Wys tans plasings met die etiket die Here se wingerd. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket die Here se wingerd. Wys alle plasings

Donderdag 27 Julie 2017

Die Here se wingerd

In Mark. 12:1-12 ("in die gelykenis van 'n Man wat 'n wingerd geplant het en dit aan landbouers uitverhuur het terwyl Hy op reis gaan"), gebruik Christus 'n soort beeldspraak wat tog nie onbekend was by die volk nie.  Hulle het goed verstaan waarna die woord "wingerd" in die gelykenis verwys, want in Jes. 5 word die huis van Israel voorgestel as "die Here se WINGERD" - (Jes. 5:7 - "Want die wingerd van die HERE van die leërskare is die huis van Israel, ...........................").
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Die begrip "huis van Israel" verwys na "die volk van God, die stamme van Israel" (Eks. 16:31; 40:38; Hebr. 8:10; Hand. 2:36; Jes. 5:13; Matt. 10:16; 15:24), maar dit verwys ook na die land waarin die volk woon, en na Jerusalem (Jes. 5:3,5,6). Ons kan miskien ook hierdie WINGERD (die heilige land en Jerusalem, met sy landbouers) sien as beeldspraak vir "koninkryk van God" (Eks. 19:6), en die landbouers, die "kinders vd koninkryk" (Matt. 8:12). Die WINGERD word deur die Vader geplant  - (vgl. Mark. 12:1 met Jes. 5:1,2 - "'n heining daarom gesit, 'n parskuip gegrawe en 'n wagtoring gebou"....-vgl. met Jes. 5:2). Die Man gaan dan op reis en verhuur die wingerd (huis van Israel / "koninkryk van God") aan landbouers (kinders van Israel / "kinders van die koninkryk")... Die landbouers geniet die vrug van die aarde, maar skuld natuurlik vir die Man wat die wingerd geplant het uit die vrug vd wingerd!, want na regte is dit wat hulle het nie hulle eie nie, maar hulle is eintlik besig om na die Man se goed om te sien. Om hierdie "vrug te oes", stuur die Man (die Vader) diensknegte uit. Ons moet dus verstaan wat dit beteken as die diensknegte uitgestuur word en hoe iemand se vrug geoes word...  Daar is verskillende "oeste" in die Skrif, maar in hierdie geval van oes word diensknegte uitgestuur om die Here se wil bekend te maak, die waarheid te bring en die evangelie te verkondig en terwyl hulle dit doen, word DIE VRUG GEOES, want die manier hoe elkeen HOOR, sal wys hoedaning hulle  vrug  is en wat hulle het om te gee (m.a.w. "wat het hulle gedoen met dit wat aan hulle toevertrou is?").  Vgl. hierdie gerus met die gelykenis in Luk. 19:11-27, van hoe Christus Jesus weggaan om Sy koninskap te ontvang en daarna sal terugkom - maar terwyl Hy weg is, gee Hy vir Sy diensknegte elk ponde waarmee hulle moet handel dryf, en wanneer Hy terugkom sal Hy kyk wat elkeen met daardie ponde gedoen het!  Op dieselfde wyse wat die Vader " 'n wingerd geplant het" (en weggegaan het en landbouers aangestel het), "saai Christus landbouers in die wingerd", nl. dat Hy ons soos "goeie saad" in die land saai (Mat 13:24) - en l.w. dat die saailand hier vgl. word met die wêreld, en die goeie saad die "kinders van die koninkryk" (Matt. 13:38).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
As die kinders vd koninkryk nalaat om die Een wat die wingerd geplant het te dien en respekteer (bv. die eerste gebod breek), en die wingerd misbruik deur dit te gebruik vir eie eer en selfsug en die barmhartigheid nalaat (bv. die tweede gebod breek), dan is die vrug wat van hulle geoes word, nie goeie vrug nie, en daar sal dan geen vrug wees wanneer die Man diensknegte uitstuur, of self kom om dit te oes nie!  En dit is inderdaad wat gebeur het toe Christus die eerste keer gekom het, want toe Hy kom om die vrug te oes, toe vind Hy dat baie van die landbouers slegte vrug dra, en dus geen goeie vrug nie (of nie die nodige goeie vrug nie)! Hy verwys hierna in Mark. 12:10, want toe die landbouers opgeroep word tot bekering (deur Johannes die doper en deur Christus), en die waarheid en die evangelie deur Christus Jesus aan hulle verkondig word, het hulle hul verhard daarteen en gewys watter soort vrug hulle dra. Vgl. hierdie gerus ook met die beeldspraak in Jes. 5 waar die Here 'n druiwe-oes verwag, maar die "wingerd" wilde-druiwe voortgebring het ! (Jes. 5:2 - "En Hy het dit omgespit en die klippe daar uitgehaal en dit beplant met edel wingerdstokke; en Hy het ‘n toring daar binne-in gebou en ook ‘n parskuip daarin uitgekap; en Hy het verwag dat dit druiwe sou dra, maar dit het wilde druiwe voortgebring").  Die uiteinde was dat die muur gebreek is, die land vertrap en dit is 'n wildernis gemaak is... (Jes. 5:5,6).
Ons leer uit Jes. 5 wat die dinge is wat die toestand van hulle vrug veroorsaak het:
 - hulle was bv. selfsugtig, en die "grotes en mooies" het verkeerd gewerk met dit wat die Here aan hulle toevertrou het, en het in plaas van om barmhartigheid te betoon en die armes te help en aan hulle grond te gee, liewer gekyk hoeveel grond hulle vir hulleself kan bymekaarmaak! (Jes. 5:8).  Hulle was dus ONBARMHARTIG.  Hulle was RYK in die verkeerde dinge!  In plaas van om ryk te wees in die Here, was hulle verstik deur die rykdom en die sorge en die genietinge van die lewe (Jes. 5:11,12) - vgl. dit gerus met die 3de groep in die gelykenis vd saaier (Luk. 8:14), waarin die uiteinde van so iemand is dat hy GEEN RYP VRUG DRA NIE, of hy word ONVRUGBAAR (Matt. 13:22). 'n Volk wat hulle so gedra word genoem " 'n volk sonder kennis!" (Jes. 5:13);  hoogmoedig (v.15), eiewys (v.21), laat nie geregtigheid geskied nie, maar onderdruk die regverdige (v.23), noem sleg goed, en goed sleg (v.20)....   Met die oes was gekyk wat hulle gedoen het met die besittings, geld, werke, krag ens. wat die Here aan hulle toevertrou het, en dit is gevind dat meeste van die landbouers selfsugtig daarmee gewerk het, staatgemaak het op hulle eie insig, hulleself hoër geag het en armes en geregtiges onderdruk het -  in so 'n mate dat hulle selfs die waarheid verdraai het deur goed sleg te noem en sleg goed!
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Ons kan 'n paar interessante dinge leer oor die begrip "wingerd" aangaande die heilige land en heilige volk (wat ook sekerlik soos beeldspraak gebruik kan word vir DIE KONINKRYK VAN GOD"):
-  Net soos die volk nie toegelaat was om twee soorte saad in een WINGERD te saai nie (Deut. 22:9), net so sal die saad wat nie deur die Vader in Sy koninkryk gesaai is nie (m.a.w., die wat nie deur die Vader geplant is nie, maar deur die duiwel gesaai is)(Matt. 15:30; Mark. 13:27,28,38,39), eendag ontwortel word (vgl. dit met die tema van die koring en die onkruid).
-  Die volk was ook beveel dat hulle die land 6 jaar mag saai en WINGERD snoei en opbrings daarvan versamel, maar in die 7de jaar moes dit vir die land volkome rus wees! ('n SABBAT vir die Here)(Lev. 25:3-5).  Dan mag hulle nie gesaai het nie en ook nie snoei nie, en dit wat opgaan, nie afoes nie - en die opbrings vd sabbat vd land sou almal se voedsel wees... Dit is om hierdie rede waarom geleerdes die koms van Christus Jesus verwag wanneer die aarde 6000 jaar oud is (wat wel nou die geval is). Daar is 'n SABBATSRUS belowe vir die volk van God! (...m.a.w., die 1000 jaar wat volg op die 6000 jaar?)(http://warechristene.blogspot.co.nz/2017/06/die-sabbat.html) maar nie almal sal ingaan in hierdie "sabbatsrus" nie! (http://warechristene.blogspot.co.nz/2016/05/in-sy-rus-ingaan.html).
-  Die volk was ook verder beveel dat hulle nie hulle WINGERDE skoon moet afoes nie en ook nie die trossies wat van die wingerd val moes versamel nie, maar dit moes laat oorbly vir die arme en die vreemdeling (Lev. 19:10). Op dieselfde wyse voorsien die Here vir Sy kinders besittings, geld, krag, werke, gawes en bedieninge in hierdie (geestelike) koninkryk van God, en verwag natuurlik dat hulle nie alles vir hulleself hou nie, maar barmhartig wees en deel wat hulle ontvang (http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2017/07/die-koninkryk-vd-hemele-is-soos-n_1.html).  As ons nie hierin getrou is nie, m.a.w. getrou is in "Sy goed" wat Hy aan ons toevertrou (soos die Vader Sy wingerd aan die landbouers toevertrou) nie, dan sal ons nie ons eie kan erf nie! (Luk. 16:12).  Wat doen ons met die besittings, geld, krag ,werk... wat Hy aan ons toevertrou? Gee ons om vir die wingerd?  (Matt. 10:32,33).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:

Met hierdie tipe van Ou Testamentiese beeldspraak, het die dissipels ("diensknegte") goed verstaan wat Jesus bedoel het toe Hy hulle uitgestuur het met die woorde:  (Luk 10:2 - "............ Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes dat Hy arbeiders in sy oes uitstuur"). Toe Christus die eerste keer gekom het, het Hy o.a. gekom om van die vrug vd wingerd te ontvang - so dus, uiteindelik, soos in die gelykenis, het die Vader Sy ERFGENAAM, nl. Sy SEUN gestuur (en hulle het Hom doodgemaak...Mark. 12:7,8). Die manier hoe hulle ge"HOOR" het (http://warechristene.blogspot.co.nz/p/die-waarheid.html), het gewys hoe hulle VRUG lyk!  Die een wat die waarheid en evangelie hoor maar nie daarop ag gee nie of homself daarteen verhard, wys dat hy nie goeie vrug dra nie (vgl. hierdie met die gelykenis van die saaier, waarin die klem lê op hoe elkeen HOOR).  Christus het verskeie male dieselfde soort beeldspraak gebruik soos in Mark. 12:1-12 en deur gelykenisse geleer dat ons soos saad in die wêreld gesaai word OM VRUG TE DRA (http://warechristene.blogspot.co.nz/p/blog-page.html).  Dit is slegs die wat vrug dra wat sal ingaan in die (fisiese) koninkryk van God (die "sabbatsrus" wat vir die volk van God belowe is);  maar die wat nie vrug dra nie, sal uitgekap word... (Joh. 15:2; Matt. 3:10; 13:7-9; Hebr. 6:7,8).

Die Vader saai die saad in hierdie wingerd, nl. in die (geestelike) koninkryk van God (m.a.w., dit verwys na die wat geroep word) - en dit is veral wat van belang is in bg. gelykenis, want die landbouers (die "geroepenes") wat geen of nie die nodige vrug dra nie, maar hulle eie wette maak en alles wat hulle uit die wingerd ontvang vir hulleself hou, verwys na die ONGEHOORSAME en ONGELOWIGE landbouers (die selfsugtiges, onbarmhartiges, eiewyses ens.).  In die gelykenis word hulle (sommige landbouers uit die huis van Israel) OMGEBRING EN DIE WINGERD AAN ANDER GEGEE !, omdat hulle nie goeie vrug gedra het nie (Luk. 3:7-9; Rom. 11; Matt. 21:41).  Dit beteken nie dat die kinders van Israel nie meer uitverkies is nie, maar eerder dat die ongehoorsames en ongelowiges ontwortel is/word (Matt. 5:13) om plek te maak vir gehoorsames en gelowiges uit ander volke wat wel vrug sal dra (Joh. 15:2)(en hulle word dus deel van die "kinders van Abraham"-Gal. 3:7). Toe Christus die eerste keer gekom het is die opdrag tot bekering, en die boodskap van waarheid en evangelie eerste aan die "huis van Israel" gedeel (Matt. 10:6), en deur hierdie "oes" is hulle "vrug" beoordeel. Die ongehoorsame en ongelowige takke (die wat nie gehoorsaam is aan Christus Jesus nie, en die wat nie ag gee op die waarheid nie) is afgebreek (Rom. 11), en die Here is huidiglik besig om vir Hom 'n volk te versamel uit alle stamme, nasies, volke, tale van die aarde, mense wat eendag saam met die erfgenaam (Christus Jesus), die WINGERD (die "fisiese" koninkryk van God) op aarde gaan beerwe.   In hierdie sin verwys die wingerd nie meer net na 'n spesifieke land en volk nie, maar na die wêreld en na "die kinders van die (geestelike) koninkryk".  Maar as die landbouers/geroepenes geen vrug dra nie, of nie die nodige vrug dra nie, dus slegte vrug dra, sal hulle ontwortel word... Die uiteinde van landbouers (kinders vd koninkryk) wat wetend in opstand kom teen die waarheid en evangelie (wat deur die diensknegte gebring word), en deur hulle dade bewys dat hulle nie regtig die Here dien nie maar eerder hulleself, sal ontwortel word;  en dit is inderdaad wat gebeur het met die ongelowige en ongehoorsame kinders van Israel (Matt. 21:40-41). Paulus waarsku die Christene in die gemeente van Romeine dat as God nie eens die natuurlike takke wat ONGELOWIG was gespaar het nie, hulle nie hoogmoedig moet wees en dink dat Hy nie dieselfde ook met hulle sal doen as hulle ongelowig is nie! (Rom 11:21).

Daarom sal met die wederkoms skeiding gemaak word tussen die koring (ware Christene) en die onkruid (voorgee-Christene), maar ook tussen die koring (ware Christene) en die kaf (die wat lyk soos Christene, maar geen of nie die nodige vrug dra nie).  Die VRUG wat elkeen dra sal wel bepaal wat uiteindelik met hulle gebeur!, en sal bepaal of hulle saam met die Erfgeneem gaan erf! Nie almal wat geroep word sal ingaan in die koninkryk van God nie.  Die manier hoe iemand 'HOOR" (Luk. 6:46-49) is dus 'n bewys van watter soort vrug elkeen dra, en is ook 'n bewys van of iemand opreg is, of vals (Matt. 7:15-29).
_________________________________________________________________________________
(Mar 13:33)  Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie.
(Mar 13:34)  Dit is soos ‘n man wat op reis is, wat sy huis agtergelaat en sy diensknegte volmag gegee het, en vir elkeen sy werk, en aan die deurwagter bevel gegee het om te waak.
(Mar 13:35)  Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie;
(Mar 13:36)  dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie.

_________________________________________________________________________________