Dinsdag 21 Oktober 2014

Wie sal ingaan in die Koninkryk van God?

Christene het 'n plig om die volle waarheid te verkondig.  As ons net 'n halwe waarheid bring, dan het ons nie liefde nie.  Dit help nie ons paai mense deur vir hulle te laat dink dat geloof slegs 'n belydenis van woorde is en daar geen werke verwag word nie, want die waarheid is dat nie almal wat bely dat hulle kinders van die koninkryk is, uiteindelik sal ingaan in Sy ewige koninkryk nie!  Sommige geleerdes stry al jare oor of iemand sy/haar saligheid kan verloor of nie, maar alhoewel die gelowige absoluut seker kan wees van sy kindskap en deur die Gees verseel is tot op die wederkoms, moet ons verstaan dat elke kind van God geoordeel sal word (met die wederkoms)! As iemand die Gees van God ontvang het, maar die Gees bedroef, wat sal die uiteinde daarvan wees?  As iemand dan die saad van God in hom het, en begin groei en vrug dra, maar afvallig raak van die geloof, of weer homself en sonde begin dien, dan kan hy natuurlik daardie vrug verloor, of geen ryp vrug dra nie - so iemand sal uitgekap word.   
Die liefde is bly oor die waarheid - om hierdie waarheid van mense weg te hou, is nie liefde nie. As ons die waarheid weghou van mense, tree ons sonder liefde op en gee nie om dat hulle verlore gaan nie.  Toe Jesus die eerste keer gekom het, het Hy nie gekom om te oordeel nie, maar wanneer Hy terugkom, gaan hy KOM OM TE OORDEEL.  Die waarheid is dat baie wat "kinders van die koninkryk" genoem word, uiteindelik nie sal  ingaan in die koninkryk nie!  Baie van die Joodse volk is in hierdie selfde posisie, want alhoewel hulle as "kinders van die koninkryk" gesien word omdat hulle kinders van Abraham is, gaan nie almal van hulle ingaan in die Here se ewige koninkryk nie.  
Jesus het hierdie duidelik gemaak.  
Johannes het dit ook bevestig. 
Jesus se dissipels het ook so geleer.
http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/12/uit-genade-gered-2.html

Ja, iemand kan 'n "kind van die koninkryk" wees, maar uiteindelik nie ingaan nie!;
en ja,  iemand kan sy/haar "saligheid" verloor sou hulle nie die voorwaardes nakom of nie vashou aan die geloof nie!  
- Die waarheid is dat baie se dat hulle GLO, maar glo hulle werklik?  
- En die waarheid is dat baie kom tot geloof, maar hou nie vas aan die geloof nie!
- Baie begin om die Here te dien en om Hom te KEN en Hom eerste te stel, maar verloor hulle eerste Liefde en raak later weer meer besig met die lewe as met die Here.  Ons kan nie vir sulke mense lieg deur vir hulle te se dat "eenmaal 'n kind van God, altyd 'n kind van God" nie - nee, sulke gelowiges moet gewaarsku word dat hulle afgesny kan word, soos Jesus die gemeentes gewaarsku het (in Openbaring)!  As ons hierdie belangrike waarheid van mense weerhou, is dit nie liefde nie.

--------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------- 
Terwyl gelowiges alreeds deel is van die koninkryk van God (en Hy by hulle teenwoordig is deur Sy Gees), is dit slegs die wat die nodige "vrug dra" wat uiteindelik sal ingaan in Sy "fisiese" ewige koninkryk (Joh. 15:2) - die wat nie vrug dra nie, sal uitgekap word (vgl. hierdie gerus met die gelykenis van die saaier, en die tema van "koring en kaf").  Die wat "slegte vrug" dra, sal ook uitgekap word... (vgl. dit met die gelykenis v/d koring en die onkruid). Jesus het hierdie baie duidelik gemaak in Sy leringe en die evangelie wat Hy gebring het rondom die koninkryk van God (ons moet ag gee op die evangelie wat Hy gebring het rondom Sy koninkryk!). Daarom, alhoewel gelowiges reeds as deel gesien word  van die "kinders van die koninkryk", beteken dit nie dat almal sal ingaan nie, maar slegs die wat oorwin. Ons word nie net geregverdig deur geloof nie, maar ook deur werke (Jak. 2:24), maar hierdie werke is nie soos "werke tot saligheid" nie, maar werke a.g.v. saligheid.  En alhoewel "VRUG" gaan oor goeie dade, goeie spraak, barmhartigheid ens., moet dit ook nie gesien word soos werke nie, maar soos "loon", m.a.w. loon a.g.v. gehoorsaamheid aan die Here.  "Goeie werke" gaan dus oor diensbaarheid aan die Here (om die WIL VAN DIE HERE te doen)(terwyl die doel van "werke tot saligheid" anders is!).  Iemand dra vrug OMDAT hy "in die Here bly", of OMDAT hy "die eie-ek afsterf", of OMDAT hy "ag gee op die waarheid" - (nie omdat hy probeer om goed te doen nie, of om goed te wees nie, maar omdat hy diensbaar geraak het aan die Here, m.a.w. gehoorsaam is aan die Here...).    In Jesus se leringe verduidelik Hy hoe, met Sy wederkoms, Sy engele uitgestuur sal word om die "koring van die onkruid" te skei (dan sal die ware gelowiges geskei word van die voorgee-gelowiges). Johannes die Doper het ook verwys na hoe, met die wederkoms, die Here die "koring van die kaf" sal skei, en hy verwys na "kaf" as die wat nie die vrug dra wat by die bekering pas nie (of kaf kan ook na "verkeerd bou" verwys). Volgens O.T. profesiee is dit ook duidelik dat die Here dan sal oordeel tussen "skape" en skape wanneer Hy kom.  Dit is duidelik dat nie almal wat bely dat hulle kinders van God is, uiteindelik sal ingaan in Sy koninkryk nie.  Jesus Christus is die een wat sal besluit wie ingaan in Sy ewige koninkryk, en wie nie. Die Vader het die oordeel aan Hom oorgegee, en daarom gaan Sy wederkoms gepaard met oordeel.  Jesus die Christus is ook die Een wat "die dood oorwin" het, en daarom mag het om te besluit wie Hy opwek tot lewe, en wie nie.  Hy het mag oor die dood (Hy het die sleutels vd doderyk - en Hy besluit wie lewe en wie nie), en die wat deur Hom die opstanding tot lewe kry, sal in ewigheid nooit doodgaan nie. Baie sal opstaan uit die dood (wanneer Hy terugkom), maar nie almal sal die opstanding tot lewe ontvang nie (m.a.w. verheerlikte liggame en ewige lewe kry nie)!   (1Kor. 15:50)  "Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie".

*  HOE KAN IEMAND VERWAG OM DIE OPSTANDING TOT LEWE TE VERKRY, MAAR HY GLO EN KEN NIE DIE EEN WAT HOM DAARDIE OPSTANDING GEE NIE?

========================================================================


GEDAGTE:


(Mat 7:20)  "So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.

(Mat 7:21)  Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar HY WAT DIE WIL DOEN VAN MY VADER WAT IN DIE HEMELE IS".

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.