Maandag 17 Oktober 2016

Is alles vir die Christen REIN?

Ons is van mening dat alle dinge vir die Christen REIN is (Rom. 14:20), wat wel die geval is wanneer dit in konteks gelees word, maar in ander kontekste is dit tog nie so nie! - kyk bv. na 2 Kor. 6:17 -"Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here, en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem"
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Ons moet dus verstaan in watter konteks "alles vir die Christen rein is":
- Rom 14:20 ("Moenie ter wille van voedsel die werk van God afbreek nie. Alles is wel rein, maar dit is verkeerd vir ‘n mens om te eet as dit tot aanstoot is"). In hierdie gedeelte gaan dit spesifiek oor wat elkeen glo hy mag doen/eet of nie doen/eet nie; dit is egter nie bedoel in konneksie met sonde nie!, maar in konteks van "kosse" of die viering van "dae".  2 Punte word aangeraak:
-(1)  Die gemeente word beveel om nie mekaar te oordeel op wat geeet mag word of wat nie (of op die viering van sekere "dae" nie - Rom. 14:5). 
-(2)  Hulle word beveel om liewer nie enige iets te eet (saam met die betrokke persoon) vir wie sekere kosse tot aanstoot is nie.  
Net soos vandag was daar heelwat mense in Bybelse tye wat geglo het dat ons geen vleis mag eet nie.  Die een glo dat jy alles mag eet, maar 'n ander nie... Die swakke (wat glo hy mag net sekere kosse eet) mag nie die sterke oordeel nie, en die sterke (wat glo hy mag alles eet) moet nie die swakke verag nie.  Die rede waarom die swakke die sterke verkeerd oordeel, is omdat hy dink dat sekere kosse (in hierdie geval "vleis") iemand onrein maak. Alhoewel die swakke reken dat hy baie wys is, is dit tog nie so nie.  Die "swakke" moet nie die "sterke" verag nie, en die sterke moet ook nie die swakke oordeel nie! In konneksie met wat ons mag eet en wat nie, is alles wel rein vir die Christen (wanneer dit met danksegging ontvang word - 1 Tim. 4:4), tensy dit wat jy eet tot aanstoot isNie net word die "sterke" gevra om liewer geen voedsel te eet in die teenwoordigheid van die vir wie daardie voedsel tot aanstoot is nie (bv., "hy wat eet, moet hom wat nie eet, nie verag nie..." Rom. 14:3a), maar ook word die "swakke" beveel om nie die ander een wat glo hy mag eet, te oordeel nie: (Rom 14:3b -  "... en hy wat nie eet, moet hom wat eet, nie oordeel nie, want God het hom aangeneem").  En weer-eens moet ons onthou dat in konteks dit nie hier gaan oor "sonde" nie (soos hierdie skrifte baiemaal verwar word nie), want in die geval van sonde is GEEN sonde "rein" vir die Christen nie, en word dit inteendeel van Christene verwag om "die wat binne is regverdig te oordeel"! (1 Kor. 5:12; Luk. 16:13), maar in die konteks van Rom. 14 mag jy nie oordeel nie...  
----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:



Alhoewel baie gelowiges weet en oortuig is dat niks (wat die Christen eet) op sigself onrein is nie (EN NIE BEDOEL IN KONTEKS van "SONDE" NIE), moet die wat glo dat hulle alles mag eet, nie die verag wat andersins glo dat sekere kosse vir hulle onrein is nie (Rom. 14:14). Die "sterkes" moet geduldig wees met die "swakkes",  want: - "hy wat reken dat iets onrein is, vir hom is dit onrein"! (Rom. 14:14b).  Maar net so moet die vir wie sekere kosse onrein is, nie die ander verkeerd oordeel nie. Hierdie is 'n groot probleem in die kerk vandag, en heelwat Christene oordeel ander Christene op wat hulle glo hulle mag eet of nie mag eet nie...  Die gevaar van sulke verkeerde oordeel (en verkeerde veragting) is dat die EVANGELIE wat hierdie persone bring,  later eerder bestaan in spys en drank... (Rom. 14:17), as dat die evangelie van die koninkryk van God gebring word. Christene wat hulle besighou met leringe waardeur hulle ander onder 'n wet probeer plaas deur te leer dat sekere kosse vir die Christen onrein is, is nie besig om die EVANGELIE VAN DIE KONINKRYK te verkondig nie, maar plaas eerder hulle hoop in MENSLIKE GEBOOIE.  Ons sien dieselfde ook gebeur in heelwat ander dinge wat verwag word (asof 'n voorwaarde om "aangeneem" te word), soos die waarneem van dae, of waar daar meer klem gele word op liggaamlike oefening as oefening in die godsaligheid... (1 Tim. 4:7,8). Hierdie mense is besig om " 'n ander evangelie" te bring en oordeel 'n verkeerde oordeel teenoor die wat nie glo soos hulle glo nie. Hulle probeer menslike gebooie voorstel asof wette van die Here. Hulle het baie "wysheid"as dit kom by leringe oor spys en drank en die waarneem van spesifieke dae (Kol. 2:16), maar is hulle besig om die evangelie van die koninkryk te verkondig?, want in die evangelie v/d koninkryk is die "kosse" wat Christene onrein maak, die eet van afgodsoffers (in die teenwoordigheid van die wat dit offer), en die eet van bloed of dit wat verwurg is (Hand. 15:20,29; 21:25) - (wat natuurlik nie noodwending gaan oor eetgewoontes nie, maar eerder gaan oor die tema van bloedskuld en die feit dat die siel in die bloed is). As iemand besig is om Christene teen hierdie dinge te waarsku, dan is hy besig om die evangelie van die koninkryk te verkondig; maar as hy hulle verbied om sekere kosse soos vleis te eet en allerhande menslike wette leer asof gebooie v/d Here, dan is hy besig om 'n ander evangelie te bring. As iemand dan glo dat hy net sekere kosse mag eet, laat hom dit toe! want "hy wat reken dat iets onrein is, vir hom is dit onrein", maar die swakke mag nie daarom dink dat "sy" wet die Here se wet is nie...

Rom 14:17 - "Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees"
---------------------------------------------------------------------------------------------
http://warechristene.blogspot.co.nz/2016/09/rein-skrifgedeeltes-en-betekenis.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2016/10/rein-onrein-verontreinigingreinig.html

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.