Wys tans plasings met die etiket kinders. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket kinders. Wys alle plasings

Woensdag 19 Januarie 2022

Die waarde van 'n nederige mens

Jesus het geleer dat ons soos kindertjies moet word: 
(Mat 18:3,4 - "en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie! Elkeen dan wat homself verneder (Griekse woord "tap-i-no'-o", wat beteken "om jouself laer te maak") soos hierdie kindjie, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele").    Natuurlik het Hy nie hier bedoel dat ons vir altyd kinders moet bly en nooit opgroei in die geloof nie!, maar eerder gaan "soos kinders wees" hier oor "nederig wees" (kyk konteks - moet "verneder") -  kinders moet onderdanig wees, gehoorsaam wees, ens  (moet hulleself ondergeskik stel aan die gesag wat oor hulle is). Dit gaan m.a.w. nie oor wat kinders somtyds is, bv. dit verwys nie na opstandige en ongehoorsame kinders nie, maar is meer verwysend na wat logies verwag word van kinders (dat hulle hulself moet verneder).  

Nederigheid is 'n goeie kwaliteit en belangrik vir 'n kind om te kan opgroei in 'n ordentlike grootmens! Mense wat nie met hierdie kwaliteit grootword nie draai baiemaal uit as opstandig en ongehoorsame grootmense... (opgeblase, dink hulle weet beter, kan nie onder gesag staan nie, is selfsugtig..., ens.).  Ons verwys somtyds na diesulkes as "die wat nooit grootgeword het nie" en vgl. hulle met "is nog 'n kind". Hierdie is natuurlik ook die rede waarom baie Christene sukkel om geestelike te groei (van baba tot kind, jongmens, vader...), is wanneer hulle nie is "soos kinders" veronderstel is om te wees nie (hulle is nie nederig nie). Bv., wanneer 'n nuut weergeborene dink hy weet beter as sy leermeesters, dan is hy nie nederig nie.  Wanneer 'n nuut weergeborene bly stap in ongehoorsaamheid en nie die Here vrees nie, dan is hy nie nederig nie...  Die pad van godsaligheid is inderdaad belangrik en hierdie pad begin by KIND-wees, want net soos 'n mens groei van baba tot volwassene, so groei die geestelike mens (as nuutgeborene) ook van baba en kind tot jongmens, tot volwassene...  (hierdie word oor die algemeen na verwys as "geestelike groei"). Onderdanigheid en 'n leersame gees is belangrik vir geestelike groei (1Pe 2:2 - "en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei")
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Hoekom is dit so belangrik vir 'n kind om nederig te wees? 
Uit Ef. 4:13,14 en Hebr. 5:12-14 leer ons dat wanneer geestelike mense nog "kinders" is hulle nog nie volkome tot die eenheid vd geloof gekom (hulle sukkel somtyds nog met geloof) of tot die eenheid vd kennis vd Seun van God gekom het nie (hulle is nog nie altyd seker wat die Here se wil is nie en leer Hom nog ken). Hulle word ook maklik bedrieg/versoek! omdat hulle nog nie goed gewortel is nie, en besit nog nie die geestesvermoens om goed van kwaad te onderskei nie (hulle sukkel nog om te onderskei tussen die ware en die valse).  Babas/kinders kan ook nog nie vaste spys verteer nie en is daarom nog onervare in die woord vd geregtigheid en moet nog die eerste beginsels vd woorde van God geleer word... (hulle het nog nie baie kennis nie en verstaan nie alles nie). HIERDIE IS ALLES MEER AS GENOEG REDE WAAROM GEESTELIKE MENSE WAT NOG BABAS EN KINDERS IS, NEDERIG BEHOORT TE WEES. As 'n "geestelike mens" sy kind-stadium probeer "skip" (deur bv. hoogmoedig of beterweterig te wees, of nooit tot gehoorsaamheid kom nie, ens.), sal hy opeindig as 'n "geestelike volwassene" wat eintlik nooit grootgeword het nie! Kinders wat dink hulle weet alles, leer niks! Kinders wat nie die gesag oor hulle vrees nie, leer nie om gehoorsaam te wees nie....  Hierdie is ongelukkig wat somtyds in die kerk gesien word - geestelike "grootmense" wat al lank op die pad is maar nooit grootgeword het nie. Hulle sukkel nog met die geloof, sukkel om te onderskei tussen waar en vals, weet nie wat die wil vd Here is nie, ontbreek basiese kennis, sukkel om die bose te oorwin, ens. Die verskillende trappe in geestelike groei is belangrik, ja, en dit begin by om jouself te verneder (soos 'n KIND)... (https://warechristenedagstukkies.blogspot.com/2020/06/kinders-moet-gesien-en-nie-gehoor-word.html).

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:


Die ewige lewe word nie belowe aan die hoogmoediges nie, maar spesifiek aan die wat sagmoedig, ootmoedig en nederig van gees is (Matt. 5:5; Ps. 37:11; 147:6). Jesus het self hierdie geleer, asook het baie profete vd Here so geleer...  (Spr. 16:19 - "Dit is beter om nederig van gees te wees saam met die ootmoediges (nederiges, armes / "lowly") as om buit te verdeel met die trotsaards"). "Kinders" is nog dom en besit nog nie veel nie..., en dit die rede waarom weergeborenes somtyds hierdie kind-stadium wil vryspring.  Dit is vir hulle moeilik om hulleself te VERNEDER as mense wat nog nie veel weet en besit nie - hulle is nog "dom" en nog nie ryk in die Here nie... In wêreldse terme word dom en arm mense nie juis gesien as mense met veel waarde nie, maar volgens Jesus se woorde is "om laaste te wees" juis tot iemand se redding (Matt. 19:30; 20:16; Mark. 9:35; Luk. 13:30); -nie bedoel dat werke vir iemand redding kan bewerk nie, maar bedoel dat nederigheid 'n kwaliteit is van die wat gered word. 

- "Om laaste wees" word in Matt. 19 beskryf as die wat die Here kies bo besittings en familie (wat is belangriker?).  
- In Matt. 20 verwys dit na die wat tevrede is met wat hulle kry en nie staatmaak op wat hulle dink hulle verdien nie (is jy vergenoeg en verwag niks?).  
- In Mark. 9 word hulle beskryf as die wat die mentaliteit het van dienaars en nie in die pad staan van die wat die waarheid verkondig nie (dien jy?, islief vir waarheid?).
- In Luk. 13 verwys hierdie groep na die wat die Here ken en Sy geregtigheid soek (vertrou jy Hom?, en is jy Hom gehoorsaam?).
Hierdie is inderdaad die teenoorgestelde van 'n "eerste wees-mentaliteit".  Hoogmoedige mense weier om laaste te wees... - hulle dink tipies hulle verdien meer as ander, is selfsugtig, maklik ontevrede, is baiemaal opgeblase, wil gedien word i.p.v. om te dien...  Dit is kommerwekkend as 'n Christen hierdie optredes toon, want hoogmoedige mense sukkel om ander te vertrou en weier om onder gesag te staan. 'n Nuut weergeborene wat hoogmoedig begin op die pad van geestelike groei, gaan nie goeie vrug dra nie.

'n NEDERIGE Christen gee nie om om "laaste te wees" nie - hy vrees die Here / is 'n tevrede mens / is 'n dienaar / doen wat die Here wil / ens.).  God weerstaan die hoogmoediges (maar aan die nederiges gee Hy genade!)(1Pe 5:5). Terwyl ons as Christene almal op 'n pad van geestelike groei is, moet ons seker maak dat ons NEDERIG is soos kinders (dit wat van 'n kind verwag word), sodat ons kan groei in die geloof tot mense wat goeie vrug dra. 
_________________________________________________________________________________


Sondag 14 Junie 2020

Kinders moet gesien en nie gehoor word nie

Ons voorouers was slim mense.  Hulle het verstaan die belangrikheid van wysheidspreuke en hoe dit kinders se persepsie van die lewe beïnvloed. Dit wil ook voorkom of baie van die gesegdes waarmee Afrikaanse kinders elke dag grootword ook 'n skriftuurlike basis het.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Natuurlik is die begrip agter 'n gesegde belangrik want net soos in die geval met waarheid, word gesegdes somtyds misbruik.  Bv., een so 'n gesegde wat somtyds misbruik word is die van "kinders moet gesien maar nie gehoor word nie". Soos ons weet is die bedoeling van hierdie gesegde dat kinders liefs moet stilbly (veral in grootmens geselskap), want waar kinders uit hulle beurt uit praat en probeer slim wees wanneer hulle eintlik nog onkundig is, kan hulle 'n geselskap ontstig of selfs gekke maak van hulleself.

Afhangende van hoe hierdie gesegde gebruik en toegepas word het dit die vermoë om 'n kind óf te breek óf te bou. Natuurlik moet kinders toegelaat word om hulle stemmetjies te oefen, en hulle moet die geleentheid gegun word om te leer hoe om hulleself uit te druk in woorde (al is dit somtyds in grootmens geselskap) - in hierdie geval moet kinders beslis "gehoor" word, ja,  maar ons is geleer daar is 'n tyd en 'n plek... Ons laat somtyds met opset toe dat kinders uit hulle beurt uit praat en dan lag almal tog te lekker en geniet dit wat die kind kwytraak, maar op sy tyd, want hierdie kan 'n probleem wees sou die grootmense iets belangrik bespreek of die kind toegelaat word om voort te gaan in sy onkunde, of jy hom laat dink dat hy 'n punt beet het wanneer hy eintlik nie het nie. Kinders het ook die vermoë om gou opgeblase te raak, en baiemaal weet hulle iets ja, maar besef nie altyd dat hulle nog baie het om te leer nie.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:

'n Ander probleem met kinders wat op 'n verkeerde tyd gehoor word is in die geval waar hulle 'n geselskap oorneem deur vrae en nuuskierigheid. Wanneer kundige grootmense saam kuier en 'n kind 'n oorlas maak van homself deur onnodige vrae te vra of te probeer verstaan waarvan die grootmense praat, kan dit 'n vergadering ontstig - in so 'n mate dat die grootmense nie 'n ordentlike gesprek meer kan voer nie. Sulke kinders moet liewer op 'n ander tyd vir hulle ouers hierdie vrae vra en moet ook leer dat daar iets is soos privaat gesprekke. Dieselfde gebeur in die kerk wanneer die wat onkundig is die vergadering ontstig deur vrae te vra op die verkeerde tyd. 'n Goeie vb. hiervan is dit wat gebeur het in die gemeente van Korinthiërs.  In hierdie geval sien ons 'n klompie vrouens wat die orde van die gemeente verkeerdelik beïnvloed het deurdat hulle lering soek op 'n verkeerde tyd (1 Kor. 14:35). Hierdie vrouens was onkundig en, in plaas van om by hulle kundige mans te leer op 'n ander tyd by die huis, het hulle die gemeente ontstig deur allerhande vrae. Waar kundiges saamgesels is dit altyd 'n probleem wanneer onkundiges die gesprek oorneem (al is dit ook omdat hulle wil leer). Hierdie vrouens was soos "kinders" in die geloof wat nog nodig gehad het om by die "grootmense" te leer - ook om daardie rede was hulle beveel om liewer stil te bly en hulle mans by die huise te vra!  Die probleem vandag in die kerk is nie dat vrouens meer onkundig is as mans nie, maar is dat ons nie altyd onderskei tussen wie in die kerk (hetsy man of vrou) baba of kind is, wie jongmens is, en wie vaders is nie. 

 In die kerk kry ons dus ook hierdie ander soortgelyke probleem, nl. dat sommige wat nog kinders is in Christus, optree asof hulle jongmense of vaders is in die geloof -  en buite hulle beurt praat of probeer slim wees net tot hulle eie skande. En somtyds word diesulkes selfs toegelaat om leiersposisies in te neem in die kerk. Dit is altyd die probleem met talentvolle kinders, is dat dit hulle somtyds opgeblase maak. Die gemeente van Korinthiers het ook hierdie fout gemaak en gedink dat omdat hulle in geen genadegawe terugstaan nie, hulle kan oordeel en lering gee - dit het veroorsaak dat daar groot foute gemaak is, en ten spyte van hulle gawes vgl. Paulus hulle met babas en kinders in die geloof wat nog nie met vaste spys gevoed kan word nie, maar met melk.  Nog iets wat "kinders" (en dus "onkundiges") ook maklik doen is om ander verkeerd te oordeel as gevolg van hulle beperkte kennis. Net soos kindertjies kan hulle iemand maklik kwalik neem omdat hulle nog nie iets verstaan nie. En wanneer dit gebeur is dit ongelukkig nie net tot hulle eie skande nie maar baiemaal ook tot skande van die kerk! - omdat hulle nie net dan verkeerd oordeel nie maar ook somtyds die wat buite is oordeel (wat weer op beurt tot gevolg het dat die Naam van die Here gelaster word-Rom. 2:24). Natuurlik moet die wat nog "kinders" is in die geloof ook die geleentheid gegun word om gehoor te word, ja, maar op tyd en plek.  As die wat nog kinders is in die geloof die fout maak om soos jongmanne of vaders op te tree, kan dit die evangelie skade doen omdat hulle nog nie altyd weet waarvan hulle praat nie, en hulle ook nog nie eens heeltemal geoefen is (soos "jongmanne") om te onderskei tussen goed en kwaad nie.

Die wat nog "kinders" is in die geloof moet leer wanneer om te praat en wanneer om stil te bly (die kerk het 'n verantwoordelikheid om hierdie aan hulle te leer). Hulle moet ook leer om die wat verder opgegroei het in die geloof se gesprekke te respekteer, en liewer stil te bly as te vinnig 'n opmerking te maak. Elkeen wat nuut weergebore is (maak nie saak hou oud hy is, of watter prominente posisie hy in die samelewing het nie!), is soos babas in Christus en het nodig om te groei na kind en jongmens en vader... (1 Joh. 2).  En omdat 'n baba nog met melk gevoed word en nog nie alle "kosse" (in hierdie geval geestelike kos) kan verteer nie, moet daar nie veel van hom verwag word nie maar hy moet liewer gevoed word;  en moet ook nie toegelaat word om soos vaders op te tree as hulle eintlik nog kinders is nie!  Hulle moet ook geleer word om liefs stil te bly waar kundiges saamgesels en versigtig wees om ander te oordeel (Heb 5:13,14 - "Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei").
------------------------------------------------------------------------------------------------------------