Saterdag 10 Januarie 2015

Wat is geloof?

(Heb 11:6)  En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.

"Geloof" is een van daardie onderwerpe waaroor ons heeldag kan sit en gesels. Tydens evangelie-prediking is ons somtyds geneig om te dink dat almal verstaan wat dit beteken "om te GLO", en dit word min verduidelik regtig wat geloof behels. Omdat ons nie altyd verstaan wat dit beteken "om te glo" nie,  is daar heelwat Christene vandag wat glo dat hulle kan doen wat hulle wil en steeds vir God behaaglik wees, tog word dit vir ons duidelik gemaak in Hebr. 11:6 dat dit onmoontlik is om God te behaag, as iemand nie die geloof het nie!  Net so doen baie nie eens moeite om "die Here te soek" nie, tog wil hulle deur Hom beloon word? 
Dit is duidelik dat ons nie altyd verstaan wat "geloof" beteken nie. 
---------------------------------------------------------------------------------------------

Sommige sien geloof as "om positief te dink", m.a.w. "glo dat iets sal gebeur, en dit sal gebeur".  Ander glo weer dat hulle woorde soveel krag dra dat, sou hulle dit uitspreek wat moet gebeur, dit sal gebeur, en hulle sien dit as geloof. 

Ander dink weer dat geloof slegs daaroor gaan dat ons glo dat God bestaan, en glo dat Christus Jesus vir ons sonde gesterf het, m.a.w. hulle dink dat geloof slegs 'n wete is. Alhoewel dit deel is van geloof, is iemand in groot moeilikheid as hy dink dat dit al is waaroor geloof gaan, want die duiwels glo dit ook! - (Jak. 2:19)  "Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder". Ja, en hulle glo ook dat Christus Jesus die SEUN VAN GOD is!  Kyk wat het die duiwels/onreine geeste gese oor Jesus wanneer Hy hulle uitgedryf het:  -(Mar 3:11)  En elke keer as die onreine geeste Hom sien, het hulle voor Hom neergeval en geskreeu en gesê: U is die Seun van God!;  -(Mar 5:7)  en skreeu met ‘n groot stem en sê: Wat het ek met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek besweer U by God om my nie te pynig nie; - (Mat 8:29)  En meteens skreeu hulle en sê: Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van God? Het U hier gekom om ons voor die tyd te pynig?; -(Luk 8:28)  En toe hy Jesus sien, skreeu hy uit en val voor Hom neer en sê met ‘n groot stem: Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek bid U, moet my nie pynig nie—"  -  so, dit is dus duidelik dat selfs die onreine geeste Hom erken het as die Seun van God en ook die Vader erken het!

Wanneer ons egter Jak. 2:19 in konteks gaan lees, praat Jakobus oor "geloof sonder werke" en "werke sonder geloof". Hy praat van die belangrikheid van "werke wat die geloof beskrywe" - m.a.w. dit gaan oor gehoorsaamheid aan die Here
(nie werke met die doel om saligheid te beerwe nie, maar werke as gevolg van saligheid).  Kyk ons bv. na Joh. 8:44 waar Jesus praat met ongelowige Jode, sê Hy die volgende vir hulle:  (Joh. 8:44 - "Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen...").  -Alhoewel hulle bely het "dat hulle GLO", was hulle eintlik ongelowig omdat hulle die begeertes van die duiwel uitvoer en nie van die Here nie (m.a.w. hulle dien nie regtig die Vader nie).  GELOOF GAAN OOR OM TE DIEN. Daarom het Jesus ook verklaar in Matt. 7:21: "Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is";  en kyk ook Sy woorde in Mat 12:50 -  "Want elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder"... -
 (Jesus self het ook bely dat Hy die wil van die Vader doen!  -Joh. 5:30). GELOOF GAAN DUS OOR "OM DIE WIL VAN DIE VADER TE DOEN".  Daarom het Jesus ook verduidelik dat om "meer geloof" te he, beteken dat ons soos onverdienstelike DIENSKNEGTE moet wees! (http://warechristene.blogspot.co.nz/2012/08/gee-ons-meer-geloof.html). So, alhoewel die duiwels of onreine geeste geweet het dat Christus Jesus die Seun van God is, en dit in soveel woorde "bely" het, beteken nie dat hulle geloof gehad het nie, want hulle het nie Sy wil gedoen nie. 'n Wete, en belydenis, is nie al waaroor geloof gaan nie.  "Om te glo", gaan daaroor dat iemand hom/haarself ondergeskik stel aan die Here, om Hom te dien, en Sy wil te doen.
---------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:


WANNEER KINDERS VAN DIE HERE OPSETLIK EN AANHOUDEND ONGEHOORSAAM IS AAN DIE HERE, EN NIE NA SY WIL SOEK NIE MAAR DOEN WAT HULLE WIL,  DAN BEVRAAGTEKEN DIT HULLE GELOOF IN HOM (m.a.w., "VERTROU hulle Hom regtig?).  Enige iemand in 'n posisie waar hy onderdanig is aan 'n leier, is ook gewoonlik "gehoorsaam" aan daardie leier - wat natuurlik bewys dat hy sy leier vertrou...  Die persoon wat nie sy leier vertrou nie, is daardie een wat teenkanting gee - hy weet ook altyd beter (en daarmee se ek nou nie dat alle leiers vertrou moet word nie, maar dat gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid 'n teken is van wie sy leier vertrou, en wie nie!). Waar daar nie vertroue is in 'n leier nie, is gewoonlik skeuringe in 'n groep - in sulke gevalle, doen elkeen wat hy wil. GEHOORSAAMHEID AAN DIE HERE IS OP DIESELFDE WYSE 'N BEWYS OF IEMAND REGTIG DIE HERE VERTROU en in Hom GLO.

 "Gehoorsaamheid" gaan nie oor om "ons wil te doen nie", maar oor "om Sy wil te doen".
Wanneer iemand werelds ingestel is (m.a.w. "nie glo nie"), dan neem hy besluite volgens eie begeertes, maar die wat hulleself ondergeskik stel aan die Here (die wat "glo"), soek na die wil van die Here in alles in hulle lewens, en is Hom gehoorsaam (vgl. met Matt. 7:21).  
-------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.