Woensdag 18 Februarie 2015

Ons moet meer barmhartig wees wanneer iemand onwetend teen ons sondig

Alhoewel Jesus, toe Hy die eerste keer gekom het, nie gekom het om te oordeel nie, maak Hy dit duidelik dat Sy woorde hulle tog sal oordeel in daardie laaste dag, die wat dit nie aanneem nie  (Joh. 12:47-49).  Hy het eerste gekom om ons TOT INSIG TE BRING - om vir ons die waarheid te bring. Wanneer iemand bv. onwetend sondig, moet hy eers tot insig gebring word voor hy besef dat hy verkeerd is - dit beteken egter nie dat daar geen bekering verwag word nie, maar eerder dat daar meer barmhartigheid bewys word in die geval waar iemand onwetend sondig (en dat daar dan bekering verwag word wanneer hy tot insig gekom het). Meeste van die volk, en ook baie van hulle leiers, het in "onwetendheid" toegelaat dat Jesus gekruisig word (Hand. 2:38; 3:17) - daarom het Jesus gese op die kruis:   (Luk 23:34 - "...Vader, vergeef hulle, WANT HULLE WEET NIE WAT HULLE DOEN NIE....").  Daarom het Jesus ook gese dat elkeen wat 'n woord spreek teen Hom, dit hom sal vergewe word, maar wanneer iemand spreek teen die Heilige Gees, dit hom nie vergewe sal word nie (Mat 12:32), want in die geval van die persoon wat laster teen die Heilige Gees, is hy WETEND - die betekenis van "om te laster" het te doen met iemand wat opsetlik die waarheid verdraai sodat ander nie die waarheid glo nie - m.a.w. hulle is wetend, maar kies om teen die waarheid te spreek (dit is soos die Antichris sal doen - hy sal wetend wees, maar teen die waarheid spreek).  In die geval waar iemand wat wetend is, teen die Heilige Gees laster, is dit sonde wat nie vergewe kan word nie (nie in hierdie eeu, en ook nie in die toekomende nie)(http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/05/wat-is-die-onvergeeflike-sonde.html).  Paulus verklaar in 1 Tim. 1:12,13 dat aan hom barmhartigheid bewys is OMDAT HY DIT ONWETEND GEDOEN HET IN ONGELOOF (al was hy vroeer 'n lasteraar, vervolger en geweldenaar).  Daarmee sit hy eintlik 'n vraagteken rondom wanneer barmhartigheid bewys word -  hy kon vergewe word, want hy was onwetend,  maar sou hy hierdie dinge doen nadat hy wetend geraak het, dan sal hy geoordeel word daarvoor (tensy hy hom bekeer daarvan).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
 Jy gaan nie jou kind straf vir sonde wat hy nie eens besef hy verkeerd doen nie!  So 'n kind moet eers tot insig gebring word, m.a.w. moet eers vertel word dat hy verkeerd doen, of geleer word die manier hoe die familie iets doen. dit is baie onregverdig as 'n kind nie eens weet hy doen verkeerd nie, en 'n ouer raas met hom asof hy al moes weet!  As die kind dan tot insig gebring is, en hy bly verkeerd stap, dan sondig hy wetend, en moet hy eers berou he voor hy vergewe kan word.  As hy nie berou het nie, moet hy tot berou gelei word.  Die kind wat onwetend is, word nie onmiddellik vermaan nie, maar eers tot insig gebring;  die kind wat wetend is, moet berou toon, en as hy nie berou toon nie, moet hy vermaan word.  

Jesus het ook gese:  (Joh 12:47 - "En as iemand na my woorde luister en nie glo nie, Ek oordeel hom nie; want Ek het nie gekom om die wêreld te oordeel nie, maar om die wêreld te red").  MAAR KYK OOK WAT HY DAN SE IN DIE VOLGENDE VERS:  (Joh 12:48 - "Wie My verwerp en my woorde nie aanneem nie, het een wat hom oordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag").   Wat ons hieruit kan leer, is dat DIE WAT ONWETEND IS, EERS TOT INSIG GEBRING MOET WORD SODAT HULLE DIE GELEENTHEID KRY OM DIE REGTE KEUSE TE MAAK (ons moet hulle nie oordeel voor ons hulle vertel nie) - maar sou hulle nou, nadat hulle die waarheid gehoor het, Sy woorde verwerp en nie aanneem nie, het hulle geen verskoning nie, want hulle is nou WETEND (nie meer onwetend nie), en diesulkes sal geoordeel word "op daardie laaste dag" deur Christus self.  Wanneer Christus Jesus terugkom, sal Hy kom om te oordeel - die Vader het hierdie mag aan Hom gegee (Joh. 5:27), en Hy sal besluit wie "opstaan tot lewe", en wie nie (Joh. 5:28,29)(1 Pet. 4:5). Toe Hy die eerste keer gekom het het Hy nie gekom om te oordeel nie, maar wanneer Hy terugkom, gaan Sy wederkoms gepaardgaan met oordeel.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:

Iemand wat wetend geraak het, maar hom steeds nie bekeer van sy sonde nie, SAL GEOORDEEL WORD daarvoor.  Dit is duidelik dat wetende sonde baie anders hanteer word as onwetende sonde.
Ons moet ook meer barmhartig wees wanneer iemand onwetend teen ons sondig. Dieselfde barmhartigheid wat die Here aan ons bewys, moet ons ook aan ander bewys.  Somtyds oordeel ons iemand, en neem hom kwalik vir iets wat hy nie eens besef hy verkeerd doen nie.  So iemand moet eers tot insig gebring word (soos Jesus die waarheid gebring het), en dan moet die persoon geleentheid gegee word om reg te maak, te bekeer (soos Jesus nie onmiddellik geoordeel het nie, maar geleentheid gegee het vir mense om hulle te bekeer).

(Luk 23:34 - "...Vader, vergeef hulle, WANT HULLE WEET NIE WAT HULLE DOEN NIE....")
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/05/wat-word-bedoel-met-onwetende-sonde.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/12/wat-beteken-uit-genade-gered.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/05/wat-is-die-onvergeeflike-sonde.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2012/01/is-daar-iets-soos-groot-en-klein-sonde.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/06/wat-is-die-waarheid.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/07/die-oordeelewige-oordeel-3.html

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.