Wys tans plasings met die etiket slaap. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket slaap. Wys alle plasings

Dinsdag 19 Mei 2020

Die keiser se nuwe klere

Daar is 'n rede waarom die mens homself beklee en dit het veral te doen met "naaktheid". Ons verstaan goed wat dit beteken om ons uiterlike mens te beklee, maar weet ons hoe die innerlike mens beklee word?

Kinders van die Here word gesien soos mense wat BEKLEE is, maar wanneer hulle in sonde stap is hulle besig om hulleself te ontbloot. Die geestelike betekenis van naaktheid in die Skrif gaan bv. veral oor "skaamwees en vernedering" (Openb. 16:15; 2 Kor. 5:3; Hand. 19:16; 1 Kor. 4:11; Hos. 2:3; Jes. 20...)(en somtyds weens ontbloting). Om naak rond te loop of om naak gemaak te word in die publiek is 'n skande en die wat so rondloop word belaster en hanteer soos uitvaagsels vd wêreld, en volgens Paulus "die afskraapsel van almal" (1 Kor. 4:11-13).  Op dieselfde wyse sal die wat naak bevind word wanneer Jesus terugkom hanteer word soos afskraapsel...  Dus, alhoewel Christene "beklee" is, moet hulle hul KLERE (waarmee hulle bedek is) BEWAAR, anders staan hulle die gevaar dat hulle hulself eendag in 'n skaam naakte posisie bevind wanneer Jesus terugkom - soos die keiser wat gedink het hy is geklee maar nie was nie! (Openb. 16:15 - "Kyk, Ek kom soos ‘n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie"). Baie Christene stap rond soos mense sonder klere (soos die kaal koning) en staan die gevaar dat hulle "skaamte so eendag ontbloot" word. Die begrip "skaamte ontbloot" gaan ook nie net oor om iemand kaal te sien nie maar word veral gebruik in die konteks met waar vleeslike gemeenskap ongeoorloof is, en die skaamte dus in so 'n geval dan ontbloot word (Eseg. 23:18). Bv., om geestelik te hoereer (bv. leringe van duiwels aan te hang, of afgode te aanbid, ander afgodspraktyke te volg ens.)(Eseg. 16:36,37; Hos. 2:10) het hierdie gevolg.  Christene wat dit doen is besig om hulle "skaamte te ontbloot".  Wanneer ons vashou aan gebooie van mense en eerder kies om leringe te glo wat in die gehoor streel en/of sondes regverdig. of leringe van duiwels aanhang, of besig is met afgodspraktyke, dan is ons besig om ons skaamte te ontbloot. Sulke Christene word tipies "lou" genoem omdat hulle hangende is tussen die Here en die bose. So iemand dink miskien hy's is ryk aan kennis en ontbreek niks, tog is hy arm (omdat sy kennis bv. uit gebooie van mense bestaan, of omdat hy gesig koop deur die Here te verloën, of omdat hy sy antwoorde op verkeerde plek soek bv. afgodspraktyke raadpleeg). Sou hy in die spieël kyk, sal hy sien hy is kaal! M.a.w., sou hy in die Woord kyk, sal hy sien hy's kaal. Die waarheid maak hierdie verskil, maar dan moet iemand natuurlik nie sy hart teen die waarheid verhard nie! Sommige Christene reken dat valse leerstellings en afgodspraktyke geensins jou geloof kan beinvloed of jou "bekleding" kan bevlek nie, maar die waarheid is dat sou jy besig word met hierdie dinge, jy besig is om die Here te versoek - en dus besig is om nie meer Hom alleen dien nie - word dan gesien as "lou"! Die Christen is beklee ja, maar neem sorg dat jy jou klere bewaar en moenie jouself kaal uittrek nie!
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Elke persoon bekyk sy uiterlike ten minste eenkeer op 'n dag in die spieël voor hy by die deur uitgaan.
'n Spieël help ons om onsself te sien, maar as jy 'n bedekking het oor jou gesig sal jy nie mooi sien nie. Hierdie is gewoonlik die rede waarom mense ook nie altyd die woord verstaan of die waarheid ken nie - nie dat dit nooit vir hulle vertel is of hulle die waarheid nie gehoor het nie, maar a.g.v. 'n bedekking wat hulle oor hulle hart en sinne trek, is hulle soos mense wat nie mooi "sien" nie (asof daar 'n bedekking is oor die gesig). Hierdie soort "bedekking" word ook in beeldspraak gebruik in die skrif in 2 Kor. 3:14-18 (van die wie se "sinne verhard is")(intellek en gedagtes verhard) - in die betrokke gedeelte verwys dit na die wat, al hoor hulle die waarheid, steeds kies om ongelowig te bly;  m.a.w. asof  hulle " 'n bedekking " het oor hulle hart - 2 Kor. 3:15.  Sou so iemand hom tot die Here bekeer, dan "word die bedekking natuurlik weggeneem" (2 Kor. 3:16);  -meer presies, dan neem hyself die bedekking weg omdat hy dan kies om te glo!  Vgl dit gerus met die tema van "harte verhard". Iemand wie se hart verhard is kan m.a.w. gesien word soos iemand wat homself in die spieël kyk maar nie mooi kan sien nie omdat hy 'n bedekking het oor "sy hart". Let wel dat die onderwerp van "hart verhard" gaan oor wetendes (wat hulle harte verhard, bv. die Farao in die Eks. verhaal), nie onwetendes nie. Hierdie is die groot verskil tussen die wat glo en die wat nie glo nie;  bv. die wat kies om ongelowig te bly kan nie "sien" nie, maar gelowiges "sien" en kan beskryf word soos mense met onbedekte gesig, dat wanneer hulle in die speël (bv. vd woord) kyk, hulle istaat is om te "sien". (2 Kor. 3:18).

"Natuurlike mense" sien ook anders as "geestelike mense", want natuurlike mense (die gebore uit die saad van Adam) het die "gees van dwaling" ('n wêreldse gees), terwyl geestelike mense die Gees van God het (is gebore uit die saad van God) en het dus insig en verstand. Natuurlike mense sukkel bv. om geestelike kos te verwerk (en kan dit daarom nie verstaan nie), want net soos 'n plant lig nodig het om kos en water te kan verwerk, net so kan natuurlike mense nie geestelike kos en water verwerk nie want hulle het nie LIG vd Heilige Gees nie. Natuurlike mense kan dus ook miskien gesien word soos mense met 'n bedekking oor hulle gesig wat veroorsaak dat hulle nie mooi kan "sien" nie;  daarom verstaan hulle nie die geestelike dinge nie.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Op dieselfde wyse kan die wat hulleself gelowig noem maar vashou aan die ou verbond gesien word soos mense wie se harte BEDEK is (2 Kor. 3). Wanneer iemand bely hy glo maar sy sinne verhard teen Jesus Christus, kan hy nie die nuwe verbond betree waarin hy gelei word deur die Heilige Gees om te "sien" (wette op hart geskrywe) nie - asof 'n bedekking oor die gesig. Die wat aan die ou verbond vashou maak hierdie fout, en dit is dat hulle hul deur die wet van Moses laat lei i.p.v. om hulle tot Jesus Christus te bekeer en deur Sy Gees gelei te word. Wanneer die koning  in die spieël kyk, sien hy hy is kaal!;  tog volg hy blindelings wat vir hom vertel word.
]
Dit is baie dieselfde met die wat valse of verdraaide leerstellings volg in plaas van Jesus se woorde, die wie eerder hulle hoop plaas in menslike gebooie en leringe - hulle kyk m.a.w. in die spieël (vd Woord) maar kies om hulle harte en sinne te verhard daarteen en soos die keiser blindelings liewer die leuen te volg. Bv., baiemaal is die rede waarom iemand 'n valse leerstellling volg nie a.g.v. onkunde nie, maar omdat hy sy hoop plaas in mense of in die kerk waaraan hy behoort, eerder as in die woorde van Jesus Christus.  Hy weet m.a.w. goed dat dit wat hy hoor nie heeltemal klop met die waarheid nie of met Jesus se woorde nie, tog trek hy 'n bedekking oor sy gesig... (hy verhard sy sinne/hart teen die waarheid). Soos die keiser ignoreer hulle wat hulle sien! Wat sal gebeur met hierdie gelowiges wanneer Jesus terugkom?, want hulle is soos mense wat klere aanhet tog is hulle klere bevlek, of hulle is naak. Gelowiges wat hulle harte verhard teen die waarheid, is besig om die Here te versoek en besig om hulle klere uit te trek...
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
GEDAGTE:


Net soos Adam en Eva bewus geword het van hulle naaktheid nadat hulle gesondig het (Gen. 2:25; 3:7), net so laat sonde ons innerlike "naak".  Daarom het ons klere nodig bv. "klere van heil" (Jes. 61:10; Gal. 3:29), of nodig om "beklee te word met Christus". Christene is soos mense wat BEKLEE is, maar wanneer hulle hul KLERE uittrek of besoedel (Openb. 3:4; Openb. 7:13,14) en nalaat om die klere te was, bv. nalaat om hulle te bekeer van sonde of kies om lou te wees, sal hulle onkant gevang word wanneer Jesus terugkom (Openb. 3:3). Hierdie soort gelowige kan o.a. ook voorgestel word soos iemand wat SLAAP (is m.a.w. nie wakker nie / die wat besig is met werke van duisternis en eie begeertes bevredig), of kan miskien voorgestel word soos die wat geestelik as DRONK gesien word (hulle sinne bedorwe / m.a.w. verwys na die wat hulle eie wil doen i.p.v. om die Here se wil te doen)(bv., sommige regverdig hul eie sonde en beweeg selfs ander om ook te sondig, en verdraai so die waarheid...).

Terwyl Christene BEKLEE is moet hulle daarop ag gee dat hulle hul KLERE BEWAAR!
_________________________________________________________________________________
harte verhard: https://warechristene.blogspot.com/2020/04/hart-verhard.html
met Christus beklee: https://warechristene.blogspot.com/2020/01/met-christus-beklee.html
wit klere: http://eindtydonderwerpe.blogspot.com/2017/05/wie-oorwin-sal-beklee-word-met-wit-klere.html
verheerlikte liggaam: https://warechristene.blogspot.com/2017/11/verheerliktegeestelikeonverganklike.html
bedroef nie: https://warechristene.blogspot.com/2013/02/en-bedroef-nie-die-heilige-gees-van-god.html

Saterdag 01 Julie 2017

Die koninkryk vd hemele is soos 'n koning wat 'n bruilof vir sy seun berei het (3)

In die betrokke gelykenis van  Matt. 22:1-14,  berei die koning (die Vader) 'n bruilof vir sy seun (Christus Jesus)...., en ons leef nou in die tyd waarin ons mense uitnooi na hierdie bruilof (http://eindtydonderwerpe.blogspot.co.nz/2017/05/wie-is-die-bruid-van-christus.html).  Dus moet die (fisiese aardse) koninkryk nog kom, maar die koninkryk het ook al gekom in die sin van dat die koninkryk ook geestelik van aard is (Luk. 17:20), en binne-in ons (Luk. 17:21)(teenwoordig deur Sy Gees).  Tog, nie almal wat nou deel is van hierdie "geestelike" koninkryk sal uiteindelik ingaan in die "fisiese" koninkryk nie, maar slegs die wat OORWIN - die wat GEREED is vir die bruilof...
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
LEES  Matt. 22:1-14
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Vgl. gerus hierdie gelykenis met Christus se woorde in Mark. 13:34-37:
Christus is die "man" wat op reis is en Sy huis agterlaat.... Hy gee vir Sy diensknegte volmag (ons kan dit miskien vgl. met verskeie ander gelykenisse waarin Hy verduidelik hoe Hy Sy besittings aan Sy diensknegte toevertrou..., maar Hy vul ook Sy diensknegte met krag en gee hulle volmag OM IN SY NAAM op te tree!- http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/06/wat-beteken-dit-dat-daar-krag-is-in-die.html). Verder gee Hy ook vir elkeen 'n werk (dit kan miskien vgl. word met die gelykenis van die talente, en hoe ons moet "woeker" met dit wat Hy vir ons gee). As ons as Christene verstaan dat dit wat die Here aan ons toevertrou, eintlik aan Hom behoort en NIE AAN ONSSELF BEHOORT NIE, dan sal ons verstaan dat die rede waarom sommige meer besittings of geld kry, nie is omdat hulle belangriker is as ander mense of omdat dit hulle eerder toekom nie. En die rede waarom sommige meer krag of werke kry, ook nie is omdat hulle belangriker is of meer geseend is nie (http://warechristene.blogspot.co.nz/2012/05/is-jy-n-geseende.html). Inteendeel, as jy jou eie wil hê, dan moet jy eers bewys dat jy getrou is in 'n ander se goed!:  (Luk 16:12 - "En as julle nie getrou was in ‘n ander se goed nie, wie sal aan julle jul eie gee?"). As jy nie getrou is in die Here se goed nie, in dit wat Hy aan jou toevertrou nie, hoe sal jy dan "jou eie" erf? Die manier hoe jy nou werk met dit wat die Here aan jou toevertrou, sal selfs ook bepaal "hoeveel" jy eendag erf! (Luk. 19:12-27; Mark. 12:41-44; Matt. 25:13-30).  M.a.w,,  wat die DIENSKNEGTE van die Here moet besef is dat hulle 'n verantwoordelikheid het terwyl die Here Jesus weg is! - 'n verantwoordelikheid om in die Here se Naam op te tree en om dit wat Hy aan hulle voorsien, ter wille van Hom aan te wend in die koninkryk van God.  Wat gaan hulle doen met die besittings wat Hy hulle gee?  Wat gaan hulle doen met die krag wat Hy hulle gee?  Wat gaan hulle doen met die geld wat Hy hulle gee?  Ons ontvang nie besittings, geld, krag, werk net vir onsself nie, maar sal verslag gee van wat ons met dit gedoen het wanneer Christus terugkom. Was ons barmhartig en het ons ons besittings en geld gedeel met die wat in nood is? (m.a.w., ons moet eerder "ryk wees in die Here"). Was ons "besig", en het die krag wat Hy ons deur Sy Heilige Gees gee gebruik om die evangelie te verkondig en Sy woord op tyd te bring?..(ons moet Hom vrees, nie vir die wat die liggaam doodmaak nie). Het ons die werk gedoen wat Hy ons gegee het? (was ons gehoorsaam en het Sy wil gedoen?).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Die Here gee vir elk van Sy diensknegte WERK om te doen (Mark. 3:34).Vir sommige gee Hy spesifiek die werk van "deurwagter" en is aangestel "om te waak";  alhoewel die opdrag van "om te waak" nie net gegee word aan die deurwagter nie, maar is ook vir almal bedoel: (Mar 13:37)  En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!  Die wat (geestelik) slaap kom maklik in versoeking (Luk. 22:45,46), en dit is om hierdie juiste rede waarom Christene somtyds val vir afgodspraktyke, of verval in sonde, of hulle hoop plaas in wêreldse wyheid...  Sommige glo net vir 'n tyd - hulle het geen wortel nie, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hulle dadelik (Matt. 13:21).  Ander se vrug word verstik deur die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom (Matt. 13:22). Hulle word geestelik dronk en kan dan nie mooi "sien" en "hoor" nie...  Terloops, dit is ook wanneer die diensknegte slaap, wat die vyand kom en onkruid saai onder die koring! (Matt. 13:25). Ons moet dus verstaan wat dit beteken om geestelik aan die slaap te wees, want dit is wanneer 'n kerk slaap wanneer valse leermeesters onder hulle gesaai word (http://warechristene.blogspot.co.nz/2017/05/slaap-en-die-geestelike-betekenis-van.html). Christene moet altyd GEREED wees!, en al manier hoe jy gereed gaan wees, is om "wakker" te wees - m.a.w.,  "moet die wil van die Here soek en doen, nie jou eie wil nie". Vra Hom wat jy moet doen met dit wat Hy aan jou toevertrou, want die een wat nie die wil van die Here doen nie maar eerder sy eie wil, sal nie gereed wees vir die bruilof nie;  bv., die een wat nie regtig die Here KEN nie, maar die krag wat Hy aan hom toevertrou het gebruik het vir eie gewin, sal weggewys word... (Matt. 7:22).

(Luk 12:37 - "Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien").   In 1 Thess. 5 beteken "om wakker te wees" dieselfde as om "nugter" te wees (m.a.w., kinders vd dag).  In Ef. 5 beteken dit dieselfde, en bevestig verder dat dit verwys na die wat geloof het in Christus Jesus, en nougeset wandel (nie as onwyses nie, maar as wyses);  m.a.w. die wat verstaan wat DIE WIL VAN DIE HERE is (Ef. 5:17). Die wat volgens wêreldse wysheid wandel, is dronk van die wêreld (is onwys), maar die wyse raadpleeg en soek die wil van die Here en verkry sy wysheid van die Here.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

GEDAGTE:


In Matt. 22:1-14 leer Christus vir ons dat alhoewel baie GEROEP word, (dus uitgenooi word na Sy bruilof,  "die bruilof van die Lam"), die geroepenes "sonder bruilofskleed" uit die bruilofsaal uitgegooi sal word (Matt. 22:14).  "Die sonder bruilofskleed" was dus nie gereed nie.  Dit kan vgl. word met die gelykenis van die 10 (diens)maagde, waarvan 5 nie GEREED was nie - 10 het na die bruilof gegaan, maar slegs 5 kon ingaan!  Die bekende gesegde "eenmaal 'n kind van God, altyd 'n kind van God" is nie heeltemal skriftuurlik nie, want dit is slegs van toepassing op die wat VASHOU, nie op die wat laat los nie!  

Slegs die wat GEREED is (Matt. 20:44; 25:10; Luk. 12:40), sal ingaan:
-  In Luk. 12:13-40 het Christus verduidelik dat "om gereed te wees" beteken:
 "om ryk te wees in die Here" (nie in aardse besittings nie).  
-  In Luk. 12:1-12 het Hy geleer dat "om gereed te wees" gaan oor:
dat ons nie moet vrees vir die wat die liggaam doodmaak nie, maar vrees Hom wat by magte is om in die hel te werp!  (In hierdie gedeelte leer Hy die belangrikheid van om Hom NIE te verloën nie, want die wat Hom verloën, is die wat eerder mense vrees in plaas van om die Here te vrees). 
-  In Luk. 12:41-59 het Hy geleer dat:
 "om gereed te wees" beteken dat ons die wil van die Here doen.

Met hierdie 3 punte in ag geneem, kry ons 'n goeie idee van wat dit beteken "om gereed" te wees.  Die wat nie gereed is wanneer Hy terugkom nie, sal nie ingaan in die "fisiese" Koninkryk van God nie. Matt. 22:10 bevestig hierdie feit en verklaar dat die bruilofsaal nie net vol word van "goeie" (genooides) nie, maar ook van "slegtes" (l.w., ook genooides!).  Huidiglik word baie geroep en die bruilofsaal word vol van goeies en slegtes (huidige "geestelike" Koninkryk van God), maar nie almal wat bely dat hulle Christene is, en nie almal wat deur die stappe is van bekering en geloof (en die Christelike doop) gegaan het, sal ingaan na die maaltyd nie, maar slegs die wat OORWIN en die wat VASHOU.  Baie "die woord hoor en dit met blydskap aanneem, verloën die Here die oomblik as daar vervolging en verdrukking kom ter wille vd woord (Matt. 13:20,21).  Ander begin selfs vrug dra, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hulle word onvrugbaar (Matt. 13:22).  In beide hierdie gevalle is dit mense wat bely dat hulle glo, maar hulle werke bewys dat hulle ongelowig of ongehoorsaam is.

 Die wat verval in afgodspraktyke en hulle nie daarvan bekeer nie, kan nie verwag om die ewige lewe te ontvang nie.  Die wat stap in sonde tot die dood en weier om hulle daarvan te bekeer, kan nie verwag om eendag die ewige lewe te ontvang nie. ONGELOWIGES en ONGEHOORSAMES sal nie eendag ingaan in die ("fisiese") koninkryk van God  nie! (Jud. 1:5; 1 Kor. 6:10).  Slegs die wat OPSTAAN TOT LEWE (nie die wat opstaan tot veroordeling nie) sal ingaan in die "fisiese" koninkryk van God;  m.a.w.,  "DIE WAT GEREED IS" (bv. ryk in die Here, die wat Hom vrees, en die wat Sy wil doen...).

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------

-  Die koninkryk vd hemele is soos 'n koning wat 'n bruilof vir sy seun berei het (1): 

 http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2017/05/die-koninkryk-vd-hemele-is-soos-n_23.html

-  Die koninkryk vd hemele is soos 'n koning wat 'n bruilof vir sy seun berei het (2): 


-  http://eindtydonderwerpe.blogspot.co.nz/2017/05/wie-is-die-bruid-van-christus.html
-  http://warechristene.blogspot.co.nz/2012/12/jesus-christus-se-koninkryk-die.html