Dinsdag 21 Oktober 2014

Wie is die "Kinders van die Koninkryk"?

In die Skrif word die "NAGESLAG VAN ABRAHAM" uitgebeeld as die "KINDERS VAN DIE KONINKRYK".  Dit is aan die nageslag van Abraham aan wie die land van melk en heuning belowe is - hulle is "God se volk".  En dit is hulle aan wie die koninkryk belowe is - hulle sou die koninkryk van God ingaan - hulle is kinders van die koninkryk! (Matt. 8:12, 13:48, 10:24).

Die Skrif maak ook duidelik wie spesifiek as die "nageslag van Abraham" gesien word:
(1)   DIE JOODSE VOLK:  Soos die Here aan Abraham die belofte gemaak het, het Hy so ook aan Isak die belofte gemaak (nie aan Ismael nie), en aan Jakob (nie aan Esau nie), en aan die 12 stamme van Israel (die 12 seuns van Jakob) (http://sondagskooltuis.blogspot.co.nz/2012/10/sleutelgebeure-in-genesis-vir.html - kyk "verbondsvolk" verwysingspunte 46, 73,88,95,103,115,163)
(2)   DIE GELOWIGES:  Die Christelike doop beteken deels dat iemand nou deel geraak het van die "nageslag van Abraham" (Gal. 3:24-29).  Die Joodse volk is die "natuurlike takke" - ander wat tot geloof kom word ingeeent (Rom. 11).  Deel van die belofte aan Abraham, was dat "alle nasies geseen sou word deur Abraham se saad".  In die Skrif word die woord "saad" o.a. gebruik vir "nageslag" (Hand. 3:25, Gal. 3:16,29; 1 Joh. 3:9). Dit is bv. deur die saad  of nageslag van Abraham wat al die nasies geseen sou word... - die Messias is gebore uit hierdie nageslag, uit die geslag van Dawid (Matt. 1) - en dit is deur die Messias wat enige iemand van enige nasie geseen word deur Abraham se saad - m.a.w. waardeur hulle deel kan raak van die nageslag van Abraham (deel raak van die "kinders van die koninkryk")(natuurlik die wat glo!). 

Die uitstorting van die Heilige Gees was vir baie eeue voorspel deur die profete, en die "kinders van die koninkryk" het die uitstorting van die Heilige Gees vgl. met die Messias se koms en die Here se koninkryk.  Waar God is, daar is Sy koninkryk.  Waar die Gees van God is, daar is Hy teenwoordig. Die wat God se saad in hulle het (m.a.w. die wat die Heilige Gees ontvang het), hulle is gebore uit God - deur Sy saad kan iemand vrug verdien vir die ewige lewe.  Dit dan ook waarom die uitstorting van die Heilige Gees so 'n belangrike gebeurtenis was, en dit belangrik is dat iemand die Gees van God ontvang, omdat die ontvang van die Gees van God die bewys is dat iemand nou gebore is uit God.  Dit is dan die persoon wat begin vrug dra vir die ewige lewe, want sy werke is uit diensbaarheid aan die Here - hy leef vir die Here, nie meer vir homself nie.  Hulle is nie net deel van die kinders van die koninkryk nie, maar word KINDERS VAN GOD (hulle het Sy saad binne-in hulle / hulle is gebore uit God - jy kan slegs 'n kind wees van die saad waaruit jy gebore is!).  Daarom is die WATER nie al gedeelte van die wedergeboorte (die Christelike doop 'n teken dat iemand deel is van die nageslag van Abraham) nie, maar die tweede gedeelte van die wedergeboorte, is die GEES.  AS IEMAND NIE DIE GEES VAN GOD ONTVANG NIE, IS HY NIE 'N "KIND VAN GOD" NIE (en het dan nie Sy saad in hom nie, en is dan nie deel van Sy nageslag nie - dan nie 'n "kind van God" nie).
========================================================================

 Kom ons kyk na die Joodse volk as die "kinders van die koninkryk":
-  (m.a.w. die nageslag van Abraham, die "natuurlike takke - die wat glo in die Vader).

Alhoewel die Joodse volk gesien word as die kinders van die koninkryk omdat hulle God se volk is, sal nie almal van hulle ingaan in die koninkryk nie! - Jesus het dit duidelik gemaak dat baie "kinders van die koninkryk" uitgedryf sal word (Matt. 8:12).  Ook in sekere profetiese boeke word hierdie punt duidelik gemaak (Amos 9).  AS 'N JOOD DAN DIE WEG WAT DIE VADER GESKEP HET TOT VOLKOME SALIGHEID, WEGWYS (m.a.w. nie Jesus die Christus aanneem nie), DAN HET HY GEEN HOOP OP DIE OPSTANDING TOT LEWE NIE, want Jesus Christus is die Een wat ons sal opwek tot lewe (wat vir ons die ewige lewe gee sodat ons in Sy ewige koninkryk kan ingaan).  En moet ons onthou dat niemand die Gees van God kan ontvang as hulle nie glo in Hom nie, want Hy is immers die Een wat die Gees van die Vader ontvang en uitstort!  (dit was geen geheim in die Ou Testament nie - die uitstorting van die Gees het gepaadgegaan met die verwagting van die Messias!).  As iemand nie die Gees van God ontvang nie (tweede gedeelte van wedergeboorte), is hulle nie "kinders van God nie" (het dan nie Sy saad in hulle nie).  En as die "kind van die koninkryk" dan die LAM (wat vir hom geslag word as sondoffer) afwys, hoe kan hy volkome vergifnis van sondes ontvang? (want die wet is nie volkome nie)... - en hoe kan hy dan in die ewige koninkryk ingaan?

Kom ons kyk na die Gelowiges as die "kinders van die koninkryk":
-  (m.a.w. die wat glo in die Vader, en in Sy Seun Jesus die Christus, en die Gees van God ontvang het)

Enige iemand uit enige nasie wat glo en hom bekeer, kan deel raak van die "kinders van die koninkryk" (deel raak van die nageslag van Abraham).  So iemand gaan deur die Christelike doop (wat o.a. 'n teken is hiervan, asook van vergifnis van sondes, en die hoop op opstanding tot lewe), en ontvang die Gees van God (m.a.w. is dan wedergebore:  WATER en GEES). 
Hy is ook verseel (deur die Heilige Gees) tot die dag van verlossing (Ef. 4:30)(die dag van die wederkoms wanneer Jesus sal opwek tot ewige lewe, wie Hy wil - Hy het die sleutels van die doderyk en sal die opstanding tot lewe gee aan wie Hy wil - die oordeel is in Sy hande).  

Maar wat sal gebeur met die gelowige wat die Heilige Gees bedroef?  -soos waarteen gelowiges gewaarsku word in Ef. 4 en gevra word om te wandel "waardig die roeping waarmee hulle geroep is";  ook word hulle aangemoedig om die "oue af te le en hulleself met die nuwe te beklee".  Jesus het dit duidelik gemaak dat die wat nie vrug dra nie, uitgekap sal word!  Op dieselfde wyse wat die "natuurlike takke" afgesny kan word, so kan die "takke wat ingeeent is" ook afgesny word as hulle nie vashou aan die geloof nie, of weer die sonde begin dien.
========================================================================


GEDAGTE VIR DIE WEEK:


Nie almal wat hulleself noem "kinders van die koninkryk" sal uiteindelik ingaan in die Here se ewige koninkryk nie!  

Nie almal wat hulleself noem "kinders van die koninkryk" sal die opstanding tot lewe (ewige lewe) ontvang nie.  

In die opstanding (wanneer Jesus terugkom), sal sommige opstaan tot lewe, ander tot veroordeling...

--------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/07/die-oordeelewige-oordeel-3.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/07/die-oordeelewige-oordeel-2.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/07/die-oordeelewige-oordeel-2.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/09/opsomming-die-opstanding-wegraping.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/09/opsomming-die-opstanding-wegraping.html

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.