Maandag 11 Augustus 2014

Ons gedagtes kan ons onderkry

Somtyds laat ons toe dat ons gedagtes ons onderkry, en baiemaal is die "issue" so groot in die kop, dat iemand nie wil ophou dink daaraan nie.  Jesus het verstaan hoe die koestering van sekere gedagtes iemand kan onderkry, daarom het Hy ons gewaarsku teen sulke gedagtes.  Hy het nie net verwys na "verkeerde" gedagtes (soos in die geval van Matt. 5:27,28) nie, maar ook gedagtes wat iemand vermoeid en belas maak, soos om bekommerd te wees oor die sorge van die lewe (Matt. 11:28).  Om ons gedagtes te plaas op die dinge daarbo, is iets wat elke Christen daagliks moet doen.  Maar dit beteken nie dat jy net bewus moet raak van waaraan jy dink nie soos baie glo nie.  Somtyds het ons nodig om met iemand te gesels (soos 'n sielkundige of 'n vriend), ja, maar om oor dit wat in jou gemoed aangaan te praat, of bewus te wees van waaraan jy dink, is nie die manier "hoe" jy jou gedagtes op die dinge daarbo plaas nie! Dit is elke Christen se eie plig om sy eie gedagtes GEVANGE TE NEEM TOT GEHOORSAAMHEID AAN CHRISTUS (niemand anders kan dit vir jou doen nie - iemand kan jou vertel om dit te doen, maar jy moet dit steeds self doen)(2 Kor. 10:5). Baie Christene glo deesdae dat hulle nie beheer het oor hulle eie gedagtes nie en vra die Here om hulle gedagtes vir hulle te verander (soos dit deur sommige kerke geleer word), maar wat die Skrif ons eintlik leer, is dat ons SELF ons eie gedagtes moet gevange neem! Jy hoef nie vasgevang te wees deur jou gedagtes nie. Jy is in beheer van jou gedagtes - net soos God vir Kain gewaarsku het dat hy moet heers oor sy begeerte (gedagte) (Gen. 4:7), maar Kain het dit nie gedoen nie - Kain het toegegee aan sy gedagtes en geweier om dit gevange te neem tot gehoorsaamheid aan die Here.  Op dieselfde wyse het baie van die volk in die woestyn gekla en gemurmereer oor hulle lot, in plaas van om hulle gedagtes gevange te neem tot gehoorsaamheid aan die Here, en Hom te vertrou. Die rede waarom iemand somtyds sukkel om sy gedagtes te gevange te neem, het baiemaal te doen met die feit dat hy nie die Here vertrou nie, of vol selfbejammering is, of nie wil vergewe nie..... ens. EN AS EK NIE MY EIE GEDAGTES WIL VERANDER NIE, MAAR DIT LIEWER WIL KOESTER, DAN KAN EK NIE VERWAG DAT EK "GEESTELIK" GAAN DINK NIE!  Net so wil ons ook somtyds gedagtes koester wat gepaardgaan met verbittering en selfbejammering, en vaskyk in ons omstandighede.  Ons moet versigtig wees vir sulke gedagtes en daaroor heers! 
(Mat 6:31)  Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?

(Mat 6:32)  Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.

(Mat 6:33)  Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

(Mat 6:34)  Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.
 WANNEER ONS BALANS VERKEERD IS, EN ONS GEDAGTES MEER IS OP DIE VLEESLIKE AS OP DIE GEESTELIKE, DAN GAAN ONS GEDAGTES ONS ONDERKRY.
(Kol 3:2)  Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.

AS ONS ONS GEDAGTES PLAAS OP DIE DINGE DAARBO, DAN NEEM ONS DIT SELF GEVANGE TOT GEHOORSAAMHEID AAN DIE HERE.  HOE MEER TYD JY MET DIE HERE SPANDEER, HOE MEER GAAN JY DINK OOR DIE GEESTELIKE, EN NIE OOR DIE VLEESLIKE NIE.  EN KOM ONS WEES EERLIK, OM VLEESLIKE DINGE TE BEDINK, MAAK ONS NEERSLAGTIG EN VEROORSAAK DAT ONS BEKOMMERD IS EN BELAS VOEL!  

(Rom 8:5)  Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge.
(Rom 8:6)  Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede

Ons moet ook seker maak dat ons genoeg persoonlike tyd inruim met die Here (soos Jesus vir ons geleer het), sodat ons perspektief kan verander en ons begin "sien soos Hy sien". As ons gedagtes heeltyd op die wereldse is, dan gaan ons natuurlik vermoeid en belas voel (soos die res van die wereld).
=================================================================================

GEDAGTE:


(Rom 12:2)  En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

(Mat 11:28)  Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.
----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.