Dinsdag 07 Julie 2015

Die heilige Stad

Jerusalem word gesien as 'n heilige stad.
Die volk van God het ook van Jerusalem gepraat as "die heilige stad":  (Jes. 52:1; Dan. 9:24; Neh. 11:1,18; Sag. 8:3; Ps. 48:1; Jes. 48:2; Matt. 4:5; 27:53).  Die stad Jerusalem is vir die Here meer belangrik as enige ander stad in die wereld (1 Kon. 11:32) - dit beteken egter nie dat Hy tevrede is met enige toestand van goddeloosheid en afvalligheid in die land nie! (Eseg. 5:6). Volgens Eseg. 5:5 is Jerusalem in die middel van al die nasies, en dit is die stad wat die Here uitverkies het tussen die stamme van Israel (1 Kon. 11:32; 1 Kon. 14:21; 2 Kon. 21:7; 2 Kron. 12:13; 2 Kron. 33:7). Die stad Jerusalem gaan van "eeu tot eeu" en is nie beperk tot slegs "HIERDIE EEU" nie, maar sal ook gesien word in die "VOLGENDE EEU" (in Christus Jesus se 1000 jaar Ryk) en op die NUWE HEMEL EN AARDE! (tot in ewigheid! - Joe 3:20 - "Maar Juda sal vir ewig bly, en Jerusalem van geslag tot geslag"). Jerusalem word gesien soos 'n "basis waarvanaf dinge gebeur", en was ook die hoofstad van Israel se vroee konings en later van die suidelike koninkryk van Juda. Onthou dat dit ook in Jerusalem is wat Christus Jesus gekruisig, begrawe en opgestaan het uit die dode;  en dat dit ook vanuit Jerusalem is wat die evangelie uitgegaan het oor die hele wereld (Hand. 1:8) ...en tereg, want die Here het Jerusalem uitverkies en in die middel geplaas van al die nasies! Jesus se opvaarding na die hemel het ook plaasgevind vanaf die Olyfberg naby Jerusalem (maar 'n Sabbatsreis ver)(Hand. 1:12), en wanneer Hy terugkom, sal Hy op daardie juiste berg kom staan (...en die Olyfberg sal middeldeur splyt...) (Sag. 14:4; Hand. 1:9-12)

Die eerste twee tempels was in Jerusalem, en volgens sekere skrifte sal die laaste tempel voor Christus terugkom, ook in "die heilige stad" wees.  Daar sal ook 'n tempel wees in Jerusalem in Christus Jesus se 1000 jaar Ryk (Eseg. 40), en word daar beskryf soos Christus se troon of paleis - die profeet Jeremia het geprofeteer dat wanneer Christus terugkom, Hy 
vanuit JERUSALEM sal regeer oor die hele aarde... (Jer. 33:16; 3:17;  1 Kon. 11:36).
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------
-  ons is nou in die "huidige eeu" (periode), wat strek vanaf die Skepping tot op Christus Jesus se wederkoms.  

-  christus se 1000 jaar Ryk is in die "volgende eeu" (periode), en strek vanaf Sy wederkoms tot aan die einde van die 1000 jaar (maar is ook 'n EWIGE KONINKRYK).  

-  Die neerdaal van die nuwe stad Jerusalem daal neer op die NUWE HEMEL EN AARDE aan die einde van die 1000 jaar (aan die einde vd "volgende eeu")(Openb. 21,22) - en l.w., "tot in ewigheid"!)  (Daar sal egter geen tempel wees op die nuwe hemel en aarde nie, want die NUWE STAD JERUSALEM word gesien as die "tabernakel van God" (Openb. 21:22). 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
'n Onderwerp wat nie altyd goed verstaan word nie, is die van "die VROU van die Lam".  Wanneer daar na Christus "se vrou" verwys word, beteken dit nie dat Hy getroud was (soos sommige valslik leer vandag) nie, maar dit verwys na die beeldspraak in O.T. Profesiee van hoe die Here Hom sal trou met die land...  In sekere skrifte verwys die beeldspraak "vrou" na die volk van God en die land Israel, en in ander skrifte verwys dit na DIE NUWE JERUSALEM.  Die kerk word nerens direk in die Skrif "die bruid van Christus" genoem nie, maar eerder diensknegte of diensmaagde, en is die bruilofsgaste (genooides) en vriende van die Bruidegom...  maar hulle sal wel deel wees van die vrou / bruid van Christus omdat hulle sal wandel in die lig van die Nuwe stad Jerusalem.

Daar moet dus onderskei word tussen die
(1) BRUILOF VAN DIE LAM wat met aanvang van die 1000 jaar plaasvind (met die wederkoms en wanneer Jesus Homself sal "trou" aan die land Israel;  en 
(2) die NEERDAAL V/D NUWE STAD JERUSALEM, ook genoem die VROU en BRUID van die Lam wat eers aan die einde vd 1000 jaar gebeur met die nuwe hemel en aarde... (aan die einde vd "volgende eeu").

Punt 1 in ag geneem, gaan die woorde "die Here wat trou met die land", gepaard met die "bruilof van die Lam", wanneer die Here 'n feesmaal berei! (Jes. 26:6).  Christus Jesus is die Bruidegom (Mark. 2:18,19; Joh. 3:28,29). Vgl. dit gerus ook met die gelykenis van die koning wat vir sy seun 'n bruilofsmaal voorberei het - Matt. 22;  die gelykenis van die 10 (diens)maagde in Luk. 12;  en die onderwerp van "die kerk wat nou besig is om te oes".
_________________________________________________________________________________

GEDAGTE:


Die doel van die tempel (of ook gesien as "eerste tabernakel" - Hebr. 9:6-8), het veral beteken dat "God by hulle was" (daarom ook genoem "die huis van God").  Dit is dus duidelik hoekom die tempel so belangrik was vir die volk, en waarom hulle so uitgesien het daarna om jaarliks op te gaan NA DIE TEMPEL IN JERUSALEM. Nie net was die bedoeling vir versoening nie, maar dit het ook beteken dat "God by hulle" was. Hierdie is dan ook die rede waarom Christene, of die "liggaam van die Christen", die TEMPEL VAN GOD genoem word, want die Christen het die Gees van God - die Here is met hom! (2Kor. 6:16 - "Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees)(Matt. 28:20).

Christus Jesus het inderdaad die "eerste tabernakel" afgebreek (en dit in 3 dae weer opgerig! -Joh. 2:19-22). En net soos die Tempel gesien is as heilig (en Jerusalem gesien is as heilig), en daarom aan die Here behoort, net so behoort die Christen aan die Here omdat sy liggaam 'n TEMPEL IS VAN DIE HEILIGE GEES (1 Kor. 6:19,20; Ef. 2:22).  Ons behoort nie aan onsself nie.  Daarom dan dat Paulus verduidelik hoe ernstig sekere sondes is, soos sondes wat iemand bedryf teen sy eie liggaam.... (1 Kor. 6:16-18). As die Christen kan verstaan hoe sy liggaam nou gesien word as die tempel, sal hy verstaan die belangrikheid van om die godsaligheid na te jaag... (http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/02/en-bedroef-nie-die-heilige-gees-van-god.html)
_________________________________________________________________________________
(http://warechristene.blogspot.co.nz/2015/07/hierdie-eeu-volgende-eeu.html)(http://warechristene.blogspot.co.nz/2015/03/die-koninklike-geslag-uit-die-stam-van.html).
http://warechristene.blogspot.co.nz/2012/07/die-kerk-is-nie-die-bruid-van-christus.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/01/die-bruilof-van-die-lam-die-maaltyd.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2012/12/jesus-christus-se-koninkryk-die.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2012/10/is-die-kerk-nog-besig-om-te-oes.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/10/olyfberg.html 
(http://warechristene.blogspot.co.nz/2012/12/die-tempel-van-god.html).



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.