Woensdag 21 September 2016

Laat U Naam geheilig word

Wanneer die Christen bid "laat u Naam geheilig word" (Matt. 6:9) is dit 'n verklaring wat hy maak waarin hy bely dat die Naam van die Here vir hom HEILIG is.  Maar wat beteken dit regtig en wat leer die Skrif vir ons oor die betekenis van "heilig"? 
En hoe word "die Here GEHEILIG" onder Sy kinders?  
En wat beteken dit wanneer hulle Sy Naam ontheilig? 
---------------------------------------------------------------------------------------------Wanneer iets of iemand "geheilig" word,  beteken dit veral dat dit/hy AFGESONDER word (vir 'n spesifieke doel).  Die Sabbat is bv. 'n HEILIGE dag omdat dit afgesonder is as rusdag.  Die artikels in die tabernakel was HEILIG want dit was afgesonder vir diens. Sekere voedsel in die Ou Testament was HEILIG want dit was afgesonder as voedsel wat geeet kon word. Die eersgeborenes onder die volk van God was HEILIG want hulle was afgesonder om vir Hom priesters te wees. Die stad Jerusalem was 'n HEILIGE stad want dit is die stad wat die Here uitverkies (afgesonder) het tussen die stamme van Israel (Eseg. 5:5,6)(en is terloops ook geheilig/afgesonder vir die volgende eeu, en vir ewig!...http://warechristene.blogspot.co.nz/2015/07/jerusalem.html);  en die land Israel was HEILIG want dit is die land wat die Here afgesonder het vir Sy volk sodat hulle vir Hom 'n volk kon wees, en Hy vir hulle 'n Here.  Die volk van God is 'n HEILIGE volk want hulle is afgesonder uit die ander volke as 'n volk vir Hom (Deut. 14:2).............
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Jesus Christus se Naam is heilig vir die Christen want dit is afgesonder (geheilig) as die Naam in wie ons glo (Joh. 11:27).  Dit is in Sy Naam op wie ons hoop op die ewige lewe (Joh. 11:25). Sy Naam is afgesonder (geheilig) as die Naam (en die enigste Naam) in wie ons verlossing kan verkry, nl. vergifnis van sondes (Kol. 1:14) en Hy is deur God die Vader genoem ‘n hoëpriester vir ewig (Hebr. 5:6,10).  Sy Naam is afgesonder (geheilig) as die Naam aan wie ons gehoorsaam is (Joh. 15:14)............ SY NAAM IS VIR ONS HEILIG (afgesonderd)....  Christene is ook HEILIG want hulle is afgesonder vir die Here, skoongewas en geheilig (afgesonder) om vir Hom vrug te dra. 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Vir 'n Christen wat ook afgode aabid,  is die Naam van die Here nie meer "afgesonder" nie (want die persoon sonder nou ook ander "name" af "vir wie" hy aanbid).  In daardie sin het hy die Here se Naam ontheilig (Amos 2:7; Eseg. 39:7; Eseg. 36:20; 20:39; Jer. 34:16; Jes. 48:11), want hy't nie onderskei tussen wat heilig is en wat nie; of die Here se Naam was eens vir hom heilig (afgesonder/gekies) as die een vir wie hy DIEN, maar nou is dit nie meer nie. Die land Israel was ook heilig/afgesonder vir die kinders van Jakob, maar hulle het dit ontheilig deur afgodsaanbidding (Jer. 16:18; Jer. 3:1,2,9; 3:1)(Lev. 20:3; 22:2,32).  A.g.daarvan het hulle die land verloor en was versprei onder die nasies.  In sekere profetiese skrifte was hulle vgl. met "hoereerders", want hulle het agter gode aan "hoereer" (Eseg. 6:9), en so beide die land asook die Here se Naam ontheilig.  Om die tema van ontheiliging nog beter te verstaan kan ons kyk na ander vb.e van waar iets/iemand ontheilig is:  -  Een vb. is die van Ruben, wat die BED van sy vader ontheilig het (1 Korn. 5:1 en Gen. 49:4).  Ruben het met Bilha, sy vader se byvrou, gemeenskap gehad (Gen. 35:22). Jakob se "bed" was afgesonder (heilig)(en onbesmet) - Bilha het aan Jakob behoort, maar Ruben het dit besmet deur hoerery (Hebr. 13:4) - en dit so ontheilig...
_________________________________________________________________________________

GEDAGTE:


Christene wat ook afgode aanbid, of betrokke word by heidense afgodspraktyke soos towery, waarsêery, goëlery, bid soos die heidene met herhaling van woorde ens. (Deut. 18:10; 19:26; Gal. 5:20; Jer. 14:14; Matt. 6:7...) is besig om die Naam van die Here te ontheilig. Wat help dit hulle bid, "laat U Naam geheilig word", maar hulle lewens wys dat hulle hul hoop plaas in "iemand"/iets anders of in nie-Christelike praktyke. So iemand is besig om die Naam wat eens vir hom heilig was, nou te ontheilig.  En net soos die volk die land ontheilig het en a.g.daarvan dit nie kon behou nie, (want hulle het die Naam van die Here ontheilig),  net so kan Christene wat begin afgode en ander afgodspraktyke dien, nie verwag om 'n erfdeel te he in die koninkryk van God nie (Ef. 5:5) - tensy hulle hul bekeer daarvan. Hulle is besig om die Naam wat eens vir hulle heilig was, te ontheilig - en hulle is ook besig om hulleself weer te verontreinig (besoedel).  Niemand kan twee here dien nie (Matt. 6:24).  Vir die gierigaard is mammon sy afgod, want hy plaas sy hoop in 'n ander naam.  Vir die wat op die vlees vertrou, eiesinnig is in dit wat hulle wil glo, en wederstrewig teenoor die waarheid, is hulle buik hulle afgod (Fil. 3:19; 1 Sam. 15:23) want hulle plaas hulle hoop in wereldse wysheid. Die valse profeet is ook besig om die Naam van die Here te ontheilig, want hy dien homself - sy eie naam - (Eseg. 13:19; Jes. 47:6). 

As ons wil bid "laat U Naam geheilig word", dan moet ons ook ons eie lewenswandel heilig waardeur ons wys dat Sy Naam vir ons heilig is.(1Pe 1:14,15). Hoe word die Here geheilig onder Sy kinders? - Wanneer hulle NIE Sy Naam ontheilig nie! (Lev. 22:32). Net soos die Here ons HEILIG vir Hom, so wil Hy he dat ons ook ons eie lewenswandel HEILIG - afsonder (om nie vir onsself te lewe nie, maar vir Hom). Ons moet dus onderskei tussen WAT IS HEILIG en WAT IS ONHEILIG, en tussen WAT IS REIN en WAT IS ONREIN (Lev. 10:10; Eseg. 44:23). Christene wat nie hierdie onderskeiding maak nie, staan die gevaar dat hulle hulself verontreinig of die Naam van die Here ontheilig. (http://warechristene.blogspot.co.nz/2016/09/verontreinig-ontheilig.html)
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.