Saterdag 05 Julie 2014

Beteken "tot bekering kom" dieselfde as "om te glo"?

 Toe Johannes die Doper die volgende woorde gebruik het in (Mat 3:2-"...Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom"), was die begrip van "om te bekeer" glad nie iets nuuts vir die Jode nie.  Hulle het presies geweet wat bedoel word met die woorde "om te bekeer".  Jesus het ook dieselfde woorde gebruik rakende die koninkryk van die hemele wat naby gekom het:  (Mat 4:17 - "Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom"). Die Jode was maar alte bekend met die geskrifte, en hoeveel God die volk moes terugroep tot bekering - hulle het goed verstaan dat die oproep tot bekering gegaan het oor: 
-  "bekeer van werke/sonde" (sonde neerle,  na Sy stem  luister, Hom  gehoorsaam, die wil v/d Here soek bo werke, of barmhartigheid en gehoorsaamheid eerder as werke)(Eseg. 18:23; Dan. 9:13; Hand. 3:26...)
-  "bekeer van afgode" (om afgode te verwyder en die Here alleen te dien)(Deut. 3:20; Matt. 13:15; Luk. 1:16; Hand. 14:15...), en
-  "bekeer van die manier hoe jy dink"("reconsider ; to think differently afterwards") (bekeer tot die waarheid - soek die waarheid, wil anders "dink") - ("sien soos die Here sien")(Matt. 3:2; 4:17; 11:20; Openb. 2:5...).   ------------------------------------------------------------------------------------------------------"BEKERING was nooit opsioneel nie!" Volgens Mark. 4:12 is dit duidelik dat iemand se sondes nie vergewe kan word as hy nie tot bekering kom nie!
BEKERING 
en
VERGIFNIS VAN SONDES
gaan hand aan hand.
Dit is ook deels wat die doop voorstel! (wat die doop van Johannes voorgestel het, en deels wat die Christelike doop voorstel) - want  As iemand bely dat hy "vergifnis van sondes" ontvang het, moet hy ten minste eers tot bekering gekom het!
Ook waar Jesus die 12 uitgestuur het in Mark. 6, het hulle uitgegaan om mense "tot bekering" te roep (6:12) - ook hier was 'n verwagting aan hulle gestel, en as hulle nie die waarheid wou aanneem nie, moes die dissipels hulle verlaat en "die stof van hulle voete afskud" (Matt. 10:14). Waar iemand die waarheid aanneem, is dit ook 'n manier van tot bekering kom, want hy bekeer hom van die manier van "hoe hy dink".  Inteendeel, in die skrifte waar Johannes die Doper mense opgeroep het tot bekering, en Jesus aan die begin van Sy prediking hulle opgeroep het tot bekering, beteken die woord "bekeer" (in daardie skrifte) "om te bekeer van die manier hoe iemand dink".  M.a.w. so iemand wil graag begin "sien soos die Here sien", dink soos die Here dink... Dit gaan dus oor wat die Here se is die "waarheid", nie wat die mens dink is "waarheid" nie. Jesus het vir ons die WAARHEID kom deel. Om tot bekering te kom van die manier hoe ek dink, beteken nie dat ek net die dele aanneem wat my in die gehoor streel nie, maar ook dit wat bepaalde verwagtinge aan my stel - iemand wat regtig tot bekering kom, raak diensbaar aan die Here (hy dien nie meer sy eie wil nie, maar is nou gehoorsaam aan die Here, en gee ag op Sy leringe!).  Dit dan waarom die oproep tot bekering deur Johannes die Doper so belangrik was - hy het die pad gereed gemaak vir die Here...mense moes hulle bekeer van die manier hoe hulle "sien"/dink, sodat hulle ontvanklik was vir die WAARHEID. Mense wat hoor, maar nie "hoor" nie (nie die waarheid ontvang nie), bekeer hulle nie van die manier hoe hulle dink en sien nie.  Dit is dan ook om hierdie rede dat Jesus die woorde van Jesaja aangehaal het wat se dat die volk se hart stomp geword het en hulle nie verstaan nie - "nie sien nie" (Mat 13:14,15) - dit was mense wat die waarheid gehoor het, maar dit nie wou aanneem nie (wou dit nie "sien en hoor" nie). HULLE HET HUL NIE BEKEER VAN DIE MANIER HOE HULLE DINK NIE!  (Matt. 6:21-24; Hand. 28:27).  In hierdie geval het hulle wel KUNDIG geraak oor die WAARHEID, maar het hulle nog nie bekeer tot die Here nie. Baie gelowiges is vandag in hierdie dilemma, waar hulle die Here se leringe goed ken, maar hulle gee nie ag daarop nie.  In so 'n geval is hulle kundig, maar nie gehoorsaam nie, m.a.w. hulle "glo" nie regtig nie! Baie mense is net "onwetend" - hulle besef nie dat hulle verkeerd "dink" nie, maar in die geval van waar 'n gelowige alreeds wetend is, maar hom nog nie bekeer (het) nie (m.a.w. soos wanneer iemand bely dat hy die Here dien, maar nie regtig gehoorsaam is aan die Here nie, of nie ag gee op Sy leringe nie), stap hy 'n gevaarlike paadjie, en sal nie vrug dra as hy hom nie bekeer nie (in so 'n geval staan hy ook die gevaar om vrug wat hy alreeds dra te verloor!).

Nie oral waar mense opgeroep was tot bekering was dit die betekenis van die woord bekeer nie, want in ander gevalle tydens evangelie-prediking was hulle gevra om hulle te bekeer van afgode, en in ander gevalle weer om hulle te bekeer van sonde...(http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/01/evangelie-verkondiging.html).  In sommige gevalle tydens evangelie-prediking was bekering nie eens as een van die voorwaardes genoem nie, maar dan was dit ook duidelik in gevalle waar mense alreeds die Here gevrees het en Sy geregtigheid gedoen het.  

Iemand kan in woorde voorgee dat hy glo, maar nie regtig glo nie (m.a.w. hom nooit bekeer het tot die Here nie;  nooit sy vertroue in die Here geplaas nie) So iemand se sondes kan nie vergewe word nie!  Iemand kan m.a.w. bely dat hy glo in die Here Jesus Christus as die Messias en Sy offer aanneem ("tot vergifnis van sondes"), maar as die persoon nog nie tot bekering gekom het nie (nog nie bekeer het van sonde, werke, afgode en die manier van hoe hy dink nie - m.a.w. nog nie diensbaar geraak het aan die Here nie), gaan sy vrug gou wys dat hy steeds sy eie wil dien en nie die Here dien nie! (Matt. 3:7-12). Die gelowige wat nie gehoorsaam is aan die Here se bevele nie, is die persoon wat hom nog nie "bekeer" het nie. 
 (Luk 6:46)  "En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?"

========================================================================


GEDAGTE:



(2Pe 3:9)  "Die Here vertraag nie die belofte (van Sy wederkoms) soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.

========================================================================
http://warechristene.blogspot.co.nz/2012/04/onderwerp-julle-dan-aan-god.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2012/06/aan-hom-wat-oorwin-sal-ek-gee-om-saam.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/04/wat-glo-jy-die-waarheid-of-die-halwe.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/05/wat-het-jesus-bedoel-met-aan-hom-wat.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/09/die-christelike-doop.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/02/wat-is-die-sonde-tot-die-dood.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/05/wat-word-bedoel-met-onwetende-sonde.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/03/uit-genade-gered-opsomming.html

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.