Wys tans plasings met die etiket geskeides. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket geskeides. Wys alle plasings

Saterdag 22 Oktober 2022

Wat leer die Bybel oor hertrou?

  

Om in die huwelik te tree moet jy "ONGETROUD" wees, maar l.w. dat sekere huwelike verbied word - al is altwee ongetroud! (bv., naverwante mag nie met mekaar trou nie...-Lev. 18:6-18; 17-21, ens.). Ook wat HERTROU aanbetref is daar reëls, en daar is nie veel gevalle waar dit toegelaat word nie; en waar dit wel toegelaat word is daar ook reëls wat gevolg moet word. In die Skrif word geskeides, weduwees en wewenaars bv. soos "ongetroudes" gesien, maar dit beteken nie dat hulle almal weer kan hertrou nie; en waar dit wel toegelaat word word sekere huwelike verbied (bv., Christen weduwees en wewenaars mag weer trou, ja, maar word spesifiek gevra om dan "in die Here" te trou..., en mag terloops dan ook nie met 'n geskeide trou nie - Matt. 19:9; Luk. 16:18). Die reëls in die koninkryk van God (vir kinders vd koninkryk) rondom huwelike is nie altyd dieselfde as wat dit in die wêreld is nie;  bv., in die wêreld word in sekere lande mans toegelaat om met mekaar te trou (of vrouens met mekaar), maar volgens die Bybel is sulke soort vleeslike gemeenskap verbode (en kan sulke "paartjies" dus nie trou/hertrou nie). En alhoewel sommige Christelike kerke huwelike tussen ditto geslag toelaat en baie geskeide Christene HERTROU volgens wêreldse standaarde, beteken dit nie dat daardie huwelike noodwendig toelaatbaar is volgens die reëls vd koninkryk van God nie. 

Wat HERTROU aanbetref en wanneer dit geoorloof is, word min voorbeelde in die Bybel gegee; en dit dan ook die rede waarom sommige Christelike kerke sekere huwelike van hertrou toelaat, en ander nie. Net soos daar uitsonderings is waarom egskeiding somtyds toegelaat word, net so glo hierdie kerke dat daar uitsonderings kan wees waarom hertrou toegelaat word.  Wat die Bybel aanbetref is daar slegs een klinkklare vb van "hertrou", en dit is in geval van wanneer die huweliksmaat sterwe (Rom. 7:2,6; 1 Kor. 7:39; 1 Tim. 5:14), want volgens die Skrif is dit slegs die dood wat 'n huweliksband regtig kan verbreek (Rom. 7:2,3). Jesus het o.a. geleer dat elkeen wat van sy vrou skei en 'n ander een trou, pleeg egbreuk teen haar; en as 'n vrou van haar man skei en met 'n ander een trou, pleeg sy egbreuk... (Mar 10:11,12). Wat dit dus beteken is dat egskeiding nie regtig die huweliksband verbreek nie (al word hulle beide nou gesien as "ongetroudes"). 

----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------- 

Alhoewel Christen geskeides hanteer word soos ongetroudes en soos ongetroudes lewe, beteken dit dus nie dat hulle noodwendig mag hertrou nie;  inteendeel word hulle eerder aangemoedig om te herenig met hulle oorspronklike huweliksmaats waar moontlik (1 Kor. 7:10,11). Die rede vir hereniging het beslis te doen met barmhartigheid - daar moet kans gegee word vir harte om te verander. Geskeides moet kans gegee word om hulle probleme uit te sort sodat vergifnis gegee kan word waar belydenis plaasvind. Dit dan die rede waarom geskeide Christen-vroue in die eerste gemeentes beveel was om ONGETROUD te bly (nie om weer te trou nie... - hulle moes óf ongetroud bly, óf herenig met hulle mans-1 Kor. 7). Hereniging kan egter nie plaasvind as een van die twee weer hertrou nie!

Daar mag dalk grys areas wees wat hierdie onderwerp aanbetref bv., wat van waar iemand geskei is omrede 'n maat hoereer het? - wat het Jesus regtig bedoel in hierdie geval, bv. Matt. 19:9?  Word hertrou in so 'n geval toegelaat? En wat van die geval waar 'n ongelowige van 'n gelowige skei?  Kan so 'n gelowige hertrou?  Wat hierdie gevalle aanbetref is Christelike kerke nie eens in hoe hulle dit interpreteer nie.  Sommige laat hertrou in sulke gevalle toe, en ander nie. Volgens Jesus se woorde is "hertrou" verbode vir geskeide Christen-paartjies, maar het Hy dit ook bedoel in hierdie gevalle ? Dit is waar kerke op hierdie onderwerp verskil. Hierdie onderwerp is egter nie iets wat ligtelik opgeneem moet word nie, want geskeides wat hertrou word volgens Jesus se woorde gesien soos egbrekers (pleeg egbreuk/word onrein-Jer. 3:1; Deut. 24:1-4), 'n sonde wat terloops bloedskuld veroorsaak. Wat sal tog van 'n Christen word wat in 'n ongeoorloofde huwelik bly waar hy/sy 'n egbreker gesien word, en hy/sy so as 'n egbreker sterwe? (want die Skrif verklaar dat geen egbrekers in die koninkryk van God sal ingaan nie-1 Kor. 6:10; egbrekers sal eendag geoordeel word...Hebr. 13:4). Waar iemand in so 'n onwettige verhouding sy lewe lank stap, sal hy noodwendig 'n "egbreker" sterwe... Daarom is dit belangrik om versigtigheid aan die dag te lê wanneer dit kom by hierdie onderwerp. M.a.w., 'n geskeide wat volgens die Skrif onwettiglik hertrou, en dus in 'n onwettiglike huwelik is, en dus 'n egbreker is, is besig met "sonde tot die dood" solank hy in daardie onwettiglike verhouding/huwelik bly.

Watookal jou kerk leer of toelaat rondom die tema van hertrou, die veiligste is om te hou by Jesus se woorde - sou jy bv. in die posisie wees om vir iemand raad of lering te gee oor hierdie onderwerp, is dit beter om te leer wat Jesus en die eerste gemeentes daaroor geleer het - dat geskeides nie mag hertrou nie (Luk. 16:18; 1 Kor. 7), en dat geskeides óf ongetroud moet bly, óf moet probeer herenig. 

----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------  

Natuurlik is "om te skei" vir die Christen 'n sonde (want wat God saamgevoeg het, mag geen mens skei nie-Mark. 10:9), behalwe waar dit toelaatbaar is... - daar is uitsonderings, en in sulke gevalle sal dit nie teen die persoon as sonde tel nie (bv. as die maat hoereer). In sulke gevalle sondig iemand nie wanneer hy/sy skei nie, tensy een van hulle weer trou! (Mar 10:11,12 - " En Hy sê vir hulle: Elkeen wat van sy vrou skei en ‘n ander een trou, pleeg egbreuk teen haar; en as ‘n vrou van haar man skei en met ‘n ander een trou, pleeg sy egbreuk"). As jy grondige rede gehad het vir egskeiding, sal jy dus nie daarvoor geoordeel word nie, maar wat gebeur as so iemand hertrou? 

In skrifte waar die woord "skei" gebruik word beteken dit nie dieselfde as "is ontslae van" (soos in die geval van waar een vd twee doodgaan, en hulle dan "ontslae" is van die huwelikswet-Rom. 7:2) nie. Hierdie fout word baiemaal gemaak, bv. dat mense dink dat die egskeiding die huweliksband breek. Die woord "skei" beteken liewer dat iemand "verskoon" word (m.a.w., "parden", nie "abolish" nie). Die doel van "om te skei" moet nie as 'n manier gesien word "om weer te trou" nie, maar is eerder 'n manier waar daar barmhartigheid bewys word aan die een wat ly (om soos 'n ongetroude te leef), of is om die skuldige party te dwing tot bekering... (1 Kor. 5:2; 2 Thess. 3:14);  m.a.w., die skuldige word verstoot met rede!, nl. om skaam gemaak te word sodat hy 'n kans kry om tot inkeer te kom en vergifnis te ontvang. Ditto manier word ook deur die kerk gevolg in sekere ander situasies, bv. om jou aan 'n broeder te ONTTREK wat onordelik wandel of as hoereerder bekend staan, gierigaard, kwaadspreker, donkaard, afgodedienaar, rower, ens. (2 Thess. 3:6; 1 Kor. 5:11) - die "onttrekking" aan so iemand is nie bedoel om die persoon te veroordeel en broederskap te verbreek nie, maar bedoel om hom skaam te maak sodat hy die sonde aflê. Egskeiding is veronderstel om ook hierdie doel te dien - dit is 'n "onttrekking" (wegstoting), nie 'n "losmaking" is. "Om te skei" BETEKEN NIE jy is "ontlae van" (Rom. 7:2) nie. As ons dit verstaan is dit duidelik waarom die Skrif leer dat geskeides nie moet hertrou nie...

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:


Volgens die Bybel mag die geskeide Christen nie weer trou solank die ander een nog in die lewe is nie (want na regte is egskeiding nie 'n "losmaking" nie, maar eerder 'n "onttrekking", en is die geskeide dus nog verbind aan sy/haar eerste maat - al het hulle 'n skeibrief gekry! - 1 Kor. 7:10,11; Rom. 7:2,3; Mark. 10:11,12) -  dit is slegs die dood wat hierdie verbintenis kan breek (Rom 7:2,3 - "Want die getroude vrou is deur die wet aan die lewende man gebonde; maar as die man sterwe, is sy ontslae van die wet van die man.  Daarom dan, as sy ‘n ander man s’n word terwyl haar man lewe, sal sy ‘n egbreekster genoem word; maar as die man sterwe, is sy vry van die wet, sodat sy nie ‘n egbreekster is as sy ‘n ander man s’n word nie")(Mar 10:11,12 - "En Hy sê vir hulle: Elkeen wat van sy vrou skei en ‘n ander een trou, pleeg egbreuk teen haar;  en as ‘n vrou van haar man skei en met ‘n ander een trou, pleeg sy egbreuk"). Daar mag dalk uitsonderlike gevalle wees waar hertrou toegelaat word, bv. waar 'n maat hoereer het of  'n ongelowige van 'n gelowige skei, maar ongelukkig geen direkte verwysings in die Skrif wat dit oorloof nie omdat die betrokke skrifte verskillend geinterpreteer word. Om hierdie rede word sekere gevalle van hertrou in sekere kerke toegelaat, en in ander nie.  Geskeides wat egter onwettig hertrou sal geoordeel word op die egbreuk waarin hulle stap - tensy hulle breek met daardie "onwettige" verhouding en dit bely voor die Here (vgl. dit met 1 Kor. 5 en Mark. 6:17,18). 

Christene moet onthou dat alhoewel hulle vry is van sekere wette, is hulle nie vry van alle wet nie!  Die Christen is "onder Jesus" se wet (onder Sy woorde, onder Sy Gees, en moet Hom gehoorsaam). Die Christen is wel vry (en nie meer slaaf nie, ja), maar let wel dat hulle nou slawe geword het van die Een deur wie hulle losgekoop is. As jy 'n Christen wil wees moet jy ten minste bereid wees om te leef volgens die reëls vd koninkryk van God;  en wat die reëls rondom die tema van "hertrou" aanbetref in die koninkryk van God, is dit nie dieselfde as in die wêreld nie (en ongelukkig ook nie ditto tussen verskillende Christelike kerke nie).  

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Vir studies oor hertrou, gaan na: 

https://warechristene.blogspot.com/2014/12/trou-skei-en-hertrou-4.html

-https://warechristene.blogspot.com/2018/02/trou-skei-en-hertrou-6.html