Wys tans plasings met die etiket reg doen. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket reg doen. Wys alle plasings

Dinsdag 10 Junie 2025

Hare op die tande hê

Ons voorouers was slim mense.  Hulle het verstaan die belangrikheid van wysheidspreuke en hoe dit kinders se persepsie vd lewe beïnvloed.  Een so 'n Afrikaanse spreekwoord is die van "hare op die tande hê" wat verwys na iemand met deursettingsvermoë. Die spreekwoord "hare op die tande" kom van 'n groep gevreesde Switserse huursoldate met woeste snorre (wat hulle lippe grotendeels verberg het) - dit het behoorlik gelyk of hulle "hare op die tande het".  Hierdie soldate was bekend as kranige, onverskrokke krygers wat vir niemand gestuit het nie. Iemand met "hare op die tande" verwys na iemand wat sy man kan staan, selfs durf wat ander nie durf nie!
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Christene moet ook somtyds "hare op die tande hê" en onverskrokke wees t.o.v. die waarheid. Hulle stap in geloof en is soos mense met 'n misie!, wat kranig voortgaan tot hulle hul doel bereik... Ten spyte van wat ander glo, sien, of doen, moet die Christen moed hê om vas te hou aan die Here se woorde en waarheid (al is dit te midde van verdrukking), moed hê om barmhartig te wees (al word hulle onbarmhartig hanteer), moed hê om reg te doen (al doen almal rondom hom verkeerd), moed hê om die evangelie te verkondig (al word dit verdraai of is dit nie logies vir ander nie), moed hê om die Here te bly vertrou (al hou mede-gelowiges op om dit te doen). Hierdie soortvan "uithou" en "aanhou" is nie altyd maklik nie, want in vandag se lewe word jy sommer as hardkoppig bestempel sou jy staan op jou geloof. Jy word bespot, somtyds leuens oor jou versprei, lelik van jou gepraat... Hierdie is alles ook dinge wat Jesus en Sy dissipels ervaar het - hulle is goeie vb.e van mense wat hulle "man kon staan"!, want hulle was onverskrokke t.o.v. die waarheid en het soos dapper soldate in geloof gedurf wat ander nie durf nie. Te midde van somtyds blinde (kerk)leiers of mense wat hulle rug op die Here en die geloof gedraai het, het Jesus die waarheid aanhou spreek. Selfs baie van die Fariseërs en Skrifgeleerdes (leiers van hulle tyd) het baiemaal van Hom verskil en eerder menslike gebooie verkondig as die waarheid, maar Jesus het nie geskroom om uit te wys wat werklik die waarheid is nie. Hy het gehoorsaam gebly aan die Vader en kranig Sy doel bereik, ten spyte van verdrukking en leuens wat oor Hom versprei is. Hulle was gemeen, het Hom bespot, het Hom voorgestel as vals, en het Hom selfs doodgemaak!, maar Jesus het uitgehou en aangehou (en Sy doel bereik) - Hy het oorwin. As ons ook oorwinnaars wil wees, moet ons dieselfde soort houding toon deur aan te hou en vas te hou aan die geloof.
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:

Jesus het baie gepraat oor die belangrikheid van uithou (vashou/aanhou/oorwin), en om dit te kan doen moet ons baiemaal hare op die tande hê. Hierdie is nie bloot 'n opsie nie, maar dit word eintlik van elke Christen verwag! Maar natuurlik gaan dit oor waaraan ons vashou... (bv. wat lering aanbetref, evangelie, die belydenis en die hoop...-Tit. 1:9; Hebr. 4:14; 10:23; 1 Kor. 11:2; 15:1,2), want as Christene vashou aan valse leerstellings of die evangelie of leringe verdraai om te glo wat hulle wil en sondes te regverdig, is hulle nie besig om "VAS TE HOU" (aan die Here/waarheid/evangelie) nie (Openb. 2:14,15). Baiemaal volg Christene blinde leiers of hou vas aan wat hulle kerk leer, maar as daardie leringe nie die waarheid is nie kan hulle "vashou" nie vir hulle vrug oplewer nie. Dit is belangrik om "reg te sien" (in ander woorde, om soos die Here te sien). Ons sien baiemaal hierdie afspeel tussen Christene, waar verskillende groepe nie met mekaar saamstem nie... - hierdie is wat gebeur wanneer een groep nie ag gee op die waarheid en Jesus se woorde nie (maw, beide groepe is Christene, maar die een groep hou vas aan Jesus se woorde en die ander nie). Ons moet seker maak dat dit waaraan ons so vreeslik VASHOU inderdaad die waarheid en die opregte evangelie is!; bv., ons moet onsself afvra of dit wat ons glo of wat ons kerk leer, inderdaad is wat Jesus geleer het? 

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------