roeping waarvoor hulle geroep is (1 Kor. 7:20), m.a.w. om nie ontevrede te wees in dit waarvoor hulle geroep is nie.  As jy geroep is as 'n slaaf (m.a.w. waar omstandighede 'n rol speel), moet jy jou nie kwel daaroor nie, maar as jy natuurlik kan vrykom daarvan, is dit ook jou lot en moet jy gebruik maak van die geleentheid om vry te raak (1 Kor. 7:21).  Is iemand egter as ‘n besnedene geroep (iets wat meer "identiteit" beskrywe)— hy moet die besnydenis nie laat verander nie. Is iemand as onbesnedene geroep—hy moet hom nie laat besny nie (1Kor. 7:18)...    Waar lot nie slegs te doen het met omstandighede nie, maar eerder identiteit beskrywe, moet elkeen sy lot aanvaar en nie begeer om daarvan los te kom nie. Is jy geroep as 'n Jood of as 'n besnedene, dan moet jy dit nie laat verander nie. Is jy geroep as man, dan moet jy dit nie laat verander nie. Is jy geroep as vrou, dan moet jy dit nie laat verander nie...
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
IDENTITEIT word nie slegs gevorm deur wat se soort werk iemand doen of oor watter talente hy beskik nie, maar word veral gevorm DEUR DIT WAARTOE IEMAND GEROEP IS.  Is jy geroep as eersteling of jonger seun?  Is jy geroep as 'n priester of 'n profeet?  Dit is die dinge wat iemand se identiteit eerder beskryf het in die Ou Testament.  Simson was spesifiek GEROEP om 'n nasireër te wees en geroep om Israel te verlos uit die hand van die Filistyne, en natuurlik saam met daardie "identiteit" het die Here hom vaardig gemaak (deur Sy Gees) om dit te kon doen (Rig. 14:6,19; 15:14). Besáleël en Ohóliab was geroep om die artikels vir die tabernakel te maak, en die Here het hulle ook bekwaam gemaak (deur Sy Gees) vir die werk (Eks. 31:1-6).
Dawid was geroep om koning te wees.  Moses was geroep om die volk uit Egipte te lei deur die woestyn. Joshua was geroep om die volk in die beloofde land in te lei.  Elia was geroep om 'n profeet te wees.  Jakob, alhoewel nie oorspronklik die eersgeborene seun nie, was geroep om 'n eersgeborene te wees en die voorvader van die 12 stamme van Israel.  HIERDIE DINGE WAS HULLE "LOT", en dit is die dinge wat hulle IDENTITEIT BESKRYF HET. En kyk ons na elkeen van hierdie mense, Simson, Dawid, Moses, Joshua, Elia, Jakob, Besáleël en Ohóliab...... is dit almal mense wat die Gees van God op hulle gehad het! Die volk Israel was bv. GEROEP AS GOD SE VOLK en daarom het Hy ook Sy Gees in hulle midde gegee.

As hulle nie hulle lot aanvaar het nie, was hulle as ongehoorsames bestempel. Die wat deel was van die volk maar nie Sy voorwaardes nagekom het nie en nie die Here se wil gesoek het nie, was die wat nie hulle lot aanvaar het nie en was as die ongehoorsames bestempel.  Die wat afgode aanbid het en hulle vertroue geplaas het in heidense praktyke, was as ongelowig bestempel.  Die gesindheid van die regverdige is anders as die van die ongehoorsame. Die regverdige aanvaar sy lot, die ongehoorsame nie.   Dit is bv. waarvoor Johannes die doper geroep was, om o.a. "die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges" terug te bring (Luk 1:17), l.w. "om vir die Here ‘n toegeruste volk te berei". Die Skrif verklaar dat die ongehoorsames nie sal ingaan in die Here se rus nie  - Hebr. 3:18  -  en Hebr. 3 word juis begin met die woorde: "Daarom, heilige broeders, deelgenote van die hemelse roeping......." (Hebr. 3:1).  Hy gaan verder en verduidelik hoe ons nie ons harte moet verhard soos sekeres van die volk in die woestyn nie, want as gevolg van sonde en ongeloof het baie van hulle nie in Sy rus ingegaan nie (Hebr. 3:17-19).  Hierdie mense het nie "HULLE LOT" AANVAAR NIE. Toe die Here hulle omstandighede verander van slaaf na vryman, en hulle die geleentheid aangegryp het, moes hulle hul nuwe lot aanvaar het, maar in plaas daarvan wou hulle liewer weer langs die vleispotte van Egipte sit en het heeltyd gemurmureer en kla. (http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2014/04/wanneer-jy-die-here-se-wil-doen-beteken.html ). Die wat kinders van die Here word, word op dieselfde wyse vrygekoop van die slawerny van sonde.  In die Nuwe Testament word elke kind van God (nie net sekeres nie) geroep soos "konings en priesters" (http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2015/06/n-heilige-priesterdom-n-volk-as-eiendom.html ), OM VRUG TE DRA (Joh. 15:16).  Daarom ontvang elke ware kind van God die Gees van God en maak die Here hulle bekwaam vir spesifieke werke of bedienings waartoe Hy hulle bestem het en werk Sy gawes deur hulle soos nodig omdat hulle in Sy diens is.  Christene word gesien soos eersgeborenes, 'n priesterlike volk in Sy diens! (Hebr. 12:22,23; 1 Pet. 2:9,10). Nie in ons eie diens nie, maar ons identiteit word beskryf in die hierdie lot - ons is in Sy diens.  Ons is 'n priesterdom, 'n heilige volk en 'n volk as eiendom verkry - ONS BEHOORT AAN DIE HERE.  Laat ons nou nie soos baie van die volk in die woestyn nalaat om ons lot te aanvaar en a.g.v. sonde of ongeloof afgesny word nie!
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:


Die Christen se identiteit word nie beskryf deur slegs watter soort werk hy doen of oor watter talente hy beskik nie, maar dit word beskryf deur sy ROEPING as eersgeborene, koning en priester vir die Here. Hy word gevul deur die Gees van God en bekwaam gemaak vir werk. Hy het hierdie keuse gemaak om 'n vryman te wees van die Here, m.a.w. GEROEP AS VRYMAN, en 'n SLAAF VAN CHRISTUS. (1 Kor. 7:20-23 - " Laat elkeen in die roeping bly waarin hy geroep is. Is jy as slaaf geroep, laat dit jou nie kwel nie; maar as jy ook vry kan word, maak daar des te meer gebruik van. Want die slaaf wat in die Here geroep is, is ‘n vrygemaakte van die Here; so is ook hy wat as vryman geroep is, ‘n slaaf van Christus. Julle is duur gekoop; moenie slawe van mense word nie").  Die Christen se lot is om die wil van die Here te doen, nie sy eie wil nie.  Sy lot is om die Here se kennis te bewaar en 'n boodskapper vir die Here te wees.  Baiemaal is sommige egter eerder boodskappers vir sielkunde of ander heidense praktyke en wereldse kennis en laat hulle eersgeboortereg pligte na waarin hulle boodskappers vir die Here moet wees. Ook baiemaal is sommige eerder besig om die kennis te verdraai as om dit te bewaar. 

Net soos die pligte van die eersgeborenes onder die volk van God aan die Leviete gegee is (Num. 3:41-51), net so is die pligte van die priesterdom nou aan elke ware kind van God gegee. Maar ons wat nou die pligte van die eersgeborenes verkry het moet versigtig wees, want dit is a.g.v. ongehoorsaamheid en ongeloof dat die eersgeborenes onder die volk hulle eersgeboortereg verloor het en dit toe aan die Levietiese stam gegee is. Net so moet die Christen as deel van die volk van eersgeborenes nie verval in sonde en ongeloof en dink dat hy nie sy eersgeboortereg kan verloor nie.. 

ONS MOET AG GEE OP ONS ROEPING! (1 Pet. 2:9-25).


------------------------------------------------------------------------------------------------------------

(2Co 2:15)  Want ons is ‘n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan;
(2Co 2:16)  vir die laaste ‘n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste ‘n reuk van die lewe tot die lewe. En wie is tot hierdie dinge bekwaam?
(2Co 2:17)  Want ons is nie soos baie wat handel dryf met die woord van God nie; maar as opregtheid, maar as uit God, in die teenwoordigheid van God, spreek ons in Christus.

2Co_3:5  Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God, 
2Co_3:6  wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend. 

Col_1:12  en die Vader mag dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig—